Heraldiese Genootskap van Suidelike Afrika
http://uk.geocities.com/arma_za

Wapen van die

Heraldiese Genootskap van Suidelike Afrika

Heraldiese Genootskap van Suidelike Afrika

Die wapen word so geblasoeneer:

 

Kepergewys omgekeerd gesny van goud en silwer; oor alles heen ’n groen gaffel tussen drie skildjies, regs van rooi, links van blou en in die skildhoof van swart.

Leuse: ARMA VIRUMQUE CANO.

 

vorige embleem van die Heraldiese Genootskap van Suidelike Afrika

Die wapen is in 2006 deur die werfmeester opgetrek nadat hy ’n behoefte opgelet het vir ’n opregte heraldiese wapen. Vir vele jare het die genootskap ’n swart-wit lyntekening gebruik wat (onder ander items) ’n blanco skild en ’n springbokkop-helmteken getoon het.

Suid-Afrikaanse vlag (sedert 1994)

Die inspirasie agter die devies was die Suid-Afrikaanse vlag, wat in 1993 opgetrek is deur die destydse Staatsheraldikus, Frederick Gordon Brownell (sedert 2002 voorsitter van die genootskap).

Om dit as wapen te laat vorm aanneem is die geel en wit omlynings wat die gaffel van die panele van kleur skei omskep in velde van goud en silwer. En om die genootskap se veld van aktiwiteit te simboliseer, is die panele as skildjies aangewend.

Aangesien die rooi paneel die ereplek het bo-aan die vlag, is daardie kleur aan die regterkant van die skild geplaas, aangesien dit die meer eerbare kant is.

Die formaat is duidelik anders as dié van dle landsvlag, en kan dus nie gesien word as die usurpasie van ’n nasionale simbool nie.

Twee voorlopige tekenings van die wapen is onder die genootskap se ampsdraers gesirkuleer, wat met die konsep tevredenheid uitgespreek het, maar met die uitvoering daarvan ontevrede was.

’n Versoek is tot die Australiese heraldiese kunstenaar Barrie Burr gerig, wat toe die kunswerk geproduseer het wat hier gesien kan word.

Die wapen is voorlopig deur die genootskap in gebruik geneem.

Aangesien die genootskap die registrasie van wapens aanmoedig, is dit op ons ’n verpligting om die proses van registrasie deur te gaan. ’n Tekort aan fondse beteken egter dat dit nie huidiglik oorweeg kan word nie.

 

Leuse:

Die leuse, wat in gebruik is feitlik sedert die stigting van die genootskap in 1953, is ’n aanhaling uit die openingsreël van Vergilius se Aeneïs.

Dit vertaal as: “Ek sing van wapens en van die held.”

 

Oor die genootskap:

Die Heraldiese Genootskap van Suidelike Afrika – die eerste sulke genootskap wat in die land gevorm is – het tydens ’n vergadering op 27 Augustus 1953 tot stand gekom.

Dié wat teenwoordig was, was blykbaar Ivan Mitford-Barberton, Michael Dawes, Colin Graham Botha, Frank Waller, E A Robottom en mej Wendy Stuart Koe.

Hulle het Botha as president verkies, Waller as voorsitter en Mitford-Barberton as herout.

Teen Augustus 1954 was daar 30 lede.

 

Suid-Afrika teenoor Suidelike Afrika:

Dit mag gevra word waarom die Suid-Afrikaanse vlag as basis gekies is vir hierdie wapen, aangesien die genootskap se naam aandui dat dit die subkontinent dek.

Kortweg is die rede dat die oorgrote meerderheid van die genootskap se lidmaatskap nog altyd uit Suid-Afrikaanse burgers en landsbewoners bestaan het.

Daar is groepe in Namibië wat in die heraldiek belangstel – in werklikheid was die Volksraadslid wat in 1962 die ontwerpwet oor die heraldiek (tans die Heraldiekwet) as privaat-lid se voorstel ingebring het, ’n verteenwoordiger was vir ’n Suidwes-Afrikaanse setel – asook in Zimbabwe (alhoewel vele van die Rhodesiërs wat hierdie belangstelling gedeel het, tans geëmigreer het).

Maar terwyl Lesotho, Swaziland en Botswana ook onder die genootskap se dekking ingesluit word, het weinige indiwidue (indien enige) uit hierdie lande aan die genootskap se aktiwiteite deelgeneem.

Stel jy belang om aan ’n fonds by te dra vir die registrasie van hierdie wapen?
Indien wel, skryf asseblief aan F G Brownell, Privaatsak X370, Menlyn 0063, Suid-Afrika.


Counter

For English, click here

Terug na bo


Terug na wapenrol

Terug na hoofindeks


Titelgrafieke met behulp van MS Picture It!® voorberei

Genootskapswapen deur Barrie Burr geteken. Suid-Afrikaanse vlag met vergunning van Flags of the World.

Hosted by www.Geocities.ws

1