Leer Webbladontwerp


Hoofblad
Foto's
Aktiwiteite
Familieregister
Bybel Pakkette
Immigrasie
Verdien Geld
Webbladontwerp
Humor
Skakels
Kommentaar
Gunsteling Boeke


  1 Basiese Beginsels
2 Bronkode
3 Paragraaf
4 Kommentaar-merker
5 Hoofopskrifte
6 Skrifgrootte
7 Skrifkleur
8 Bold/Kursief
9 Geformateerde Teks
10 Masjienteks
11 Lynbreuk
12 Blokaanhalings
13 Belyn Teks
14 Genommerde Lyste
15 Ongeordende Lyste
16 Definisie Lyste
17 Agtergrondkleur
18 Agtergrondgrafika
19 Grafika
20 Grafika Rame
21 Teks en Grafika
22 Skakels
23 E-pos Skakels
24 Spesiale Karakters
25 Divisie
26 Horisontale Streep
27 Basiese Tabelle
28 Gevorderde Tabelle
29 Tabel Kleur en Rame

Ekstra's
Kleurkaart
Kleurberekenaar
HTML Naslaangids

Agtergrondkleur


<body bgcolor="?"> stel die agtergrondkleur

Jy is die skepper van jou HTML dokument en die agtergrond van jou blad is die uitspansel. Dit kan middernagswart of bottelgroen wees, afhangend van wat jou bui is.

Die agtergrondkleur word gespesifiseer binne die <body>-openingsmerker van jou dokument. As jy dus in jou HTML-dokument skryf:

 

<body bgcolor="yellow">

 

sal jy 'n dokument kry met 'n geel agtergrond:

 

 

 

Nou wonder jy seker watter kleure kan jy alles gebruik? As jy skryf:

 

<body bgcolor="periwinkle">

 

sal die webblaaier weet dat jy 'n ligte blougrys kleur soek? Die antwoord is ongelukkig nee. Slegs 'n beperkte aantal kleure kan volgens naam gespesifiseer word ("periwinkle" is nie een van hulle nie) en verskillende webblaaiers herken verskillende kleurstelle. Jou ligtegeel agrergrond met oranje teks kan op 'n ander webblaaier dalk as 'n borriegeel agtergrond met posbusrooi teks vertoon word.

Gelukkig is daar 'n oplossing as jy meer presies wil wees oor watter kleur vertoon moet word. Jy kan die naam van die kleur vervang met die ooreenstemmende hexadesimale kode van die kleur. Jy kan in jou HTML-dokument skryf:

 

<body bgcolor="#ffffff">

 

Sien jy al daardie "f"s in die kode? Dit is hoe mens "wit" sê in hexadesimaal. As jy wou weet hoe om daarby uit te kom, jammer vir jou!

Wag, wag!! Ek terg sommer! Die "ffffff" (ses van hulle) verteenwoordig die RGB waarde van wit, vertaal na hexadesimaal. Sien jy die "#" voor die "ffffff"s? Dit sê vir die webblaaier dat die waarde wat volg, 'n hexadesimale getal is. Sonder die "#" sal die webblaaier nie weet wat om met die klomp "f"s te maak nie.

Nou moet jy kophou soos 'n dronk vlooi op 'n wakker hond se stert, dan verduidelik ek jou hoe om by al daardie "f"s uit te kom.

Enige kleur wat vertoon kan word op 'n rekenaarskerm kan beskryf word deur die kleur se RGB waarde - dit is die relatiewe hoeveelhede rooi, groen en blou wat in die kleur voorkom waarvan elkeen uitgedruk word in 'n driesyfer getal soos 251 of 014 of 000.

Vir 'n webblaaier om RGB waardes te verstaan, moet die RGB waardes elkeen uitgedruk word in 'n hexadesimale (of basis-16) waarde. Die gevolglike tweesyfer hexadesimale ("hex" in kort) waardes word dan saamgevoeg in 'n enkele ses syfer kode. In die voorbeeld hierbo verteenwoordig die eerste twee"f"s die rooi waarde, die volgende twee "f"s die groen waarde en die laaste twee "f"s die blou waarde.

As jy nie lus is om te sukkel om daardie waardes te bereken nie, kan jy na my kleurkaart gaan kyk. As jy effe lus voel om somme te maak, kan jy my Excel kleurberekenaar hier aflaai. Maar as jy 'n "doen-dit-self" mens is, gryp jou telraam en lees verder.

Neem byvoorbeeld hierdie lieflike seegroen met die RGB waardes R=51, G=219, B=153. Om dit om te skakel na hexadesimaal, moet jy eerste die Rooi waarde - 51 - deur 16 deel. Dit gee jou 'n waarde van 3.1875. Die heelgetal - 3 - sal die eerste syfer van die hexadesimale kode wees. Die res - 0.1875 - moet jy nou weer met 16 vermenigvuldig, wat jou ook 'n waarde van 3 gee. Dus, 51 kan in hex uitgedruk word as 33.

Somtyds werk die waardes nie so gelyk uit nie, jy gaan baiekeer heelgetalle en reste kry wat uitgedruk word as bv. 11 of 14. In daardie gevalle word die tweesyfer getalle uitgedruk as 'n enkele letter (dit is waar al die d's en f's vandaan kom) waar 10=A, 11=B, 12=C, 13=D, 14=E en 15=F. Dit is dan van toepassing op ons pragtige seegroen wanneer ons die hex waarde vir die Groen komponent bereken - 219. Wanneer ons 219 deur 16 deel, kry ons 13.69. Die heelgetal 13 word dan uitgedruk as D. Die res van 0.69 gemaal met 16 gee vir ons 11, wat dan uitgedruk word as B.

Herhaal hierdie berekening vir die Blou waarde en plaas die hele klomp saam in 'n sessyfer kode wat dan 33DB99 sal wees. Dit is dan die hex waarde vir hierdie pragtige seegroen. Hou so aan en jy sal binnekort vlot hex praat.

 

OM OP TE SOM:
  • <body bgcolor="?"> stel die agtergrondkleur
  • Die agtergrondkleur word gespesifiseer binne die <body>-openingsmerker van die dokument.
  • Slegs 'n beperkte aantal kleure kan volgens naam gespesifiseer word.
  • Verskillende webblaaiers herken verskillende kleurstelle.
  • Enige kleur kan beskryf word deur die kleur se RGB waarde.
  • Vir 'n webblaaier om RGB waardes te verstaan, moet die RGB waardes elkeen uitgedruk word in 'n hexadesimale (of basis-16) waarde.
  • Die "#" voor die "ffffff"s sê vir die webblaaier dat die waarde wat volg, 'n hexadesimale getal is.
  • Die hex waarde word bereken deur die RGB waardes eers deur 16 te deel, die heelgetal af te trek en dan die res weer met 16 te vermenigvuldig.
  • Indien die resultaat van die berekening gelyk of groter as 10 is, word dit alfabeties uitgedruk, waar 10=A, 11=B, 12=C, 13=D, 14=E en 15=F.

Indien jy voel jy het die <body bgcolor="?">-merker en kleurberekening onder die knie, gaan gerus na die volgende les oor agtergrondgrafika.


Terug na indeks

Terug na bo

Stuur vir my e-pos
Kliek hier om my te kontak

Site Meter

Hosted by www.Geocities.ws

1