Armoria patriæ
http://www.geocities.com/landswapen

Unie van Suid-Afrika

Union of South Africa

Unie van Suid-Afrika (1932)

Agtergrond tot die tekening van 1932:
Brownell skryf dat die Jersey-gebore Londense kunstenaar George Kruger Gray opdrag gegee is, en het “’n heel aantreklike volle weergawe van die wapen na vore gebring, wat 21 September 1932 deur die College of Arms ‘aangeteken is’ en wat in 1933 in gebruik gekom het, dieselfde jaar waarin koning George V amptelik Suid-Afrika-Huis geopen het” [my vertaling]. Hierdie gebou, wat op Trafalgar-plein, Londen, staan, is deur sir Herbert Baker ontwerp, en was die tuiste van die Suid-Afrikaanse Hoë Kommissariaat in Brittanje (daarna die Ambassade, en huidiglik weer die Hoë Kommissariaat). Gray se werk vorm deel van sy dekor. Sir Herbert was instrumenteel in die opdrag aan Kruger Gray.

Die Kruger Gray-ontwerp sluit vir die eerste maal ’n helm en dekkleed in; die skildhouers se sterte is omhoog; en blom-embleme is by die grasgrond bygevoeg. Die ossewa is egter steeds die foutiewe transportwa van 1910 (alhoewel beter geteken), eerder as die trekwa (kakebeenwa) wat dit veronderstel was om te wees.

Die blomme aan regterhand is die nasionale blom, Protea cynaroides,[1] terwyl dié aan die linkerhand nie duidelik geteken is nie, en kan enige wees uit die Kaapse suikerbos (Protea repens),[2] Protea longifolia of miskien Protea magnifica [voorheen P barbigera].)

Die helmteken-leeu in die Kruger Gray-tekening is die mees Middeleeus van die drie leeus, wat in een opsig heel paslik is, aangesien dit die heraldiek na sy oorspronge terugvoer, maar in ’n ander sin is dit ietwat ongepas, aangesien die wapen van ’n land in Afrika ’n dier weergee wat baie anders lyk as ’n natuurlike leeu van Afrika.

Taal-ontwikkeling:
Die Afrikaanse taal het ’n sigbare verandering ondergaan wat in 1933 amptelike erkenning gekry het toe ’n her-vrystelling van die Suid-Afrikaanse prentjies-posseëls van 1926 die spelling van die landsnaam van “Suidafrika” na “Suid-Afrika” verander het.

Grondwetlike ontwikkeling:
Hierdie weergawe van die wapen dui ook op ’n verhoogde status vir Suid-Afrika. In Desember 1931 het die Britse Parlement die Statute of Westminster aanvaar, wat effektief onafhanklike, soewereine state gemaak het van die Britse Dominiums – Suid-Afrika, Kanada, Australië, Nieu-Seeland, Newfoundland (wat in 1949 ’n provinsie van Kanada geword het) en Éire (die Ierse Vrystaat, of Saorstát Éireann, wat in 1937 die Dominium van Éire geword het, en in 1949 die Gemenebes verlaat het toe dit ’n republiek, die Poblacht Éireann, geword het).

Hierdie nuwe status is in Suid-Afrika in 1934 geformaliseer met die passasie van die Wet op die Status van die Unie (wat soewereine gesag aan die Unie-Parlement oorgedra het) en die Seëlwet (wat ’n Koninklike Groot Seël en ’n Koninklike Handseël geskep het; dié is in die Kantoor van die Eerste Minister aangehou en was anders as Groot Seël van die Goewerneur-Generaal). Suid-Afrika was die eerste, en vir etlike jare lank die enigste, Gemenebes-lid wat in eie wetgewing die bepalings van die Statuut van Westminster bevestig het.

Selfs voordat enigeen van die twee Parlemente hierdie wette aanvaar het, het die Britse Kroon twee aanstellings gemaak wat reeds op ’n veranderde status gedui het: in Januarie 1931 is ’n nuwe Goewerneur-Generaal aangestel (volgens die raad van die Suid-Afrikaanse Kabinet alleenlik) wie nie Hoë Kommissaris was nie, en in April is ’n aparte aanstelling gemaak tot die amp van Hoë Kommissaris. Dit het beteken dat die protektorate van Betsjoeanaland, Basoetoeland en Swaziland die verantwoordelikheid was van ’n beampte wat in ’n ambassadeurs-hoedanigheid gedien het, en wat die Britse Regering verteenwoordig het, eerder as die soewerein se adjunk as Staatshoof. Die protektorate het nou hul eie posdienste daargestel en eie posseëls uitgereik. In 1932 het Betsjoeanaland eie seëls uitgereik (in plaas van oorgedrukte Britse posseëls), en in ’33 het Basoetoeland en Swaziland soortgelyk opgetree.

In 1937 is die eerste Goewerneur-Generaal wat ’n Suid-Afrikaanse burger was (burger volgens verblyf) aangestel, en in 1946 die eerste Suid-Afrikaans-gebore Goewerneur-Generaal. Die laaste Goewerneur-Generaal, wie in 1960 aangestel is, het in 1961 die eerste Staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika geword.

Die eerste beduidende verandering aan die Kaapse stemreg het in 1936 gekom toe swart kiesers van die gemene kieserslys verwyder is en op ’n aparte kieserslys geplaas vir die verkiesing van sogenaamde Naturelle-verteenwoordigers (wat blank was) tot die Parlement.

Suid-Afrika se onafhanklikheid is 1939 bewys toe Brittanje teen Duitsland oorlog verklaar het. Suid-Afrika se oorlogvoerende status was nie automaties nie, en is deur ’n parlementêre stemming bepaal (die Parlement is toevallig, vir ander doeleindes, die dag nà Brittanje se oorlogsverklaring byeengeroep). Generaal Hertzog, wat neutraliteit voorgestaan het, het verloor, en genl Smuts het Eerste Minister geword.

Teen die einde van die oorlog was Suid-Afrika – en spesifiek genl Smuts – aktief betrokke in die vorming van die Verenigde Nasies. Smuts het self die Aanhef tot die VN-Handves geskryf. Genl Smuts het dus ’n sleutelrol gespeel in die stigting van drie internasionale organisasies.

7 Mei 1945 het die Suid-Afrikaanse afvaardiging aan die Verenigde Nasies die mening gelug dat die mandaat op Suidwes-Afrika verval het, en dat die gebied in die Unie ingelyf moet word. Die gebied se Wetgewende Vergadering het inlywing versoek, en is deur die (stemlose) Duitse bevolking gesteun. ’n Meningsopname onder die bruin en swart inwoners het ’n oorweldigende meerderheid aangetoon wat ook daarvoor ten gunste was. Maar in die Verenigde Nasies het Indië ’n voorstel gemaak dat hierdie gedagte van die hand gewys word, en die gebied is tot Trustgebied verklaar. Suid-Afrika is verwag om jaarlikse verslae in te dien, en hieroor het verdere twis ontstaan.

Suid-Afrika is in 1947 vir sy bydrae tot die oorlog bedank met ’n amptelike besoek deur die Staatshoof, Koning George VI, tesame met die koningin en hul dogters, die Prinses Elizabeth (wie in 1952 Koningin sou word) en die Prinses Margaret. Tydens hierdie besoek is die Suid-Afrikaanse Parlement – vir die enigste maal – deur die Koning geopen, eerder as deur die Goewerneur-Generaal.

In 1948 is genl Smuts met die oorwinning van die Nasionale Party van dr D F Malan uit die kussings gelig. Malan-hulle het ’n radikale herorganisasie van die samelewing beplan, spesifiek daarin dat dit die rasseskeiding wat tradisioneel deel was van die Suid-Afrikaanses lewe was, en wat baie nou as uitgeleef ingesien het, wou verskans en deeglik wou toepas. Die NP se vroeë pogings om aan die stemreg te peuter was nietig nadat kiesers die geregshowe genader het, maar nadat dit ’n inskiklike (vergrote) Senaat bewerkstellig het, het die Nasionale Party dit in 1956 reggekry om die Kaapse Kleurling-kiesers van die gemene kieserslys te verwyder en Kleurling-Verteenwoordigers in die Parlement te skep.

Die Wet waaronder die vergrote Senaat geskep is, is in die howe beproef, maar toe die Appêlhof die Wet bevestig het, het dit ook bevind dat die Parlement soewerein is, en enige Wet kon deurvoer wat dit wou. Dit sou tot in 1994 ’n beginsel van die Suid-Afrikaanse gereg bly.

Die Nasionale Party het in 1949 ook die Wysigingswet vir Suidwes-Afrikasake deurgevoer, wat verskeie veranderings aan die administrasie van daardie gebied gemaak het. Van belang vir die Unie was sy voorsiening vir setels in die Suid-Afrikaanse Parlement fir lede verkies uie Suidwes-Afrika: ses in die Volksraad en vier Senators.

’n Verdere ontwikkeling van 1949 was ’n gevolg van Indië se republiekwording. Voorheen was die koning Staatshoof van al die lede van die Gemenebes. Die Gemenebes-verklaring van daardie jaar het die koning as simbool van die vrye assosiasie van die onafhanklike ledestate van die Gemenebes erken, met die titel Hoof van die Gemenebes.

Volgens Suid-Afrika se Wet op Koninklike Styl en Titels van 1953 (wat 29 Mei deur die Parlement goedgekeur is), is ’n aparte titel van Koningin van Suid-Afrika geskep. Dit het (wat hierdie land betref) die vorige beskrywing “Koningin van die Britse Dominiums Oorsee” vervang.

In 1959 het die Wet op Bantoe-Selfregering die Naturelle-verteenwoordigers in die Parlement afgeskaf en die skep van selfregerende state waarin swart Suid-Afrikaners hulle burgerskap sou uitoefen, in die vooruitsig gestel. Hulle sou daardeur alle regte in “blanke” Suid-Afrika verloor. Aangesien dit gekom het nà ’n reeks optredes wat swart Suid-Afrikaners verwoed het, het dit die toneel geskep vir weerstand teen blanke dominasie wat verreikende gevolge sou hê.

Die Nasionale Party, nadat dit etlike jare die gedagte aan ’n republiek voor oë gehou het, in Oktober 1960 ’n referendum oor die kwessie gehou. Die resultaat is aansienlik verskeef omdat die Kaapse Kleurling-kiesers, wie steeds ’n (beperkte) parlementêre stemreg gehad het, van deelname uitgesluit is, terwyl kiesers in Suidwes-Afrika in die stemmery ingesluit is, ten spyte van die feit dat die gebied nooit in die Unie ingelyf is nie. Die uitslag – 850 458 stemme vir ’n republiek, 775 878 daarteen – was duidelik die direkte gevolg van hierdie stemreg-verneukery. Eerste Minister Hendrik Frensch Verwoerd, wat ’n onvriendelike ontvangs van die Gemenebes verwag het op grond van Suid-Afrika se rassebeleid, het enige negatiewe reaksie voorgekeer deur om eensydig van hierdie “klub” van nasies te onttrek.

Vlae van die Unie:
In 1952 het die Union Jack sy status as mede-landsvlag verloor, en is die Unievlag van 1926 aanvaar as enigste landsvlag. Die Rooi Vaandel met die Unieskild aan wapperkant het as handelsvlag ook verval, en is met die Unievlag vervang. In Natal egter, waar die oorwegend Engelssprekende blanke bevolking lojaal was teenoor die Britse Kroon, is die Union Jack tot 1961 steeds as landsvlag gebruik, nie net deur private instansies nie maar ook deur die Provinsiale Administrasie en deur munisipaliteite.

Die veranderde status van die Goewerneur-Generaal het ook ’n verandering in hierdie beampte se vlag meegebring, en is ’n nuwe vlag ook in gebruik geneem vir die aparte amp van Hoë Kommissaris. Die Goewerneur-Generaal se vlag sou weer (effens) in 1953 verander toe koningin Elizabeth die gebruik van die St Edward-kroon as simbool van die monargie gemagtig het in plaas van die Tudor-kroon wat deur koning Edward VII ingebring is (dit word hier verduidelik).

Gebiedsuitbreiding:
Die daarstelling van die Unie in 1910 was nie net die samekoms van vier kolonies nie, maar ’n hoop op die inlywing van verdere gebiede. In 1910 reeds was daar sprake van Basoetoeland, Swaziland, Betsjoeanaland en Rhodesië. In 1918-19 was nie net Suidwes-Afrika onder oë nie, maar ook ’n skema van genl Smuts om 90% van Duits-Oos-Afrika vir Portugal te gee, in ruil vir Mosambiek suid van die Zambezi. Maar as gevolg van Portugal se (hoogs tegniese) status as geällieerde moes hierdie gedagte laat vaar word. Soos genl Smuts dit vooruitgesien het, was die feit dat Suid-Afrika nie die hawe van Beira besit het nie, ’n oorweegrede in Rhodesië se besluit in 1924 om ’n selfstandige Kroonkolonie te word, in plaas van ’n provinsie van die Unie. En laastens was Suid-Afrika se republiekwording onder die NP se rassebeleid die laaste spyker in die doodskis vir die gedagte van inlywing van die drie Hoë Kommissariaatgebiede. Aldrie sou in die 1960s hul onafhanklikheid neem – Basoetoeland (Lesotho) en Swaziland as koninkryke, en Betsjoeanaland as die Republiek Botswana. Dus het Suid-Afrika sy tydperk as Britse Dominium geëindig met presies dieselfde gebiedsoppervlakte en dieselfde provinsies as in 1910.


[1]Vir botaniese inligting oor die nasionale blom, kyk hierdie webwerf.

[2] Om hierdie protea (in wit en pienk variasies) te sien, kliek hier en gaan in die bladsy af.


Counter

Terug na bo

For English, click here

Terug na deel 2 (1930)

Na deel 4 (1961)

  • Bronne: National and Provincial Symbols of South Africa, deur F G Brownell (Chris van Rensburg Publikasies); geskiedkundige aantekeninge uit (onder andere) die Standaard-Ensiklopedie van Suider-Afrika (Nasou) en The British Court: Its Traditions & Ceremonial, deur Ifan Kyrle Fletcher (Cassell).

  • Skanderings van wapens met vergunning van die Eastern Province Herald. Skanderings van die Groot Seël en die Rooi Vaandel deur Howard Lancaster. Kleure van wapens aangesuiwer met behulp van MS Picture It!


    Terug na 1910-94-indeks

    Terug na Armoria patriæ-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle

  • Hosted by www.Geocities.ws

    1