Armoria
http://www.geocities.com/armoria

MICHAEL ERIC (Mike) OETTLE[1] is in 1949 in Kaapstad gebore en woon sedert 1979 in dieselfde huis in Westering, Port Elizabeth.
Mike Oettle

Tussenin het hy op plase naby Vredendal en Oudtshoorn, en in Pretoria, Oos-Londen en Queenstown gewoon, skole op Rondebosch,[2] Grahamstad[3] en Vredendal[4] bygewoon, in al vier die ou provinsies van Suid-Afrika gereis, en as toergids op ’n volstruisplaas (Highgate, naby Oudtshoorn) gewerk, as staatsamptenaar, kortstondig as plaasbestuurder en politieke werwer in verkiesingstyd, en as joernalis.

Hy praat Engels en Afrikaans (en ’n bietjie Duits), het ’n leeskennis van Nederlands en Duits, en alhoewel hy nóg ’n isiNguni-taal nóg ’n Sesotho-taal praat nie, het hy deeglike kennis van hierdie taalgroepe.

Hy het in 1968 sy militêre opleiding te 6 SA Infanteriebataljon, Grahamstad, deurgemaak, en het daarna in Grahamstad se Skotse infanterie-eenheid, First City, gedien. In 1977 het hy saam met First City drie maande in Owambo deurgemaak.

Hy werk as joernalis sedert hy in 1974 onder Donald Woods by die Daily Dispatch in Oos-Londen begin werk het, waarna hy na die Daily Representative (lateraan The Representative) in Queenstown verskuif het. Hy het vanaf 1979 tot 2000 vir die Evening Post en Weekend Post/East Cape Weekend in Port Elizabeth gewerk. Sedert begin Desember 2000 is hy aan die Eastern Province Herald (tans The Herald genoem) werksaam ná die sluiting van die Evening Post. Hy werk steeds deeltyds vir Weekend Post.

Hy het ’n BA-graad in geskiedenis en Bybelkunde van die Universiteit Suid-Afrika en ’n BA Hons (Geskiedenis) van dieselfde universiteit. Hy het ook kortstondig aan die universiteite Kaapstad en Pretoria gestudeer.
Mike Oettle

Hy lees al dagblaaie sedert hy sewe jaar oud was, versamel posseëls sedert sy negendste jaar, en het sedert sy kleintyd ’n fascinering met die heraldiek. Om oor die familie en hul wapen te lees, kyk hier.

Sy seëlversameling dek die hele wêreld, en dateer terug tot in 1840. Hy het nie die geleentheid gehad om oorsee te reis nie, maar “reis” deur middel van sy seëlversameling en ander leesbelange. Hy was reeds lid van vier filateliese verenigings, en het in 1976 deel gehad aan die herstigting van die Queenstownse Filatelievereniging (wat ongelukkig weereens tot niet is). Hy behoort sedert 1982 aan die Port Elizabethse Filatelievereniging, en is sedert 1975 aan die Filateliese Federasie van Suid-Afrika geaffilieer. Hy het tussen 1981 en 2003 ’n weeklikse posseëlrubriek geskryf, en het in 2000 kortstondig ’n heraldiekrubriek geskryf.
Association of Amateur Heralds, assessorlid

Hy het etlike wapens ontwerp, een waarvan in 2001-02 geregistreer is, en het gehelp by die registrasie van ’n paar bestaande wapens. Hy is sedert 1998 lid van die Heraldiese Genootskap van Suidelike Afrika, en het in 2006 vir die genootskap ’n wapen ontwerp, wat in gebruik geneem is en waarmee die bedoeling is om dit te laat registreer. Vroeg in 2003 is hy toegelaat as nuweling-lid van die Association of Amateur Heralds, in April 2003 het hy ’n assessorlid geword en tans is hy ’n socius van die vereniging. Juniemaand 2004 het hy een van drie vise-presidente van die organisasie geword, wat tans die International Association of Amateur Heralds heet, maar het in 2006 hierdie amp laat vaar.

Ander belangstellinge sluit in klassieke musiek, sang, inheemse flora en die beheer van vreemde plantpeste, genealogie, Suid-Afrikaanse geskiedenis, die Middeleeue, Kerkgeskiedenis, Bybelse geskiedenis, die legendes rondom koning Arthur, en die werke van J R R Tolkien. Hy is onder die tweede geslag bloedskenkers in sy familie, en het al oor die 100 eenhede geskenk.

Hy is in ’n Christen-familie grootgemaak, maar het weggedwaal en het in 1978 tot geloof in Christus teruggekeer. Hy het ook ander geloofsisteme in diepte bekyk, onder andere die ander twee monoteïstiese gelowe, Judaïsme en Islam, heidense gelowe soos Hindoeisme en die heidendom van Europa en Afrika, asook ateïstiese gelowe soos die kommunisme. Gedurende die jare 1989 tot 1994 het hy ’n maandelikse artikelreeks oor die Kerkgeskiedenis geskryf wat in April/Mei 2004 tot ’n webwerf omskep is met die naam Heiliges & Jaargetye.

Hy is sedert 1976 met Glenn Massey getroud en het twee kinders, Andrew (gebore 1982 en tans houer van ’n BSc-graad) en Judith (gebore 1986); albei is tans studente (Andrew nagraads) aan die Metropolitaanse Universiteit Nelson Mandela se kampus Somerstrand-suid (voorheen die Universiteit Port Elizabeth). Albei was leerlinge aan die skole Westering High and Primary).



[1] In Suid-Afrika word die van as “Oet-lie” uitgespreek. Die van is egter van Duitse (Swabiese) herkoms, en in Duitsland word dit met ’n umlaut uitgespreek: Ött-le.

[2] Golden Grove Primary School en Westerford High School.

[3] Graeme College.

[4] Hoërskool Vredendal.


Counter

Terug na bo

For English, click here

Erkennings: Foto deur Ivor Markman (kyk sy webwerf hier). Skandering met vergunning van die Eastern Province Herald. Wapenskild deur Barrie Burr.


Terug na Heraldiek-ABC-indeks

Terug na Armoria-indexks


Opmerkings, navrae: Mike Oettle

Hosted by www.Geocities.ws

1