op 'n kamp
1 kor.5:1
HOME GEBOORTES WERK BIKE FOR BIBLES TOEKOMSPLANNE
STAMBOME IETSIE MEER KERK
OUERS KOM KUIER LANDLOOP
BOETIES EN SUSSIES

Ietsie meer oor ons

Hoekom nou juis in Brisbane?
Hoe het Malcolm 'n Christen geword?
Hoe het Elmari 'n Christen geword?




Hoekom nou juis in Brisbane?

Dis 'n goeie vraag! Wel, aan die einde van Januarie 1999 het Malcolm se navorsingswerk in Muenchen tot 'n einde gekom. Teen daardie tyd was Malcolm alreeds vir 5 jaar weg van die huis (Skotland) af en was gereed om huis toe te gaan. Selfs al moes dit beteken dat hy werkloos sou moes wees. Hy het moeg begin word daarvan om by nuwe plekke aan te pas en het die behoefte ontwikkel om nader aan familie te wees. AstraZeneca, 'n farmaseutiese firma in Brisbane, Australi�, het hom egter genooi vir 'n werksonderhoud en hy is 'n aanbieding gemaak die dag na die onderhoud hier in Brisbane. Malcolm was oortuig dat dit die Here se wil vir hom was en het die aanbod aanvaar. Om 'n lang storie kort te maak, na die onderhoud is hy terug Muenchen toe, het verloof geraak aan Elmari en het in Maart begin werk. Elmari het op daardie stadium vir Siemens in Muenchen gewerk en het, na sy haar kontrak klaargemaak het aan die einde van April, teruggegaan Suid-Afrika toe. Ons is in Junie getroud en het onsself in Julie hier in Brisbane kom vestig. Na drie maande was Elmari so gelukkig om ook 'n werk te kry by Lucent Technologies, 'n telekommunikasie firma.
^ Na Bo

Hoe het Malcolm 'n Christen geword?

Kliek om vergroting te sien Malcolm skryf:
Ek het twee lieflike ouers, wat my baie goed grootgemaak het. Ons het omtrent elke dag saam 'n kort Bybelstukkie gelees en saamgebid. Ons het die Earlston Church of Scotland (Presbiteriaanse Kerk) bygewoon, waar my ouers albei ouderlinge was. Ons het ook die Sondagskool daar bygewoon. Ons het gere�ld vir vakansies na gesinskerkkampe gegaan by Caperwray Hall, in die "English Lake District". Capernwray Hall is 'n Bybelskool wat gesinskampe aanbied gedurende die vakansies. As kind was kerk toe gaan vir my vervelig, maar Capernwray was net wonderlik. Die kinderprogram was baie lekker en ek het dit so geniet om te sing, en deel te neem aan die speletjies en die Bybellesse.

Op 16-jarige ouderdom het my ouers ons toegelaat om self te besluit of ons wou kerk toe gaan en ek het omtrent opgehou gaan, behalwe oor Kersfees en Paasfees of wanneer my ouma kom kuier het. Dit was 'n stryd! Op 'n manier het ek geweet dit reg was om 'n Christen te wees, maar aan die anderkant was ek te swak. Ek was bang vir wat ander van my sou dink as hulle sou sien dat ek kerk toe gaan, of selfs net belangstel in sulke dinge.Earlston is so 'n klein plekkie op die platteland en daar was nie ander Christene na wie ek kon opkyk nie.

Ek het rugby baie geniet en het vir die skool en vir die plaaslike klub in Melrose gespeel. Rugby was fantasties, maar die morele standaarde in die rugby w�reld was ongelukkig besonder laag - iets wat ek nie geniet het nie. Selfs al het ek nie van alkohol gehou nie, het ek saam met hulle uitgegaan, net om een van die "manne" te wees". Ek onthou wel dat ek selfs gedurende hierdie tyd partykeer my Bybel gelees het en gebid het.

Die draaipunt vir my het gekom toe ek 'n nekbesering opgedoen het en moes ophou rugby speel. Daarna was ek taamlik siek vir 'n paar jaar het ek aan geen sport deelgeneem nie. As ek reg onthou was dit die somer na ek my honoursgraad klaargemaak het, dat ek op 'n graan-droog-aanleg gaan werk het. Dit was die verveligste werk met lang ure: 8am - 8pm. Ek was vir 'n groot deel van die tyd op my eie en het nie veel gehad om te doen nie. Vir een of ander rede het ek begin om my klein Gideo Bybeltjie saam te vat en het daarin begin lees. Toe die Universiteit weer begin het na die vakansie, het ek weer begin kerk toe gaan. Bybellees en kerk toe gaan was nie meer vervelig nie, maar ek het dit begin geniet om saam met die Here se mense te wees en Hom te vereer. Ek kon die Here se hand in my lewe sien en was baie dankbaar. Ek het so seker begin voel oor die Here se Woord en oor sy beloftes en het nie meer omgegee wat ander van my geloof in Jesus sou s� nie. In hierdie tyd het ek my hart vir Jesus gegee.

Ek weet nie waar dit vandaan gekom het nie - die begeerte in my om Jesus te ken en daarmee saam sy krag en sy vrede. Ek kan maar net aan Joh. 3:8 dink: "Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heengaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is." Ek is so dankbaar dat die Here my deur sy genade as een van sy kinders gekies het, ten spyte daarvan dat ek 'n sondaar is.

Sedertdien geniet ek dit om aan 'n verhouding met Jesus te bou, en om elke dag vir Hom te leef, ... (Fil. 3:14 "Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus." )

Habakkuk 3:17-19
"Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie,
al sou die olyfoes misluk, en die lande geen oes lewer nie,
al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees,
nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.
Die Here my God gee vir my krag.
Hy maak my voete soos di� van 'n ribbok, op ho� plekke laat Hy my veilig loop."

^ Na Bo

Hoe het Elmari 'n Christen geword?

Romans 1:16
"Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is 'n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood."

Kliek om vergroting te sien Elmari skryf:
Ek het in 'n Christen gesin grootgeword en albei my ouers het altyd kerk toe gegaan. Die res van ons familie was ook Christene en elke tweede jaar op Kersdag was die 20 van ons die grootste familie saam in die kerk. Ek onthou dat ek gereeld voor ek aan die slaap geraak het my ouers hoor Bybel lees en bid het in hulle kamer. Ek onthou ook dat my Ouma Petra elke oggend vroeg haar eie stiltetyd gehou het en daarna op haar knie� gebid het.

Die Sondagskool was altyd iets wat ek ernstig opgeneem het. Ek het geglo dat God en Jesus bestaan en toe al geweet dat die Here my gekies het om sy kind te wees.

Na my skoolloopbaan is ek universiteit toe. Daar was soveel geleenthede vir my om die Here te dien op Tukkies - ek kon op stranddienskampe gaan, fietstoere, konserttoere en het geleenthede gehad om op evangelisasie uitreike te gaan. Instede daarvan het ek gekies om my tyd aan my studies, familie en 'n verhouding te spandeer. Stadig maar seker was my sterk Christenbeginsels nie meer so op die voorgrond van my lewe nie en ek het verander in iemand wat nie die Here liefgehad het met "my hele hart, siel en verstand nie." 'n Belangrike verhouding is verbreek en my lewe was in duisende stukkies. Ek sal die Here altyd dankbaar wees dat Hy my nie verlaat het in daardie tyd nie, maar my omvou het met sy liefde en goeie vriende en familie voorsien het wat my deur die moeilike tyd gedra het. Gedurende hierdie tyd het ek eenkeer 'n droom gehad waarin die Here vir my Rom. 8:37 gegee het: "maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefhet". 'n Ander keer het ek die oggend wakker geword met die son wat warm in my kamer ingeskyn het en was bewus van die Here se teenwoordigheid. Die woorde van 'n liedjie het oor en oor in my kop gemaal: "In U hande gee ek my lewe oor, want Here, Troue God, U't my vrygemaak".

Die einde van my studies op Tuks het aangebreek en ek het net nog een vakansie as student oorgehad. Die laaste semester van my studies het ek en 'n vriendin 'n woonstel gedeel en net begin leer kosmaak. Twee baie goeie vriendinne het my gevra om die "kos-ma" te wees op 'n uitreik naby Baberton onder die Zulu's. Ek het dit aanvaar en was verbaas oor die heerlike kos wat ek in die primitiewe omstandighede aanmekaar kon slaan. Ek het maar net geweet dat die Here my se�n. Na die uitreik is ek huis toe vir die res van die vakansie. Ek was nog steeds effentjies en het net berusting gevind daarin om die Bybel te lees. So, ek het BAIE Bybel gelees.

As student het ek vakansiewerk gedoen by Siemens en dit was ook hier waar ek as ingenieur begin werk het. Tydens die eerste jaar daar het ek die geleentheid gekry om in Duitsland te gaan werk vir drie maande. Ek het 'n paar goeie vriende gemaak en het hulle van my geloof in JESUS vertel. Al was ek alleen en in 'n vreemde land, het ek altyd geweet dat die Here by my was en dat Hy my beskerm het.

Die volgende jaar terug in Suid-Afrika het ek en Petra, my sus, Lynnwoodrif se Bybelskool gedoen. My kennis van die Here en my geloof in Hom het gegroei en dit was 'n groot voorreg om onder gesoute Christene te leer van die praktiese implikasies van die Here se Woord in ons lewens.

Die mense van Siemens in Muenchen het kontak met my gehou en aan die einde van 1997 het ek weer vir drie weke daar gaan werk. Gedurende die tyd daar, is ek die aanbod gemaak om vir 'n jaar daar te gaan werk. Dit was 'n goeie geleentheid en ek het in Mei 1998 teruggegaan om daar te begin werk.

Soos baie ander meisies het ek altyd daarvan gedroom om eendag te trou. Ek kan nie presies onthou wanneer ek dit begin bid het nie, maar my gebed vir 'n lewensmaatjie was vir die volgende:
  • dat hy die Here sou liefh�.
  • dat hy vir my sou liefwees en vir my sou sorg soos vir sy eie liggaam (die idee kom van Ef. 5:25-30).
  • en dat ons die Here saam beter sou dien as wanneer ons alleen sou bly.
In Muenchen het ek die "Munich International Community Church (MICC)" bygewoon en het Malcolm hier ontmoet. Later, toe ek en Malcolm verloof geraak het en noudat ons getroud is en saam die Here dien, kan ek sien hoe die Here ons gebede verhoor en die begeertes van ons harte ken.

Baie dinge in my lewe klink, in elk geval vir my, soos 'n sprokie, maar ek weet dis omdat die Here in beheer is en sy Meester-plan vir my lewe uitwerk. Sedert ek my eie planne opgegee het en my lewe "in die Here se hand oorgegee" het, vernuwe die Here my dag vir dag.
^ Na Bo

Opgedateer: 11/06/2001

Hosted by www.Geocities.ws

1