Hans Walvis se Stories


Hoofblad
Foto's
Aktiwiteite
Familieregister
Bybel Pakkette
Immigrasie
Verdien Geld
Webbladontwerp
Humor
Skakels
Kommentaar
Gunsteling Boeke


Hier is die beste uit my versameling humor. Al daardie humoristiese e-pos wat die kuberruim vol vlieg, kan jy hier kom kry. Weens spasiebeperkings op die bediener plaas ek slegs die bestes. As jy op soek is na iets spesifieks, kontak my gerus, ek het 'n GROOT versameling.


Geskrewe Humor
Hans Walvis se Stories
Spotprente


Indeks

Kommunikasie
Katte
Gebede aan Tafel
Agterent Eerste
Spoke
Om 'n tand te trek


Kommunikasie

Iemand wou weet, aangesien ek dan soms van honde en katte praat, of ek dink die goed kan kommunikeer. Die persoon het egter nagelaat om te spesifiseer of dit kommunikasie met mense is of kommunikasie met ander viervoetiges.

Ek dink die antwoord is ja. Beide gevalle.

Ou buurman Stan Horne in Tsumeb het twee Siamese katte gehad. Orraait, hulle opvoeding het skeefgeloop want hulle het gedink hulle is honde behalwe vir die blaf gedeelte. Kon nie anders gewees het nie want as iemand met 'n motor by ou Stan hulle gestop het, het daardie twee katte 'n beter joppie van die wiele, buffers en binnekant van 'n motor gemaak as wat 'n hond ooit kan droom om te doen.

Een Saterdagoggend moes ek ou Stan met sy Renault 16 gaan help. Klok vroeg in want dit was 'n groterige stukkie werk. Toe ek instap in die werf, was ek net betyds om te sien hoe die windhond - hierdie GROOT Whippets - van Stan se ander buurman - opstaan vanwaar hy gehurk het en terugspring in sy eie erf. Nie eens op die gras dit gedoen nie. Sommer langsaan op die grond. 'n Skopgraaf vol. En in die geestesoor het ek al ou Stan se kommentaar gehoor.

Persoonlik dink ek dit was 'n weerwraak aksie van die windhond want net 'n dag of wat tevore het hy sy lang dun snoet deur die "diamond mesh" heining gedruk om aan die kat te ruik en toe's dit net sy agterent wat hy geruik het. Deur die heining het die Siamees hom beetgekry en hom alles gegee wat 'n kat reken hel vir 'n hond kan wees. En nou kom dinges hy in die kat se werf van pure spaaitvoelnis.

So tref Stan my daar buite in nadenkende bui aan en ek vertel hom en wys hom. Stan het my ook nie teleurgestel met sy woordeskat nie maar reken toe na die eerste tien sinne die Renault geniet voorrang. Die werf sal hy later opruim. En ons begin werk aan die Fransman. Nie honderd jaar later nie kom groet die katmannetjie ons daar langs die Renault en begin sy oggend-werfinspeksie.

"Hei, kyk daar" roep Stan my uit die Renault se binnegoed na bowe. Staan die katmannetjie langs die hond se skopgraafvol en mens kon die afkeer behoorlik op die Siamees se gesig sien. Toe begin hy wat 'n ordentlike kat behoort te doen - hy probeer toekrap aan die onooglikhede maar hy't twee probleme gehad. Eerste het dit bo-op die grond gelê en nie IN 'n gaatjie soos wat hy gewoond is nie en tweedens was dit SO allemintig groot dat hy nie oor dit kon tree soos met sy eie gebruike nie. Om nie die goed raak te trap nie, het die kat homself amper dubbel na regs gevou en met die linkervoorpoot sand gegooi. Elke nou en dan inspekteer die Siamees sy resultate maar die hoop toekry, is min.

Na so vyf minute se sandgooi stap hy toe terug huis toe. As jy kat ken, sien jy sommer wanneer hy doelgerig stap. Hierdie Siamees was nog beneuk ook want die stert was regop in die lug - dan ruk hy sy stert hiernatoe en weer daarnatoe. En hy's die huis in. Ons meen toe hy't opgegee. Watwou ! 'n Halfminuut later hier kom hy weer uitgestap en die wyfietjie is saam met hom en hulle peil reg op die hond se nalatenskap af. Saam het daardie twee Siamese in 'n japtrap die hele storie netjies onder grond begrawe. Hy het beslis sy maat gaan roep om hom te kom help. Al waaroor ek nie uitsluitsel het nie, was sy taalgebruik in die proses. Moes seker iets gewees het soos "hei, lig jou lui dinges daar en kom help my hier buite. Daar's groot k@k."

Voor die koms van bulhond Bertha in die de Jager huishouding, was dit drie chihuahuas gewees - pa, ma en seun. Oubaas, Peggy en Boesman en katte was hulle groot spesialiteit want hulle het as span saamgewerk. Een sou alarm gee "daars KAT in die werf" en die ander twee sou met groot haas vertrek na die aksie toe. Gewoonlik sou die rondloopkat die naaste boom kies waarvan en baie gehad het. Pomelo, nartjie, suurlemoen, lemoen, papaja, piesang, koejawel of mango. Die katte het groot keuse gehad waar hulle wou in. Die bome met dorings was seker maar bietjie ongemaklik maar geen kat het kans gesien vir drie chihuahuas nie en boomklim het hulle geklim - die katte. Die enigste manier om weer rus en orde te herstel, was om die kat nat te spuit met die tuinslang dat hy kon uit die boom uit. Dan was dit 'n dolle gejaag vir die naaste heining. Vreeslik sports vir die brakke gewees en na die beste van my wete was die ergste skade die aan 'n kat se ego.

Tot die aand dat ou Boesman hom in die donker teen Stan se Siamees vasgeloop het. As dit nie was dat die brakke so blitsig vinnig was nie, kon Boesman dalk meer skade gehad het as net 'n middeldeur oor maar sy gil het ver getrek. Gryp ek 'n flits om die paartie te bekyk. Dit was nou een kat wat nie wou boomklim nie. Nie aanvanklik nie. Maar met Oubaas vasgebyt aan sy stert en twee ander van voor af het die kat nie lank gehou nie Die kat was al halfpad oor die draad voor Oubaas agtergekom het hy gaan saam die lug in en hy beter los wat hy het. Eers die volgende dag kon mens 'n idee van die spokery vorm net aan die bolle katwol wat op die gras agtergebly het. Soek jy 'n hond met 'n leeuhart ? Kyk nie verder as 'n chihuahua nie. Nou praat ek nie van die misgewassies wat met hulle tingerige ou lyfies in 'n teekoppies afgeneem word of langs 'n Great Dane staangemaak word nie. 'n Regte chihuahua is effe kleiner as 'n skippertjie en het 'n "boel"agtige lyfie. En hy't hart.

Komunikasie met mense - wag dat hierdie rooikat (gemmer) van my honger word en sien hoe hy dit vir jou vertel. Maak nie saak of jy slaap nie. Een oggend hom doelbewus ignoreer en gemaak of ek bly slaap. Klim hy op die bed, lek eers aan my oor en toe ek nog nie roer nie, word ek liggies aan die oor gebyt.

Nee - dis heeltemal korrek. Ons diere kommunikeer met ons. Ek weier net bloot om my diere te "vermenslik" soos wat Walt Disney se diereflieks my voorskryf die goed is. Vra vir Hennie Theron hoeveel keer hy al Amerikaners in Etosha moes terugjaag na hulle motors toe as hulle uitklim om die oulike leeuwelpies te wil gaan streel. Miskien moes hy partykeer anderpad gekyk het....

Groetnis julle
Hans Walvis

Terug na Indeks


Katte

Tot dusver het ek gehou op die stories waaroor die SPCA nie oprukkerig sal raak nie maar die SPCA het nie Stan Horne se Siamese geken nie. Net om julle geheue te verfris - Stan se Siamese kon meer teen 'n motor pleister as enige hond. En meer akkuraat ook.

Toe kom leer die buurman windhond Stan se katte wat spaaitvoelnis is en net daarna kry die kat se ego seer by my drie chihuahuas. Goed, nou het kat van spaaitvoel geleer.

My garage was te vol van gemors dat ek nog die Passat kon inkry ook met die gevolg die Passat het in die afdakkie langs die garage gestaan. In daardie dae het jongste dogter ook 'n Siamees iewers gekry en my drie brakke moes noodgedwonge die katgedierte aanvaar. Moet sê - Suzelle se Siamees was 'n pragvoorbeeld van sy spesie. Dit was tuis 'n geval van "pa het pa se brakke - ek maak SELF my kat groot". Grootmaak het sy hom grootgemaak. Die kat het net by haar in die kamer gebly en geslaap. Op die vloer kon hy kies tussen 4 bakkies verskillende kos en twee bakkies drinkgoed. Biefstuk maalvleis was sy groot liefde en my groot uitgawe.

Katkenners beweer dis nou eenkeer maar 'n nuk van 'n Siamees om goeters te merk so ver as wat hy gaan. Dit help glo as mens hom tydig veearts toe neem. Dogter wou natuurlik nie dat daar aan HAAR kat gepeuter word nie maar toe die meneer 6 maande oud was, het sy hom net eendag na skool aangetref minus sy spare parts. Die onvrede het gou oorgewaai na ek dogter beloof het sy en haar kat trek saam garage toe die eerste keer as die meneer in my huis iets waag merk. Wonder bo wonder het die kat ook verstaan ek's ernstig daaroor.

Soos in talle ander huise erf pa en ma die kinders se diere as hulle klaarmaak met skool en hulle ry kry. Eerste wat kat uitgevind het, was dat sy duur maalvleis na "pets' mince" toe verander en toe hy sy neus daarvoor optrek, was die volgende wat hy uitvind, dat hy nou NET katkorrels het om te vreet. Net voor hy wou vrek van die honger, het hy besluit katkorrels is nie so sleg nie......... Later selfs gehou daarvan.

Dit was min of meer die status quo toe Stan se "streetwise" Siamees snags die de Jager Siamees begin oplei het in die fynere kunste van katwees - behalwe vir sommige aspekte daarvan. Toe loop hy hom vas in die brakke. Dit het hom genoop om spaaitvoelnis ook by die leerplan in te sluit. As ek soggens by die Passat kom. moes ek eers die voorruit was. Elke oggend. Dis sake daardie wat vra vir teenaksie. (Was Stan se kat - ek het hom een nag "oppie job" gevang).

Vir drie nagte het ek hom toe met 'n stukkie vars vleis, hangende aan 'n draadjie bo die Passat se dak, verwelkom. Eers "lie" gemaak. En elke nag het meneer gehap, Die vierde nag het ek eers 'n stuk karton op die motor se dak gesit en bo-op dit 'n staalplaat - groot genoeg dat kat daarop MOET staan as hy by die vleis wil kom . Dis om goeie kontak te maak. En die draadjie waaraan die vleis hang, het 220 Volt gedra. Die volgende oggend het die vleis nog gehang maar die swaar staalplaat was lelik uit posisie. So asof iets 'n Kyalamie "takeoff" daar gedoen het.

Die skade was egter klaar gedoen - die de Jager Siamees het die spaaitvoel lesse voortgesit teen elke bossie en boom op my werf - die Passat en Land Rover het hy voorlopig gelos. Stan se kat het 'n tuisblyer geword. Intussen het betrekkinge tussen my en dogtersekat sodanig verbeter dat hy my saans in die sitkamer kom haal het om sy kos te gee. Dis nou tot hierdie een ongelukkige aand. Sit ek meneer se kosbakkie voor hom neer maar hy stap verby en blerts die spierwit stoof. Gelukkig vir hom was die agterdeur oop anders was dit daardie aand al ikabod vir hom. Daarvandaan was hy persona non grata binne die huis. Buite kos gekry en sy slaapmandjie is langs die hondehokke ingeskuif.

As ek gedink het Stan se Siamees was spaaitvoel, moes julle sy leerling nou gesien het. Die twee motors het elke nag deurgeloop en later sou ek hoor dat ou buurman Newt Harding ook nie meer sy motorvensters ooplos nie. Dit het alles een stil Sondagoggend tot 'n punt gekom toe ek uitstap om die Passat uit te trek vir later die oggend se kerk toe gaan. Saterdag die ding mooi gewas en poleer en Sondagoggend lê die katstrepe weer oor die voorruit. Brom-brom terug huis toe om 'n lap te gaan haal - vol moordgedagtes - Net voor ek weer uitkom, sien ek meneer is op die Land Rover se dak en hy hurk om sy ding daar ook te doen. Daar omgedraai en die .22 uitgehaal. Einde van al die moleste. Katte kan ook verkeerd grootgemaak word. Vir dogter laat weet as sy eendag kinders het, moet sy 'n ander opvoedingspatroon volg as met haar kat.............

Oor honde en dominees weet ek nie veel nie. Behalwe pr'kant Trollip se "pavement special" - so groot soos 'n leeu en a la Jan Spies se beroemde jaghond, ook "Waaksaam" genoem. Sy spesialiteit was diefstal. Dis nou predikantshond. Diefstal van almal binne 100 meter se wasgoed van die draad af. Groot voorliefde vir vrouefyngoedjies gehad. Die buurt se vrouens het later dit as deel van hulle bestaan gesien om hul goedjies by die pastorie te gaan uitken. Trollip is seker die enigste predikant in die land wat geweet het wie dra wat sonder dat hyself die wet oortree het.......

Sadisgroetnis julle
Hans Walvis

Terug na Indeks


Gebede aan Tafel

Oom Frans en tant Meraai Germishuys - kinderlose egpaar - was my ouers se vriende JARRE gelede in Usakos. Oom Frans se ou moeder het by hulle ingewoon. Bedags, as oom Frans sy werk as rytuigondersoeker gedoen het, was die twee vroumense natuurlik op mekaar aangewese vir vermaak en geselskap. Soos dikwels met sulke "alleen" mense die geval is, het die Germishuyse ALTYD 'n hond in die huis gehad.

Vandag weet ek hoeveel aandag en liefde daardie honde moes gekry het want voor die Germishuyse en daarna, het ek nog nooit sulke "geleerde" brakke gesien nie. Die beste onder die lot was Boetie, 'n reus van 'n Rotweiler reun. Die roetine deur die dag is eintlik 'n storie op sy eie want my opskrif handel oor gebede aan tafel - en die Germishuyse het aan roetine geglo.

Eetroetine was - almal sit aan, outannie Germishuys maak "hhmmmm ggggghhhmmmmm" keel skoon en sê "Kom ons maak oë toe". Met die keelskoonmaak, sal Boetie opstaan van die vloer af en sommer by die persoon naaste aan hom inval, sy kop op die se skoot neersit en dan maak daardie hond "oë toe" TOTDAT hy die "Amen" hoor. Outannie Germishuys het altyd voorgegaan met die seën afbid oor die ete. Na die "Amen" gaan lê Boetie weer op die vloer en die ete geskied omtrent in doodse stilte want nie een van die drie Germishuyse was besonder spraaksaam nie..

Die oomblik as die laaste "klienk" van 'n mes op die bord gemaak is, is dit weer "ggggghhhmmmm-ggggghhhmmmm" en outanniewat sê "Kom ons vat Boeke". Boetie staan van die vloer af op en gaan sit langs die eerste en beste een langs die tafel - kompleet asof hy eerbiedig saamluister met Boekevat.

Boekevat word afgesluit met "Kom ons bid saam" - dan word die voor-ete roetine van staan met die kop op iemand se skoot en toe oë herhaal. Boetie was nie 'n oneerbiedige hond nie. Roetine het nou bepaal dat Boetie by ELKEEN aan tafel verbyloop en 'n versnaperinkie kry. Maak of jy hom ignoreer en hy sal by jou BLY staan. As jy na 'n minuut hom nog nie raakgesien het nie, sou hy jou met 'n bulderende "WhrrrruuuuAF" herinner aan jou plig..........

Einde 1959 kom dit so dat ek 'n nag by die Germishuyse moes oorslaap. Teen hierdie tyd was outannie Germishuys al diep in die 90 en oom Frans het op aftree gestaan. Dieselfde aand kom doen die predikant ook huisbesoek en dit was glad nie ongewoon dat die predikant sou saameet as hy dan toevallig met etenstyd daar is nie. Al verandering aan die roetine was dat outannie haar stoel aan die kop van die tafel afgestaan het aan die predikant en so kom dit dat ek reg langs tant Meraai te lande kom aan tafel, Tant Meraai links van my en die predikant aan my regterkant. Met die wegspring het outannie die woord gedoen en Boetie het oë toegemaak op tant Meraai se skoot en op Amen eenkant gaan lê.

Boekevattyd. Boetie staan op en kom sit langs tant Meraai. Al verskil is dat die eerwaarde dominee self voorgaan. En toe kom ons by die laaste "oë toemaak". Boetie staan op en sit sy kop op tant Meraai se skoot en maak oë toe. Ek glo nie dit was oneerbiedig van my om hand oor die oë te plaas dat ek onderdeur vir Boetie kon loer nie. Wat ek nie geweet het nie, is dat ou tant Meraai dieselfde gedoen het ; seker maar om 'n ogie op Boetie te hou dat hy hom nie wangedra in die hoë predikantgeselskap nie.

Wat Boetie nie geweet het nie, was dat die predikant se "Amen" heelwat verder van die openingswoorde lê as outannie se "Amen". Toe amen na 30 sekondes nog nie kom nie, loer die Rotweiler met een oog na die predikant vir 'n rukkie en maak toe weer die oog toe. Diesefde gebeur naastenby op 1 minuut - die predikant word beloer met een oog en dan gaan die oog weer toe. Die arme hond roer nie sy kop van tant Meraai se skoot af nie. Hier van drie minute af het hy met elke loerslag en oogtoemaak 'n yslike lang hoorbare SUG laat hoor. Op 5 minute het die predikant min of meer die Germishuyse se verlede, hede en hele toekoms gedek en in die proses paslik gemeentebelange, spoorwegsake, dorpsbelang, landsbelang en politiek ingetrek - ek meen hy moes seker die Germishuyse waarde gee vir die ete. Genadiglik sê die man toe "Amen" Was daardie hond bly !!!!

"WHHHRRRUUUUUAAAF" gee hy die predikant dit reg in sy gesig. Die predikant, oom Frans en outannie skrik hulle disnis en ek en tant Meraai gil van die lag. Dit het 'n hele ruk gevat om vir die ander lotjie ons onchristelike vrolikheid te verduidelik na ons die predikant bietjie suikerwater aangebied het vir die groot skrik.

Hans Walvis.

Terug na Indeks


Agterent Eerste

Vanmiddag het ek beloof om te vertel van Etosha se elektriese heining en die olifant en hiëna. Die ding is net gouer op my as waarvoor ek beplan het........

Vriend Hennie Theron was bewaarder op Namutoni en ek het buite seisoen (toeka se dae) gaan kuier daar. Daardie dae was F & F nogal bekommerd oor waar hulle olifante en leeus rondloop en Etosha se heining is vol Volts gelaai om die gekuier na boere se plase toe te help stopsit.

Ry ek toe saam met Hennie teen die heining af om te kyk waar die varke gate onderdeur gegrawe het want na die varke, vergroot hiënas die gate sodanig dat leeus ook kan deurkruip. Die leeus neuk dan met die boer langsaan se bees, die boer hou nie daarvan nie en neuk die leeu op en gee nie eens sy vel vir F & F terug nie.

Kry ons dan so gat wat die varke gegrawe het, gooi ons dit nie toe nie maar hak 'n stukkie ketting aan die "lewendige" heiningdraad vas dat dit op so manier in die gat afhang dat enige ding wat probeer deurkruip daar, kontak maak met die volle geweld van die stroom. So word die goed dan bang vir gatkruip (miskien 'n filosofiese heenwysing op moderne politiek) en bly binne Etosha.

So sien ons die hiëna toe aankom draad toe - reguit na die gat wat ons so pas "gestel" het - en ons gee pad dat ons kan sien wat ta wil maak. Moes 'n ou gatkruiper gewees het want hy peil direk gat toe maar toe meneer sy kop onder die draad indruk, raak ons ketting hom mooi tussen die skouers. Sy vertikale beweging was natuurlik erg beperk met die draad direk bo sy skouers maar met sy reverse gear was niks verkeerd nie. Drie meter. Dis naastenby waar hy die eerste keer weer grond gevat het. Was seker snaaks vir hom want hy't gelag. Vreeslik. Ons ook.

Maar 'n hiëna is nie so slim soos 'n hond nie. 'n Hond onthou sy eerste kennismaking met elektrisiteit vir ewig. Hiëna het 'n paar minute die heining goed bekyk en BAIE versigtig weer sy kop die gat ingesak vir die deurkruip. Selfde gevolg. Net hierdie keer het hy homself bemors en toe lag hy EERS. (Ek sal nie lag as ek myself SO vuilmaak nie). Wat in sy hiëna brein aangegaan het, kan ek net raai, maar toe besluit hy te hel met die heining - hy grawe sy eie gat net daar vanwaar hy staan. So drie meter van die heining af. Na omtrent 15 minute het hy besluit dis te ver om te grawe en wat anderkant die draad is, is nie al die werk werd nie - en sy ry gekry.

Skaars drie kilometer verder kry ons 'n jong olifantbulletjie op pad heining toe. 'n Olifant ondersoek alles wat vreemd in sy omgewing is. Telefoonpale in Etosha is byvoorbeeld met skerp klippe omring anders stoot die ou bosreuse die goed om. En hierdie bulletjie wou die heining druk - seker maar om te sien of die ding sal bly staan. Toe hy sy voorkop teen die heining druk, toe vou sy agterbene soos die ding hom skok. Toe's hy kwaad soos 'n mannetjie wat so pas van sy baaisiekel afgeval het en hy storm die heining met mening. Vou sy agterbene weer. En soos die hiëna, gaan staan hy ook so drie meter weg en lug sy misnoë luidkeels. Magtag, so olifant KAN raas.

Nes die hiëna het hy ook 'n ander plan probeer maak. 'n Olifant kan dink maar hierdie een het gatkant vorentoe gedink. Letterlik. Draai hy om en nader die heining agterent eerste. Seker gereken hy sal nie 'n derde hou teen die kop kan vat nie. Hierdie keer het sy voorbene gevou. Die man was werklik verontwaardig want met die wegloop daarna kon ons sy trompetter vir minute deur die bos hoor..........

Maar dis honde wat vir die meeste plesier in my lewe gesorg het. Die waarvoor ek lief was op hulle manier. En die waarvoor ek nie lief was nie, weer op hulle manier met die hulp van 220 Volt by die asblik. Of toe ou Bertha periodiek ferromone die wêreld laat insweef het, teen die garage se sinkdeure en die gat waar hulle onder die draad deurgekom het.. Of ook die rondloper kat wat ELKE nag iets op die Passat se dak kom doen het (pleks hy grawe gaatjies) totdat ek hom daar verwelkom het met 'n stukkie 220V vleis. Nooit weer gepla nie.

Mooi bly julle
Hans Walvis

Terug na Indeks


Spoke

Net na die oorlogsjare (1945) was trekboere 'n algemene gesig in die Noorde - dis nou Suidwes se Noorde en vandaar die hoofletter. Ons is gevoelig hieroor. 'n Trekboer in moderne terme was 'n "wannabee" boer. Hy't 'n paar besies iewers bymekaargekrap en so van plaas tot plaas getrek, weiding gebedel en gekry ook want niemand het genoeg beeste gehad om 'n 6000 hektaar plaas vol te maak nie. Die trekboer het normaalweg gunter weg by 'n veepos homself staangemaak en dan die voorbeeld aan sy vee gestel wat aanteel beteken.

Sy versameling diere was bees, donkies, miskien 'n perd en muil hier en daar, bokke, hoenders en die onmisbare hondetrop wat hulle baas se aanteelprogram heelhartig ondersteun het. Sy vervoergoedjies - ossewaens, tentwaens en donkiewaens vir die huisvesting. En 'n perde- of donkiekar vir wanneer hy haastig was.

So ou was oubaas Meyer. Hy't by oom Piet op Oogies kom staan - Grootfontein distrik. Winter 1946. Veertien kinders. Agt honde. Spokekenner en sielsbesweerder.

Oom Piet was wewenaar en ek was agt toe ek gaan kuier het by hom. Die allenigheid moes maar seker aan oom Piet gevreet het want ons het minstens drie aande in die week by die Meyers op die veepos gaan kuier. Na die vleis en pap (let wel - ons eet VLEIS en pap, nie PAP en vleis nie) is dit stoei vir 'n plekkie om die vuur met veertien ander kinders en die agt honde. Die oumense het riempiestoeltjies gehad en as ons wou sag sit, het jy gras onder jou bas ingedruk. Die meisies het geweet hoe om ordentlik te sit maar ons met die kortbroekies het die volle geweld van die vuur op sagte binnebene (lees boude) gevoel. Die vuur was gemaak in 'n 4 gelling drommetjie - gate in die wande gekap dat hy kan trek - wat sommer ge-"double" het as kombuis (keuken vir die in ons stamlande) met die driebeenpot opgehang bo-oor.

Eers die eerste gemeensamighede van watter peste sy bees die dag getref het of watter teef vandag kleintjies gekry het en of oom Piet tog asseblief more of so as hy weer kom, bietjie ou olie kan saambring vir die brandsiek onder die donkies en 'n bietjie ghries vir die wawiele. Intussen raak dit kouer buite en niemand kan regtig 'n kompromie vind hoe ver van die vuur af te sit nie. Agter vergaan jou rug van die koue, onder is jou boude doodgesit en van voor af kook die vuur die hel uit jou uit.

Die honde het dieselfde probeem gehad en het kort-kort tussen ons kinders ingeskuif of 'n ander hond laer af in die hierargie uit sy lêplek langs die vuur geknor. Die "hoofhond" - die Meyer weergawe van ou Boel, met sulke flaplippe, het altyd langs die oukêrel gelê en was sommer vroegaand in hondedroomland.

En dan neem oubaas Meyer se spoke oor. Ek het nooit geweet daar's so baie soorte spoke nie. Die aand se ernstige gesels begin gewoonlik by die vriendelike spoke. Die wat kom waarsku het teen komende onheile. Ook die wat hom na sy troumeisie toe gebring het.

Dan was daar die spoke wat glo nie gelukkig was oor iets nie en of hy dalk kan help hulle probleme oplos voor hulle finaal tot ruste kom. Daar was die spoke wat boodskappe wou aflewer. Dinge wat hulle vergeet het om te sê voor hulle ontydige vertrek.

Die volgende kategorie spook was die wat hom kom vertel het van fabelagtige rykdomme. Alles begrawe iewers of in grotte weggesteek. Maar die spoke het altyd gemompel en wou nie mooi sê waar nie. Daar was ook die treurige meisiespoke wat oor iets gehuil het. Gelukkig kon hy hulle almal tevrede en getroos na hulle ewige rusplekke lei.

En laataand het die kwaaier tipe spoke kom kuier. Soos die wat aan jou wil vat en dan brandmerke los waar hulle jou geraak het. Daar het ek gehoor as 'n spook jou wil groet, moet jy eers 'n sakdoek oor jou hand bind voor jy sê "aangename kennis". Maar hierdie spoke is nie regtig gevaarlik nie. Dis ook hulle wat stoele rondstoot, portrette van die muur laat afval, af en toe 'n koppie laat val (dis hoekom hy wat Meyer is NET blikgoed gebruik) en kettings ratel. Net vir bietjie sports want waar hulle vandaan kom, is vermaak glo nie volop nie.

Mens moet eers begin ligloop as 'n spook by eerste kennismaking wil baklei. Sommige spoke klap glo sonder om jou kans te gee om jou sakdoek voor te hou. Maar as jy weet hoe om met hulle te praat, kalmeer hulle glo en wil dan hê jy moet vir iemand gaan vertel van iets soos "ek wag hier vir jou". Party gryp mens glo aan die kraag en ruk jou so biejie rond voor hulle hul boodkappe aflaai. By ander spoke kan mens die swael en steenkool aan hulle ruik. Die spoke kan mens nie glo wat hulle sê nie en hy sal ons aanraai om nooit met so spook te praat sonder dat 'n ekspert soos hy, jou bystaan nie.

Tot hierdie een aand. Oom Piet het hom kom waarsku daar's 'n luiperd iewers op die plaas. Die jagspinnekop en skerpioen wat tussen ons deurgekom het vuur toe, het ook nie juis bygedra tot die rustigheid nie. Inteendeel. Dis voorbodes. Nog een van sy spesialisgebiede. Die jagspinnekop het iets beteken en so kort daarna opgevolg deur die skerpioen, het glo net die eerste een se betekenis verswaar. Ons kon glo bly wees die spinnekop was nie 'n bo'jaanspinnekop nie want dan was ons regtig in die sop. Of ons geweet het 'n bo'jaanspinnekop kan sooooo ver spring ? en hy wys na die wa toe wat 20 meter daarvandaan staan.

Met al die regte voorbodes teenwoordig was daar die aand net een inleidende spook wat glo vryerig was en hom wou soen voordat die klapperige soort kom kuier het. Seker agt na mekaar en elkeen wou gevaarliker wees as die vorige. Hy't glo later nie meer sakdoeke oorgehad nie. Toe kom HIERDIE spook. Ons kon aanvoel DIS die aand se fyn draai - hierdie spook der spoke. Oë wat gloei. Sterk swaelreuk en 'n hittegloed wat mens skroei. En die spook kom al nader sonder dat hy iets sê. Nader en nader.

Die Meyer Boel moes seker 'n hondenagmerrie gehad het van 'n vlakvark wat hom met die skerp kant raakslaan want in sy slaap maak hy 'n paar slagyster klappe met die bek terwyl hy spoegstikkend lug tussen sy flaplippe probeer inroggel. Alles vlak agter ou Meyer met die die fyn draai op hande. Dinge het bietjie te vinnig gebeur om duidelik te onthou. Iemand het geskree - HY HET MY !!!!!!! en ou Meyer het die blik vuur onderstebo gespring. Hoe sestien Meyers almal so vinnig in die tentwa kon kom, gaan vandag nog my verstand te bowe. Daardie wa het hoog gestaan en dit was nie sommer net vir inklim nie. Net ek en oom Piet oor by die vuur met ses honde in 'n helse fight gewikkel van hulle eie groot skrik.

Dis oor die oumense ons so bang gepraat het dat party van my familie vandag nog onder beddens lig met 'n flits voor hulle inkruip saans......

Groetnis
Hans Walvis.

Terug na Indeks


Om 'n tand te trek

Oorlogsjaar 1944. Abenab.

Dis daar tussen Tsumeb en Grootfontein vir julle wat nie weet nie. Klein Hans het twee kiestande met gate waarin koejawelpitte perfek pas. Gaan vertel nou 'n sesjarige klong om sy pote uit die koejawelboom te hou. Onmoontlik. Lekker is lekker in 'n wêreld waarin iets soos suurklontjies 'n luukse was en die vrugtebome het gehang van die vrugte.

Aanvanklik het pa of ma die oortredende pitte met iets skerps uit die kiestande verwyder en die pyn sou dadelik bedaar maar voordat die de Jagertjies die koejawelboom kon kaal-eet, het die gate sodanig ontwikkel dat dit sommer deurnag gepyn het. Zinkpyn Specific was al wondermiddel in die huis en toe die warmgemaakte sout in 'n flenniesakkie buite op die kies nie meer kon troos nie, het ma die Zinkpyn uitgehaal. (Snaaks dat die oumense nie ook kasterolie vir tandpyn sou wou gebruik nie). Maar die kiestande - koejawelpitte was Zinkpyn se tier en ek skat die oumense was redelik keelvol later om snags rate te bedink teen tandpyn. Pa se Jakkals en Wolf stories was nie genoeg om my van die tandpyn te laat vergeet nie.

So vind die mannetjie hom toe een oggend netjies skoon aangetrek (selfs skoene aan ook) aan die hand van sy pa op straat in Abenab en later by 'n huis waar koringkrieke oor die stoep geloop het. En hier's 'n ou met wie pa Duits praat en die ou dra 'n wit jas. Nou - wit jasse en uniforms het vir my net een ding beteken. VREES. Want sien, die polisie het met dêm kamele daardie tyd patrollie gery en vir 'n kameel was ek so bang dat die mense my moes soek wanneer die polisie op die plaas gekom het. En een van daardie poliesmanne het ook altyd 'n wit jas aangehad oor sy uniform. Glo vir die stof gewees. Maar hier's 'n witjasman en hy sê ek moet my mond oopmaak. Hy wil kyk.

Nottendêm. Hy vat nie aan my nie. Belowe my 'n lekkergoedjie en sit dit ook binne sig neer. Maak oop en die Duitser kyk terwyl ek gereed bly om by die eerste teken van onraad daardie bek soos 'n slagyster toe te klap en toe te hou. Pyn of te nôt.

Beduie die Duitser weer, terwyl hy so kriesel van 'n wit pilletjie afbreek, hy wil NET hierdie stukkie pil in die gat insit en met 'n wattetjie vasblok. DIT sal AL die pyn wegvat. Hoe sou ek weet dit was die "wonder drug" asperien? Die Duitser maak toe so en wraggies - geen pyn meer nie en ek kry 'n suurklontjie.

Die volgende dag is ons weer op die stoep met die koringkrieke en toe op die stoel voor die Duitser "om weer 'n pilletjie in die tande te sit". Eers die wêreld mooi bekyk maar al wat ek sien, is die pilletjie en iets soos 'n breipen waarmee dit in die gaatjie vasgedruk word. Veilig - en ek maak my mond oop. Hoekom ek nie onraad vermoed het toe die Duitser se vrou ook op die toneel verskyn het nie, sal ek nie weet nie maar toe my mond oopgaan, druk die man iets tussen my tande in en daar staan my mond oop. Sy vrou hou my hande vas en pa hou my kop vas. En 'n ewigheid later lê twee kiestande, wortel en tak, in 'n bakkie op die tafel. Net so getrek. Sonder verdowing - wat hulle in elk geval waar sou kry???

Intussen het daar amper al 58 jaar verloop waarin dokters aan mens sny, spuit en krap en tandartse spuit, boor en stop en by een geleentheid 'n tand moes uittrek ook - en waar Bloeddienste al meer as 120 eenhede gesogte O-negatief onttrek het. Al die goedjies ervaar mens aanvanklik met so bietjie senuwees maar later later is jy gewoond daaraan. Behalwe een ding.

Vandag sê Dean Kock vir my - Hans hy sal moet UIT maar dit het ek al in Desember geweet sonder sy hulp. En dis alweer 'n bleddie kiestand. Dis asof 'n blinde paniek mens pak. Vandag se kiestand het in drie paaiemente uitgekom. Eers die bo-deel. Daarna die twee wortels. Halfpad het ek die smoelsmid gesê hy beter NOG spuit. Ek voel hom werk. Wat 'n geweldadige prosedure is dit nie? Toe ek uitkom, het ek gesoek vir koringkrieke op sy stoep......

Groetnis julle
Hans Walvis

(Nee, daar is darem nog genoeg oor om biltong te kou. )

Terug na Indeks


Terug na bo

Stuur vir my e-pos
Kliek hier om my te kontak

Site Meter

Hosted by www.Geocities.ws

1