Armoria
http://www.geocities.com/armoria

Goud en silwer

deur Mike Oettle

Jerusalem / metalliese voorkoms / Iberiese uitsondering / koper / platina

SLEGS twee kleure – of eerder, kleurname – val gewoonlik in die heraldiese kategorie metale: goud (in Engels, or) en silwer (in Nederlands, zilver; in Engels, argent).
die ridder De Menezes (met sy skild van goud) ry met sy lans teen die ridder Zgraia (met skild van silwer)

Dit kan van hulle gesê word dat hulle die rugsteun is van wapenkundige kontras, aangesien een of die ander daarvan amper sonder uitsondering in enige heraldiese ontwerp voorkom.

Die heraldiese kleurreël stel dit dat hulle nie met mekaar moet kontrasteer nie, alhoewel daar enkele voorbeelde is van wapens wat hierdie reël verbreek. Die bes bekende voorbeeld is dié van die Kruistogter-Koninkryk Jerusalem, wat ’n goue kruis (met vier kruisies) op silwer gevoer het.
wapen van die konings van Jerusalem (twee weergawes)

Fox-Davies[1] sê dit oor die gebruik van die heraldiese metale in praktiese gebruik (my vertaling):

“Die metaal goud word dikwels in heraldiese tekening met geel voorgestel: om die waarheid te sê is geel nog altyd vir goud gebruik in die registerboeke van die College of Arms, en die Lyon-kantoor het onlangs na hierdie praktyk teruggekeer. In antieke skilderye en heraldiese illustrasies is die gebruik van geel heelwat meer algemeen as die gebruik van goud, maar goud is te alle tye ook gebruik, en is nooit laat vaar nie. Dit wil voorkom of goud gewoonlik op antieke wapenbriewe gebruik is, terwyl geel in die registrasies daarvan wat in die heroutekantore behou is, gebruik is, maar ek weet van geen geval in Britse wapenkunde waar die woord geel in ’n blasoen gebruik is om enige skakering in plaas van goud voor te stel nie.

“Met betrekking tot die ander metaal, silwer, of, soos dit altyd in Engels genoem word, ‘argent’, word dieselfde variasie gevind in die gebruik van silwer en wit in die voorstelling van heraldiese silwer wat ons in geel en goud vind, maar vind ons dat die gebruik van die werklike metaal (silwer) in heraldiese kuns geensins so dikwels plaasvind nie soos dit by goud die geval is. Blykbaar is dit weens die praktiese moeilikheid dat niemand nog ’n silwer medium uitgevind het wat nie sy kleur verloor nie.

“Dit is gemeen dat die gebruik van aluminium die probleem opgelos het, maar selfs dit verloor sy glans, en die gebruik daarvan sal blykbaar nooit algemeen aanvaar word nie. Dit is ’n jammerte, want die gebruik van goud in heraldiese kuns verleen ’n luister aan ’n versameling wapens, en dit is bejammerlik dat dit nie met ’n gelyke gebruik van silwer uitgebrei kan word nie. Die gebruik van silwer op die wapendiplomas van die College of Arms is al ’n paar eeue lank opgeskort, alhoewel aluminium steeds op die Lyon-kantoor in gebruik is. Heraldiese silwer word dan gewoonlik voorgestel òf deur om die oppervlak onaangeraak te laat, òf deur die gebruik van wit ink.”

Die menings van deskundiges eenkant gelaat, is dit heel indrukwekkend om blaargoud of stofgoud te gebruik in die druk van ’n wapen wat heraldiese goud bevat, of om ’n baadjiewapen met goue draad op te maak.

En die moderne tegnologie het heel moontlik reeds ’n middel uitgedink wat vir silwer gelyk is aan sulke goue voorstellings.

Maar in die meeste gevalle is dit onprakties weens die blote onkoste daarvan.

’n Skool kan wel sorg dat sy erebaadjiewapens goue draad bevat – maar dit sou reine waansin wees om goud vir gewone leerlinge se baadjiewapens te gebruik. Geel garing is heeltemal voldoende.

Daar is ook verdere nadele in die gebruik van metalliese kleure.

Metalliese inke gee nie ’n goeie voorkoms nie. Metalliese goud lyk na brons en skandeer dikwels as vuilerige bruin.

En ’n fout wat dikwels voorkom is die gebruik van grys materiaal of garing waar wit die regte plaasvervanger is vir heraldiese silwer.

Middeleeuse ridders het dikwels hulle skilde met goud of silwer laat maak (of die naaste gelyke, as hulle nie eens vergilding kon bekostig nie), maar hulle baniere, ruiteryvlae en ander vlae het gewoonlik gewone geel en wit bevat in plaas van goud en silwer.

Daar is ook gepoog om dit te stel dat in die Britse heraldiek, wit as ’n aparte kleur erken is, maar dit lyk eerder asof dit ’n afsonderlike afwyking is aan die kant van die heroute, waar die silwer barestele waarop Britse koninklikes hulle breuke voer in uitsonderlike gevalle as “wit” geblasoeneer is, in plaas van “silwer”, maar die mening van Brooke-Little (in ’n voetnoot in Fox-Davies) is dat nie meer was as verwarring nie.

Sy ondersoek oor hierdie kwessie bewys daarby dat die idee dat wit of silwer barestele in Engeland vir koninklikes behou word, glad nie waar is nie. Barestele is nog altyd bygebring in die mees gepaste kontrasterende kleur.

Maar in een deel van Europa is daar nietemin ’n streek waar wit en silwer miskien soms wel kontrasteer. Von Volborth,[2] nadat hy die omruilbaarheid van wit en silwer oor die meeste van Europa verduidelik het, skryf (my vertaling):

wapen van die stad Soria

“Dit is ’n kenmerk van die Spaanse heraldiek dat hierdie reël nie noodwendig gevolg word nie: nie net mag wit en silwer in dieselfde wapen voorkom nie, maar hulle kan die een op die ander gevind word.”

Hier aangetoon is die wapen van die Castiliaanse stad Soria, waar die silwer skildsoom met ’n leuse in wit bewoord is (die inskryf van ’n leuse op ’n skild, veral op ’n skildsoom, is nog ’n eienskap van die Spaanse heraldiek).

Santiago Dotor, van Madrid, betwis egter hierdie mening, en skryf: “Soria se wapen is ’n heel uitsonderlike voorbeeld (soos wat dié van Jerusalem sou wees, wat die kleurreël betref) en ek het tot nog toe nie enige ander voorbeeld van wit op silwer (of geel op goud) in die Spaanse heraldiek gevind nie.”

Hierby moet ek byvoeg dat ek op International Civic Arms ’n illustrasie gesien het van die wapen van Soria met die leuse in swart geskryf, in plaas van wit, maar vreemd genoeg met die silwer van die skildsoom ook in swart stippels aangetoon, eerder as wit.
wapen van die Portugese Lugmag se Logistiese Kommandement

Hier links, egter, is die heraldiese wapen van die Comando Logístico e Administrativo da Força Aérea (die Logistiese en Administratiewe Kommandement van die Portugese Lugmag,), wat twee wit poue op ’n silwer veld aantoon.

Twee ander metale het op die heraldiese toneel hulle verskyning gemaak.

Die een is tot die Duitse heraldiek beperk, sover ek bewus is, en is seldsaam: Eisengrau, of ystergrys. Die seldsaamheid daarvan sal verduidelik waarom dit gewoonlik nie onder die metale voorkom nie, en dit blyk dat, waar dit erken word, dit een van die gewone kleure van die heraldiek getel word.

Die tweede is koper, wat in een of twee onlangse verlenings voorkom (dit word in this article deur David B Appleton in Baronage Magazine genoem). Dit behoort om – indien dit ordentlik voorgestel word – ’n pragtige toevoeging tot die moontlikhede wat die heraldiese ontwerper voor hande vind.

Daar is egter nadele hieraan. Die redakteur van Baronage het, in antwoord op ’n navraag of die wapen wat in Appleton se artikel geïllustreer word, rooskleur of kopermetaal is, my daarop gewys: “Koper is donkerder en het ’n meer metalliese glans – baie moeilik om op ’n rekenaar te gebruik behalwe as ’n mens die toon varieer om die effek van veranderende lig te simuleer.”

Hierdie verswaarding aan die uitvoer van tekenings sal blykbaar die toepassing van hierdie innovasie inperk.
1991 wapen van Colombia wapen van Colombia (1955-weergawe) wapen van Colombia (uit International Civic Arms)

Laastens word dit berig dat die landswapen van Colombia, in Suid-Amerika, ’n dwarsbalk bevat wat nie silwer is nie, maar platina.

Die wapen is, uit ’n heraldiese oogpunt, heel onreëlmatig, want daar is nie slegs ’n goue omlyning rondom die skildrand nie, maar dit verskyn ook weerskante van die dwarsbalk. Daarby toon die skildvoet ’n landskapelement in die vorm van twee skepe weerskante van ’n ismus.

Die wapen is sedert ten minste die 1920s gevoer, maar het verskeie kunstige “verbeterings” ondergaan. Die weergawe wat die mees onlangs (1991) in gebruik geneem is, toon donker en ligte tone in die agtergrondkleur op aldrie velde, ’n glans op die dwarsbalk wat ’n glansende wit metaal voorstel en ’n skaduwee agter die Frigiese mus wat op die dwarsbalk verskyn.

Dit word beweer dat die voorkoms van platina in die Colombiese wapen bewys is dat platina ’n heraldiese kleur is.

Dit is egter in heraldiese voorstelling onmoontlik om tussen silwer en platina te onderskei nie, en terwyl dit vir Colombia gepas is om ’n metaal aan te toon wat dit produseer, moet dit uit ’n wapenkundige perspektief gesien word as niks meer as ’n variasie op silwer.



[1] A C Fox-Davies, A Complete Guide to Heraldry, hersien en met aantekeninge deur J P Brooke-Little, Richmond-herout (Nelson).

[2] Heraldry of the World, geskryf en geïllustreer deur Carl Alexander von Volborth, K St J, AIH, uit die Deens vertaal deur Bob en Inge Gosney, redaksie deur D H B Chesshyre, MA, FSA, Rouge Croix-persevant (Blandford).


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Erkennings: Tekening van ridders in die toernooi deur Don Pottinger, uit Simple Heraldry, deur Iain Moncreiffe en Don Pottinger (Thomas Nelson and Sons Ltd). Wapen van Jerusalem uit Boutell’s Heraldry, hersien en met aantekeninge deur J P Brooke-Little (Frederick Warne & Co). Wapen van Soria uit Heraldry of the World. Wapen van die Comando Logístico uit die Armorial Português. Ou wapen van Colombia met vergunning van International Civic Arms; nuwer weergawes met vergunning van Flags of the World.


    Terug na kleure-artikel

    Terug na Heraldiek-ABC-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle

  • Hosted by www.Geocities.ws

    1