Armoria
http://www.geocities.com/armoria

Hermelyn, vair en hul neefs

deur Mike Oettle

pels op pels

’n lord in sy hermelyn-gevoerde toga, en agter hom ’n laird met heelwat minder pelswerk

IN die Middeleeue het pelse mense van gesag gesimboliseer.

Konings en adellikes – en in latere jare, ook senior regters – het voerings van hermelyn in hulle togas gedra. Die voering sou aan die kant na buite gedraai word, deels om mee te spog, maar amptelik bloot ’n afronding.

Ietwat minder kosbaar was vair, wat ook gebruik is om klerasie te voer, en uit eekhoringpelse gemaak.

Met ’n handvol uitsonderings is die toepassing van pelse in die heraldiek ’n stilering, nie slegs in hierdie twee baie bekende variëteite nie, maar van verdere variasies van albei soorte – sommige daarvan hoogs oorspronklik.

Von Volborth[1] spekuleer (my vertaling): “Hierdie pelspatrone gaan blykbaar terug na skilde wat in die kleintyd van die heraldiek met egte pelse oortrek is.” Dit lyk egter onwaarskynlik. Selfs as ’n wapenvoerder ryk genoeg was om nie te moet peins oor die onkoste van die oortrek van sy skild met pelsvoering, sou so ’n oortreksel seker in die eerste stryd stukkend skeur.

Een uitsondering wat genoem word is ’n vorm van vair (of ten minste word dit tradisioneeel beskou as ’n variasie op vair) wat in die Duitse heraldiek gevind word. In Duits word dit Kursch genoem, en Fox-Davies[2] vertaal dit as “vair bellies” (eekhoringpense). Hy skryf: “Dit word gewoonlik as harig getoon en as bruin voorgestel.”

Maar hy spekuleer ook dat dit miskien dieselfde is as een van twee snaaksighede wat in die Italiaanse heraldiek opgemerk is, en deur Woodward[3] aangeteken is. Hierdie word plumeté en papelonné genoem – alhoewel baie van die voorbeelde wat genoem word uit Italië afkomstig is, word hulle in Fox-Davies slegs in hulle Franse vorm genoem. Fox-Davies haal Woodward aan (my vertaling):

Don Pottinger terg die adellike voerders van hierdie wapens: die hertog van Brittanië (skild van hermelyn), De Rousselet (met teenhermelyn), Van der Eze (met goudhermelyn) en Zu Pappenheim (vair) speel in die sneeu

“In Plumeté is die skildveld waarskynlik met vere gedek. Plumeté d’argent et d’azur is die wapen van CEBA (let daarop dat hierdie die kleure is van Vair); SOLDONIERI van Udine, Plumeté au natural [sic] maar die SOLDONIERI van Florence voer: Vairé van silwer en swart met ’n geblokte skildsoom van goud en blou); TENREMONDE van Brabant: Plumeté van goud en swart. In die wapen van die SCALTENIGHI van Padua, die BENZONI van Milano, die GIOLFINI, CATANEI, en NUVOLONI van Verona, word dit gestel dat elke veer van die plumeté met ’n swart hermelynpunt belaai is.

“Wat meer dikwels aangetref word is Papelonné: hier is die skildveld bedek met wat na skubbe lyk. Die heraldiese term papelonné is blykbaar afgelei van ’n beweerde voorkoms soos die vlerke van skoenlappers; byvoorbeeld die wapen van MONTI: In rooi, papelonné van silwer. DONZEL op Besançon voer: Papelonné d’or et de sable. Dit is noemenswaardig dat DONZÉ van Lotharinge dit so gevoer het: In rooi, drie golwende dwarsstrepe van goud. Die FRANCONIS van Lausanne voer glo: de Geueles papelonné d’argent, en op ’n silwer skildhoof ’n rooi roos, maar die wapen word ook so geblasoeneer: Vairé van rooi en goud, ens. Die wapen van ARQUINVILLIERS, of HARGENVILLIERS, in Picardië, van d’Hermine papelonné de geules (weens ’n wanverstand is hierdie as ‘met perdestrikke besaai’ geblasoeneer). So ook die wapen van CHEMILLÉ wat in Franse blasoenboeke verskyn as òf: d’Or papelonné de geueles; òf d’Or semé de chausse-trapes de geules. GUÉTTEVILLE DE GUÉNONVILLE voer glo: d’Argent semé de chausse-trapes de sable, maar dit is meer waarskynlik dat die wapen eenvoudig dit is: Argent papelonné de sable. Die BARISONI van Padua voer: In goud, ’n skuinsstreep van skubbe, skuins van silwer, op elke skub ’n hermelynpunt van swart, die skuinsstreep swart omsoom. Die ALBERICI van Bologna voer: Papelonné van sewe rye, vier van silwer, drie van goud; maar die ALBERGHI van dieselfde stad: Papelonné van ses rye, drie van silwer, ewe veel van rooi. Die verbintenis met vairé is in die tweede heel duideliker as in die eerste. CAMBI (wat FIGLIAMBUCHI genoem word), te Florence, het dit gevoer: d’Argent, papelonné de geueles; MONTI van Florence en Sicilië, en RONQUEROLLES van Frankryk die omgekeerde.

“Niemand wat bekend is met die bandeloosheid wat Italiaanse wapenskilders en -beeldhouers hulself toeëien – hulle was dikwels heel onkundig oor die blasoene wat hulle aangetoon het – sal vir ’n oomblik die bewering betwyfel dat Papelonné oorspronklik ’n korrupsie was van vair, of bloot ’n swak weergawe daarvan is.”

Hierdie storie het ’n lang ompad gemaak, maar dit dien om die verhouding tussen obskure veeragtige skildvelde en die pels-groep te onderstreep – wat ’n heel interessante parallel vind in ’n Oostenrykse wapen wat onlangs die onderwerp was van ’n lewende bespreking op die besprekingslys van Flags of the World.
wapen van die Oostenrykse Bundesland Burgenland

Die betrokke wapen is dié van die Bundesland Burgenland, waarin ’n arend voorkom met ’n borsskild in strepe van rooi en Kursch. Die Oostenrykse heraldis dr Peter Diem is geamuseerd (en miskien het hy effens aanstoot geneem) dat ek dit gestel het dat die pale van Kursch soos ’n veld volstruisvere voorkom, maar in die lig van die bostaande bespreking lyk die verhouding nie heeltemal vergesog nie. Ek los dit aan die besoeker oorkyk na die groot illustrasie van hierdie wapen by International Civic Arms, en besluit self.

Die groot voordeel van heraldiese pelse is hul veelsydigheid. Fox-Davies skryf (my vertaling):

wapen van Durrant van Scottowe wapen van Richard del Brugge, Wapenkoning Lancaster wapen van Hulse

“Pelse mag op òf metaal òf kleur geplaas word, so ook mag enige wapenfiguur wat as “natuurlike kleur” geblasoeneer word. Duitse heroute beskryf pelse en natuurlike kleure as amfibies. Dit is heeltemal aanvaarbaar om pels op pels te plaas, en alhoewel dit nie dikwels gevind word nie, kan etlike voorbeelde genoem word.”

Hierdie opinie deel L G Pine nie. Waar hy in die Encyclopædia Britannica oor die kleurreël skryf, kommenteer hy (my vertaling):

“Dit word as swak praktyk beskou om ’n kleur op ’n kleur te plaas, ’n metaal op ’n metaal, of ’n pels op ’n pels. Vele voorbeelde van sulke swak heraldiek word in die ou rekords gevind, maar soos in ander instansies het die reëls soos dit vandag bestaan, heel geleidelik tot stand gekom.”

wapen van Field wapen van Flower, van Sussex

Hier aangetoon is vier voorbeelde van pels op pels. Die eerste is die wapen van Durrant van Scottowe: ’n herkruiste kruis in teenhermelyn op ’n veld van hermelyn. Daarop volg die wapen van Richard del Brugge (of Bruges), wat in 1380 as Lancaster-herout aangestel is, en in 1399 as Wapenkoning Lancaster, wie se wapen so geblasoeneer word: in hermelyn, ’n kruis van teenhermelyn, die middel geledig, en laastens die wapen van Hulse: Gesny van silwer en hermelyn; drie punte, een uit die skildhoof afwaarts en twee uit die skildbasis boontoe, van swart.. Die kontras in Hulse se wapen is miskien minder treffend, maar die sterkste visuele element is die drie punte.

Hier regs is (myns insiens) ’n heel eenvoudige en treffende ontwerp, die wapen van Flower, van Sussex: in goudhermelyn, ’n vyfblaar van hermelyn. Die heel laaste voorbeeld is wel nie een van pels op pels nie, maar van ’n geruite punt in silwer en blou op ’n veld van teen-goudhermelyn. Ek sluit dit in omdat dit dieselfde visuele effek wat ’n punt in vair sou hê – die kleure van die punt sou dieslfde wees. Die skild is miskien vol elemente, met die ster bo-aan die punt en die twee vlamme, maar dit is nietemin heel treffend.

Die kleurreël bestaan omdat dit eenvoudig logies is – die voorbeeld elders genoem van ’n rooi leeu op blou is, voel ek, vanselfsprekend – maar vir my oog is die kontras tussen hierdie pelse duidelik, selfs in die geval van Flower se vyfblaar . . . inteendeel, dit is heel aanneemlik.



[1] Heraldry of the World, deur Carl Alexander von Volborth, redaksie deur D H B Chesshyre (Blandford).

[2] A C Fox-Davies A Complete Guide to Heraldry, hersien en met aantekeninge deur J P Brooke-Little, Richmond-herout (Thomas Nelson and Sons Ltd).

[3] A Treatise on Heraldry, British and Foreign, deur John Woodward en George Burnett (Edinburg: Johnston, 1892).


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Erkennings: Illustrasies deur Don Pottinger, uit Simple Heraldry, deur Iain Moncreiffe en Don Pottinger (Thomas Nelson and Sons Ltd).


    Terug na kleure-artikel

    Terug na Heraldiek-ABC-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle

  • Hosted by www.Geocities.ws

    1