Armoria patriæ
http://www.geocities.com/landswapen

Unie van Zuid Afrika

Union of South Africa

Verlening van 1911 / Rooi Vaandel en ander vlae / 1930-tekening
1932-tekening (en Suid-Afrika se onafhanklikheid) / Republiek van Suid-Afrika


Unie van Zuid Afrika (1910)

Wapen 17 September 1910 deur die College of Arms in Londen verleen (die verlening beskryf as deur Koninklike Akte). My vertaling van die amptelike blasoen lui:

Gevierendeel golwend gesny Eerste kwartier in rooi ’n vroulike figuur wat Hoop voorstaan wat haar regterarm op ’n rots rus en met die linkerhand ’n silwer anker stut Tweede kwartier in goud twee lopende wildebeeste in hulle natuurlike kleure Derde kwartier in goud op ’n eiland ’n groen lemoenboom, sy vrugte in natuurlike kleure Vierde kwartier in groen ’n trekwa van silwer En vir die helmteken op ’n wrong van die kleure ’n gaande en aansiende leeu van rooi wat met sy regterpoot vier opregte stawe steun, afwisselend van silwer en van blou, en van goud vasgebind En vir skildhouers, regs ’n springbok en links ’n gemsbok, altwee in hulle natuurlike kleure, tesame met die leuse EX UNITATE VIRES.

Verduideliking:
Die vier kwartiere stel voor die vier provinsies wat die Unie saamgestel het, en die golwende horisontale skeidslyn stel die Oranjerivier voor (dié rivier is deur die Khoikhoi-volk, wat die riviervallei vóór die aankoms van óf swart óf blanke setlaars bewoon het, Gariep genoem).

Die eerste kwartier bevat die simboliese figuur van Hoop wat die helmteken gevorm het van die wapen van die Colonie Kaap de Goede Hoop (Kaapkolonie); die tweede kwartier het die swart wildebeeste van die wapen van Natal; die derde kwartier die oranjeboom van die Oranje Vrij Staat (kyk daardie republiek vir ’n bespreking oor die soort boom wat bedoel is); en die vierde kwartier die ossewa uit die onderste deel van die wapenskild van die Zuid Afrikaansche Republiek (dit is altans veronderstel om ’n trekwa of kakebeenwa te wees, maar in werklikheid is dit die half-kap transportwa wat verskyn het in die seël van die Transvaal Colony).

Die leeu in die helmteken herinner aan die leeus in die wapens van Engeland, van Skotland (kyk Groot-Brittanje), en van die Prinsdom Wallis (kyk die wapen van prins Charles), asook van die Koninkrijk der Nederlanden en etlike van die Nederlandse provinsies. Hy staan soos die helmteken-leeu van Engeland, terwyl sy kleuring dit is van die Skotse leeu. Die natuurlike leeu (Leo leo) is ook inheems in Suid-Afrika.

Die vier stawe (een vir elke provinsie) is ’n heugenis aan die klassieke verhaal van ’n Romeinse vader wat sy seuns genooi het om takke te breek, en dan ’n klomp takke vasgebind het om te bewys dat, net soos wat gebinde stokke onbreekbaar was, hulle net so sterk sou wees as hulle saamgestaan het. Dit herinner ook aan die sewe gebinde pyle wat vasgehou word deur die leeu in die Nederlandse koningswapen, wat die tradisionele sewe provinsies van die koninkryk voorstaan.

Die regter-skildhouer, ’n springbok (Antidorcas marsupialis), is geneem vanaf die wapen van die Orange River Colony (die Oranje Vrij Staat nadat dit deur Brittanje geannekseer is), en is sedert 1906 as nasionale simbool aangesien as gevolg van daardie jaar se rugbytoer van Brittanje deur ’n span wat die vier kolonies verteenwoordig het, onder kapteinskap van Paul Roos. Die span is die Springbokke genoem, en het groen truie gebruik (’n stel truie van Kaapstad se Old Diocesan Club is deur een van die spanlede ingepak). Tot vandag toe word die nasionale rugbyspan die Springbokke genoem en dra hulle groen truie.

Die linker-skildhouer is ’n gemsbok (Oryx gazella gazella), wat ’n skildhouer was in die wapen van die Kaapkolonie. Die ander skildhouer in Kaapkolonie se wapen was ’n wildebees; hierdie dier was reeds deel van die Unie-wapen in die tweede (Natalse) kwartier, en het dus nie in berekening gekom as skildhouer vir die Unie-wapen nie.

Die leuse vertaal as “Uit eenheid, sterkte”, en is ’n vertaling in Latyns van die ZAR se leuse, “Eendragt maakt Magt”.

Alhoewel die hoofkleure van die wapen as geheel rooi, goud en groen is, neem die wrong die kleure van die eerste (Kaapse) kwartier.

Agtergrond:
Groot Seël van die Unie van Zuid AfrikaDie behoefte aan ’n wapen is vasgestel deur die feit dat die Unie van Suid-Afrika, wat 31 Mei 1910 tot stand gekom het, ’n grondwetlike monargie was (kyk onder), en het as sulks ’n Groot Seël benodig. Staatsheraldikus F G Brownell noem hierdie devies die hoogste embleem van soewereiniteit, die clavis regni, die enigste instrument waardeur die soewerein se wil by plegtige geleenthede uitgespreek kan word.

Toe die eerste Groot Seël (teen ’n aansienlike onkoste) by die Koninklike Munt in Londen egter gemaak is, is dit gevind dat dit in teenstryd was met die Koninklike Akte, daarin dat die wapen in die seël se midde nie die gevierendeelde Unie-wapen was nie, maar die wapen van die Britse monarg,[1] met aparte skildjies rondom die seëlrand wat die vier provinsies voorgestel het.

Aangesien die kwartiere wat die provinsies voorgestel het, as enkele wapen verleen is, nie as aparte skilde nie, is daar gereël dat ’n verdere Koninklike Akte uitegereik word. Gedateer 4 Mei 1911, het dit die vier kwartiere as aparte wapens respektiewelik aan die vier provinsies verleen: ’n rooi skild met die dame Hoop vir Kaapland, ’n goue skild met twee wildebeeste vir Natal, ’n goue skild met ’n oranjeboom vir die Oranje Vrystaat, en ’n groen skild met ’n ossewa vir Transvaal.

Kaap de Goede HoopNatalOranje Vrij StaatTransvaal

Toe die akte egter in Pretoria aangekom het, het die Eerste Minister se kantoor aan Londen gerapporteer dat die wapens soos dit aan die provinsies verleen is, vir hulle onaanvaarbaar was. Die akte is nie aan die provinsies gekommunikeer nie, en hulle het voortgegaan om hul vorige wapens te voer.

Tale van die Unie:
Die Unie se amptelike tale was Nederlands en Engels. Die status van die ampstale is in die Grondwet verskans: die taalklousule mog nie behalwe met ’n twee-derde meerderheid van altwee Huise van die Parlement in samesitting gewysig word nie.

Vlae van die Unie:
Union Jack vlagembleem van die Goewerneur-Generaal van Zuid Afrika Rooi Vaandel vir die Unie van Zuid Afrika (1912) Soos wat die geval was met ander Britse besittings, was die Unie se hoofvlag in die begin die Britse Union Jack, waaraan ’n stel vlae toegevoeg is wat daarvan afgelei is, met Suid-Afrikaanse simbole bygevoeg.

Die Goewerneur-Generaal se vlag was ’n Union Jack met die Uniewapen bekrans met blommende mimosa-takke op ’n wit rondeel in die middel van die vlag. Die Eerste Minister, Generaal Louis Botha, het die mimosa as Suid-Afrika se nasionale boom voorgestaan. (Die term mimosa word nie meer vir bome van die genus Acacia gebruik nie, ofskoon dit in Suid-Afrika inheems is of van Australië afkomstig. Dit is onduidelik watter van die inheemse spesies bedoel word nie, maar dit is heel waarskynlik Acacia karoo.) Hierdie vlag is egter slegs vir gebruik ter see bedoel.

Die Regeringsvlag, aan land en ter see, was ’n Blou Vaandel met die skild van die Uniewapen aan die wapperkant, en die handelsvlag ’n Rooi Vaandel ook met die Unieskild in die wapperkant. Die oorspronklike vorm van die Rooi Vaandel het die skild bloot op die rooi agtergrond geplaas, sonder kontras. Maar in 1912 is dit verander toe die skild op ’n wit rondeel geplaas is (soos wat hier aangetoon word). Die Blou Vaandel het egter in sy oorspronklike vorm voortgeleef, sonder die wit rondeel.

Hoofstede van die Unie:
Die afgevaardigdes aan die Nasionale Konvensie kon nie oor die kwessie van ’n enkele hoofstad vir die Unie saamstem nie, dus is ’n kompromis bereik waardeur Pretoria die administratiewe hoofstad geword het, Kaapstad die wetgewende hoofstad (die gebou van Kaapkolonie se Parlement is gebruik) en Bloemfontein die regterlike hoofstad.

In die vroeë jare van die Unie is die Uniegebou op Meintjes Kop, Pretoria, opgerig, om as administratiewe “paleis” te dien, en ’n groot hofgebou is in Bloemfontein as setel van die Appêl-afdeling van die Hooggeregshof van Suid-Afrika.

Die splitsing tussen Pretoria en Kaapstad het beteken dat die Goewerneur-Generaal, die Eerste Minister, die Kabinet en die boonste vlakke van die administrasie jaarliks vir die duur van die Parlementsitting na Kaapstad moes verskuif. Huidiglik, in 2002, is dit steeds hoe Suid-Afrika regeer word, alhoewel vliegtuie en vinnige padvervoer tans verkies word vir die vervoer van die President en sy Ministers en beamptes, bo die treine wat voorheen die hooggeplaastes en mindere beamptes vervoer het.

Grondwetlike ontwikkeling:
Die Unie is 31 Mei 1910 gevorm as ’n parlementêre unie van die vier selfregerende Britse kolonies suid van die Limpoporivier, wat nou provinsies van die Unie geword het: die Provincie Kaap de Goede Hoop (Kaapprovinsie; voorheen Kaapkolonie), die Provincie Natal (Colony of Natal), die Provincie Oranje Vrij Staat (Oranje Vrij Staat/Orange River Colony) en die Provincie Transvaal (Zuid Afrikaansche Republiek/Transvaal Colony). (Die Nederlandse spellings verskyn as aanduiding dat dít destyds die amptelike taal was.)

Die nuwe staat is formeel ’n Britse Dominium genoem, en sy Staatshoof was die Britse soewerein (teen die tyd van Uniewording, die pas toegetrede koning George V), wat in Suid-Afrika verteenwoordig is deur ’n Goewerneur-Generaal, aangestel nadat die koning raad ontvang het van die Britse Kabinet. Parlement het bestaan uit die Goewerneur-Generaal en twee Huise: die Wetgewende Vergadering (later Volksraad genoem) en die Senaat. Die Regeringshoof was ’n Eerste Minister wat deur die Goewerneur-Generaal aangestel is en wat die steun gehad het van die meerderheid in die Laerhuis.

Die koning se titel, sover dit Suid-Afrika aangegaan het, is neergelê volgens die Royal Titles Act (Wet op Koninklike Titels), wat in 1901 deur die Westminster-Parlement gepasseer is. Dit het Koning Edward VII verklaar tot koning “of the British Dominions beyond the Seas” (van die Britse Dominiums Oorsee). Op daardie stadium het die term “Dominiums” al Brittanje se besittings gedek, maar in 1907, tydens die heel eerste vierjaarlikse Rykskonferensie, is die status van die selfregerende Dominiums bespreek.

Die Goewerneur-Generaal is gelyktydig as Britse Hoë Kommissaris vir Suider-Afrika aangestel, direk verantwoordelik vir die administrasie van die drie Britse protektorate (ook bekend as die Hoë Kommissariaat-gebiede) van Basoetoeland, Betsjoeanaland en Swaziland. Daar was ’n verstandhouding dat hierdie gebiede, asook miskien Rhodesië in die noorde, uiteindelik deel van die Unie sou word.

Die Poskantoor van die Unie het in in Basoetoeland en Swaziland posdienste voorsien (wat Suid-Afrikaanse posseëls gebruik het), maar nie in Betsjoeanaland nie. Alhoewel Suid-Afrika op Uniedag (31 Mei) 1910 een posseël uitgereik het, het dit nie voor 1913 ’n vaste posseëlreeks uitgereik nie, en gedurende sy eerste drie jare het dit seëls van al vier kolonies gebruik, wat geldig was vir gebruik dwarsdeur die Unie, asook in Basoetoeland en Swaziland.

’n Kerndefek in die Unie se Grondwet het in die stemreg gelê. Tydens die Nasionale Konvensie in 1909 het die Kaapse afgevaardigdes probeer om die ander drie kolonies te oorreed van die wysheid daarin om die stemreg verder uit te brei as net aan blanke mans (slegs blanke mans het in die Orange River Colony en Transvaal stemreg gehad, terwyl Natal se beperkings op nie-blanke kiesers beteken het dat feitlik geen gekwalifiseer het nie). Die Kaapse stemreg, wat op eiendom gegrond is, het beteken dat groot getalle Kleurling- en swart mans met blanke mans die stemreg gedeel het. Maar die ander kolonies het nie saamgestem nie, en slegs in Kaapland is ’n kleurblinde stemreg vir die Unie aanvaar. Dit sou tot ernstige komplikasies lei.

Die Unie was nie onafhanklik nie, wat in 1914 bewys is ten tye van Brittanje se oorlogsverklaring teen Duitsland en Oostenryk, wat outomaties Suid-Afrika in ’n toestand van oorlog met sy buurstaat, Duits-Suidwes-Afrika, geplaas het.

Die rol wat tydens die Eerste Wêreldoorlog deur die Dominiums gespeel is, het gou vir Brittanje oortuig dat hul status verhoog moet word. Suid-Afrika, alhoewel dit eers ’n rebellie deur kommandolede moes onderdruk, het gou in Duits-Suidwes beheer oorgeneem, en het dit tot in 1919 beset. In daardie jaar het die Volkebond dit ’n C-klas Mandaat verleen. Dit het Suid-Afrika toegelaat om Suidwes-Afrika as provinsie te behandel. Suid-Afrikaanse magte het daarna (1916) aangesluit by die veldtog teen Duits-Oos-Afrika, waar Jan Christian Smuts, ’n kommando-generaal uit die Suid-Afrikaanse Oorlog en teen dié tyd ’n Kabinetslid, aangestel is as Generaal in Bevel van Britse Magte in Oos-Afrika. Smuts is later tesame met Ministers uit die ander Dominiums gekoöpteer tot die Keiserlike Oorlogskabinet, waar hy ’n belangrike bydrae gemaak het. Smuts en Eerste Minister Louis Botha het ’n beduidende rol gespeel in die vredesonderhandelinge te Versailles, waar Smuts bygedra het tot die vorming van die Volkebond, en as Eerste Minister opgevolg het toe Botha skielik dood is.

Smuts het voorts ’n rol in internasionale sake tydens die Rykskonferensie van 1921 gespeel, en alhoewel hy as Eerste Minister deur Generaal J B M Hertzog tydens die algemene verkiesing van 1924 vervang is, was dit Smuts se idees wat tydens daaropvolgende Rykskonferensies na vore gebring is, en gelei het tot die vorming van die Gemenebes van Nasies, bestaande uit Brittanje en die Dominiums.

Suid-Afrikaners het, soos ander onderdane van die Britse Kroon, koninklike ere ontvang in die vorm van ridderskappe, baronetskappe en mindere eerbewyse, en in ’n enkele geval ’n baronskap. In 1925 het die Parlement egter, op ’n voorstel van Arthur Barlow LV (Arbeidersparty), besluit dat geen Suid-Afrikaner in die gevolg enige Britse titel sou aanvaar nie. Aangesien die Britse soewerein (destyds steeds George V) Suid-Afrika se Staatshoof was, was dit ’n direkte belediging vir die koning. Dit is egter in Londen aanvaar volgens die beginsel dat die koning die raad van sy Ministers aanvaar, hetsy in Brittanje of in die selfregerende dominiums en kolonies.

Unie van Suidafrika

Union of South Africa

Unie van Suidafrika (1930)

Agtergrond tot die tekening van 1930:
Die 1910-weergawe van die wapen van die Unie is twee dekades lank alleenlik in gebruik, maar is al hoe meer gekritiseer. Een koerant-korrespondent het in 1930 opgemerk dat as ’n regte gemsbok die gemsbok-skildhouer sou kan sien, dit heel waarskynlik sy dood sou veroorsaak! Die Departement Binnelandse Sake het as gevolg hiervan by die College of Arms aansoek gedoen om ’n replika van “the true armorial bearings” (die ware heraldiese wapen) van die Unie.

Terwyl die nuwe tekening nie van die blasoen van 1910 afgewyk het nie, was dit heelwat meer bevredigend. Die diere is meer natuurlik geteken, en die skildhouers en skild het op ’n groen grasgrond gerus, in plaas van die leuselint. Die helmteken en wrong het nie meer in die middel van die lug gedryf nie, maar het nou op die skild gerus. Die helmteken het egter steeds nie bo-op ’n helm gestaan nie, en die skildhouers se sterte was steeds in die afhangende of lafhartige posisie. Die 1910-weergawe van die wapen is voorts gebruik in die pettekens van die Suid-Afrikaanse Polisie en die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens, en in die mou-rangtekens van militêre adjudant-offisiere, maar vir die meeste doeleindes het die 1930-weergawe sy plek ingeneem.

Taal-ontwikkeling:
Die land se naam verskyn bo-aan hierdie onderafdeling in Engels en ’n vroeë amptelike vorm van Afrikaans, want die 1930-tekening het in gebruik gekom vyf jaar na die passasie van die Wet op Amptelike Tale van die Unie van 1925, wat die definisie van “Nederlandse taal” in die Grondwet uitgebrei het om Afrikaans in te sluit.

Die prentjies-posseëls wat in 1926 uitgereik is (die tweede vaste reeks van die Unie) het die land se naam in óf Engels óf Afrikaans gedra, in die vorm “Suidafrika” op die Afrikaanse weergawe.

Vlae van die Unie, burgerskap en stemreg:
’n Beduidende gevolg van die Rykskonferensie van 1926 was die Balfour-Verklaring, wat onder andere dit gestel het dat Groot-Brittanje en die Dominiums “gelyk [was] in status, glad nie onderdanig aan mekaar nie”. Vir Suid-Afrika het dit beteken dat dit nou sy eie vlag kon hê. ’n Vlag (die Unie-vlag) is volgens die Wet op Unie-Burgerskap en Vlae van 1927, wat 30 Mei 1928 amptelik in gebruik gekom het. Die Unie se Blou Vaandel het nou weggeval. Die definisie van die Union Jack het dit gestel dat hierdie vlag “die verwantskap van die Unie met die ander lede van die groep nasies wat die Britse Gemenebes van Nasies uitmaak” aandui, en is dus saam met die Unievlag gehys – gewoonlik net by spesiale geleenthede, alhoewel dit in Natal deurgaans so gebruik is. Die Unie se Rooi Vaandel het die handelsvlag gebly.

Dieselfde Wet het voorsiening gemaak vir ’n aparte Suid-Afrikaanse burgerskap, binne die wyer kring van die Gemenebes, ten spyte van bekommernisse in sekere kringe dat dit ’n belediging vir die Britse Ryk kon wees.

Die eerste verandering aan die stemreg het in 1930 gekom, toe blanke vroue stemreg verkry het, maar nie vroue van enige ander ras nie. Dit het die reeds onsekere posisie van die manlike Kleurling- en swart kiesers van Kaapprovinsie ondermyn. Hierdie vroue-stemreg is nie voor die algemene verkiesing van 1933 uitgeoefen nie.

Unie van Suid-Afrika

Union of South Africa

Unie van Suid-Afrika (1932)

Agtergrond tot die tekening van 1932:
Brownell skryf dat die Jersey-gebore Londense kunstenaar George Kruger Gray opdrag gegee is, en het “’n heel aantreklike volle weergawe van die wapen na vore gebring, wat 21 September 1932 deur die College of Arms ‘aangeteken is’ en wat in 1933 in gebruik gekom het, dieselfde jaar waarin koning George V amptelik Suid-Afrika-Huis geopen het” [my vertaling]. Hierdie gebou, wat op Trafalgar-plein, Londen, staan, is deur sir Herbert Baker ontwerp, en was die tuiste van die Suid-Afrikaanse Hoë Kommissariaat in Brittanje (daarna die Ambassade, en huidiglik weer die Hoë Kommissariaat). Gray se werk vorm deel van sy dekor. Sir Herbert was instrumenteel in die opdrag aan Kruger Gray.

Die Kruger Gray-ontwerp sluit vir die eerste maal ’n helm en dekkleed in; die skildhouers se sterte is omhoog; en blom-embleme is by die grasgrond bygevoeg. Die ossewa is egter steeds die foutiewe transportwa van 1910 (alhoewel beter geteken), eerder as die trekwa (kakebeenwa) wat dit veronderstel was om te wees.

Die blomme aan regterhand is die nasionale blom, Protea cynaroides,[2] terwyl dié aan die linkerhand nie duidelik geteken is nie, en kan enige wees uit die Kaapse suikerbos (Protea repens),[3] Protea longifolia of miskien Protea magnifica [voorheen P barbigera].)

Die helmteken-leeu in die Kruger Gray-tekening is die mees Middeleeus van die drie leeus, wat in een opsig heel paslik is, aangesien dit die heraldiek na sy oorspronge terugvoer, maar in ’n ander sin is dit ietwat ongepas, aangesien die wapen van ’n land in Afrika ’n dier weergee wat baie anders lyk as ’n natuurlike leeu van Afrika.

Taal-ontwikkeling:
Die Afrikaanse taal het ’n sigbare verandering ondergaan wat in 1933 amptelike erkenning gekry het toe ’n her-vrystelling van die Suid-Afrikaanse prentjies-posseëls van 1926 die spelling van die landsnaam van “Suidafrika” na “Suid-Afrika” verander het.

Grondwetlike ontwikkeling:
Hierdie weergawe van die wapen dui ook op ’n verhoogde status vir Suid-Afrika. In Desember 1931 het die Britse Parlement die Statute of Westminster aanvaar, wat effektief onafhanklike, soewereine state gemaak het van die Britse Dominiums – Suid-Afrika, Kanada, Australië, Nieu-Seeland, Newfoundland (wat in 1949 ’n provinsie van Kanada geword het) en Éire (die Ierse Vrystaat, of Saorstát Éireann, wat in 1937 die Dominium van Éire geword het, en in 1949 die Gemenebes verlaat het toe dit ’n republiek, die Poblacht Éireann, geword het).

Hierdie nuwe status is in Suid-Afrika in 1934 geformaliseer met die passasie van die Wet op die Status van die Unie (wat soewereine gesag aan die Unie-Parlement oorgedra het) en die Seëlwet (wat ’n Koninklike Groot Seël en ’n Koninklike Handseël geskep het; dié is in die Kantoor van die Eerste Minister aangehou en was anders as Groot Seël van die Goewerneur-Generaal). Suid-Afrika was die eerste, en vir etlike jare lank die enigste, Gemenebes-lid wat in eie wetgewing die bepalings van die Statuut van Westminster bevestig het.

Selfs voordat enigeen van die twee Parlemente hierdie wette aanvaar het, het die Britse Kroon twee aanstellings gemaak wat reeds op ’n veranderde status gedui het: in Januarie 1931 is ’n nuwe Goewerneur-Generaal aangestel (volgens die raad van die Suid-Afrikaanse Kabinet alleenlik) wie nie Hoë Kommissaris was nie, en in April is ’n aparte aanstelling gemaak tot die amp van Hoë Kommissaris. Dit het beteken dat die protektorate van Betsjoeanaland, Basoetoeland en Swaziland die verantwoordelikheid was van ’n beampte wat in ’n ambassadeurs-hoedanigheid gedien het, en wat die Britse Regering verteenwoordig het, eerder as die soewerein se adjunk as Staatshoof. Die protektorate het nou hul eie posdienste daargestel en eie posseëls uitgereik. In 1932 het Betsjoeanaland eie seëls uitgereik (in plaas van oorgedrukte Britse posseëls), en in ’33 het Basoetoeland en Swaziland soortgelyk opgetree.

In 1937 is die eerste Goewerneur-Generaal wat ’n Suid-Afrikaanse burger was (burger volgens verblyf) aangestel, en in 1946 die eerste Suid-Afrikaans-gebore Goewerneur-Generaal. Die laaste Goewerneur-Generaal, wie in 1960 aangestel is, het in 1961 die eerste Staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika geword.

Die eerste beduidende verandering aan die Kaapse stemreg het in 1936 gekom toe swart kiesers van die gemene kieserslys verwyder is en op ’n aparte kieserslys geplaas vir die verkiesing van sogenaamde Naturelle-verteenwoordigers (wat blank was) tot die Parlement.

Suid-Afrika se onafhanklikheid is 1939 bewys toe Brittanje teen Duitsland oorlog verklaar het. Suid-Afrika se oorlogvoerende status was nie automaties nie, en is deur ’n parlementêre stemming bepaal (die Parlement is toevallig, vir ander doeleindes, die dag nà Brittanje se oorlogsverklaring byeengeroep). Generaal Hertzog, wat neutraliteit voorgestaan het, het verloor, en genl Smuts het Eerste Minister geword.

Teen die einde van die oorlog was Suid-Afrika – en spesifiek genl Smuts – aktief betrokke in die vorming van die Verenigde Nasies. Smuts het self die Aanhef tot die VN-Handves geskryf. Genl Smuts het dus ’n sleutelrol gespeel in die stigting van drie internasionale organisasies.

7 Mei 1945 het die Suid-Afrikaanse afvaardiging aan die Verenigde Nasies die mening gelug dat die mandaat op Suidwes-Afrika verval het, en dat die gebied in die Unie ingelyf moet word. Die gebied se Wetgewende Vergadering het inlywing versoek, en is deur die (stemlose) Duitse bevolking gesteun. ’n Meningsopname onder die bruin en swart inwoners het ’n oorweldigende meerderheid aangetoon wat ook daarvoor ten gunste was. Maar in die Verenigde Nasies het Indië ’n voorstel gemaak dat hierdie gedagte van die hand gewys word, en die gebied is tot Trustgebied verklaar. Suid-Afrika is verwag om jaarlikse verslae in te dien, en hieroor het verdere twis ontstaan.

Suid-Afrika is in 1947 vir sy bydrae tot die oorlog bedank met ’n amptelike besoek deur die Staatshoof, Koning George VI, tesame met die koningin en hul dogters, die Prinses Elizabeth (wie in 1952 Koningin sou word) en die Prinses Margaret. Tydens hierdie besoek is die Suid-Afrikaanse Parlement – vir die enigste maal – deur die Koning geopen, eerder as deur die Goewerneur-Generaal.

In 1948 is genl Smuts met die oorwinning van die Nasionale Party van dr D F Malan uit die kussings gelig. Malan-hulle het ’n radikale herorganisasie van die samelewing beplan, spesifiek daarin dat dit die rasseskeiding wat tradisioneel deel was van die Suid-Afrikaanses lewe was, en wat baie nou as uitgeleef ingesien het, wou verskans en deeglik wou toepas. Die NP se vroeë pogings om aan die stemreg te peuter was nietig nadat kiesers die geregshowe genader het, maar nadat dit ’n inskiklike (vergrote) Senaat bewerkstellig het, het die Nasionale Party dit in 1956 reggekry om die Kaapse Kleurling-kiesers van die gemene kieserslys te verwyder en Kleurling-Verteenwoordigers in die Parlement te skep.

Die Wet waaronder die vergrote Senaat geskep is, is in die howe beproef, maar toe die Appêlhof die Wet bevestig het, het dit ook bevind dat die Parlement soewerein is, en enige Wet kon deurvoer wat dit wou. Dit sou tot in 1994 ’n beginsel van die Suid-Afrikaanse gereg bly.

Die Nasionale Party het in 1949 ook die Wysigingswet vir Suidwes-Afrikasake deurgevoer, wat verskeie veranderings aan die administrasie van daardie gebied gemaak het. Van belang vir die Unie was sy voorsiening vir setels in die Suid-Afrikaanse Parlement fir lede verkies uie Suidwes-Afrika: ses in die Volksraad en vier Senators.

’n Verdere ontwikkeling van 1949 was ’n gevolg van Indië se republiekwording. Voorheen was die koning Staatshoof van al die lede van die Gemenebes. Die Gemenebes-verklaring van daardie jaar het die koning as simbool van die vrye assosiasie van die onafhanklike ledestate van die Gemenebes erken, met die titel Hoof van die Gemenebes.

Volgens Suid-Afrika se Wet op Koninklike Styl en Titels van 1953 is ’n aparte titel van Koningin van Suid-Afrika geskep. Dit het (wat hierdie land betref) die vorige beskrywing “Koningin van die Britse Dominiums Oorsee” vervang.

In 1959 het die Wet op Bantoe-Selfregering die Naturelle-verteenwoordigers in die Parlement afgeskaf en die skep van selfregerende state waarin swart Suid-Afrikaners hulle burgerskap sou uitoefen, in die vooruitsig gestel. Hulle sou daardeur alle regte in “blanke” Suid-Afrika verloor. Aangesien dit gekom het nà ’n reeks optredes wat swart Suid-Afrikaners verwoed het, het dit die toneel geskep vir weerstand teen blanke dominasie wat verreikende gevolge sou hê.

Die Nasionale Party, nadat dit etlike jare die gedagte aan ’n republiek voor oë gehou het, in Oktober 1960 ’n referendum oor die kwessie gehou. Die resultaat is aansienlik verskeef omdat die Kaapse Kleurling-kiesers, wie steeds ’n (beperkte) parlementêre stemreg gehad het, van deelname uitgesluit is, terwyl kiesers in Suidwes-Afrika in die stemmery ingesluit is, ten spyte van die feit dat die gebied nooit in die Unie ingelyf is nie. Die uitslag – 850 458 stemme vir ’n republiek, 775 878 daarteen – was duidelik die direkte gevolg van hierdie stemreg-verneukery. Eerste Minister Hendrik Frensch Verwoerd, wat ’n onvriendelike ontvangs van die Gemenebes verwag het op grond van Suid-Afrika se rassebeleid, het enige negatiewe reaksie voorgekeer deur om eensydig van hierdie “klub” van nasies te onttrek.

Vlae van die Unie:
In 1952 het die Union Jack sy status as mede-landsvlag verloor, en is die Unievlag van 1926 aanvaar as enigste landsvlag. Die Rooi Vaandel met die Unieskild aan wapperkant het as handelsvlag ook verval, en is met die Unievlag vervang. In Natal egter, waar die oorwegend Engelssprekende blanke bevolking lojaal was teenoor die Britse Kroon, is die Union Jack tot 1961 steeds as landsvlag gebruik, nie net deur private instansies nie maar ook deur die Provinsiale Administrasie en deur munisipaliteite.

Die veranderde status van die Goewerneur-Generaal het ook ’n verandering in hierdie beampte se vlag meegebring, en is ’n nuwe vlag ook in gebruik geneem vir die aparte amp van Hoë Kommissaris. Die Goewerneur-Generaal se vlag sou weer (effens) in 1953 verander toe koningin Elizabeth die gebruik van die St Edward-kroon as simbool van die monargie gemagtig het in plaas van die Tudor-kroon wat deur koning Edward VII ingebring is (dit word hier) verduidelik.

Gebiedsuitbreiding:
Die daarstelling van die Unie in 1910 was nie net die samekoms van vier kolonies nie, maar ’n hoop op die inlywing van verdere gebiede. In 1910 reeds was daar sprake van Basoetoeland, Swaziland, Betsjoeanaland en Rhodesië. In 1918-19 was nie net Suidwes-Afrika onder oë nie, maar ook ’n skema van genl Smuts om 90% van Duits-Oos-Afrika vir Portugal te gee, in ruil vir Mosambiek suid van die Zambezi. Maar as gevolg van Portugal se (hoogs tegniese) status as geällieerde moes hierdie gedagte laat vaar word. Soos genl Smuts dit vooruitgesien het, was die feit dat Suid-Afrika nie die hawe van Beira besit het nie, ’n oorweegrede in Rhodesië se besluit in 1924 om ’n selfstandige Kroonkolonie te word, in plaas van ’n provinsie van die Unie. En laastens was Suid-Afrika se republiekwording onder die NP se rassebeleid die laaste spyker in die doodskis vir die gedagte van inlywing van die drie Hoë Kommissariaatgebiede. Aldrie sou in die 1960s hul onafhanklikheid neem – Basoetoeland (Lesotho) en Swaziland as koninkryke, en Betsjoeanaland as die Republiek Botswana. Dus het Suid-Afrika sy tydperk as Britse Dominium geëindig met presies dieselfde gebiedsoppervlakte en dieselfde provinsies as in 1910.

Republiek van Suid-Afrika

Republic of South Africa

Republiek van Suid-Afrika

Wapen in Pretoria geregistreer:
Suid-Afrika het 31 Mei 1961 ’n republiek buite die Gemenebes geword. In 1962 het die Parlement die Heraldiekwet deurgevoer, wat ’n heraldiese gesag geskep het bestaande uit die Buro vir Heraldiek, onder ’n Staatsheraldikus. Die eerste Staatsheraldikus is in 1963 aangestel en het sy kantoor in die Uniegebou, Pretoria, gehad (die kantoor het sedertdien na elders in die stad verskuif).

Die buro het die landswapen met sertifikaat No 152, gedateer 13 Mei 1968, geregistreer. Die illustrasie volg die Kruger Gray-tekening en die bewoording van die blasoen is sigbaar anders as dié van 1910, maar die wapen wat so geblasoneer is, is steeds dit wat in 1910 verleen is en in 1930 en ’32 herteken is. My vertaling van die blasoen lui:

Wapen: Gevierendeel, golwend gesny: I, in rooi, ’n vroulike figuur wat Hoop voorstaan, wat haar regterarm op ’n rots rus, en wat met die linkerarm ’n silwer anker steun; II, in goud, twee lopende swart wildebeeste, in hulle natuurlike kleure; III, in goud, op ’n eiland ’n oranjeboom van groen met vrugte in hulle natuurlike kleure; IV, in groen, ’n trekwa van silwer.

Helmteken: Op ’n wrong van silwer en rooi, ’n gaande aansiende leeu van rooi wat met sy regterklou vier opregte stawe alternatief van silwer en van blou vashou, die stawe van goud vasgebind.

Dekkleed: silwer en rooi.

Skildhouers: Regs ’n springbok en links ’n gemsbok, altwee in hulle natuurlike kleure.

Grond: Onder die skild, op ’n grasgrond van groen, twee proteas elk met twee blomkoppe in hulle natuurlike kleure.

Leuse: EX UNITATE VIRES.

Die bewoording van die Engelse blasoen spesifiseer nie die kleure van die wrong of die dekkleed nie, maar volgens tradisie is die wrong en dekkleed in dieselfde kleure as voorheen.

Grondwet van die republiek:
Suid-Afrika se republiekwording het weinig aan die Grondwet verander. Die nuwe posisie van Staatspresident het van sy voorganger, die Goewerneur-Generaal, slegs daarin verskil dat die amphouer nie die Britse soewerein verteenwoordig het nie. Die posisie was steeds grotendeels seremonieel, en politieke mag is steeds in die hande van die Eerste Minister gekonsentreer – selfs meer as voor die 1950s, omdat (in terme van die Appêlhof-bevinding wat bo genoem word) die Parlement nou as soewerein beskou is. Ten opsigte van tale, het die Grondwet nou Afrikaans en Engels gespesifiseer, eerder as Nederlands en Engels, maar die eweredigheid tussen die twee tale was onveranderd, asook die verskanste aard van die taalklousule.

wapen van Suid-Afrika (swart-wit weergawe)

Nuwe wapentekening:
Brownell skryf (my vertaling): “Op versoek van die Kantoor van die Staatspresident is daar in 1986 effens vereenvoudigde tekenings van die versierde wapen van 1932 deur die Buro vir Heraldiek voorberei, spesifiek vir enkelkleurdruk en vir blokkering in goud.” Hierdie tekening was in gebruik totdat die wapen van 1910 uiteindelik vervang is met die nuwe devies wat in 2000 in gebruik gekom het.

Geen nuwe volkleur tekening van die landswapen is nà 1961 voorberei nie, en die tekening van 1932 het tot in 2000 in gebruik gebly.

Grondwet van 1984:
In 1983 het ’n meerderheid blanke kiesers ’n nuwe Grondwet goedgekeur, wat in 1984 in werking getree het, wat die amp van Eerste Minister afgeskaf het en politieke mag in die hande van ’n uitvoerende Staatspresident gekonsentreer het. Die sittende Eerste Minister, P W Botha, is tot Staatspresident verkies. Hierdie Grondwet het ook die Senaat en die vier Provinsiale Rade afgeskaf, asook die verteenwoordiging in die Parlement van Suidwes-Afrika.

Dit het ook voorgegee om vir Kleurling- en Indiese Suid-Afrikaners segging in die land se sake te gee deur die skepping van twee nuwe Huise van die Parlement, die Huis van Verteenwoordigers (vir Kleurlinge) en die Huis van Afgevaardigdes (vir Indiërs). Maar aangesien die setels wat aan hierdie Huise toegestaan is, permanent beperk is tot 50% van die Volksraad vir die Verteenwoordigers en 25% van die Volksraad vir die Afgevaardigdes, was hierdie toegewing duidelik ’n klug. Die meerderheid van dié wat gekwalifiseer het om vir hierdie twee Huise te stem, het geweier selfs om te registreer, en dié wat verkies is, is nie as die ware verteenwoordigers van die volk aangesien nie.

Swart Suid-Afrikaners is nie eens in berekening gebring nie, want volgens die apartheidsbeleid het hulle hul demokrasie deur die “onafhanklike” tuislandstate Transkei, Bophuthatswana, Ciskei en Venda, sowel as die ses nie-onafhanklike tuislandstate, uitgeoefen.

Verdere veranderings:
Sedert die 1960s het Suid-Afrika ’n lae-intensiteit-oorlog beleef met bevrydingsbewegings in beide die Republiek en Suidwes-Afrika (wat deur die Verenigde Nasies amptelik Namibia genoem is). Tydens die 1970s is Suid-Afrikaanse troepe na die noorde van Suidwes-Afrika gestuur om insypeling deur Swapo te keer, en het Suid-Afrikaanse magte verskeie male Angola betree om geallieerdes in daardie land se burgeroorlog te steun. Die Suid-Afrikaanse Polisie het ook Rhodesië se British South Africa Police in die oorlog aldaar gesteun, en pogings is gemaak om Frelimo, die bevrydingsbeweging in Mosambiek wat nà die onttrekking van die Portugese die mag daar oorgeneem het, te ondermyn. Die veldtog binne Suid-Afrika is geken aan sabotasie, bomme en, op ’n latere stadium, moorde, terwyl die sekuriteitsmagte berug geword het vir skendings van menseregte.

Die val van die Sowjet-Unie in 1990 het beteken dat ingee vir die VN se aandrang op onafhanklikheid vir Namibia nie meer die grens met daardie land sou oopmaak vir infiltrasie deur insurgente met steun van Moskou. Namibia het onafhanklik geword, maar binne Suid-Afrika het President P W Botha met beleide voortgegaan wat al hoe meer gesien is as skadelik vir die land.

Laat in 1990 het Botha ’n beroerte-aanval gely wat hom grotendeels ongeskik gelaat het om die land te regeer, maar hy het geweier om te bedank. Sy Nasionale Party het hom uitoorlê deur hom toe as partyleier te vervang, wat sy bedanking as gevolg gehad het. Hy is as President vervang deur F W de Klerk. De Klerk het tydens die opening van die Parlement in Februarie 1991 aangekondig dat verskeie beperkings wat oor die afgelope 30 jaar ingebring is, sou ophou om te bestaan. Die bevrydingsbewegings sou nie meer verbied wees nie en hul leiers (veral Nelson Mandela van die African National Congress) sou uit die tronk vrygelaat word. Besprekings sou gehou word om ’n nuwe toekoms vir die land uit te praat.

Die besprekings het uiteindelik op Kemptonpark begin onder die naam Kongres vir ’n Demokratiese Suid-Afrika (Kodesa), waar al Suid-Afrika se politieke bewegings verteenwoordig is. ’n Interim Grondwet is opgetrek, en dit is ooreengekom dat verkiesings waaraan alle partye mag deelneem, met stemreg vir alle burgers ongeag van rasse-klassifikasie, oor enkele dae vanaf 27 April 1994 sou plaasvind. Regse weerstand is grotendeels geneutraliseer deur ’n referendum van 1993 wat De Klerk aangesê het om voort te gaan met hervormings. Die partye het ook ooreengekom dat in die begin ’n Nasionale Eenheidsregering opgestel sou word, eerder dat een party alleen die regering sou vorm.

Die uitkoms is internasionaal as ’n wonderwerk erken toe vier dae se stemming feitlik onversteurd voortgegaan het, en burgerlike onrus het feitlik verdwyn. Nelson Mandela is as President verkies (die titel Staatspresident het verval) en het beheer oorgeneem van ’n Nasionale Verdedigingsmag waarin lede van die vorige Weermag gelyk gedien het met lede van die bevrydingsbewegings se gewapende magte.

’n Nuwe vlag is 27 April 1994 in gebruik geneem, maar dit is ooreengekom dat die ou wapen voorlopig sou bly. Dit was duidelik dat ’n nuwe devies nodig is, aangesien die oue die vier kolonies verteenwoordig het wat in 1910 saamgekom het en provinsies van die Unie geword het; hierdie is 27 April deur nege provinsies vervang, waarvan slegs een dieselfde oppervlak gehad het as in 1910, een ietwat groter was, en een geskep is deur om stukke van twee ou provinsies aan mekaar te heg

27 April 2000 is ’n nuwe wapen deur President Thabo Mbeki onthul.


[1]Vir meer gedetailleerde inligting oor die Britse koningswapen, kyk hierdie webbladsy.

[2]Vir botaniese inligting oor die nasionale blom, kyk hierdie webwerf.

[3] Om hierdie protea (in wit en pienk variasies) te sien, kliek hier en gaan in die bladsy af.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Bronne: National and Provincial Symbols of South Africa, deur F G Brownell (Chris van Rensburg Publikasies); geskiedkundige aantekeninge uit (onder andere) die Standaard-Ensiklopedie van Suider-Afrika (Nasou) en The British Court: Its Traditions & Ceremonial, deur Ifan Kyrle Fletcher (Cassell).

  • Skanderings van wapens met vergunning van die Eastern Province Herald. Skanderings van die Groot Seël en die Rooi Vaandel deur Howard Lancaster. Kleure van wapens aangesuiwer met behulp van MS Picture It!


    Terug na Armoria patriæ-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle

  • Hosted by www.Geocities.ws

    1