Leer Webbladontwerp

Hoofblad
Foto's
Aktiwiteite
Familieregister
Bybel Pakkette
Immigrasie
Verdien Geld
Webbladontwerp
Humor
Skakels
Kommentaar
Gunsteling Boeke

1 Basiese Beginsels
2 Bronkode
3 Paragraaf
4 Kommentaar-merker
5 Hoofopskrifte
6 Skrifgrootte
7 Skrifkleur
8 Bold/Kursief
9 Geformateerde Teks
10 Masjienteks
11 Lynbreuk
12 Blokaanhalings
13 Belyn Teks
14 Genommerde Lyste
15 Ongeordende Lyste
16 Definisie Lyste
17 Agtergrondkleur
18 Agtergrondgrafika
19 Grafika
20 Grafika Rame
21 Teks en Grafika
22 Skakels
23 E-pos Skakels
24 Spesiale Karakters
25 Divisie
26 Horisontale Streep
27 Basiese Tabelle
28 Gevorderde Tabelle
29 Tabel Kleur en Rame

Ekstra's
Kleurkaart
Kleurberekenaar
HTML Naslaangids

Skakels

skep 'n skakel
skep 'n plek binne jou dokument waarheen jy kan skakel
skep 'n skakel binne jou dokument
sluit 'n skakel
maak die skakel in 'n nuwe venster oop

Sonder skakels sou die Internet soveel nut gehad het soos 'n muntstuk op die bodem van die see. Skakels is wat die Internet 'n net maak. Jy kan skakels op jou blad plaas wat dit verbind aan enige ander webblad op die Internet. So kan enige ander blad ook weer terugskakel na jou blad toe.

Om 'n skakel te maak, is die eerste ding wat jy nodig het, die URL van die blad waarheen jy wil skakel. Wat is 'n URL? URL staan vir "Uniform Resource Locator" en is in Afrikaans eintlik maar net die webadres van die blad waarheen jy wil skakel.

Die volgende stap is is om te besluit watter woord (of woorde, of selfs grafika) op jou blad gaan die fisiese skakel wees. Die skakel gaan die plek op jou blad wees waar mense kan kliek as hulle iewers anders heen wil gaan. Skakels word normaalweg onderstreep en in 'n ander kleur teks vertoon as die normale teks. Die verstekkleur is blou, maar dit kan verander word. Gaan kyk weer na die les oor skrifkleur om jou geheue te verfris.

Om 'n skakel te maak, moet jy die woorde of grafika wat die skakel gaan vorm, tussen die ankermerkers van die skakel plaas ( en ) en die "?" vervang met die korrekte URL. Die "href" mag miskien baie kripties lyk, maar dit is net 'n afkorting vir "HyperREFerence". Dit vertel die webblaaier watter webdokument na verwys word en waar om dit te kry.

Die HTML vir 'n skakel lyk soos volg:

My gunsteling Chow Chow's

en sal soos volg vertoon:

My gunsteling Chow Chow's

Sien jy dat die URL tussen aanhalingstekens geplaas is? Daar is ook geen spasies tussen enige van die karakters nie. Onthou ook om jou skakel altyd te sluit met 'n -merker, anders gaan jou hele blad een morsige skakel wees.

Maar daar is meer aan skakels as net dit. As jy op 'n skakel kliek, neem dit jou na 'n nuwe blad. Maar daar is nog goed op die blad waar die skakel is, wat jy graag wil sien. Jy wil dus nie weggaan van die blad waarop jy huidig is nie. Jy wil ook graag hê dat besoekers aan jou blad nie summier weggeneem moet word met 'n skakel en dan van jou blad vergeet nie. Om dit te voorkom, kan jy jou skakel so opstel dat dit outomaties in 'n nuwe venster oopmaak. Dan sal jy twee vensters van jou webblaaier oop hê nadat jy op die skakel gekliek het. Jy kan dan heen en weer skakel tussen die twee vensters.

Die HTML om dit te doen lyk soos volg:

My gunsteling Chow Chow's

en as jy daarop kliek, sal dit in 'n nuwe venster oopmaak. Kliek gerus daarop om te sien hoe dit werk.

My gunsteling Chow Chow's

Daar is nog meer wat jy met skakels kan doen. As jy 'n lang dokument het met onderafdelings, kan jy 'n skakel maak wat uitsluitlik binne jou dokument werk. Jy skep dalk 'n indeks en wil dan hê besoekers aan jou blad moet direk na die onderwerp van hulle keuse kan gaan sonder om eers deur die hele dokument te moet blaai.

Om dit te doen, maak jy gebruik van twee merkers wat met mekaar saamwerk, die - en -merkers. Onthou dat elkeen van hierdie merkers weer met 'n -merker gesluit moet word. Die -merker kom op die plek in jou dokument waarheen jy wil skakel en die -merker kom op die plek in jou dokument waarvanaf jy wil skakel. Die vraagteken in beide die merkers moet met dieselfde woord vervang word.

Die HTML sal soos volg lyk:

Hans Walvis se stories

Katte

Tot dusver het ek gehou op die stories waaroor die SPCA nie oprukkerig sal raak nie maar die SPCA het nie Stan Horne se Siamese geken nie. Net om julle geheue te verfris - Stan se Siamese kon meer teen 'n motor pleister as enige hond. En meer akkuraat ook.

Sien jy die "#" teken in die "href" gedeelte van die skakel? Dit sê vir jou webblaaier dat die plek waarheen geskakel word, iewers in jou dokument is. Dit sal soos volg vertoon (Kliek gerus op die "Hans Walvis se stories" skakel en kyk wat gebeur):

Hans Walvis se stories

Katte

Tot dusver het ek gehou op die stories waaroor die SPCA nie oprukkerig sal raak nie maar die SPCA het nie Stan Horne se Siamese geken nie. Net om julle geheue te verfris - Stan se Siamese kon meer teen 'n motor pleister as enige hond. En meer akkuraat ook.

Hieronder aan hierdie blad is nog twee soortgelyke skakels ("Terug na indeks" en "Terug na bo"). Gaan kliek gerus ook op hulle om te sien hoe die tipe skakels in die praktyk gebruik word.

En nog is dit het einde niet. Jy kan ook grafika op jou blad gebruik as 'n skakel. Die HTML sal soos volg lyk:

Dit sal soos volg vertoon:

www.cats.com

Sien jy dat die grafika tussen die  en  geplaas is in die plek van woorde? Sien jy ook dat daar 'n blou raam om die grafika is? Gaan werk gerus weer deur die les oor "Grafika Rame" om jou geheue te verfris oor wat jy alles met daardie raam kan maak.

OM OP TE SOM:
•  skep 'n skakel.
•  skep 'n plek binne jou dokument waarheen jy kan skakel.
•  skep 'n skakel binne jou dokument.
•  sluit 'n skakel.
•  maak die skakel in 'n nuwe venster oop.
• Jy het die URL nodig van die blad waarheen jy wil skakel.
• URL staan vir "Uniform Resource Locator".
• Skakels word normaalweg onderstreep en in 'n ander kleur teks vertoon.
• Die verstekkleur vir skakels is blou.
• Die verstekkleur kan verander word.
• Die URL van die skakel word tussen aanhalingstekens geplaas.
• Die -merker kom op die plek in jou dokument waarheen jy wil skakel.
• Die -merker kom op die plek in jou dokument waarvanaf jy wil skakel.
• Die vraagteken in beide die merkers moet met dieselfde woord vervang word.
• Die "#" teken in die "href" gedeelte van die skakel sê vir jou webblaaier dat die plek waarheen geskakel word, iewers in jou dokument is.
• Jy kan ook grafika op jou blad gebruik as 'n skakel.
• Die grafika word tussen die - en -merkers geplaas.

Indien jy voel jy het die verskillende skakel-merkers onder die knie, gaan gerus na die volgende les oor e-pos skakels.

Terug na indeks

Terug na bo

Stuur vir my e-pos
Kliek hier om my te kontak

Site Meter

Hosted by www.Geocities.ws

1