Armoria
http://www.geocities.com/armoria

Heraldiek in die 21ste eeu – kan dit voortleef?

deur Mike Oettle

pawiljoen / baresteel

WAT het Kruisgangers in blink pantsering in gemeen met Afrika in die 21ste eeu? Kan ’n sisteem van uitkenning wat in feodale Europa uitgedink is, enige relevantheid hê in in die Afrika van die ná-apartheidsera?

Die twee kulturele kontekste word geskei deur ’n golf wat selfs wyer gemaak is deur die obsessie in die era van apartheid met heraldiese vertoon wat vir feitlik elke blank-beheerde munisipaliteit (asook veel wat deur “Uncle Tom” swart figure beheer is) sy eie wapen gegee het, asook elke onafhanklike tuislandstaat, elke selfregerende tuislandstaat en selfs etlike stamowerhede.

En gebeure in die 20ste eeu het selfs in Europa die heraldiek beroof van sy vorige beduidenis, want hier het die rewolusies van 1917 en ’18 drie keisers (onder hulle twee wat ook konings was), drie ander konings en ’n menigte ander prinse en hertoë tot ’n val gebring.
wapen van die Duitse Keiser

Die heraldiese vertoon van hierdie soewereine here het teruggekyk op geslagte van konsolidering van heerlikhede, van dinastiese huwelike en van trotse oorwinning. Dit was ook in ’n vervalle toestand. Die Middeleeuse oorsprong en eenvoud van die heraldiek was feitlik vergete terwyl al hoe meer ingewikkelde vertone van heerlikhede skilde volgeprop het, of die skild verminder het na ’n karige proporsie van die gehele wapenvertoon (met inbegrip van skildhouers ensovoorts).
wapen van die Duitse Bondsrepubliek

Dit kan gesien word in die wapen van die Duitse Keiser (links), waar die goue skild belaai met ’n swart adelaar aansienlik minder as ’n derde van die geheel uitmaak, en is in elk geval bloot ’n kruk vir die vertoon van die wapen van die Koning van Pruise (’n klein silwer skildjie op die adelaar se bors, wat nog ’n swart adelaar toon, hierdie maal met selfs ’n kleiner skildjie op sy bors). Die titel Koning van Pruise was wat eintlik die keiser sy rykdom en mag gegee het.

Dit alles het met die uitwerp van hierdie hoogmoedige heersers verdwyn – maar (behalwe in Rusland) hulle wapens het dit oorleef, alhoewel hulle nou kroonloos vertoon is, as die embleme van die nuwe republieke wat hulle plek ingeneem het. Nie net het die Duitse Ryk republiek geword nie, maar ook het sy konstituerende state van Baden, Württemberg, Beiere, Sakse en Pruise in eie reg republieke geword, en die wapens van die vorige heersers weer in gebruik geneem.

En terwyl die wapens wat hierdie republieke aangeneem het, aan die prinse se wapens herinner het, was dit dikwels ’n aansienlike verbetering, soos in die wapen (bo regs) van die Duitse Bondsrepubliek.
staatsembleem van die Unie van Sowjet-Sosialistiese Republieke

Alweer met Rusland as uitsondering, was dit nie voor 1945 of selfs later dat die heraldiek heeltemal uitgewerp is ten ooste van wat as die Ystergordyn bekend gestaan geword het. Sosialistiese embleme, wat met ’n ontstellende gebrek aan oorspronklikheid volgens ’n vervelige en herhalende patroon saamgestel is, is met trots vertoon deur die USSR, sy onderlinge republieke en veel van die popperegerings van die lidlande van die Warskou-verdrag.

(Dit is interessant om te noem dat daar ’n eienaardige parallel is met die wapen van die Russiese Tsaars [onder]: terwyl die Tsaars die wapens van hulle verowerde provinsies buite die skild van Rusland getoon het, het die Sowjet-Unie al sy verskillende tale verteenwoordig met rooi linte met vertalings van die inskrywing “Werkers van die wêreld, verenig!” in elke erkende taal.)

Sosialistiese denke het ook die universiteite van die Weste deurdring, en die heraldiek is verdoem as iets argaïes, elitêr, simbolies van eksploitasie en hopeloos uit voeling met die moderne wêreld.
wapen van die République du Tchad wapen van die République Gabonaise

Terwyl Groot-Brittanje, besig om sy koloniale ryk aan die inboorlinge oor te handig, graag wapens en vlae vir die nuut onafhanklike nasies verleen het, het ander koloniale magte dit nie gedoen nie. Spanje en Portugal was nie by magte om sulke gunste en gawes uit te deel nie, veral nie Portugal nie omdat dit vanaf sosialistiese rewolusies in sy besittings in Afrika aftog gemaak het en is in Indië en Timor (waar Indonesië oorgeneem het) deur die naburige militêre vervang. Republikeinse Frankryk het homself gesien as bo sulke aandenkings van die ancien régime – alhoewel vier van sy eermalige kolonies wel wapens voer wat ten volle met die tradisies van die heraldiek akkoord gaan, en pseudo-heraldiese embleme is in etlike ander in gebruik geneem. Laastens was België nie meer welkom in Kongo, wat binnekort Zaïre sou word.
wapen van die Tsaar van Alle Rusland

Amerika het nooit werklik die heraldiek verstaan nie, en het seëls en ander deviese bloote bykomstighede gemaak (dikwels sonder enige kleur) van die seëls wat dit beskou het as die ware simbole van sy republikeinse gesag.[1]
ná-Sowjetiese wapen van die Russiese Federasie

In Europa het die prentjie heeltemal verander sedert die val in 1990-91 van die meeste van die kommunistiese regerings. Ná-kommunistese regerings van watter soort ookal is gretig om die heraldiek van hul feodale heersers te herontdek, en waar die Ystergordyn teruggerol is – soos Churchill dit gestel het, het dit eens vanaf Stettyn (Szczecin) langs die Oossee tot by Trieste in die Adriatiese See gestrek – het die swier en fleurigheid van die heraldiek homself weer laat geld as teengewig teen die vaalheid van sosialistiese lewe wat steeds nie heeltemal uit hierdie lande verdwyn het nie.

(Selfs vandag word dit gesê van besoeke aan die oostelike dele van Duitsland dat die oorsteek van die eens heftig bewaakte grens vergelyk kan word met die betree van ’n swart-wit foto.)
’n tipiese padrão

Terwyl die heraldiek in die laat Middeleeue die Balkaanstate en Pole bereik het, het sy uitbreiding verder oos later gekom, en word veral met die Tsaar Pieter die Grote geassosieer. Dit verduidelik dan die gebrek aan Middeleeuse eenvoud in die wapen van Rusland sedert die val van die Sowjet-Unie – dit is ’n tradisie wat in die land van die Tsare ongekend is, en kan dus ten midde van die entoesiasme vir die verwydering van sosialistiese embleme nie weer in die lewe geroep word nie.

In Afrika het die heraldiek ’n geskiedenis van onuitgenooide intrede, sedert die eerste padrões wat opgerig is deur die seevaarders wat deur die Portugese Orde van Christus gestuur is, tot die republikeinse deviese van die Boerestate van beide die 19de en die 20ste eeu.

Tog het dit ’n lewenskrag wat nie ontken kan word nie, ’n bondigheid in sy uiting wat ongeëwenaar is, en ’n aantreklikheid in sy duidelike kleure wat nie anders kan nie, as om die oog te vang.

Sy vaardigheid, amper soos dié van ’n verkleurmannetjie, om embleme, simboliek en kleuringe uit ander kulture in te lyf, gee dit ’n aanpasbaarheid wat geen ander uitkenningsisteem kan aanbied nie. Ek is daarvan oortuig dat die groot tydvak van die heraldiek in Afrika nou eers sy aanvang neem.



wapen van die Institute of Heraldry in die Leër van die Verenigde State

[1] Amerika se heraldiese onkunde is nie deurgaans nie: die VSA se Leër het ’n Instituut van Heraldiek wat embleme in die regte heraldiese formaat vir militêre eenhede ontwerp, terwyl amateurverenigings aktief werk om die korrekte gebruik van wapens aan te moedig.


Terug na bo

For English, click here

  • ’n Vroeëre weergawe van hierdie artikel is in Engels gepubliseer in Arma, joernaal van die Heraldiese Genootskap van Suider-Afrika, in Vol 5 No 2 (Nuwejaar 1999-2000).

  • Erkenning: Wapen van die Institute of Heraldry in die Leër van die Verenigde State van Amerika uit Heraldry of the World deur Carl Alexander von Volborth (Blandford). Padrão uit Lions and Virgins deur C Pama (Human & Rousseau). Skanderings deur Howard Lancaster. Duitse en Russiese wapens met vergunning van International Civic Arms (vroeër Nederlandse Gemeentewapens). Wapens van Gabon en Tchad, en Sowjetiese staatsembleem, uit Flags Across the Ages and Around the World, deur Whitney Smith (McGraw-Hill).


    Counter

    Terug na Heraldiek-ABC-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle

  • Hosted by www.Geocities.ws

    1