Armoria
http://www.geocities.com/armoria

Afrikaans as blasoentaal

deur Mike Oettle

Snyman

AFRIKAANS het in die 20ste eeu sy onafhanklikheid verklaar.

Waar daar teen Uniewording in 1910 ’n geweldige gebrek was aan tegniese terminologie in die Afrikaanse taal, onafgehang van watter dissipline onder bespreking was, het daar tussenin in verskeie velde ’n heel gesofistikeerde terminologie ontwikkel.

Tegniese woordeboeke het vir verskeie onderwerpe verskyn, meestal in gebiede waar dit nodig was om ’n totaal nuwe terminologie te ontwikkel, en waar daar ’n stryd gevoer moes word teen die ondinkende invoer van Engelse terme.

Knap terme is geskep deur die toepassing van laterale denke. Afrikaanse woorde is in die meeste gevalle gevind wat die werk van anglisismes en ander soorte leenwoorde sou doen, en in sommige gevalle is woorde uit moderne Nederlands geleen vir items wat in die vroeëre Afrikaanse taalgebruik glad nie bestaan het nie – ’n voorbeeld hiervan is die woord “fiets”.

By die heraldiek, egter, was daar min wat werklik nuut was. Die terminologie van die wapenkunde is gedurende die Middeleeue ontwikkel, en het heelwat minder gemoderniseer as die taalgebruik van vele ander dissiplines.

Die kuns was in sy essensie om die bestaande Nederlandse terme aan te pas tot ’n Afrikaanse vorm, en in sommige gevalle nuwe beskrywings te ontwikkel.

In een opsig, egter, is daar ’n opmerklike verskil tussen die heraldiektaal van Afrikaans en van Nederlands: kleurbenaminge.
’n skild in blou - in Nederlands, ‘‘azuur’’ ’n skild in groen - in Nederlands, ‘‘sinopel’’ ’n skild in swart - in Nederlands, ‘‘sabel’’ ’n skild in rooi - in Nederlands, ‘‘keel’’

Hierdie verskil is grotendeels te danke aan Cor Pama, wat in die jare dertig in Nederland hewig geargumenteer het dat heraldiese taalgebruik modern moet word, en dat die tradisionele heraldiese kleurname vervang moet word met die gewone name van die kleure.

Met ander woorde, in plaas van keel, het hy gesê, sê rood, zwart in plaas van sabel, groen waar sinopel sou voorkom, blaauw waar azuur toepaslik was.

Hierdie argument is in Nederland op amptelike vlak verlore toe die Hoge Raad van Adel, die amptelike heraldiese gesag aldaar, besluit het om gewone kleurbenamingswoorde nie te gebruik nie. Ook het die Vlaamse Heraldische Raad (in België) die praktyk om die outydse kleurname te gebruik.

Maar oor die algemeen praat Nederlanders van rood, blaauw, zwart en groen, eerder as keel, azuur, sabel en sinopel – aldus berig Robert Maaswinkel uit België. Ook het hy in Januarie 2004 by die Hoge Raad van Adel navraag gedoen, en hierdie antwoord vanaf raadsekretaris Egbert Wolleswinkel ontvang:

“In officiele stukken, zoals adelsbrieven, wapendiploma’s etc., hanteert de Hoge Raad van Adel de oude benaming van de heraldische kleuren. In ontwerpen, informele stukken en bij mondeling overleg worden meestal de hedendaagse benamingen gebruikt.”

Maar nadat Pama in die vroeë 1950s na Suid-Afrika verhuis het, het hy sy argument weer na vore gebring – en omdat niemand in die land sy wapenkundige kennis gehad het wat Nederlands en Afrikaans betref nie, het niemand hom teëgesê nie.

Toe Suid-Afrika in 1963 sy eie heraldiese gesag geskep het, het Afrikaans dus van meet af gepraat van rooi, swart, groen, blou ensovoorts. (Kyk hier vir ’n bespreking van die kleure van die heraldiek.)
’n skild in goud ’n skild in silwer, of in Nederlands, zilver

Dit wil nou nie sê dat gewone kleurname geen probleme oplewer nie. Terwyl die heraldiese metale eenvoudig in Nederlands goud en zilver is, en in Afrikaans goud en silwer, beteken dit nie dat dit noodwendig ’n metalliese voorkoms moet hê nie. Wanneer dit in weefstof voorkom, was goud nog altyd as geel voorgestel, en silwer as wit. (Kyk hier vir die metale van die heraldiek.)

’n Afrikaanse heraldiese literatuur het wel in die jare vóór Republiekwording bestaan, veral in die tydskrifartikels van die jare veertig wat die wapens van Afrikaanse families uitgelê het.

Maar baie van die wapens wat in hierdie artikelreeks verskyn het, was óf versinsels van die skrywer óf “steel” van die wapens van gelyknamige families in Europa, en heel waarskynlik deel van ’n poging om Afrikaanssprekendes in die algemeen te verhef tot ’n soort aristokrasie – ’n regverdiging vir die rassewetgewing wat die Nasionale Party reeds besig was om te beplan en wat in die jare vyftig werklikheid geword het.

Hierdie onmenslike wette, wat met volle reg deur die Verenigde Nasies as skendings van menseregte gekondemneer is, het wel ’n “adelstand” – totaal oneg, maar in die praktyk daar – geskep uit die blanke bevolking van Suid-Afrika.

Maar as ’n mens die politieke aspek eenkant kan laat, kan dit ingesien word dat die Heraldiekwet van 1962 dit nodig gemaak het om die taal van die wapenkunde in moderne Afrikaans in te voer.

Vóór hierdie jaar het die heraldiek in Suid-Afrika net op twee maniere op amptelike vlak bestaan:
uittreksel van ’n wapendiploma van die College of Arms, wat die wapens aantoon van die hertog van Norfolk, die Britse Koningin, en die College self

Eerstens het munisipaliteite en privaat indiwidue by tye aansoek gedoen by die College of Arms in Londen om verlening van ’n wapen.

Die heroute het die wette van die heraldiek streng toegepas en, indien hulle die wapen aanvaarbaar gevind het, is dit op ’n amptelike dokument (op perkament) in amper Middeleeuse Engels beskryf, asook geïllustreer.

Hierdie verlenings van heraldiese embleme is volgens Engelse wet uitgevoer (in uitsonderlike gevalle volgens Skotse of Ierse wet, deur die heroute in Edinburg of in Dublin)[1] en onder koninklike gesag uitgereik. Die regering van die Unie van Suid-Afrika het geen rol gespeel nie.

Andersins was dit moontlik om in terme van die Unie-parlement se Wet op Beskerming van Name, Uniforms en Wapens (1935) aansoek te doen om die registrasie van ’n wapen. Hier was daar egter geen deskundige hulp soos in die geval van die Britse heroute nie, en geen poging om wapens te registreer wat volgens enige aanvaarde norme opgetrek is nie.

Selfs die definisie van die wapens wat hiervolgens geregistreer is, was onheraldies, en op Engelstalige dokumente het die woord “badge” (glad nie in sy heraldiese sin gebruik nie) verskyn. Enige tekening wat deur die aansoeker saam met sy versoek ingedien is, is aanvaar as ’n korrekte weergawe.

Die moontlikheid van wangebruike kan aangetoon word met die verhaal van die wapen van die South African College (huidiglik gedeel as die Universiteit Kaapstad en die South African College Schools [SACS]), wat reeds so vroeg as 1849 volgens heraldiese norme deur Kaapse Landmeter-Generaal Charles Davidson Bell opgetrek is, en deur die universiteit vir registrasie ingestuur is. (Bell was terloops ook die ontwerper van die Kaapse driehoekseël.)

Bell se helmteken van Tafelberg was egter problematies, want dit was te breed om op ’n helm te pas (hy het geen helm geteken nie). Die registrasiedokument is sò uitgereik (met die onreëlmatige helmteken, wat plat op die borant van die skild gelê het), en dekades lank het die UK die wapen met berg en al sò gebruik.
wapen van die Buro vir Heraldiek in Pretoria

Eers in die jare sestig, nà die inwerkingtreding van die Heraldiekwet, is die saak weer ondersoek, en is die berg van die universiteit se wapen verwyder.

SACS (teen hierdie tyd gedeel as die South African College Schools, ’n hoërskool en ’n laerskool) het egter voorts die berg op sy skoolwapen gebruik, en voer dit tot op hede.

Die instelling van die amp van Staatsheraldikus in 1963 het dan beteken dat dit vir die eerste maal moontlik was om binne ’n Suid-Afrikaanse konteks te sien hoe heraldiek op amptelike vlak begin funksioneer. Sertifikate wat deur die Buro vir Heraldiek uitgereik is, moes in óf Engels óf Afrikaans, of soms in beide tale, wees, en stadigweg is ’n norm vir veral Afrikaanse heraldiese taalgebruik ontwikkel.

Maar in die geval van die meeste wapens was dit bloot nodig om die bestaande Nederlandse blasoen in Afrikaans aan te pas. Slegs in enkele gevalle moes ’n totaal nuwe terminologie uitgewerk word.

Maar dit is ook nie die einde van die taalkwessie wat die heraldiek betref nie. Dit moet eerstens gestel word dat die families wat die Afrikaans- en Engelssprekende gemeenskappe van Suid-Afrika uitmaak, uit verskeie Europese lande hul oorsprong het. Selfs as slegs 20% van daardie families wapens voer, beteken dit steeds dat die heraldiese tradisies van veel meer lande as net Nederland en Engeland gehandhaaf moet word nie.

Die Afrikanerbevolking alléén kan teruggevoer word na, bo en behalwe hierdie twee lande, Duitsland, Switserland, Frankryk, België, Wallis, Skotland, Ierland, Denemarke, Swede, Italië en selfs Portugal. Suid-Afrikaanse families spruit ook uit ander Europese lande, en elkeen het eie heraldiese tradisies en toegepaste taalgebruik.

Dit is interessant om daarop te let dat die mees breedvoerige lys van Europese familiewapens deur ’n Nederlander, J B Rietstap, opgetrek is. Die mees volledige uitgawe van hierdie werk, in vyf volumes (twee volumes teks, drie van illustrasies) is egter nie in Nederlands gepubliseer nie: sy voertaal is Frans, en hy heet Armorial Général.

Die Afrikanergemeenskap kan ook sy herkoms terugvoer na Oosterse lande, en lande in Afrika, maar hier is daar nie sprake van enige heraldiese tradisie nie, en in die meeste gevalle behels dit afkoms in die vroulike lyn, wat heraldies onbeduidend is. Daar is egter één Afrikanerfamilie wat tradisioneel teruggevoer word na ’n manlike Oosterling.

Ek praat hier van die gesin Snyman, wat sy herkoms tot ’n Bengaler, die bevryde slaaf Anthonij van Bengale, terugvoer. Maar in werklikheid was Anthonij die stiefpa van Christoffel Snyman, die kind van sy vrou, wat ook uit Indië afkomstig was. Christoffel was met die Hugenootvrou Marguerite (of Margo) de Savoye getroud. (Kyk onder vir nadere besonderhede.)
wapen van eerwaarde Roy Snyman

Die Snymans het ’n familiewapen in die Nederlandse tradisie wat al deur één familielid geregistreer is, en wat dus deur ander familielede ook geregistreer kan word. Om hierdie wapen te sien, kliek hier.

Ek noem egter hierdie geval om aan te dui dat, wanneer ’n mens van heraldiese tradisie praat, jy nie enige onreg aan families van nie-Europese herkoms doen as jy sulke lande nie in berekening bring nie. Dit is omrede daar geen diep gewortelde tradisie van heraldiek in hierdie lande bestaan nie.

Aan die ander kant wil dit nie sê dat heraldiek glad nie in hierdie lande bestaan nie, of dat Suid-Afrikaners wat nie van Europese herkoms is nie, nie tot heraldiese wapengebruik geregtig is nie.

Die Britse heroute het verskeie wapens vir voormalige kolonies in Afrika en die Ooste wat nou onafhanklike lande is, verleen, en aan stede en ander instansies daarin, asook persoonlike wapens aan burgers van sulke lande.

En in Suid-Afrika bevestig die Heraldiekwet die reg van alle burgers om wapens te registreer. Dit is miskien vir die oorgrote meerderheid swart en bruin Suid-Afrikaners onnodig om ’n wapen te wil laat registreer, maar dit is hulle reg as hulle dit wil doen.

Dit is ewenwel vir baie blanke Suid-Afrikaners onnodig om ’n wapen te registreer nie, maar dit is oop vir enige landsburger om dit te doen – óf met ’n (variasie op ’n) bestaande familiewapen, óf met ’n totaal nuwe wapen vir ’n familie wat nie reeds ’n wapen besit nie.



[1] Die Ierse heraldiese gesag vóór Ierland se onafhanklikheid was die Wapenkoning Ulster, met sy setel in Dublin se kasteel. Sedert die 1940s is Ulster na die College of Arms verskuif (met verantwoordelikheid hoofsaaklik vir Noord-Ierland), en is hierdie amp met die Engelse wapenkoningsamp Norroy verbind.

Die huidige heraldiese gesag vir die Ierse Republiek is die Chief Herald of Ireland, in Dublin.


  • ’n Vroeëre weergawe van hierdie artikel is in Arma, joernaal van die Heraldiese Genootskap van Suider-Afrika, in Vol 6 No 1 (Lente 2000), gepubliseer.

    Skrywer hiervan het op daardie stadium inligting gehad wat daarop gedui het dat Christoffel Snyman die bloedkind was van Anthonij van Bengale, ’n toedrag van sake wat verander is deur navorsing aan die part van advokaat M G Upham.

    In die joernaal is ’n redaksionele voetnoot (in Engels) ingevoeg wat lui: “It has been established that Hans Christoffel Snyman (alias Schneider) from Heidelberg was his biological father; Anthonij van Bengale was his stepfather. See: M G Upham, ‘In hevigen woede . . .’, CAPENSIS 3/97 September 1997, pp19-25.”

    Ek is aan adv Upham en die redakteur, Robert A Laing of Colington, dank verskuldig vir hierdie regstelling.

  • Erkenning: Illustrasies vanuit ’n wapendiploma van die College of Arms en ’n wapensertifikaat van die Buro vir Heraldiek; skilde uit Simple Heraldry, deur Iain Moncreiffe en Don Pottinger (Nelson).


    Counter

    Terug na bo

  • Die Engelse artikel oor hierdie onderwerp is slegs deels ’n vertaling, en begin met ’n bespreking van heraldiese taal in Engels. Om dit te lees, kliek hier.


    Terug na Heraldiek-ABC-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle

  • Hosted by www.Geocities.ws

    1