Armoria civica
http://www.geocities.com/muurkroon

NELSON MANDELA METROPOOL
Provinsie: Oos-Kaap.

Geskep: 2000; met inbegrip van Port Elizabeth, Despatch, Uitenhage en dele van die regsgebied van die Westelike Distriksraad.

Nelson Mandela Metropool

Wapen 20 Junie 2002 formeel in gebruik geneem. Dit is nie geregistreer nie, aangesien die Metropolitaanse Raad besluit het om voorstelle van die Buro vir Heraldiek nie te aanvaar nie. Daar is geen skild as sulks nie; die skildarea is losweg omlyn deur twee olifanttande en in vier gedeel. Dit mag so geblasoeneer word:

Wapen: In silwer, gevierendeel, die vertikale skeidslyn met ’n ry driehoekige stelle krale van rooi, geel en blou, en die horisontale skeidslyn gemerk met ’n golwende strepie van blou, bo vergesel van ’n golwende blou strepie wat in die middel geledig is: 1. Drie mensefigure van swart wat ’n familie van vader, moeder en kind voorstel; 2. Regs ’n tandrat, links ’n motorskip wat na vore en effens na links vaar, en ’n klou-hamer skuins, almal in natuurlike kleure; 3. ’n Aalwyn in volle bloei in natuurlike kleure; 4. ’n Staande bul-olifant wat na vore kom en effens na links. Die veld word omsluit deur twee olifanttande van swart, wat onder gekoppel word deur kralewerk in die vorm van afwisselende driehoeke in ’n wit agtergrond, van blou, groen en rooi.

Helmteken: Bo die skild ’n kierie en ’n spies, onder skuins gekruis, met, tussen die skagte, ’n son wat skyn.

Leuse: Working together for ubuntu.

Wapen verduidelik:
’n Amptelike verduideliking maak deel uit van die program vir die amptelike voorstelling van die nuwe simbool. Dit lui (volgens my vertaling):

“Die oliftanttande en die kralewerk, wat die skildarea omlyn, verwys na die kultuurerfenis van die streek.

“Die blou golwende strepe verteenwoordig water; beide die riviere van die metropolitaanse gebied en die see. Die herhaalde patroon langs die middel van die skildarea af verteenwoordig ’n ruggraat.

“Die drie mensefigure in silhoeët stel ’n familie voor, en ook die waardes van die versorging van ’n nuwe geslag en sy voorbereiding vir die toekoms.

“Die tandrat, hamer en skip simboliseer nywerheid en handel in die metropool en vooruitgang in hierdie aktiwiteitsfere.

“Die aalwyn, met sy gekleurde bloeiwyses, is nie net ’n treffende voorbeeld van die flora van die metropolitaanse gebied, maar word ook medisinaal gebruik, deur beide tradisionele genesers en deur moderne wetenskaplike medisyne.

“Die olifant is deel van die inheemse wild van die Algoabaai-streek. Die wêreld-beroemde Nasionale Addo Olifantpark huisves die nageslag van ’n olifantbevolking wat in die verlede vryelik in die omgewing van Port Elizaabeth en Uitenhage gewandel het.

“In volksoorlewering simboliseer die olifant, met sy sterk familie- en tropverbande leierskap wat geken word aan intelligensie en wysheid.

“Die stad se natuurlike omgewing, wat gesamentlik deur die aalwyn en die olifant verteenwoordig word, is ’n geweldige trekkrag vir toeriste en is onmisbaar in die ekologiese integriteit van die metropolitaanse gemeenskap.

“Die son wat skyn simboliseer, in beide Afrika- en Westerse tradisies, die geboorte van ’n nuwe tyd.

“Die samevoeging van kierie en spies verteenwoordig gesag, asook die beskerming van al die mense en bates in die streek. Dat hulle meer horisontaal as vertikaal is, is teken van vrede.”

Daar is etlike anomalieë in hierdie samevoeging van simbole. Eerstens is daar ’n predominansie van swart op ’n wit agtergrond, ’n kleurskema wat verkies is deur beide die uitvoerende burgemeester en die grafiese kunstenaar wie se voorstel gekies is as basis vir die uiteindelike ontwerp, en wat hierdie tekening voorberei het.

Dit kan gesien word in die swart kleuring van die olifanttande. In die natuur kan olifanttand baie vuil wees, waar dit met stof ontsier is, maar dit is nooit swart nie.

Die familie se voorkoms in silhoeët is veronderstel om weg te kom van die voorstelling van enige spesifieke rassegroep, maar is nietemin swart van kleur. Die styl daarvan is gebaseer op Boesman-tekeninge,[1] maar anders as in Boesmankuns, waar daar ’n duidelike onderskeid is tussen manlike en vroulike figure, is hierdie groep beslis androgeen.

Die skip is ook swart op een oppervlak, alhoewel ook in skakerings van grys, en die hamer is ook grys. Die tandrat is egter in sy natuurlike kleure, en lyk meer bruin of selfs geroes.

Die helmteken van die Port Elizabethse Stadsraad het ’n seilskip getoon. Die keuse van ’n motorskip kan gesien word as soortgelyk aan die Universiteit van Port Elizabeth se gebruik van stoklose ankers in plaas van die stokankers wat in Port Elizabeth se wapen voorkom.

Die olifant word, soos die skip, as gedeeltelik swart en gedeeltelik grys aangetoon. Die tande is gelerig, maar dit is nie duidelik of hulle veronderstel is om goud van kleur te wees nie.

Die metropool se wapen bevat, soos dié van die Afdelingsraad Port Elizabeth (een van sy voorganger-owerhede), ’n Afrika-olifant (Loxodonta africana) ten spyte van die feit dat in die 20ste en 21ste eeue die enigste olifante in sy omgewing in die Nasionale Addo Olifantpark was, ’n grondgebied wat buite sy gesagsgebied val.

Port Elizabeth het in sy wapen ’n Indiese olifant (Elephas maximus) gehad, wat ontleen is uit die wapen van sir Rufane Donkin.

Die aalwyn is vanaf ’n foto afgeteken, en toon die blare en boeiwyses op ’n natuurlike manier. Die stam is egter verkort.

Hierdie plant is ’n eksemplaar van Aloe ferox, ’n plantsoort wat ook in die wapens van Walmer en die Afdelingsraad Port Elizabeth gevind word (hierdie owerhede is tans in die metropool ingelyf) en van die Provinsie Oos-Kaap.

Die kralewerk kan gesien word as verteenwoordigend van ’n kombinasie van Afrika- en Westerse elemente, aangesien die tradisionele kralewerk van Bantu-sprekende gemeenskappe in Suider-Afrika die afgelope twee eeue dit aangepas het tot die gebruik van glaskrale wat uit Europa ingevoer is.

Die “ruggraat” van kralewerk en die golwende strepies wat die riviere en die see voorstel kan ook gesien word as ’n tipe kruis. ’n Meulkruis was die enigste wapenfiguur in die wapen van Uitenhage. Met die begrip see verstaan ’n mens Algoabaai en die oseaan wes van Kaap Recife[2].

Die kierie en spies word ook in die wapen van Suid-Afrika wat in 2000 in gebruik geneem is, aangetref, en staan in dieselfde posisie in die samestelling.

Die son het ’n ander voorkoms van die gewone heraldiese son. Dit is ’n rooi segment (ongeveer een-derde) van ’n rondeel, en die geel strale spruit uit ’n sirkel-segment van oranje. Die strale is ook van ongewone voorkoms.

Die leuse is in Engels, op die aandring van die uitvoerende burgemeester, maar bevat die isiNguni-woord ubuntu, wat geen presiese vertaling het in Westerse tale nie. Die letterlike betekenis verwys na die menslike lewenstaat. Die stamwoord -ntu beteken “mens”, en kan uitgebrei word as beskrywend van ’n kreatuur wat regop staan en op twee bene stap. Maar hierdie “mensheid” het ’n breëer konnotasie, want ubuntu omvat ’n sisteem van verpligtinge tussen mense wat opgesom word in die uitdrukking “Umntu mgumuntu ngomntu” – “’n Persoon is mens deur ’n ander mens.”

Die Metropolitaanse Raad het besluit om hierdie stel simbole vir vyf jaar lank voorlopig te voer terwyl dit ’n proses deurgaan van heropweeg van die wapen en sy betekenis.

Die wapen verksyn ook in die vorm van twee verskillende vlae: ’n wit vlag van konvensionele grootte, wat by die Stadsaal en ander munisipale geboue wapper, en ’n wit vertikale banier wat slegs die wapen en leuse bevat. Die konvensionele vlag omsluit die wapen met ’n ligblou vierkant en die bewoording “Nelson Mandela Metropolitan Municipality”, ook in ligblou.

Oor die metropool:
Die metropolitaanse munisipaliteit is ’n samesmelting van die Stad Port Elizabeth met sy naaste buurdorpe, Uitenhage en Despatch.

Die afbakening van 2000 was geskoei op die beginsel van die inlyf van plattelandse gebiede in stedelike munisipaliteite, dus omhels dit ook gebiede wat voorheen onder die Westelike Distriksraad geval het. Die WDR, na ’n naamsverandering na Distriksraad Cacadu, bestaan steeds, maar aangesien distriksrade nie meer binne metropolitaanse gebiede funksioneer nie, het dit sy hoofkwartier vanaf Port Elizabeth na Grahamstad (in die Plaaslike Munisipaliteit Makana) verskuif.

Die WDR-gebiede wat in die metropool ingelyf is, is die regsgebied van die eermalige Afdelingsraad Port Elizabeth (maar met uitsluiting van Hankey, wat in 1949 by die ARPE bygevoeg is, wat tans teel is van die Plaaslike Munisipaliteit Kouga), en dele van die regsgebied van die Afdelingsraad Uitenhage.

Ná die verkiesing van 2000 het verskeie plaaslike owerhede dit voorgestel om die naam van Nelson Rholihlahla Mandela,[3] President van Suid-Afrika vanaf 1994 tot ’99, te gebruik, maar die metropool van Algoabaai het die reg op die naam verkry..

Ook in die metro-gebied ingesluit is die Coegariviermond, net noord van Motherwell, wat in die verlede hoofsaaklik vir sy soutwerke bekend was. Laat in 2002 is daar begin met die bou van ’n diepwater hawe aan die riviermonding, wat gekoppel is aan die Coega-Nywerheidsontwikkelingsone. Die hawe word deur die National Ports Authority gebou, terwyl die NOS onder die beheer is van die Coega Development Corporation.



[1] Die term San word dikwels gebruik as voorkeurwoord in plaas van Boesman, met die argument dat dit polities korrek is, aangesien dit van die Khoikhoi-taal ontleen is – dus ’n inheemse woord. Die Khoikhoi-gebruik van die woord dui egter op Boesmans as mindere wesens, amper diere. Deesdae verkies Boesmans gewoonlik hierdie term as aanduiding van etniese groep. Hulle verkies in elk geval om hulle eie stamname te gebruik.

[2] Die see wes van Kaap Recife word gewoonweg as deel van die Indiese Oseaan gereken. Daar is egter hewige argument oor die punt waar die Indiese Oseaan eindig: Kaap Agulhas of Kaappunt (suidpunt van die Kaapse Skiereiland).

’n Oplossing vir hierdie argument kan potensieel gevind word in die relatief nuwe konsep van die Suidelike Oseaan, wat vanaf Tasmania weswaarts strek tot by Patagonia (suid-Argentina). As die Suidelike Oseaan Afrika verbysteek, moet dit logies ook aan Afrika raak, en dit kan geargumenteer word dat die Suidelike Oseaan tussen Kaappunt en Kaap Recife aan Afrika raak.

Dit sou ook aan Kaap Recife ’n nuwe status gee as skeidingspunt tussen die oseane.

’n Verdere argument ten gunste van die Suidelike Oseaan-konsep is die feit dat gedurende die wintermaande, die weerpatrone van die Stormbreedtes (Roaring Forties) noordwaarts skuif, en dit bring vir Suid-Afrika die koue fronte wat ons winterreën en sneeu voortbring.

[3] Vir nadere inligting oor Nelson Mandela, kliek hier. Let egter daarop dat dit die webwerf is van ’n politieke party.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Bronne: Inligting en illustrasie deur die munisipaliteit voorsien, ander inligting uit persoonlike kennis.


    Terug na indeks van munisipaliteite sedert 2000

    Terug na Armoria civica-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle

  • Hosted by www.Geocities.ws

    1