Armoria patriæ
http://www.geocities.com/landswapen

Suid-Afrika / Mzantsi Afrika / Afrika Borwa /

South Africa / Ningizumu Afrika /Afrika Dzonga /Afrika Sewula / Afrika Tshipembe

Grondleggingskring / Leuse / Opgangskring / Tale/name van Suid-Afrika


Suid-Afrika (2000)

Wapen 27 April 2000 in gebruik geneem en gepubliseer (Kennisgewing 425) in Staatskoerant No 21131 van 28 April 2000. Hierdie devies is die produk is van ’n ontwerpsateljee en nie ’n werk van die heraldiek nie. Daar is egter ’n blasoen wat (volgens my vertaling) so lui:

Wapen: In goud, voorstellings van twee San mensefigure van rooi oker, teenoormekaar staande, die hande van die binnenste arms druk mekaar, met bande van silwer om die bo-arm, binne-gewrig, middellyf en knieë, en ’n dun skildsoom van rooi oker; bo die skild ’n spies en knopkierie skuins gekruis, van swart. Daarbo ’n halwe sekretarisvoël met vlerke omhoog van goud, met op sy bors ’n gestileerde voorstelling van ’n protea-bloeiwyse met buiteblare van groen, binneblare van goud en gesaad van nege aangeslote driehoeke in drie rye, die boonste driehoek van rooi, die tweede ry groen, goud omgekeer en groen, en die derde ry groen, goud omgekeer, swart, goud omgekeer en groen. Bo die sekretarisvoël se kop ’n boog van sewe strale gefasetteer van goud en oranje, die twee buitenste strale by die vlerke aangesluit.

Op ’n groen band, die leuse !KE E:/XARRA //KE in letters van silwer. Spruitend uit die ente van die band, twee paar olifanttande wat inwaarts geboog is, die punte aansluitend aan die vlerke van die sekretarisvoël, van goud, daarbinne en langs die skild, twee koringare van bruin.

Soos hieronder verduidelik, word die woord San foutief gebruik aangesien dit geglo word dat dit nie aanstoot gee nie. Dit gee egter wel aanstoot, en die woord Boesman/Boesmans (Bushman/Bushmen) word in werklikheid verkies. Die devies bestaan uit twee kringe, beskryf as die grondleggingskring en die opgangskring.

Grondleggingskring - onderhelfte van die wapen van Suid-Afrika (2000)

Grondleggingskring:
In ’n heraldiese wapen word die meeste van die inhoud binne die skild gevind. In hierdie ontwerp is die skild ’n klein deel van die geheel.

Die twee figure in die skild kom van ’n Boesman[1]-rotsskildery wat bekend staan as die Linton-steen, wat tans in die Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad gehuisves word.

Die amptelike beskrywing vir hulle lees (my vertaling): “Die Khoisan, die oudste bekende inwoners van ons land, spreek van ons gemeenskaplike mensheid en erfenis as Suid-Afrikaners. Die figure word in ’n groetende houding aangetoon, wat eenheid simboliseer. Dit versinnebeeld ook die begin van die indiwidu se omskep na ’n groter sin van tuishoort in die nasie en, by uitbreiding, ons gemeenskaplike mensheid.”

Die kleuring van die twee mans is volgens die blasoen oker-rooi. Baie illustrasies, egter, toon dit heelwat donkerder aan, wat suggererend is van ’n sterker verbintenis as wat werklik bestaan tussen die Boesman-etniese groep en die Nguni[2] en Sotho,[3] wat van Bantu-sprekende[4] gemeenskappe van Neger[5]-herkoms is.

 

Die spies word nie volgens tipe gespesifiseer nie, en kan enige soort tussen die lang werpspies van die vroeë Nguni en die kort steek-assegai van die Zulu[6]-koninkryk. Die knopkierie en spies saam simboliseer verdediging en gesag, en aangesien hulle vlak lê, simboliseer hulle ook vrede. Hulle word ook in die amptelike beskrywing genoem as verteenwoordigend van “die kragtige bene van die sekretarisvoël”, wat effens vergesog lyk, om die minste daarvan te sê.

 

Weerskante van die skild is ’n koringaar, heeltemal buite proporsie wat die ander elemente betref. Die amptelike beskrywing lui: “’n Embleem van vrugbaarheid, dit simboliseer ook die idee van ontkiem, groei en die redelike ontwikkeling van enige potensieel. Dit hou verband met die voeding van die volk en dui op die landbou-aspekte van die aarde.”

Die koringaar se kleur is volgens die blasoen bruin, ’n seldsame kleur in die heraldiek.

Die gebruik van koring in hierdie posisie is direk ontleen van die sosialistiese staatsimbole van Sjina, die voormalige Sowjetunie en die sosialistiese state van Oos-Europa, waar koring, rys of ander graangewasse sonder oorspronklikheid gebruik is met dieselfde simboliek was wat hier genoem word. Wanneer dit vergelyk word met ander simbole van hierdie tipe, word dit duidelik dat dit ’n ondenkende toevoeging tot die geheel is, asook ’n kompliment aan ’n politieke sisteem wat in ander wêrelddele homself as onwerkbaar bewys het.

 

Aan die buitekant van die koringare is ’n paar olifanttande weerskante (’n totaal van vier), waarvan die amptelike beskrywing lui: “Olifante simboliseer wysheid, sterkte, moderasie en ewigheid.”

Die tande verteenwoordig natuurlik die wêreld se grootste land-soogdier, Loxodonta africana, wat tans in die natuur gevind word in die wildreservate van die noordelike en oostelike dele van die land, sowel as ’n oorblywende groepie in die Knysna-woud en ’n florerende trop te Addo, naby Port Elizabeth, maar wat vroeër so ver wes gevind is as die Kaapse Skiereiland. Verskeie Suid-Afrikaanse riviere dra die naam Olifants, waaronder twee in die Provinsie Wes-Kaap. Die Afrika-olifant word tans geklassifiseer as behorende aan ’n ander genus as die enigste ander oorlewende olifantspesie, die Indiese olifant (Elephas maxiumus), maar onlangse navorsing dui daarop dat hulle herklassifiseer behoort te word in dieselfde genus. ’n Derde spesie, die Siriese olifant, is in die klassieke tyd bekend, en is deur die Romeinse Ryk en sy vyande in oorlog aangewend. Olifante is tradisioneel simbole van krag en gesag, veral in Afrika-kulture. Hulle kan ook in die wapens van KwaZulu, Venda en Swaziland gevind word.

Die tande is nie in ivoorkleur nie, maar verskyn in twee verskillende skakerings van goud, anders as die goud van die skild en kontrasterend met die bruin van die koring (wat in ander embleme, ofskoon heraldies of sosialisties, gewoonlik as goud aangetoon word). Alhoewel die goud-skakeringe wat hier gebruik word, vergelyk kan word met die stowwerige patina wat dikwels op ongepoleerde ivoor gesien kan word, is hulle in werklikheid donkerder en meer eenvormig as hierdie patina.

Die gebruk van verskillende skakeringe van goud rym nie met heraldiese gebruik nie, aangesien dit net een kleur goud erken, alhoewel dit miskien in verskillende wapens (of verskillende tekenings van dieselfde wapen) heel anders mag voorkom van die een skild na die ander. Gewoonlik sal geel ink of verf, of stofgoud of blaargoud, gebruik word.

Leuse - !Ke e: /Xarra //Ke

Leuse (deel van die grondleggingskring):
Die leuse, wat op ’n groen lint tussen die onderpunte van die olifanttande verskyn, lui: !Ke e: /Xarra //Ke.

Dit is geneem van die tans uitgestorwe taal van die /Xam- of /Kham-Boesmanvolk en vertaal: “Mense wat anders is kom saam” of “Diverse mense verenig.”

Die amptelike beskrywing lui: “Dit spreek elke indiwiduele poging aan wat soek om die eenheid tussen gedagtes en aksie in te span. Op ’n kollektiewe skaal verg dit dat die nasie verenig met ’n gesamentlike sin van samehorigheid en nasionale trots – Eenheid in Verskeidenheid.”

Die /Xam-taal is die enigste Boesmantaal wat volgens geskrewe rekords suid van die Oranje- of Garieprivier gepraat is, en verteenwoordig dus die vroegste bekende menslike inwoners van die streek waaruit die moderne Suid-Afrikaanse staat ontstaan het.

Die leuse is feitlik onmoontlik om uit te spreek vir enigiemand vir wie die kliekgeluide van Nguni en Suid-Sotho onbekend is. Hierdie geluide is op hulle beurt van die tale van die Boesmans afgelei.

Dit beteken dat die leuse uiters moeilik is, nie net vir buitelanders en vir Suid-Afrikaners wie se taal Engels of Afrikaans is nie, maar ook vir Tswana-, Noord-Sotho-, Tsonga- en Venda-sprekers, en vir lede van daardie Swazi-klans wat van Sotho-oorsprong is.

Die kliekgeluid wat die maklikste uitgespreek word, is /, wat in Sotho en Nguni met C gespel word, en wat baie soos die klank is wat soms deur Engelssprekendes gemaak word, wat as “tsk-tsk” geskryf word. Vir hierdie klank is die tong teruggetrek van die tandvleis net agter die voortande.

Die klank wat met ! gespel word, word gemaak met die tong eers aan die voorkant van die verhemelte, en word in Sotho en Nguni met Q gespel.

Die //-geluid (X in Nguni en Sotho) word gemaak met die tong aan die kant van die verhemelte (aan óf die linker- óf die regterkant van die mond).

Daar is ook ander kliekgeluide wat nie in Bantu-tale gebruik word nie. Sommige van hulle het spesiale karakters in die Internasionale Fonetiese Alfabet. Die dubbelpunt in die tweede woord is een van daardie klanke wat nie in die IFA gevind word nie.

Die letter X (in die derde woord) staan vir die klank wat in Afrikaans, Nederlands en die Sotho-tale met G gespel word, met KH in oorskrywings van Russies of Arabies, en in Xhosa met RH. Dit word ook soms in ’n Boesman-konteks met die letters KH gespel.

As ’n mens die spel van Nguni-tale gebruik, kan die leuse so geskryf word: Qê ê crharra xê.

Opgangskring - boonste helfte van die wapen van Suid-Afrika (2000)

Opgangskring:
Onderaan die groepering van simbole wat vergelyk kan word met die helmteken van konvensionele heraldiek is ’n protea-blom wat op die gekruisde spies en knopkierie rus.

Die nasionale blom is Protea cynaroides,[7] ’n fynbos-spesie wat in die natuur tussen die Boland en die distrik Albany (Grahamstad-omgewing) gevind word. Tipies het dit witterige blommetjies in ’n bloeiwyse omring deur brakte (“blomblare”) wat gewoonlik pienk is, maar in sommige variëteite kan dit helder rooi wees. Die bloeiwyse is kenmerkend 150 mm of meer in deursnee, maar een plaaslike variëteit (wat in die distrik Port Elizabeth gevind word) het ’n bloeiwyse van slegs 60 mm in deursnee.

Protea-agtige spesies is onder die kenmerkende plantegroeitipes van fynbos. Fynbos is op sy beurt die dominante onderverdeling (die ander is woud) van die Kaapse Plantkundige Koninkryk, en is ’n veldtipe wat hoë spesierykheid en ’n hoë graad van aanpassing by plaaslike klimaats- en grondtipe-omstandighede.

P cynaroides verteenwoordig ook die protea-familie in ander dele van die land, en van ander dele van Afrika. Nie-fynbos spesies protea groei in vele ander dele van die oostelike helfte van die land, terwyl nog ander benoorde Suid-Afrika gevind word, veral in hoogliggende gebiede. Een spesie, P gaguedi, word in die natuur gevind vanaf Zimbabwe in die suide tot Etiopië in die noorde, en weswaards sover as die hooglande van Senegal.

Die protea wat aangetoon word is egter ’n stilering van P cynaroides, en is geteken as ’n reeks driehoeke en trapezoïdes. Die brakte verskyn in groen en goud, terwyl die hoof van die bloeiwyse bestaan uit driehoeke in kleure ontleen aan die landsvlag wat sedert 1994 in gebruik is.

Die amptelike beskrywing lui: “Die protea is ’n embleem van die skoonheid van ons land en die bloei van ons potensieel as nasie in die soeke na ’n Afrika-renaissance. Die protea simboliseer die holistiese integrasie van kragte wat uit die aarde groei en wat van bo af verpleeg word. Die gewildste kleure van Afrika is aan die protea toegewys – groen, goud, rooi en swart.”

’n Verdere deel van die amptelike beskrywing lui: “Die blomblare van die protea verskyn in ’n driehoekige patroon wat herinnerend is aan die kunsvlyt van Afrika.” (Die sogenaamde blomblare is in werklikheid groeperings van die blommetjie-koppe.)

Vanuit die agterkant van die protea rys die kop, nek en vlerke van ’n sekretarisvoël (Sagittarius serpentarius).

Die sekretarisvoël, wat wydverspreid is in Suid-Afrika, asook in Afrika-lande benoorde ons land, is die enigste lewende roofvoël wat op die grond woon. Dit is ’n slank, kragtige voël 120 cm lank met ’n vlerkbreedte van 210 cm. Dit het 20 lang swart kopvere wat horisontaal en effens afwaards uit die agterkant van sy kop steek, wat dit laat lyk of dit penne agter die oor dra, soos wat sekretarisse eens gedoen het.

In die natuur het dit ’n liggrys liggaam, swart dye en vlugvere, en wit aan die binnekant van die vlerke. Twee lang straalvere is in die middel van die stert, en die bene is lank, met dik skubbe om die voël teen slangbyt te beskerm.

In die wapen is hierdie voël totaal onnatuurlik gekleur in drie skakeringe tussen goud en bruin.

Die amptelike beskrywing lui: “Die sekretarisvoël word in vlug gekenmerk, die natuurlike gevolg van groei en spoed. Dit is die ekwivalent van die leeu op die aardbodem. ’n Kragtige voël, die bene waarvan . . . dit goed dien in sy jag op slange, wat simbolies is van die beskerming van die nasie teen sy vyande. Dit is ’n boodskapper van die hemele en is op die aarde grasieus; in hierdie sin is dit ’n simbool van hemelse koningskap. Sy verwoë vlerke is ’n embleem van die opgang van ons nasie, terwyl dit tegelykertyd aan ons sy beskerming bied. Dit word in goud gebeeld, wat duidelik sy verbintenis met die son en die hoogste mag simboliseer.”

Die laaste deel van die devies is die stygende son, wat aangetoon word as ’n halfsirkel van goue driehoeke (wat nog twee skakerings van goud inbring) wat in die lug hang bokant die sekretarisvoël se kop.

Die amptelike beskrywing lui: “’n Embleem van helderheid, heerlikheid en die heersende beginsel van die aard van energie, simboliseer dit die belofte van wedergeborenheid, die aktiewe deugde van terugdink, kennis, goeie besef en wilskrag. Dit is die simbool van die bron van die lewe, van lig en die uiteindelike perfeksie van die mensdom.”

Die behoefte aan ’n nuwe wapen:
Dit was selfs vóór die verkiesing van 1994 duidelik dat ’n nuwe landswapen vir Suid-Afrika nodig was, aangesien die ou wapen gebaseer is op die wapens van die land se konstituerende kolonies (provinsies). Hierdie skrywer het, in ’n voorlegging aan die Kommissie vir Nasionale Simbole (deel van die Kongres vir ’n Demokratiese Suid-Afrika, wat die interim-Grondwet opgetrek het) voorgestel dat tyd eers moet verbygaan sodat die nuwe provinsies hulle eie wapens kan aanneem, en dat ’n nuwe landswapen daarna oorweeg word wat na daardie wapens verwys. Ander korrespondente het blykbaar soortgelyke voorstelle gemaak. Hierdie tydsvak is in werklikheid gevolg, maar die wapen, toe dit aanvaar is, het geen verbintenis gehad met die wapens van enige provinsie, nóg die huidige nege nóg die vorige vier.

Ontwerpproses:
Gedurende 1999 het die Departement Kunste, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie idees vir ’n nuwe wapen van die publiek aangevra. Op grond van idees wat ingestuur is en instruksies van die Kabinet, is ’n beknopte konsep geskryf. Design South Africa, ’n verteenwoordigende liggam van ontwerpagentskappe landsdeur, is genader om kontak te maak met 10 van die vooraandstaande ontwerpers. Drie ontwerpers is gekies om hul konsepte aan die Kabinet voor te lê. Die werk van Iaan Bekker, wie in die verlede verskeie korporatiewe identiteite vir organisasies in die openbare en privaat sektore ontwerp het, is uiteindelik gekies.

Nà-apartheidse Suid-Afrika:
Die tyd van apartheid in Suid-Afrika het amptelik geëindig met die verkiesing oor drie dae wat 27 April 1994 begin het. Daardie dag het die interim-Grondwet in werking getree en ’n nuwe nasionale vlag is gehys.

Die land – waarna dikwels verwys is as die Nuwe Suid-Afrika – het ’n parlementêre demokrasie gebly, maar vir die eerste maal is daardie demokrasie gebaseer op die stemme van die gehele volwasse bevolking. Die staatshoof is nou President genoem (nie meer Staatspresident nie), en die Parlement het bestaan uit die President, die Nasionale Vergadering (in plaas van die Volksraad) en die Senaat.

Die land het uit nege provinsies bestaan, teenoor die vorige vier: twee van die ou provinsies – Oranje Vrystaat (Vrystaat) en Natal (KwaZulu-Natal) – het hul gebied behou, terwyl die twee groot provinsies van Transvaal en Kaapland verdeel is – Kaapland in Wes-, Oos- en Noord-Kaap, en Transvaal in PWV-Provinsie (tans Gauteng), Oos-Transvaal (tans Mpumalanga) en Noordelike Provinsie (tans Limpopo), terwyl dele van beide Transvaal en Kaapland saamgevoeg is om die Provinsie Noord-Wes daar te stel. Die “onafhanklike” tuislande van die apartheids-era het verdwyn, en is in die provinsies waarin hulle nou geval het, geïntegreer.

Pretoria het die administratiewe hoofstad gebly, terwyl die Parlement in Kaapstad gebly het. Die gedagte om die Parlement na ’n sentrum te verskuif is ’n paar maal na vore gebring, maar het sterk teenkanting, veral vanuit Wes-Kaap, en vroeg in 2002 het die idee nie verder gekom nie.

Die interim-Grondwet is gekenmerk aan ’n sterk fokus op menseregte en ’n wegbreek van die vorige aanvaarde leerstelling van die soewereiniteit van die Parlement. Die Grondwet is nou as soewerein gesien, en ’n Grondwetlike Hof is tot die bestaande juridiese struktuur bygevoeg met die funksie van die interpretasie van die Grondwet.

Die Hooggeregshof (wat in Engels ’n nuwe naam gekry het as High Court [voorheen Supreme Court]), het sy vorige verdeling behou in ’n Afdeling van Appèl (op Bloemfontein gesetel) en verskeie provinsiale en plaaslike afdelings.

Die Grondwetlike Hof is egter in Johannesburg gebaseer, ’n stad wat nie voorheen ’n formele hoofstad was nie. Tydens die regering van lord Milner, Britse Hoë Kommissaris vir Suid-Afrika, was dit ’n de facto-hoofstad toe hy in Johannesburg gewoon het nà sy aanstelling in 1901 as Goewerneur van die Orange River en Transvaal kolonies, toe hy deur Administrateurs in Bloemfontein en Pretoria geregeer het. Dit het dus ’n geskiedenis as hoofstad onder ’n onderdrukkende régime.

Verhouding met die Gemenebes:
Suid-Afrika, wat ’n stigterslid was van die Gemenebes van Nasies, was vanaf 1961 nie meer deel van daardie organisasie nie. In 1994 is dit terugverwelkom.

Dit het beteken dat die Britse soewerein, Koningin Elizabeth, weereens in Suid-Afrika ’n rol gehad het. Sy was tussen 1953 en 1961 Koningin van Suid-Afrika (dit was die eerste Gemenebes-lid buite Brittanje wat ’n aparte titel vir die soewerein geskep het) asook Hoof van die Gemenebes, maar alhoewel sy Hoof van die Gemenebes gebly het, het sy nie meer enige verbintenis met Suid-Afrika gehad nie. Nou is sy weer, as Hoof van die Gemenebes, met die land gekoppel, en sy het in 1995 in daardie hoedanigheid die land besoek.

Tydens daardie besoek het sy ook haar persoonlike vlag gebruik, wat nie met die sogenaamde Royal Standard (in werklikheid ’n banier van die koninklike wapen) verwar moet word nie.

Suid-Afrika se heraansluiting by die Gemenebes het ook beteken dat Mosambiek geheel en al (behalwe aan die seekant) deur Gemenebeslede omring is, en in 1995 is hierdie voormalige Portugese kolonie tot die Gemenebes toegelaat, ten spyte daarvan dat dit geen Britse koloniale agtergrond gehad het nie, en selfs nie die Engelse taal algemeen gebruik het nie.

Tale van die nuwe Suid-Afrika:
In plaas van net twee tale, altwee van Europese herkoms, het Suid-Afrika nou 11 amptelike tale gehad. Hierdie tale word aan die hoof van hierdie artikel gereflekteer in die name wat vir die land aangegee word.

Die tale is Engels en Afrikaans (soos in die verlede) plus nege inheemse tale:

Xhosa, Zulu, Swazi, Ndebele[8] (almal Nguni-tale), Tswana, Noord-Sotho (of Pedi) en Suid-Sotho (hierdie almal Sotho-tale), Tsonga (ook Shangaan genoem) en Venda.

Dit het ook beteken dat die land bykomstige name gehad het:

Mzantsi Afrika (Xhosa), Ningizumu Afrika (Zulu en Swazi), Afrika Borwa (Sotho-Tswana), Afrika Sewula (Ndebele), Afrika Dzonga (Tsonga) en Afrika Tshipembe (Venda).

Geen erkenning is egter aan die tale van die land se inwoners wat die langste hier is, die Boesman en Khoikhoi[9], hoofsaaklik weens die klein getalle onder die gemeenskappe waar hierdie tale steeds gepraat word.

Die enigste oorlewende Khoikhoi-dialek is Nama, wat gepraat word deur klein, geïsoleerde gemeenskappe in die weste van Noord-Kaap, en deur ’n groter groepering van gemeenskappe in suid-Namibia. Baie oorlewende Khoikhoi-gemeenskappe verkies Afrikaans bo hul voorvadertaal.

Die Nama-woord vir “suid” is !khawagas, terwyl die woord Afrika of Africa (óf die Afrikaanse óf die Engelse vorm word gebruik) neem die agtervoegsel -b (’n manlike einding). Dus is die land se naam in (grammatiese) Nama Afrikab !Khawagas. Die meeste Nama verwys egter na die land as óf Suid-Afrikab óf South Africab.

Permanente Grondwet:
Die interim Grondwet is gebruik tot in 1996, toe ’n definitiewe Grondwet uiteindelik deur die Parliament uitgebring is en dit deur die Grondwetlike Hof goedgekeur is.

Die hoofverskil tussen die Grondwet van 1996 en die interim-dokument was dat die Senaat afgeskaf is (die tweede maal in die land se geskiedenis) en vervang deur ’n liggaam wat die nege provinsies verteenwoordig het, wat die Nasionale Raad van Provinsies genoem is.

 



[1] Dit is tans die mode om na Boesmans as San te verwys, aangesien “Boesmans” (in Nederlands “Bosjesmannen”) oorspronklik ’n skelterm was wat die rowwe skuilings wat deur hierdie Steentydperkse jagters gebruik is, beskryf het. “San” is egter ook ’n skelwoord, wat deur Khoikhoi gebruik is om na die jagter-vergaarders te verwys as “amper diere”. ’n Konferensie van oorblywende Boesman/San-troppe in Namibia in 1995 het ooreengekom om die term Bushman vir hul etniese groep te gebruik.

[2] Die abeNguni, wat bestaan uit die taal-gemeenskappe wat Xhosa, Zulu, Swazi, en Ndebele genoem word, is die mees suidelike uitbreiding van die Bantu-taalgroep. Ander Nguni-groepe word benoorde Suid-Afrika aangetref, waaronder die bekendste die Ndebele van wes-Zimbabwe is, maar ook die Ngoni van Zambia, Malawi en Tanzania, agterblyfsels van die Mfecane, wat grotendeels hulle Nguni-dialekte verloor het, maar steeds ’n trots in ’n militêre verlede behou. Die Tsonga van Mpumalanga en suid-Mosambiek praat ’n taal wat deur isiNguni beïnvloed is.

[3] Die Sotho-taalgroep, wat die geskrewe tale Suid-Sotho (Sesotho sa Borwa), Tswana (Setswana) en Noord-Sotho of Pedi (Sesotho sa Lebowa, of Sepedi) insluit, dek ’n groot deel van sentrale en noordelike Suid-Afrika en sluit ook Lesotho en Botswana in, asook die Lotse-volk van die Barotseland-provinsie van Zambia en Oos-Caprivi in Namibia.

[4] Die woord Bantu, wat algemeen gebruik is om die “mindere” status van die inheemse volkere onder apartheid aan te dui, val tans onder ’n stigma (veral met die spelling “Bantoe”). Dit is egter ook die wetenskaplike naam van die taalgroep wat Sentraal- en Suider Afrika dek vanaf Oos-Kaap noordwaarts tot beide Kameroen en Kenya, en strek tot in Nigeria se suid-oostelike dele, waar die Republiek Biafra kortstondig in die 1960s bestaan het. Die woord Bantu is afgelei van die Xhosa abantu, wat “mense” beteken, en dui op die feit dat die woord vir mense in die meeste Bantu-tale van dieselfde stamwoord kom. Dit is ’n eerlike kompliment vir die Xhosa-volk.

[5] Die woord Neger, of Negro (wat “swart” beteken), val ook onder ’n stigma, veral weens rassistiese gebruik in die Verenigde State, maar soos Bantu is dit ook ’n wetenskaplike naam, wat in hierdie geval ’n afsonderlike menslike tipe aandui. Dit is eers deur die Portugese gebruik om die swart-vel mense wat hulle in Guinea teengekom het. Antropoloë het vasgestel dat die Negers een van die groot divisies is onder die spesie Homo sapiens, wat in die Wes-Afrikaanse reënwoud geëvolueer het in aanpassing by die intensiewe warm, bedompige en plaag-gevulde klimaat. Uit Wes-Afrika (die streek tussen Senegal en Nigeria) het die Bantu-sprekende tak van die Neger-ras teen die 16de eeu deur middel van oorlandse migrasie uitgebrei langs die Atlantiese kus tot by die Kunene-rivier en tot by die Indiese Oseaan-kuste tussen Transkei en Kenya, en deur middel van die onmenslike transatlantiese slawehandel (wat in die middel-19de eeu beëindig is), is enorme getalle indiwidue gedra tot by die meeste dele van die Amerikas. Die Negerras is heeltemal afsonderlik van die swartvellige volkere van Australië en van die Suid-Stille-Oseaan eilandstreek van Melanesië, waarvan Papua New Guinea die grootste staat is. Die Melanesiërs wat die donkerste velle het, staan ook bekend as Negrito.

[6] Die AmaZulu was oorspronklik ’n klein Nguni-klan wat onder etlike ander gewoon het in die streek tussen die Thukela- (Tugela-) en Phongolo- (Pongola-)rivier (tans in KwaZulu-Natal). Hulle het na vore gekom deur Shaka ka Senzangakhona se magsoorname binne die Mthethwa-konfederasie in 1818. Dit het ’n tydperk van oorwinning begin wat ’n koninkryk in die Thukela-Phongolo-streek geskep het, asook ’n groter bufferstrook van vernietiging daarom. Dit het ’n tydperk van onderlinge oorlogvoering, vernietiging op groot skaal, migrasie en verdere koninkryk-formasie (as die Mfecane of Difaqane bekend) ontketen wat gebiede sover noord as die Victoria-meer gestrek het, en slegs beëindig is met die dood van Shaka in 1828.

[7] Om ander beelde van Protea cynaroides te sien, kliek hier, hier en hier.

[8] Die AmaNdebele (twee aparte groepe) van Mpumalanga- en Limpopo-provinsie moet nie met die Ndebele van Zimbabwe verwar word nie. Terwyl aldrie Ndebele-groepe Nguni is, en blykbaar uit die kusstrook afkomstig is, is die Ndebele van die Transvaal-streek reeds ongeveer drie eeue daar, terwyl dié van Zimbabwe ’n produk is van die Mfecane en is slegs in daardie streek sedert die tyd van die Groot Trek. Die woord Ndebele is van Sotho-oorsprong (Mathebele), en dui op mense wat hulle in oorlog agter groot huidskilde wegsteek. Die konteks is dus duidelik dié van taktiek wat die hervormings van Shaka voorafgegaan het.

[9] Die vee-aanhoudende Khoikhoi (wat neerhalend as Hottentote bekend gestaan het) was etnies met die Boesmans verbind en het ’n taal gepraat in gemeen met die Boesman-taal wat steeds in die omgewing van Hwange (tans in Zimbabwe) gepraat word. Hulle is dus inheemse Suider-Afrikaners, apart van die Bantu-sprekende volkere wat tans in hierdie land dominant is. Die vroegste Bantu-sprekers het vee-loos in Suid-Afrika aangekom, en het hul vee van die Khoikhoi gekry. Op hierdie manier het hulle nie net lewende hawe nie, maar ook ’n woordeskat en kultuur wat met vee te doen gehad het, van die Khoikhoi gekry. Die Nguni-tale en Suid-Sotho toon ’n hoë vlak van assimilasie van Khoikhoi- en Boesmantaal, terwyl die stambome van hierdie volkere (asook van die ander Sotho-volke) ’n hoë vlak van ondertrouery tussen Bantu-sprekers en die inheemse Suid-Afrikaners toon.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Bronne: A new Coat of Arms for South Africa, pamflet uitgegee deur die Regerings-Kommunikasie- en Inligtingsisteem, sowel as ander bronne.

  • Skandering met vergunning van die Eastern Province Herald; illustrasies van die onderliggende dele voorberei met behulp van MS Picture It!


    Terug na Armoria patriæ-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle

  • Hosted by www.Geocities.ws

    1