Armoria civica
http://www.geocities.com/muurkroon

AFDELINGSRAAD ALBANY / ALBANY DIVISIONAL COUNCIL
Provinsie/staat: Kaapprovinsie, voorheen Kaapkolonie (tans Oos-Kaap).
Ingelyf: in Afdelingsraad Dias, 1980 (later Streeksdiensteraad Algoa, Westelike Distriksraad).

Afdelingsraad Albany

Wapen geregistreer met Staatsheraldikus, 30 April 1976:

Wapen: In silwer, ’n rooi kruis; op ’n gekanteelde skildhoof van blou, ’n dissel met stingel en blare tussen regs ’n ontwortelde prei en links ’n gestingelde klawerblaar, almal van goud.

Helmteken: ’n Herkruisde kruis, aan die voetenent skerppuntig, wat uit ’n Oosterse kroon rys, voor twee dwarsgekruiste pyle, almal van goud.

Dekkleed: Silwer en blou.

Skildhouers: Regs ’n luiperd in sy natuurlike kleure met, op sy skouer, ’n rooi mantelskulp, en links ’n koedoe met, op die skouer, ’n proteablom met stingel en blare, in sy natuurlike kleure.

Spesiale grond: ’n Voorstelling van die suurveld van die Albany-gebied.

Leuse: Take Root or Die.

Oor die afdeling:
Die oostelike streek van die distrik Uitenhage, wat as die Zuurveld bekend gestaan het, is 7 Januarie 1814 formeel Albany genoem. Dit word betwis of dit vernoem is vir Frederick Augustus (1763-1827), hertog van York en hertog van Albany, wat tydens die Napoleontiese Oorloë Britse Hoofkommandeur was, of vir die stad Albany, New York, geboorteplek van kol Jacob Glen Cuyler, ’n Nederlands-sprekende United Empire Loyalist en eerste Britse landdros van Uitenhage. Maar aangesien Albany en New York vernoem is na James, hertog van York en Albany (1633-1701, koning as James II tot 1688), is daar ’n besliste konneksie met die Skotse koninklike hertogdom.

Die Afdelingsraad Albany het in 1855 tot stand gekom, nà die aanvaarding van die Wet op Afdelingsrade, maar het nie om ’n wapen vóór aanvaarding van die Heraldiekwet van 1962 aansoek gedoen nie.

Die Afdeling Albany is in 1857 gedeel, en die Bathurst-distrik, ook bekend as Benede-Albany, het ’n aparte afdeling geword met sy setel te Port Alfred.

Wapen verduidelik:
Die wapen simboliseer Albany as sentrum van Britse, en veral Engelse, nedersetting tydens en na die nedersettingskema van 1820 – die distriksetel, Grahamstad, word tans gedomineer deur die 1820-Setlaars Nasionale Monument, ’n konferensiesentrum op Gunfire-heuwel, wat oorkyk oor die vallei waar die grootste deel van die stad lê.

Die sentrale devies op die skild is die kruis van Sint Joris (St George), beskermheilige van Engeland – die rooi kruis op wit is die koninklike kentekenvlag vir Engeland.

In die skildhoof is die blom-embleme van Wallis, Skotland en Ierland (dié is ook koninklike kentekens). Die gekanteelde delingslyn simboliseer die nedersetting se militêre rol as bastion teen invalle deur die amaXhosa van oorkant die Visrivier.

In die helmteken simboliseer die Oosterse kroon die oosgrens van die Kaapkolonie (soos dit in die eerste helfte van die 19de eeu was), die kruis die planting van die Christelike Geloof, en die pyle weer die militêre rol van die nedersetting.

Die regterhandse skildhouer, ’n natuurlike luiperd (Leo pardus), kom van die wapen van die Stad Grahamstad, saam met die mantelskulp op sy skouer. Die luiperd is lank reeds ’n simbool van Albany, en verskyn ook in die wapen van die plaaslike Skotse regiment, First City.

Die linkerhandse skildhouer, ’n koedoe (Tragelaphus strepsiceros), is tipies van die wild wat eens in die distrik algemeen was, en wat huidiglik weer in reserwes en op wildplase te vinde is.

Die protea simboliseer beide Suid-Afrika (die reuse of koningsprotea, Protea cynaroides, is die nasionale blom) en die fynbos-plantgegroei van die Kaapse Botaniese Koninkryk, waarvan Albany die mees oostelike deel is. Die gebied binne Albany wat as Beggars Bush bekend staan is verste oos wat P cynaroides in die natuur gevind word; dit kom so ver wes as Kaapstad voor.

Die grond waarop die skildhouers staan is ’n voorstelling van die kenmerkende suurveld wat die gebied sy Nederlandse naam gegee het.

Die leuse word ontneem van ’n opmerking in die dagboek van ’n 1820-Setlaar, eerw Henry Dugmore, wat geskryf het: “It was a forlorn-looking plight in which we found ourselves, when the Dutch waggoners had emptied us and our luggage on to the greensward, and left us with our boxes and bundles ‘under the firmament of heaven’. Our roughly-kind carriers seemed, as they wished us goodbye, to wonder what would become of us. There we were in the wilderness; and when they were gone we had no means of following, had we wished to do so. We must take root and grow, or die where we stood.”

(“Dit was ’n wanhopige verknorsing waarin ons ons gevind het toe die Boere met hulle waens ons op die grasperk afgelaai het, en ons met ons kiste en bondels onder die hemelse uitspansel verlaat het. Ons rowwe maar goedgunstiglike karweiers het blykbaar gewonder, toe hulle ons vaarwel gegroet het, wat van ons sou word. Daar was ons in die wildernis, en toe hulle weg is, het ons geen middele gehad om hulle te volg nie, al wou ons. Ons moet wortel slaan en groei, of sterf waar ons staan.”)

Die frase is opgeneem deur die digter en toneelskrywer Guy Butler, ’n professor te Grahamstad se Rhodes University, in sy 1966 toneelstuk Take Root or Die, wat op die belewenisse van die 1820-Setlaars gebaseer is.

Dugmore was ’n negejarige seun toe hy as lid van die Gardner-groep van 1820-Setlaars aan land gekom het.


Counter

Terug na bo

For English, click here

Bron: illustrasie deur Barrie Burr.


Terug na rade-indeks

Terug na Armoria civica-indeks

Terug na Armoria-indeks


Opmerkings, navrae: Mike Oettle

Hosted by www.Geocities.ws

1