Armoria civica
http://www.geocities.com/muurkroon

AFDELINGSRAAD DIAS / DIAS DIVISIONAL COUNCIL

Provinsie: Kaapprovinsie.

Gevorm: 1978, met inbegrip van: Afdelingsraad Port Elizabeth, Afdelingsraad Uitenhage, Afdelingsraad Alexandria, Afdelingsraad Bathurst.

Toevoegings: Afdelingsraad Albany, 1980.

Ingelyf: 1987 in Streeksdiensteraad Algoa (1994 Westelike Distriksraad).

Bartolomeu Dias

Afdelingsraad Dias

Die wapen mag so geblasoeneer word:

 

Wapen: In groen, ’n silwer padrão; op ’n silwer skildhoof, drie quinas of blou skildjies, elk met vyf pennings van silwer belaai, 2, 1 en 2.

Helmteken: Op ’n wrong van silwer en groen, ’n karavel in sy natuurlike kleure, met op elk van die seile ’n kruis van die Orde van Christus; van die mastop wapper ’n banier van die wapen van koning João II van Portugal, en van die voormas ’n groen wimpel.

Leuse: Progressus semper.

 

Oor die wapen:

Hierdie devies reflekteer sterk die ontdekking[1] in 1488 van die kuslyn tussen die Gamtoos- en Visrivier – wat tussen 1978 en ’87 die suidergrens van hierdie afdeling gevorm het – deur die Portugese ontdekkingsreisiger Bartolomeu Dias.[2]

Die helmteken toon die vaartuig die São Cristóvão, ’n tipiese karavel soos wat in daardie tyd in Portugese ontdekkingsreise gebruik is. Alle ontdekking langs die kus van Afrika is deur die Portugese Orde van Christus[3] onderneem, dus die voorkoms van die orde se kenmerkende rook kruis op die wit seile van die vaartuig. Dias het onder die gesag van koning João II (*1455 †1495, koning vanaf 1481) gevaar, en het dus ’n banier van die koningswapen as sy landsvlag[4] gebruik.

Die hoof-wapenfiguur is ’n padrão van wit klip. Draagbare monumente van hierdie soort is in Portugal voorberei vòòr die vertrek van ontdekkingsvlote sodat hulle langs die kus van Afrika opgerig kon word om die vordering van die vloot te merk en om aanspraak te maak op die Portugese koning se gesag oor die kus wat so gemerk is.

Daar is verskeie soorte padrão, want die spesifieke styl van klipgravuur het deur die 15de eeu verander, maar tipies het hulle ’n tablet ingesluit waarop die koningswapen staan, en daarbo ’n kruis. Die padrão wat in hierdie wapen getoon word is ’n presiese replika van die twee padrãos wat in Portugal in die laat- 20ste eeu voorberei is vir oprigting rondom Algoabaai; dit is heel waarskynlik dat die padrão wat in 1488 werklik langs hierdie kus opgerig is, ietwat anders was.

Die groen skildveld weerspieël die ruig kuslande wat in die divisie ingelyf is, wat skerp kontrasteer met die heelwat droër binneland van hierdie landsdeel.

Die skildhoof verwys na die wapen van Portugal.

Hierdie koningshuis is ’n vertakking van die Capetaanse familie wat konings van Frankryk voorsien het vanaf 987nC tot 1848. Tussen 1003 en ’06 het koning Robert II van Frankryk die hertogdom Boergondië verower en het hy sy seun Robert daarvan hertog gemaak. Robert van Boergondië se seun Henri (Enrique) het die koning van Castilië gaan dien, wat in 1093 hom met sy onegte dogter Teresa laat trou het en vir hom graaf van Portugal (die distrik rondom Oporto) gemaak.

In 1139 het graaf Enrique se seun Afonso homself koning van Portugal geproklameer, en in 1143 is hy, onder druk uit Rome, deur Castilië as koning erken.

Die vroegste wapen wat deur die Huis Portugal gevoer is, was ’n silwer skild waarop ’n blou kruis. Dit wil voorkom dat die kruis uit blou leer gemaak is, vasgemaak met silwer spykers, want die kruis is op die slagveld beskadig en het op die ou end uit vyf aparte stukke leer bestaan, elk met etlike silwer spykers vasgeheg.

Uiteindelik is die wapen geformaliseer as in silwer, vyf blou skildjies elk belaai met verskeie pennings van silwer, waartoe daar later ’n skildsoom van Castilië bygevoeg is. ’n Penning is ’n ronde (bordvormige) wapenfiguur.[5] Die aantal pennings het geleidelik van nege na vyf verminder, gerangskik 2, 1 en 2.

Verskeie vergesogte verduidelikings is vir hierdie wapen aangegee (die leerkruis het intussen vergete geraak), en een van die gewildste het daarop neergekom dat die pennings op elke skild 1, 2 3, 4, 5, 6 getel is (die middelste een is tweemaal getel), wat ’n totaal van 30 gee. Dit is dan gesê dat hierdie die 30 stukke silwer was waarmee Judas vir Christus verraai het.

Die blou skilde, elk met sy (uiteindelik) vyf pennings, het as die quinas[6] bekend gestaan.

In hierdie wapen is daar drie quinas in plaas van die vyf wat na regte die koningswapen uitmaak; so verwys dit bloot na Portugal sonder om enige aanspraak te maak op ’n hegter verbintenis met daardie land nie.

Die leuse, Progressus semper (Ons vorder altyd), is direk van die wapen van die Afdelingsraad Port Elizabeth geneem.

 

Bartolomeu Dias:

Min is van die vroeë lewe van hierdie merkwaardige ontdekkingsreisiger bekend, wat “gewoonlik beskou is as die grootste van die Portugese pioniers wat tydens die 15de eeu die Atlantiese Oseaan verken het”.[7]

Daar is geen bewys daarvoor nie dat hy van een van Hendrik die Seevaarder se loodse afgestam is nie, en volgens sy rang was hy niks meer as ’n skildknaap in die koninklike huishouding. Die verlengde familienaam Dias de Novais verskyn in geen kontemporêre dokumente nie, en word eers aangetref in die akte van aanstelling van sy kleinseun as goewerneur van Angola in 1571.

In 1486 het koning João II twee mans, Pêro da Covilhã en Afonso Paiva, oorland na Indië en na Etiopië en het hy ook Dias beveel om die suidelike limiet van Afrika te vind. Deels is dit gemotiveer deur vars gerugte oor die legendariese Priester Johannes wat in daardie jaar Europa bereik het.

 “Priester Johannes” was deel van die motivering agte die ganse verkenning van die kus van Afrika, want Hendrik die Seevaarder het die droom gekoester om ’n alliansie met ’n Christen-heerser teen die Islam te kan sluit.

Hierdie legende het sy faktuele begin gehad met die Mongoolse khan Yeh-lü Tach-shih, die Boeddhistiese stigter van die Karakitai-ryk in Sentraal-Asië, wat Nestoriese[8] raadgewers gehad het, en wat in 1141 die Seljuq-sultan Sanjar tydens ’n veldslag te Qatwan, in Persië, verslaan het.

Die titel van die Karakitai-heerser was Gur-khan, wat, nadat dit deur twee of drie Midde-Oosterse tale vertaal is, uitgedraai het as die Hebreeuse Joganan, of Johannes. Teen die tyd wat verslae van die slag op Qatwan in Europa in sirkulasie was, is dit gesê dat die heerser van die staat ’n Christen was, en sy naam Johannes.

Nà etlike dekades het die legende homself na Indië oorgeplaas waar, soos dit vertel is, Priester Johannes se kleinseun Dawid die Moesliems in daardie subkontinent verower het. Hierdie weergawe van die storie is miskien gebaseer op die Mughal-dynastie wat in Sentraal-Asië ontstaan het, en wat na Islam oorgegaan het eers nadat dit Indië oorheers het.

Op die lange duur het die legende homself aan Etiopië vasgheg. Dit was algemeen bekend dat die heersende dinastie aldaar Christelik was. Maar selfs in hierdie weergawe is die legende van die realiteit geskei, want die koning was glo ook ’n priester, dus die benaming Priester Johannes.[9]

Dias se vloot het uit drie vaartuie bestaan, São Cristóvão, wat deur Dias self aangevoer is; die São Pantaleão, onder sy genoot João Infante; en ’n voorraadskip wat deur Dias se broer aangevoer is; sy naam verskyn as òf Pêro òf Diogo. Ook in die geselskap ingesluit was verskeie vooraandstaande skipsloodse, onder wie die belangrikstes Pêro de Alenquer en João de Santiago was.

Selfs die jaar van Dias se vertrek word betwis, want die 16de-eeuse geskiedkundige João de Barros vertel dat dit Augustus 1486 was, maar dit word tans algemeen aanvaar dat dit Augustus 1487 was.

Die vloot het die padrões wat Diogo Cão in 1482 langs die Kongo- (of Zaïre)-rivier en op Kaap Santa Maria (tans in suid-Angola) geplant het, en die een wat hy in 1486 te Kaap Kruis (tans in Namibia, noord van Walvisbaai) verbygevaar, en 8 Desember het hy Walvisbaai bereik. 26 Desember het by hulle Elizabethbaai (wat hy die Golfo de São Stefano,[10] genoem het, suid van die huidige Lüderitz), aangedoen.

Nà 6 Januarie 1488 is Dias deur storms gekeer dat hy naby die kus kon vaar, en was hy etlike dae lank buite sig van land. Toe hy weer ooswaarts keer, vind hy geen land nie, en slegs nadat hy weer noord gedraai het, het hy 3 Februarie land gesien. Hy het geland op wat hy die Angra de São Brás genoem het (sy aankoms was op Sint Blasiusdag). Hy het die plek ook die Angra des Vaqueiros[11] (Baai van die Beeswagters) genoem. Tans staan dit as Mosselbaai bekend.

Hulle het verder gevaar tot by Angra de Roca (Baai van die Rots, tans bekend as Algoabaai), waar ’n houtkruis op ’n eiland opgerig is, die naam waarvan Dias as Santa Cruz[12] opgeteken het. Die bemanning was ongewillig om verder te gaan, en die offisiere was eenparig ten gunste van terugkeer. Dias het egter hul toestemming verkry dat hull nog ’n paar dae verder vaar, en hulle het die Rio de Infante (wat Dias vir João Infante vernoem het), wat waarskynlik die Visrivier was.[13]

’n Padrão, wat Dias die padrão de São Gregorio genoem het, is vlak oos van Algoabaai opgerig op ’n plek wat tans Kwaaihoek genoem word. Vroeg in die 19de eeu het Boere hierdie kruis as simbool van Rooms-Katolisisme vernietig.

Gedurende sy terugvaart het Dias die Cabo de Bõa Esperança (Kaap die Goeie Hoop) gesien en vernoem. Toe hy egter in Lissabon terugker is die krediet vir hierdie naam aan koning João gegee, en is dit neergeskryf dat Dias dit Cabo Tormentoso (Kaap van Storms) “genoem” het.

In 1986-87, om die 400ste jaargang van Dias se vaart te vier, is ’n presiese replika van die São Cristóvão in Portugal gebou en tydens 1987 en ’88 is dit die kus van Afrika langs afgeseil. Die vaartuig was tydens wat die Dias-Fees genoem is, langs ’n kaai in Port Elizabeth se hawe vasgemaak, waar besoekers haar kon besigtig. Die skip is so ver as die Visrivier geseil, met aandoenings langs die weg op St Croix-eiland (wat vir die geleentheid sy oorspronklike naam Santa Cruz teruggekry het) en Kwaaihoek.

 

Oor die raad:

Die hoë onkostes van plattelandse administrasie het gedurende die laat 1970s die Kaapse Provinsiale Administrasie gedwing om ’n aantal afdelingsrade saam te voeg.

In die Algoabaai-streek was dit die afdelings Port Elizabeth, Uitenhage, Alexandria en Bathurst[14] wat in 1978 ’n enkel raad gevorm het, en dus effektief die kus beheer het tussen die Gamtoos- en die Visrivier. Die raad is op Port Elizabeth gebaseer.

In 1980 is die Afdeling Albany (in Grahamstad gebaseer) ook in die Afdeling Dias ingelyf.

Onder ’n nuwe provinsiale ordonnansie het die Afdelingsraad Dias in 1987 die Streeksdiensteraad Algoa geword.



[1] Die term ontdekking word hier gebruik in die konteks van die Europese geskiedenis, waarvolgens die suidkus van Afrika vòòr hierdie tyd aan Westerlinge onbekend was.

Nie net was die kuslyn reeds duisende jare aan die inboorling-Boesmans bekend nie, maar dit is hoogs waarskynlik dat reeds in 1421 ’n massiewe Sjinese vloot hier weswaarts verbygevaar het, waarna dit gedeel is en verdere ontdekkings gemaak het langs die wes- en ooskuste van Noord- en Suid-Amerika, asook verdere ontdekkings wat tot onlangs toe in die Weste onerkend was.

Dit is tewens hoogs waarskynlik dat die ontekkingsreise van beide die Portugese (Dias sowel as Vasco da Gama) en die Genoaan Columbus onder die Spaanse vlag die direkte gevolg was van die smokkel van Sjinese kaarte na die Weste.

Hierbenewens is daar ook ’n sterk moontlikheid dat ’n Egiptiese vloot (of slegs ’n enkele skip) reeds in die voor-Klassieke tyd ook om Afrika geseil het.

[2] Geslagte Suid-Afrikaanse skoolkinders het hierdie Portugese ontdekkingsreisiger se naam òf in Afrikaans, as Bartolomeus Dias, òf in Engels, as Bartholomew Diaz, geleer.

Die Afrikaanse vorm van die voornaam reflekteer ’n Nederlandiese neiging om Latynse vorms te gebruik, onafgehang van of die naam werklik Latyns is (of ’n Latynse vorm het) aldan nie.

Die Engelse vorm van die van word in ’n Spaanse styl gespel – die ontdekker se familie was miskien, of miskien nie, aan die Spaanse edelhuis Diaz verwant (in Castiliaans word hierdie naam uitgespreek met ’n klank soos die Engelse TH [soos in die woord thin] – Die-ath). Die uitspraak wat in Engels-medium-skole geleer is was gewoonlik Daai-’uz.

[3] Die konings van die Iberiese skiereiland het op die onderdrukking van die orde van die Tempelridders in ander dele van Europa – opmerklik in 1314 deur koning Philippe IV van Frankryk – gereageer deur om die kapittels van die orde in hulle ryke te laat herstig onder die naam Orde van Christus.

Dit het apart plaasgevind in Portugal en in die Spaanse koninkryke. Alle verwysings na die Tempelridder is daarna vermy, maar dit is opmerklik dat die stigtingslede van die verskeie Iberiese Ordes van Christus presies dieselfde ridders wat wat in daardie lande vroeër die Tempelorde uitgemaak het.

Die motivering hiervoor het gelê in die ontsaglike bronne wat die Templaars opgebou het, nie slegs in grond-rykdom nie, maar ook in militêre en vloot-vaardighede, uitrusting en mannekrag, oorspronklik met die doel om die Heilige Land van die Moesliems te herower, maar wat ook steeds broodnodig was in die herowering van die skiereiland van die More. Hierdie proses is slegs in 1492 voltooi met die verowering van Granada deur die koninkryke Castilië-Leon en Aragon onder hul gesamenlike heersers Ferdinand van Aragon en Isabella van Castilië (vir die vlag van Ferdinand en Isabella, wat Columbus gehys het, kyk hier).

In 1420 is die Infante Dom Enrique van Portugal (aan Nederlandiese geskiedkundiges bekend as Hendrik die Seevaarder, toe 26 jaar oud) aangestel as Hoogmeester van die Portugese Orde van Christus, en het hy dadelik die orde begin rig op die ontdekking van die kus suid-weswaard van die Pilare van Herkules (die Straat van Gibraltar).

Sy doel, en dit van sy opvolgers vir die daaropvolgende 77 jaar, was om met die legendariese Priester Johannes kontak te maak.

Dit was deur hierdie ontdekkingswerk dat die naam Afrika, wat oorspronklik beperk was tot slegs die distrik rondom Carthago en Tunis, en onder Romeinse gesag uitgebrei is na die lande wat ons tans as Tunisië, Algerië en Marokko ken, geleidelik suidwaarts uitgebrei is totdat, met Dias se reis, dit die ganse weskus gedek het van die vasteland wat ons tans onder daardie naam ken.

[4] Gedurende ’n groot deel van die Middeleeue en daarna was die vlag van Portugal die banier van die heersende koning. Voorbeelde van hierdie vlae kan hier en hier gevind word.

[5] Pennings kom in goud en silwer voor. ’n Bordvormige wapenfiguur van ’n ander kleur word in Afrikaans en Nederlands ’n koek genoem

[6] Hierdie woord word as kie-nas uitgespreek.

[7] Aangehaal uit die Encyclopædia Britannica (my vertaling).

[8] Volgelinge van die heretiese kerk wat ontstaan het uit die leer van Nestorius, ’n Siriese biskop van die 4de eeu nC.

[9] Omdat die Portugese gedagte dat iemand genaamd Priester Johannes bereikbaar was, die verkenning van Afrika gemotiveer het, is ’n monument aan hierdie ideaal van Priester Johannes in Port Elizabeth, naby die Stadsaal, opgerig.

Die monument het die formaat van ’n groot kruis met, binne ’n sirkelvormige opening in die middel twee mensefigure wat sit: een met ’n tulband om die kop en ’n man aangetrek soos ’n 15de-eeuse Portugese skeepskaptein. Rondom die voetstuk is daar ’n inskripsie in vier tale (Engels, Afrikaans, Portugees en isiXhosa): “Ter nagedagtenis van die seevaarders wat op soek was na Priester Johannes, 1145-1645.”

[10] 26 Desember is op die Kerk-almanak Sint Stefanusdag.

[11] ’n Verwysing na die Khoikhoi-veewagters wat hulle daar aangetref het. Hulle het aanvanklik weggeloop, maar het teruggekom om die Portugese aan te val.

[12] Franse kaarte gee hierdie naam as St Croix aan; dit staan tans onder hierdie naam bekend, uitgespreek as “Saint Croy”.

[13] Hierdie rivier het die wesgrens van Ciskei gevorm tydens daardie staat se kortstondige “onafhanklikheid”.

[14] Hierdie afdeling, oorspronklik Lower Albany (Benede-Albany) genoem, is vir die dorp Bathurst vernoem, maar sy setel was in werklikheid Port Alfred.


Counter

Terug na bo

For English, click here

Erkennings: Beeld van wapen van ’n biljet deur die afdeling uitgegee. Geskiedkundige inligting uit verskeie bronne, waaronder die Encyclopædia Britannica.


Terug na rade-indeks

Terug na Armoria civica-indeks

Terug na Armoria-indeks


Opmerkings, navrae: Mike Oettle

Hosted by www.Geocities.ws

1