Armoria patriæ
http://www.geocities.com/landswapen

Suid-Afrika / Mzantsi Afrika / Afrika Borwa /

South Africa / Ningizumu Afrika /Afrika Dzonga /Afrika Sewula / Afrika Tshipembe

Tale/name van Suid-Afrika


Leuse - !Ke e: /Xarra //Ke

Leuse (deel van die grondleggingskring):
Die leuse, wat op ’n groen lint tussen die onderpunte van die olifanttande verskyn, lui: !Ke e: /Xarra //Ke.

Dit is geneem van die tans uitgestorwe taal van die /Xam- of /Kham-Boesmanvolk en vertaal: “Mense wat anders is kom saam” of “Diverse mense verenig.”

Die amptelike beskrywing lui: “Dit spreek elke indiwiduele poging aan wat soek om die eenheid tussen gedagtes en aksie in te span. Op ’n kollektiewe skaal verg dit dat die nasie verenig met ’n gesamentlike sin van samehorigheid en nasionale trots – Eenheid in Verskeidenheid.”

Die /Xam-taal is die enigste Boesmantaal wat volgens geskrewe rekords suid van die Oranje- of Garieprivier gepraat is, en verteenwoordig dus die vroegste bekende menslike inwoners van die streek waaruit die moderne Suid-Afrikaanse staat ontstaan het.

Die leuse is feitlik onmoontlik om uit te spreek vir enigiemand vir wie die kliekgeluide van Nguni en Suid-Sotho onbekend is. Hierdie geluide is op hulle beurt van die tale van die Boesmans afgelei.

Dit beteken dat die leuse uiters moeilik is, nie net vir buitelanders en vir Suid-Afrikaners wie se taal Engels of Afrikaans is nie, maar ook vir Tswana-, Noord-Sotho-, Tsonga- en Venda-sprekers, en vir lede van daardie Swazi-klans wat van Sotho-oorsprong is.

Die kliekgeluid wat die maklikste uitgespreek word, is /, wat in Sotho en Nguni met C gespel word, en wat baie soos die klank is wat soms deur Engelssprekendes gemaak word, wat as “tsk-tsk” geskryf word. Vir hierdie klank is die tong teruggetrek van die tandvleis net agter die voortande.

Die klank wat met ! gespel word, word gemaak met die tong eers aan die bokant van die verhemelte. Dit is nie dieselfde klank as dié wat in Sotho en Nguni met Q gespel word nie, maar is naby daaraan. (Die Q-klank, wat in die Boesmantale as / gespel word, word gemaak met die tong voor in die verhemelte.)

Die //-geluid (X in Nguni en Sotho) word gemaak met die tong aan die kant van die verhemelte (aan óf die linker- óf die regterkant van die mond).

Die dubbelpunt in die tweede woord dui op ’n verlenging van die vokaal.

Die letter X (in die derde woord) staan vir die klank wat in Afrikaans, Nederlands en die Sotho-tale met G gespel word, met KH in oorskrywings van Russies of Arabies, en in Xhosa met RH. Dit word ook soms in ’n Boesman-konteks met die letters KH gespel.

As ’n mens die spel van Nguni-tale gebruik, kan die leuse so geskryf word: Qê ê crharra xê.

Die behoefte aan ’n nuwe wapen:
Dit was selfs vóór die verkiesing van 1994 duidelik dat ’n nuwe landswapen vir Suid-Afrika nodig was, aangesien die ou wapen gebaseer is op die wapens van die land se konstituerende kolonies (provinsies). Hierdie skrywer het, in ’n voorlegging aan die Kommissie vir Nasionale Simbole (deel van die Kongres vir ’n Demokratiese Suid-Afrika, wat die interim-Grondwet opgetrek het) voorgestel dat tyd eers moet verbygaan sodat die nuwe provinsies hulle eie wapens kan aanneem, en dat ’n nuwe landswapen daarna oorweeg word wat na daardie wapens verwys. Ander korrespondente het blykbaar soortgelyke voorstelle gemaak. Hierdie tydsvak is in werklikheid gevolg, maar die wapen, toe dit aanvaar is, het geen verbintenis gehad met die wapens van enige provinsie, nóg die huidige nege nóg die vorige vier.

Ontwerpproses:
Gedurende 1999 het die Departement Kunste, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie idees vir ’n nuwe wapen van die publiek aangevra. Op grond van idees wat ingestuur is en instruksies van die Kabinet, is ’n beknopte konsep geskryf. Design South Africa, ’n verteenwoordigende liggam van ontwerpagentskappe landsdeur, is genader om kontak te maak met 10 van die vooraandstaande ontwerpers. Drie ontwerpers is gekies om hul konsepte aan die Kabinet voor te lê. Die werk van Iaan Bekker, wie in die verlede verskeie korporatiewe identiteite vir organisasies in die openbare en privaat sektore ontwerp het, is uiteindelik gekies.

Nà-apartheidse Suid-Afrika:
Die tyd van apartheid in Suid-Afrika het amptelik geëindig met die verkiesing oor drie dae wat 27 April 1994 begin het. Daardie dag het die interim-Grondwet in werking getree en ’n nuwe nasionale vlag is gehys.

Die land – waarna dikwels verwys is as die Nuwe Suid-Afrika – het ’n parlementêre demokrasie gebly, maar vir die eerste maal is daardie demokrasie gebaseer op die stemme van die gehele volwasse bevolking. Die staatshoof is nou President genoem (nie meer Staatspresident nie), en die Parlement het bestaan uit die President, die Nasionale Vergadering (in plaas van die Volksraad) en die Senaat.

Die land het uit nege provinsies bestaan, teenoor die vorige vier: twee van die ou provinsies – Oranje Vrystaat (Vrystaat) en Natal (KwaZulu-Natal) – het hul gebied behou, terwyl die twee groot provinsies van Transvaal en Kaapland verdeel is – Kaapland in Wes-, Oos- en Noord-Kaap, en Transvaal in PWV-Provinsie (tans Gauteng), Oos-Transvaal (tans Mpumalanga) en Noordelike Provinsie (tans Limpopo), terwyl dele van beide Transvaal en Kaapland saamgevoeg is om die Provinsie Noord-Wes daar te stel. Die “onafhanklike” tuislande van die apartheids-era het verdwyn, en is in die provinsies waarin hulle nou geval het, geïntegreer.

Pretoria het die administratiewe hoofstad gebly, terwyl die Parlement in Kaapstad gebly het. Die gedagte om die Parlement na ’n sentrum te verskuif is ’n paar maal na vore gebring, maar het sterk teenkanting, veral vanuit Wes-Kaap, en vroeg in 2002 het die idee nie verder gekom nie.

Die interim-Grondwet is gekenmerk aan ’n sterk fokus op menseregte en ’n wegbreek van die vorige aanvaarde leerstelling van die soewereiniteit van die Parlement. Die Grondwet is nou as soewerein gesien, en ’n Grondwetlike Hof is tot die bestaande juridiese struktuur bygevoeg met die funksie van die interpretasie van die Grondwet.

Die Hooggeregshof (wat in Engels ’n nuwe naam gekry het as High Court [voorheen Supreme Court]), het sy vorige verdeling behou in ’n Afdeling van Appèl (op Bloemfontein gesetel) en verskeie provinsiale en plaaslike afdelings.

Die Grondwetlike Hof is egter in Johannesburg gebaseer, ’n stad wat nie voorheen ’n formele hoofstad was nie. Tydens die regering van lord Milner, Britse Hoë Kommissaris vir Suid-Afrika, was dit ’n de facto-hoofstad toe hy in Johannesburg gewoon het nà sy aanstelling in 1901 as Goewerneur van die Orange River en Transvaal kolonies, toe hy deur Administrateurs in Bloemfontein en Pretoria geregeer het. Dit het dus ’n geskiedenis as hoofstad onder ’n onderdrukkende régime.

Verhouding met die Gemenebes:
Suid-Afrika, wat ’n stigterslid was van die Gemenebes van Nasies, was vanaf 1961 nie meer deel van daardie organisasie nie. In 1994 is dit terugverwelkom.

Dit het beteken dat die Britse soewerein, Koningin Elizabeth, weereens in Suid-Afrika ’n rol gehad het. Sy was tussen 1953 en 1961 Koningin van Suid-Afrika (dit was die eerste Gemenebes-lid buite Brittanje wat ’n aparte titel vir die soewerein geskep het) asook Hoof van die Gemenebes, maar alhoewel sy Hoof van die Gemenebes gebly het, het sy nie meer enige verbintenis met Suid-Afrika gehad nie. Nou is sy weer, as Hoof van die Gemenebes, met die land gekoppel, en sy het in 1995 in daardie hoedanigheid die land besoek.

Tydens daardie besoek het sy ook haar persoonlike vlag gebruik, wat nie met die sogenaamde Royal Standard (in werklikheid ’n banier van die koninklike wapen) verwar moet word nie.

Suid-Afrika se heraansluiting by die Gemenebes het ook beteken dat Mosambiek geheel en al (behalwe aan die seekant) deur Gemenebeslede omring is, en in 1995 is hierdie voormalige Portugese kolonie tot die Gemenebes toegelaat, ten spyte daarvan dat dit geen Britse koloniale agtergrond gehad het nie, en selfs nie die Engelse taal algemeen gebruik het nie.

Tale van die nuwe Suid-Afrika:
In plaas van net twee tale, altwee van Europese herkoms, het Suid-Afrika nou 11 amptelike tale gehad. Hierdie tale word aan die hoof van hierdie artikel gereflekteer in die name wat vir die land aangegee word.

Die tale is Engels en Afrikaans (soos in die verlede) plus nege inheemse tale:

Xhosa, Zulu, Swazi, Ndebele[1] (almal Nguni-tale), Tswana, Noord-Sotho (of Pedi) en Suid-Sotho (hierdie almal Sotho-tale), Tsonga (ook Shangaan genoem) en Venda.

Dit het ook beteken dat die land bykomstige name gehad het:

Mzantsi Afrika (Xhosa), Ningizumu Afrika (Zulu en Swazi), Afrika Borwa (Sotho-Tswana), Afrika Sewula (Ndebele), Afrika Dzonga (Tsonga) en Afrika Tshipembe (Venda).

Geen erkenning is egter aan die tale van die land se inwoners wat die langste hier is, die Boesman en Khoikhoi[2], hoofsaaklik weens die klein getalle onder die gemeenskappe waar hierdie tale steeds gepraat word.

Die enigste oorlewende Khoikhoi-dialek is Nama, wat gepraat word deur klein, geïsoleerde gemeenskappe in die weste van Noord-Kaap, en deur ’n groter groepering van gemeenskappe in suid-Namibia. Baie oorlewende Khoikhoi-gemeenskappe verkies Afrikaans bo hul voorvadertaal.

Die Nama-woord vir “suid” is !khawagas, terwyl die woord Afrika of Africa (óf die Afrikaanse óf die Engelse vorm word gebruik) neem die agtervoegsel -b (’n manlike einding). Dus is die land se naam in (grammatiese) Nama Afrikab !Khawagas. Die meeste Nama verwys egter na die land as óf Suid-Afrikab óf South Africab.

Permanente Grondwet:
Die interim Grondwet is gebruik tot in 1996, toe ’n definitiewe Grondwet uiteindelik deur die Parliament uitgebring is en dit deur die Grondwetlike Hof goedgekeur is.

Die hoofverskil tussen die Grondwet van 1996 en die interim-dokument was dat die Senaat afgeskaf is (die tweede maal in die land se geskiedenis) en vervang deur ’n liggaam wat die nege provinsies verteenwoordig het, wat die Nasionale Raad van Provinsies genoem is.

 



[1] Die AmaNdebele (twee aparte groepe) van Mpumalanga- en Limpopo-provinsie moet nie met die Ndebele van Zimbabwe verwar word nie. Terwyl aldrie Ndebele-groepe Nguni is, en blykbaar uit die kusstrook afkomstig is, is die Ndebele van die Transvaal-streek reeds ongeveer drie eeue daar, terwyl dié van Zimbabwe ’n produk is van die Mfecane en is slegs in daardie streek sedert die tyd van die Groot Trek. Die woord Ndebele is van Sotho-oorsprong (Mathebele), en dui op mense wat hulle in oorlog agter groot huidskilde wegsteek. Die konteks is dus duidelik dié van taktiek wat die hervormings van Shaka voorafgegaan het.

[2] Die vee-aanhoudende Khoikhoi (wat neerhalend as Hottentote bekend gestaan het) was etnies met die Boesmans verbind en het ’n taal gepraat in gemeen met die Boesman-taal wat steeds in die omgewing van Hwange (tans in Zimbabwe) gepraat word. Hulle is dus inheemse Suider-Afrikaners, apart van die Bantu-sprekende volkere wat tans in hierdie land dominant is. Die vroegste Bantu-sprekers het vee-loos in Suid-Afrika aangekom, en het hul vee van die Khoikhoi gekry. Op hierdie manier het hulle nie net lewende hawe nie, maar ook ’n woordeskat en kultuur wat met vee te doen gehad het, van die Khoikhoi gekry. Die Nguni-tale en Suid-Sotho toon ’n hoë vlak van assimilasie van Khoikhoi- en Boesmantaal, terwyl die stambome van hierdie volkere (asook van die ander Sotho-volke) ’n hoë vlak van ondertrouery tussen Bantu-sprekers en die inheemse Suid-Afrikaners toon.


Counter

Terug na bo

For English, click here

Terug na deel 2 van hierdie artikel (die opgangskring)

  • Bronne: A new Coat of Arms for South Africa, pamflet uitgegee deur die Regerings-Kommunikasie- en Inligtingsisteem, sowel as ander bronne.

  • Skandering met vergunning van die Eastern Province Herald; illustrasies van die onderliggende dele voorberei met behulp van MS Picture It!


    Terug na SA 2000-indeks

    Terug na Armoria patriæ-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle

  • Hosted by www.Geocities.ws

    1