Armoria civica
http://www.geocities.com/muurkroon

AFDELINGSRAAD PORT ELIZABETH / PORT ELIZABETH DIVISIONAL COUNCIL
Provinsie/staat: Kaapprovinsie, voor 1910, Kaap Colonie (tans Oos-Kaap).
In 1848 van Uitenhage geskei.
Ingelyf: in Afdelingsraad Dias, 1978 (1987 Streeksdiensteraad Algoa [1994 Westelike Distriksraad]).

Afdelingsraad Port Elizabeth

Die wapen mag so geblasoeneer word:

Gesny: I: Gedeel: i: Twee aalwyne (Aloe ferox); ii: Die Gamtoosrivierbrug (soos vanaf die linkeroewer gesien) met ’n Kouga-bergpiek agter; II: ’n Addo-olifant tussen twee turksvy-kaktusse.

Helmteken: ’n Driemas-skip in sy natuurlike kleure, seile gespan van blou, met aan die hoofmas ’n wimpelvlag van rooi.

Wrong: rooi en swart.

Leuse: Progressus Semper.

Alhoewel dit nie in die blasoen genoem word nie, het aldrie landskappe gras in die voorgrond, rooi berge agter en wit wolke in die hemel.

Daar is wit strepies tussen die drie verdelings van die skild. Daar is ’n goue skildsoom, maar dit lyk bloot dekoratief, asook die blou belyning aan die binnekant.

Weerskante van die skild, in die opening wat geskep word deur die sirkelvormige buitesoom wat die bewoording “Afdelings Raad”, “Divisional Council” dra, is daar twee suikerbossieblomme (Protea repens); in beide gevalle is die boonste onderstebo. (Die tekening is so swak dat dit moeilik is om die spesie te identifiseer; dit kan moontlik die blousuikerbos [P neriifolia] wees.)

Die leuse vertaal as: “Ons gaan altyd vooruit.”

Die wapen is onheraldies, en dit wil voorkom of dit nooit geregistreer was nie. Dit is nietemin deur die raad gebruik.

Wapen verduidelik:
Die suikerbossies verteenwoordig die fynbos-flora van Port Elizabeth.

Die fynbos-bioom, wat by verre na die grootste en mees gevarieerd is van die twee biome wat die Kaapse Botaniese Koninkryk saamstel, strek vanaf die Albany-distrik tot die Kaapse Skiereiland en noordwaarts tot by Nieuwoudtville; P repens word oor ’n groot deel van hierdie gebied gevind. Die Kaapse Botaniese Konkinkryk is in oppervlakte die heel kleinste van die wêreld se botaniese koninkryke, maar die rykste in spesie-diversiteit.

Die aalwyne (Aloe ferox) is ’n verdere treffende voorbeeld van die plantegroei van die streek, alhoewel dit in hierdie voorbeeld nie baie goed vertoon word nie.

Die turksvye (Opuntia ficus-indica) is eksotiese flora wat nie meer beskou word as kenmerkend van die streek nie.

Die olifant lyk of dit die Nasionale Addo Olifantpark voorstel, wat in werklikheid buite die ou Afdeling Port Elizabeth val – dit het wel binne die destydse Afdeling Alexandria gelê.

Olifante word tradisioneel met Port Elizabeth verbind omdat die stadsraad een het – in werklikheid ’n Indiese olifant, afgelei van ’n eretoevoeging in die wapen van die stad se stigter, sir Rufane Donkin. Die skip-helmteken spruit blykbaar ook van die stad se helmteken.

Die kleure van die wrong is ook onheraldies, alhoewel dit die tradisionele sportkleure is van die Oostelike Provinsie (die oostelike deel van die Kaapkolonie, tussen die Visrivier en die Tsitsikamma, maar huidiglik die westelike helfte van die Provinsie Oos-Kaap).

Oor die afdeling:
Port Elizabeth het in 1848 sy eie siviele afdeling bekom toe dit van Uitenhage geskei is. Dit het ’n relatief klein gebied gedek, tussen die Swartkopsrivier en Kuyga-Draaifontein, met inbegrip van Seaview langs die kus, sowel as die gebied wat Walmer sou word.

Die afdelingsraad het in 1856 tot stand gekom, ’n jaar na die aanvaarding van die Wet op Afdelingsrade, weens onsekerheid aangaande die raad en sy gebied. Hierdie gebied is tydens die raad se leeftyd drie maal vergroot, elke maal as gevolg van twis oor inkomste, aangesien die klein Afdeling Port Elizabeth heelwat meer ingewin het (in tol, wat in 1910 afgeskaf is, asook plaaslike belasting) as óf Uitenhage óf Alexandria se afdelings.

In 1906 is ’n klein gebied langs die pad Uitenhage toe ingesluit, suid van die Swartkopsrivier, en in 1930 is die afdeling uitgebrei tot aan die Sondags- en Gamtoosrivier, sodat die Afdeling Port Elizabeth nou aan die afdelings Humansdorp (in die weste) en Alexandria (in die noorde) begrens het. In 1949 is die klein distrik Hankey ook by die Afdeling Port Elizabeth ingevoeg.

Die wapen kon te eniger tyd tussen 1930, toe die Gamtoosrivierbrug die verantwoordelikheid van die Afdelingsraad Port Elizabeth geword het, en 1956 ontwerp gewees het. In daardie jaar het die raad sy eeufees gemerk deur om ’n boek te laat publiseer waarin die wapen verskyn het. Ironies is die brug deur die Afdelingsrade Uitenhage en Humansdorp gebou, want in 1895 toe dit opgerig is, was die Gamtoosrivier glad nie naby die Afdeling Port Elizabeth nie.

Die Afdelingsraad Port Elizabeth het na 1978 in groter groeperings verdwyn. Nà die plaaslike regeringsverkiesing van 2000 is die gebied wat vroeër onder hierdie raad geval het (sonder Hankey) in die Nelson Mandela Metropool ingelyf, en in der waarheid die grootste proporsie van die metropolitaanse gebied.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Bron: illustrasie uit Die Verhaal van die Afdelingsraad Port Elizabeth, 1856-1956 deur J J Redgrave MA. Inligting uit dié boek, vanaf ander aantekeninge in die Africana-kamer van die Port Elizabeth-biblioteek aangehou, en uit persoonlike kennis.
  • Skandering met vergunning van die Eastern Province Herald.


    Terug na rade-indeks

    Terug na Armoria civica-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle

  • Hosted by www.Geocities.ws

    1