[ Home ] [ SAMS Information ] [ Discussion ]
[ Missionalia ] [ Links ] [ AICs ] [ Articles ]


INTERNATIONAL ASSOCIATION FOR MISSION STUDIES

IAMS 2000

Liewe vriend/vriendin

Voordat jy verder lees wil ek jou vra om ASSEBLIEF hierdie skrywe te stuur aan enigiemand waarvan jy meen hy of sy sal belangstel.  DANKIE!

Ons, die Suid Afrikaanse Werkgemeenskap vir Sendingwetenskap, het die International Association of Mission Studies genooi om hul 2000 kongres hier in Suid-Afrika te kom hou. Hulle lede kom uit baie lande in alle kontinente en uit 'n menigte van kerke. Hulle het die uitnodiging aanvaar en die IAMS-kongres word nou van

van 21-28 Januarie 2000

by die ESCOM MEGAWAT PARK CONFERENCE CENTRE, Midrand, gehou.

Die koste behels (ongelukkig nogal 'n yslike bedrag in Rand):

$100.- vir registrasie en

$380.- vir verblyf

Die organiseerdes vra dat almal, indien enigsins moontlik, die week bymekaar sal woon in die sentrum, sodat 'n mens mekaar beter kan leer ken. Hulle verkies dat deellnemers nie saans huistoe gaan nie en ook nie ander verantwoordelikhede nakom tydens die kongrestyd nie.

Die SAWS bestaan nou 27 jaar. Mense uit alle teologiese strominge in Suid Afrika, behoort daaraan - so min of meer uit alle "main-line" kerke, (van Gereformeerd tot Rooms Katoliek) maar ook uit die nuwere charismatiese beweging en die "African Initiated/Independent/Indigenous Churches".

Die tydskrif wat uit die SAWS gevloei het en gegroei het tot 'n gewilde internasionale sendingwetenskaplike tydskrif (wat ek selfs in Rusland en Hongerye raakgeloop het!), is Missionalia. Indien jy belangstel, kan ek probeer reël dat jy 'n kopie ter insae bekom.

Dit gaan in die SAWS nie om sending in die eng sin van die woord nie, en ook nie eenrigting-sending (byv. wit -> swart) nie. Sending word nie uitsluitlik gedefiniëer as die "redding van siele" nie, maar as die vestiging van die Koningskap van Christus op ALLE gebiede van die lewe. (Dis nou my eie woorde en nie die offisiële grondwet van die SAWS nie!!) Deur die jare het daar veel veranderings en klemverskuiwings in die SAWS plaasgevind (en natuurlik ook in IAMS) - Daar is 'n gedurige groei aan die gang - en groei gaan dikwels gepaard met pyn. Soms voel 'n spesifieke persoon of groep vir 'n jaar of wat nie gemaklik nie, maar as 'n mens uithou, dan vind daar keer op keer kruisbestuiwing plaas en ons skaaf mekaar en "challenge" mekaar. Op die wyse slaag ons m.i. daarin om so min of meer "on track" te bly en dan nog kontekstueel ook (te word? - soos die konteks verander). Nie een van ons , nog die groepe waaruit ons kom, ken die volle waarheid of het al die lig op elke saak nie. Die onderlinge gesprek en saamworstel van mense uit die verskillende Kerklike tradisies en teologiese denkrigtings by die jaarlikse kongresse, sowel as in Missionalia, sorg dat ons werkswyse en doelstellings dan ook werklik Skriftuurlik bly. Solank ons mekaar gedurig biddend en in liefde opskerp en "challenge" kan die groep nooit stagneer nie en die vergaderings bly opwindend, stimulerend en leersaam.

Baie van die Afrikaanssprekende NG-sendelinge (Daar was slegs enkele "leke" en predikante uit blanke gemeentes) het benoud begin voel toe Engels meer en meer gepraat is en toe die Rooms Katolieke se stem hoorbaar begin word het. Ander weer het nie veilig gevoel toe die quot;Bevrydingsteoloë" en"Swart Teologie" meer op die voorgrond begin tree het nie. Nog ‘n groep het nie daarvan gehou toe daar oor "dialoog" tussen verskillende godsdienste gepraat is nie. Sulke "benoudes" het dan hul lidmaatskap opgesê - m.i. tot hul eie verlies en verarming. Verder sit 'n hele klompie soos my man David, Willie Cilliers, Dirk Odenendaal, AM (Pine) Pienaar (vanXhosa-woordeboek-faam) en 'n paar ander nou heerlik en gesels in die hemel (!). Tog is daar selfs onder die lede uit die drie Afrikaanse kerke 'n paar bitter-einders... soos Piet Meiring, Dons Kritzinger, Martin Pauw, Jannie du Preez, Jan Nieder-Heitman, Dirk Odendaal Jnr., Kobus Odendaal, Charl du Toit, ens. (en ek!!) - wat van die begin af daarby was. (Sommiges is dalk te jonk om al 27 jaar betrokke te wees!)

Ons wil almal (ook die mense uit die ander kerke) baie graag dat die NG-Kerk-mense (predikante EN "leke", oud EN jonk, manne EN vroue) weer/meer betrokke moet raak by die SAWS en dan spesifiek nou by die IAMS-kongres in Januarie. Ons mis die insette van die NGK-kant, (ook van die kant van die ander twee susterkerke) en sou graag ter wille van die hele Liggaam van Christus, ook mense uit ons eie tradisie en geskiedenis en teologiese denke by al die gesprekke teenwoordig wou hê.

Wat die TAAL betref is dit belangrik om te onthou dat die grootste aantal mense wat die vergaderings bywoon Engels as tweede of derde taal besig. Ons hoef dus nie skaam te wees as ons stamelend in gebrekkige Engels ons standpunt probeer stel nie. Daar is in elk geval genoeg mense wat gewillig is om te help en aan te vul en te tolk as ons nie kans sien om dit in Engels te doen nie!

Vandaar dan hierdie skrywe. Ek wil dit weereens beklemtoon dat hierdie brief van my persoonlik af kom en dat jy asseblief nie die SAWS verkwalik as ek êrens iets verkeerd kwytgeraak het nie. Tog is daar by my hoegenaamd geen twyfel daaraan dat die hele groep die lede uit die drie Afrikaanse Kerke mis nie!

Ons het nie meer kontak met al die gewese lede nie. Sal jy, as jy van hul adresse, telefoonnommers en/of e-posadresse of fax-nommers het, dit vir ons deurstuur, sodat ons vir hulle ook hierdie skrywe kan laat kry. Indien dit vir jou moontlik is, kan jy dit natuurlik self ook na hulle aanstuur. Dieselfde geld ook vir mense wat nog nooit lede was nie. Ons ontvang baie graag die name en adresse van mense wat volgens jou mening sal belangstel.

As jy belangstel - ek hoop jy stel belang! - laat weet asseblief voor 31 Augustus vir Willem Saayman of vir Jansie Kilian by

[email protected]

[email protected]

Hoop ek sien jou in Midrand in Januarie 2000!

Annemie

Annemie Bosch
31-14th Street, Menlo Park,
0081  PRETORIA  Gauteng,
South Africa      te. 012 - 46-8706

Teken ons gasteboek

Teken gasteboek

Lees gasteboek

U is besoeker nommer aan hierdie blad sedert 24 Augustus 1999

Lees van ons ander blaaie:

[ Home ] [ SAMS Information ] [ Discussion ]
[ Missionalia ] [ Links ] [ AICs ] [ Articles ]


Maintained by
Steve Hayes
PO Box 7648
Pretoria
0001 South Africa
Created: 1999-08-24
Updated: 1999-08-24

Hosted by www.Geocities.ws

1