|
|
|
Suid Afrika na Phoenix
Ons ry deur Tallahassee wat pragtig is en slaap in die dorpie Chipley. Ons is al van 4 uur die oggend wakker, ons is nog nie
"ingewurm" in die nuwe tydsone nie..... Ry deur Mobile, Alabama. Ry
deur die staat Mississippi, en deur New Orleans, Louisiana. In New Orleans is
die mense se grafte in sulke "huisies" bo-op die grond. Die
watervlak is baie hoog, so hulle begrawe die mense bo-op die grond. Ry deur
Baton Rouge oor die Mississippi rivier. Die rivier is massief. Die Vaalrivier
lyk soos 'n eilandjie teen die ene. Dit lyk meer soos die see! Die hele gebied
is ook vreeslik moerasagtig en die paaie is vir myle lank op stelte gebou. Dit
lyk vir ons heel snaaks. Ry deur Beaumont Texas en slaap in die dorpie Winnie,
Texas. (Ek noem nie al die dorpies waardeur ons is nie, daar is heeltemal te
veel! Hierdie sal net help as iemand op 'n kaart wou volg waar ons orals was)
Ry deur Houston en daar is BAIE "spaghetti" snelweë. (Baie
snelweë wat mekaar kruis). Ry oor die Colorado rivier. Tussen Houston en San
Antonio, lyk dit soos Bosveld, regtig mooi! Hulle kort net die diere! Sien ook
baie "regte" Cowboy plase soos wat ek van die TV program Dallas
onthou. Eet middagete by 'n jagters dorpie met die naam Sonora. Die hele
plekkie verwelkom al die jagters. Slaap in Fort Stockton.
Ons ry al voor die son op is, maar dit was die moeite werd en die mooiste
sonsopkoms wat ons nog ooit gesien het! Omgewing begin soos woestyn lyk en
baie vetplante. Ry na El Paso en gaan tot by die grenspos wat na Mexico gaan
en deur die dorp Las Cruces.
Ry deur die staat Arizona en sien vir 160myl 'n bord oor "The
Thing?" Net voor Benson, kry ons toe die "The Thing?" Dis 'n
mummy!!! Ons het gewonder of hulle dan nie sulke goed gewoond is nie. Ons het
gedog dit gaan een of ander natuurtoneel wees. Lekker uitgevang.....
Ry deur die dorp Tucson en Red Rock. En die heel tyd se ons die omgewing
sal darem net die regte plek wees vir volstruise boer. Wel, om die volgende
draai kry ons toe sowaar 'n volstruis plaas! Moet 'n Suid-Afrikaner sin wees!
Slaap die aand in Phoenix!
|