Armoria corporativa
http://www.geocities.com/corporatio

Standard Bank van Suid-Afrika

antilope / kopiereg

Standard Bank

Die wapen is deur die College of Arms verleen, deur middel van oktrooibriewe wat 30 Maart 1955 uitgereik is. Hierdie verlening is in 1963 deur die Suid-Afrikaanse Heraldiekraad erken (Regeringskennisgewing No 1653 van 25 Oktober 1963). Die amptelike blasoen lui (volgens my vertaling):

 

Wapen: In blou, ’n vaandel wat van ’n skuinsgeplaaste staf wapper, in natuurlike kleure met koorde en tossels van goud.

Helmteken: Op ’n wrong van die kleure ’n driemas-seilskip van die 19de eeu in volle vaart en van natuurlike kleure, die seile van blou, met op die voorseil, die hoofseil en die besaan elk ’n penning van goud; met rooi wimpels wat na die regterhand wapper.

Skildhouers: Wedersyds ’n wildsbok in natuurlike kleure met ’n kraag van goud; die binnekantste agterbeen van elk rus op ’n goue penning.

Leuse: PRODEANT VEXILLA.

Oor die wapen:
’n Amptelike verduideliking van die wapen lui (volgens my vertaling):

“Die Standard Bank se wapen is veronderstel om eerstens van Afrika te spreek. Die vaandel [in Engels “standard”] dui op die naam van die Bank en die blou agtergrond toon die blou hemel van Afrika.

“Die skip met die Goue Pennings dui op ons bankwese vir handel en koophandel met ’n verwysing na ons geboorteplek, Port Elizabeth, wat so ’n skip in sy Wapen inlyf.

“Die skildhouers is heraldiese wildsbokke or antilope, ’n diersoort wat in alle dele van Afrika voorkom, met Goue Pennings vir die bankwese.

“Die leuse is aangepas uit ’n beroemde Latynse gesang en mag vertaal word as ‘Laat die Vaandels voortgaan.’ ”

koloniale seël van die Standard 
Bank

Die treffendste aspek van die wapen is die enkele wapenfiguur op die skild, wat in die Engelse teks as ’n standard geblasoeneer word maar wat, in die gewone gebruik van die heraldiek ’n banier heet. Dit dui duidelik op die bank se naam.

Die terme banier en vaandel word maklik verwar weens die gebruik om die banier van die Britse soewerein die Royal Standard (koningsvaandel) te noem. Hierdie eenvoudige banier met sy enkel kleur, goud, neem in werklikheid die plek in van die koningsvaandel wat deel gevorm het van die bank se seël.

Die seël, tipies van 19de-eeuse Britse en koloniale deviese, beide amptelik en kommersieel, was tussen die 1870s tot ongeveer 1952 in gebruik. Dit het op gedrukte en gegraveerde bankvorms verskyn, tjeks en banknote ingesluit.

By tye het die bank ook die saamgevlegte voorletters SB of SBSAL gebruik, maar nie in enige gereëlde formaat nie. In die vroeë jare van die Unie het bankdokumente dikwels die woorde “The Standard Bank of South Africa Ltd” gedra in wat beskryf word as perkamentskrif (sierskrif).

Die seël is ’n landskap wat ’n maagdelike figuur aantoon wat ’n skild van die Union Jack[1] vashou, asook ’n stok waarvan die Royal Standard wapper. Sy staan of rus langs ’n sandige strand teen wolbale en word sy van drie skape vergesel. ’n Skip in die rede simboliseer oorsese handel, terwyl verdere simbole gevind kan word in die olifanttande wat langs die bale lê, en die anker daarlangs, wat die Kaap die Goeie Hoop simboliseer.

Wol en ivoor was in die tyd toe die bank gestig is, belangrike uitvoere uit die Kaapkolonie – veral uit die Oostelike Provinsie.

Die skip leef voort deurdat dit in die helmteken ingelyf is, waar dit amper identies is met die skip-helmteken van die Stad Port Elizabeth.

In die hoofillustrasie lyk die wimpels (in Engels geblasoeneer as “flags flying”) op die mastoppe of dit ligperskleurig is, maar in die emalje-weergawe wat hieronder links verskyn is dit beslis rooi, soos wat in die blasoen aangedui word, en soos dit ook in die stad se helmteken voorkom. Hierdie geëmaljeerde weergawe is prominent in banktakke tydens die 1960s en ’70s vertoon.

geëmaljeerde weergawe van die Standard Bank-wapen

Die bank se helmteken verskil van die stad s’n in die kleur van die seile, blou (van die skildveld geneem), en in die byvoeging van die drie pennings (wat in Engels bezants genoem word) op die hoofseile.

Die heraldiese bezant (wat in Nederlands en Afrikaans ’n penning van goud genoem word) ontleen sy naam van ’n goue muntstuk wat in die tyd van die (Oostelike) Romeinse Ryk in Konstantinopel geslaan is. Nòg die naam Byzantium nòg die byvoeglike naamwoord Bisantyns is gewoonweg van die stad of van die ryk gebruik toe dit nog bestaan het nie[2] – die ryk het in 1453 op ’n einde geloop toe die Ottomaanse Turke die stad ingeneem het en dit hulle hoofstad gemaak het, met die naam Istanbul. Dit blyk egter of die naam in digkuns en retorika gebruik is.

Die munte – wat wel bekend was onder die Kruistogters, onder wie die heraldiek eers in Wes-Europa in algemene gebruik gekom het – het in hul naam aan die dorp Byzantium herinner. Die keiser Konstantyn I (of Konstantyn die Grote) het dit gebruik as die perseel vir sy nuwe stad, Konstantinopel – die herboude stad is in 330nC formeel ingeseën as die hoofstad van die Ryk.

Die goue krae op die wildsbokke het ’n soortgelyke simboliek; hulle weerhou die natuurlike energie van die wilde diere en kanaliseer dit in diens van die handel.

’n heraldiese antiloop

Die gebruik van die Engelse woord antelope in beide die (Engelse) blasoen en die amptelike verduideliking is ’n anomalie, want die heraldiese antiloop is heeltemal ’n ander dierasie. Dit is ’n fantastiese kreatuur wat in Middeleeuse boekversamelings van dierewesens voorkom, en is deur die heroute aangeneem weens sy vreemde voorkoms en die eienskappe wat die geleerde mense van die tyd daaraan toegeskryf is. Dit lyk soos die heraldiese tyger (ook so ’n mitiese kreatuur) maar het daarby gesplete hoewe en op die kop ’n paar kort, reguit horings waarvan die agterkant getand is.

Die tyger[3] word op sy beurt beskryf as ’n wese met die stert, lyf en bene van ’n leeu, die maanhare van ’n perd, en die kop van ’n wolf; daarby spruit ’n horing uit die bokaak. Dit word as ’n verwaande kreatuur beskryf, en in sommige wapens verskyn dit saam met ’n spieël waarin dit op sy eie beeld afstaar.

Die twee wildsbokke, of natuurlike Afrika-antilope, wat wel as skildhouers voorkom, is duidelik manlike diere (soos in die hoofillustrasie aangetoon). In die geëmaljeerde weergawe is hulle egter afgewater en verskyn hulle sonder aanduiding van geslag.

In hul horings lyk dit die meeste soos die gemsbok,[4] of Oryx gazella, maar daar is anomalieë in beide die kleuring en die stertformaat.

Die gemsbok het wit (of naaswit) pense en swart (of donkerbruin) merke langs die rug af, asook as skeidsmerk tussen die vaalbruin van die flanke en die wit van die pens. Dit het ook kenmerkende swart (donkerbruin) en wit gesigsmerke, wat hier afwesig is. Dit wil egter voorkom of hierdie bokke wel donker merke langs die rug het en ’n suggestie van ligte pense; altwee neigings is in die geëmaljeerde weergawe van die wapen makliker waarneembaar.

Die gemsbok het ook ’n lang, dun, donker stert wat met ’n sweep eindig, maar hierdie bokke het stompige, vet sterte.

Dit wil voorkom asof die heroute in Londen te lui was om Afrika-antiloopsiesies na te vors en eenvoudig ’n homogene soort wildsbok versin het.

Die geëmaljeerde weergawe van die wapen, wat op ’n agtergrond van geelkoper uitgevoer is, is in die jare toe die bank sy wapen gebruik het, wyd onder banktakke versprei, en kon by hooftakke op prominente plekke vertoon gesien word.

Wat die leuse betref, is dit verrassend om dit in die blasoen te lees, want die gebruik van die College of Arms is om ’n leuse te illustreer maar om dit glad nie in ’n blasoen te noem nie (behalwe as dit binne die skildveld verskyn, wat gewoonlik dan op die bladsye van ’n boek sou wees). Dit wil voorkom of die blasoen wat hierbo verskyn, uit die Regeringskennisgewing van 1963 aangehaal is, eerder as uit die verleningsakte van 1955.

Gebruik van die wapen:
Die bank het die eerste maal sy wapen gebruik op die jaarverslag vir die jaar geëindig 31 Maart 1957, en het vanaf ongeveer Augustus 1958 dit op gegraveerde vorms begin gebruik.

In die vroeë 1960s het dit ’n vlag, dasse en kentekens begin gebruik waarop die wapen voorgekom het, begin gebruik. Dit lyk of sulke vlae, dasse en kentekens die volle heraldiese wapen getoon het.

Dit is veral betreurenswaardig dat die volle heraldiese wapen op die vlag verskyn het, want die ideale vlag vir die bank se gebruik sou ’n bloue wees met slegs die banier-embleem (die sogenaamde “standard”) – kortweg, ’n heraldiese wapenbanier.

In Oktober/November 1965 het die bank ’n baadjiewapen in gebruik gebring wat slegs uit die skild bestaan het, wat om die een of ander rede ’n “furling emblem” genoem is.

Die gebruik van hierdie term is duister, want die Engelse werkwoorde furl en unfurl verwys na die oprol en ontrol van ’n seil.

Hierdie sogenaamde furling emblem is in werklikheid ’n hoogtepunt in die bank se heraldiese gebruik, want die gebruik van ’n skild (en slegs ’n skild) as sakwapen op ’n baadjie is miskien die mees gepaste toepassing van ’n korporatiewe wapen vir die gebruik van amptenare of lede van so ’n korporasie.

Hierdie wapen sou veral indrukwekkend gewees het, aangesien dit in garing van goud en koningsblou geweef is, met goue draad vir die vlagpaal. Die gebruik van twee rye goue draad om die buitelyn van die skild aan te dui het egter, heel onnodiglik, ’n addisionele kleur-element in die skild ingevoeg.

Gedurende die 1950s en ’60s was die Standard een van twee Suid-Afrikaanse banke wat wapens gevoer het en dit prominent vertoon het; die ander was Barclays Bank DCO. Vir ’n voorbeeld van hierdie bank se wapen, kyk hierdie bladsy.

Verdwyning van die wapen:
In Februarie 1967 is ’n vereenvoudigde weergawe van die wapen, in die formaat van die skild alleen (dit is steeds as ’n furling emblem beskryf) aangeneem, saam met nuwe handelslagspreuke, en na die bank se prokureurs vir registrasie verwys.

Die devies wat gekies is was heraldies verkeerd, daarin dat dit die kleure blou en wit gebruik het, in plaas van blou en geel.

Juniemaand daardie jaar is ’n besluit geneem om die nuwe embleem nie te registreer nie, aangesien dit mettertyd erkenning sou verkry en onwaarskynlik deur enigiemand anders nagemaak sou word nie.

Dit is verder onder kopiereg beskerm – ’n onwelkome en onveroorloofde indringing van kommersiële reg in die veld van die heraldiek in, wat ’n trotse regstradisie het wat tot in die Middeleeue teruggaan, waardeur eienaarsregte beskerm word.

Die nuwe “furling emblem” of “furling logo” is vanaf Februarie 1968 in die vorm van geelkoperplate by banktakke ingebring.

Toe hierdie skrywer aanvanklik navraag gedoen het oor die bank se wapen, het ’n skakelbeampte eenvoudig en afwysend dit gestel dat die bank nie ’n heraldiese wapen besit het nie. Dit wil voorkom asof ’n hele geslag bankamptenare al gedien het in totale onkunde van hierdie voortreflike heraldiese devies.

Oor die bank:
In 1963 het die Oxford University Press ’n geskiedenis van die bank uitgegee. Geskryf deur J A Henry, geredigeer deur H A Siepmann en met Afrikaanse vertaling deur G A Watermeyer, het die Afrikaanse uitgawe die titel Die Eerste Honderd Jaar van die Standard Bank gedra.

Dit was die tweede geskiedenis van die bank. Die eerste, History of the Standard Bank of South Africa Ltd 1862-1913, deur George Thomas Amphlett, is in 1914 in Glasgow uitgegee.

Die inleiding tot Eerste Honderd Jaar lui:[5]

“Die Standard Bank is die oudste bank in Afrika suid van die Sahara. Dit is reeds ’n honderd jaar lank bedrywig in Suid-Afrika; twee-en-sewentig jaar in Rhodesië en Njassaland;[6] twee-en-vyftig jaar in Oos-Afrika.[7]

“In al hierdie gebiede het die Bank ’n betekenisvolle rol gespeel tydens die ganse tydperk van hulle ekonomiese ontwikkeling; en in hierdie tydsbestek het Afrika die ontikkelingstydperk deurgemaak wat in Wes-Europa ’n duisend jaar of meer in beslag geneem het.

“Die Standard Bank is die enigste bank in Afrika wat hierdie ontwikkeling van die begin tot die einde waargeneem en bevorder het.

“Sy geskiedenis begin voor die dae van die eerste poskoets in die suide toe die naturelleloper,[8] met sy gesplete stok[9] vir boodskappe en sy kopvrag, oor ’n uitgestrekte gebied die enigste bekende vorm van kommunikasie en vervoer verskaf het.

“Oorlog en bloedvergieting, in die begin onder stamme en later op die internasionale front, het sy spore gelaat op die pad van ekonomiese vooruitgang maar dit nogtans nie rampspoedig versper nie. Plaaslike struwelinge en afguns het die groei na eenheid en ’n gemeenskaplike verstandhouding belemmer.

“Maar die Standard Bank, hoewel dit noodwendig by al sodanige geskille betrokke was, het hom deurentyd van aktiewe deelname werhou, ten einde hom met groter doeltreffendheid op die bevordering van materiële vooruitgang toe te spits.”

Die eerste hoofstuk dui daarop dat die bank in Port Elizabeth formeel in 1862 gestig is, maar dat sy geskiedenis teruggevoer kan word tot ’n vergadering op die dorp van 3 Junie 1857. Dit het aanvanklik onder die naam The Standard Bank of Port Elizabeth handel gedryf.

Die bank se eie webwerf kan hier gevind word.



[1] Ek gebruik die term Union Jack vir die devies op die ovaalvormige skild want dit word die maklikste begryp. Dit verskyn egter binne ’n wit skildsoom, wat beteken dat dit ’n aanpassing is nie van die gewone Union Jack nie, maar van die Britse handelsgeusvlag of merchant jack, en as sulks ’n verdere simbool van oorsese handel.

[2] Die bekende term Bisantynse Ryk is eers in die afgelope drie eeue deur geskiedkundiges in gebruik gebring; dit is geheel en al ’n moderne versinsel.

[3] Hierdie kreatuur se naam is in Engels tygre; soms word dit wel as tiger gespel, maar dit lei bloot na verwarring met die natuurlike tier (Leo tigris), wat gewoonlik in Engels as ’n Bengal tiger geblasoeneer word en dikwels in 19de en 20ste-eeuse wapens voorkom van persone en organisasies wat in Indië of Oos-Indië betrokke was.

In Suid-Afrika bestaan daar ’n verdere verwarring, waar die Nederlandse woord tijger verkeerdelik toegepas is (deur koloniste wat die Indiese, Java- of Sumatra-tier geken het) op die luiperd (Leo pardus). Dit is die oorsprong van plekname soos die Tygerberg (tans in Kaapstad ingelyf) en die algemene (maar verkeerdelike) Afrikaanse gebruik van tier in die betekenis van “luiperd”.

[4] ’n Vergelyking van horings wat op Suider-Afrikaanse wildsbokke voorkom, toon geen ander spesie met reguit horings van soortgelyke lengte – ander spesies het lang, krom horings van verskeie formaat, of kort horings.

Vir verdere foto’s van gemsbokke, kliek hier, hier, hier, hier en hier.

Hierdie wildsbok-spesie het ook verskyn as die linkerhandse skildhouer in die wapens van die Kaapkolonie, die Unie van Suid-Afrika en die Kaapprovinsie, en kan huidiglik gesien word as regter-skildhouer in die wapen van die Provinsie Noord-Kaap.

[5] Ek haal slegs die openingsparagraaf van die inleiding aan. Die paragrafering soos dit hier staan is my eie indeling.

[6] Die destydse Sentraal-Afrikaanse Federasie, wat in 1953 gevorm is uit die kroonkolonie Southern Rhodesia en die protektorate Northern Rhodesia en Nyasaland (voorheen British Central Africa).

Dit het in 1963 uitmekaar uitgegaan, en is tans die republieke Zimbabwe (wat in 1965 onafhanklikheid verklaar het as Rhodesia), Zambia (Northern Rhodesia) en Malawi (Nyasaland).

[7] Die Britse gebiede Kenya (wat uit ’n kolonie en protektoraat bestaan het), die protektoraat Uganda, die self-regerende sultanaat Zanzibar (onder Britse beskerming) en die Trustgebied Tanganyika, ’n eermalige Duitse kolonie.

Kenya en Uganda (met dieselfde grense) is tans republieke. Tanganyika en Zanzibar is ’n gefedereerde staat onder die naam Tanzania.

[8] Die woord naturel, om ’n swart landsinboorling aan te dui, was in daardie tyd as aanvaarbaar beskou. Dit word vandag eerder vermy.

[9] Daar word heelwat spot gedryf met die gebruik van die gesplete stok, maar in werklikheid was dit ’n alombekende teken van die amptelike plig waarmee die draer besig was.

Die bode met sy gesplete stok of mikstok en die draer met die vrag op die kop was gewoonlik verskillende indiwidue.


Counter

Terug na bo

For English, click here

Erkennings: Spesiale dank aan Barbara Conradie, argivaris van die Standard Bank, wat my voorsien het van ’n uitgebreide dokument wat die bank se simboliekgebruik uitgespel het, vanaf die koloniale seël tot by die huidige skildlogo of “furling emblem”, sowel as albei beelde van die heraldiese wapen. Dankie ook aan François Snyman, wat die illlustrasies aangestuur het en vir my per e-pos aan mev Conradie voorgestel het. Die seëlbeeld kom uit History of the Standard Bank of South Africa Ltd (1914), ’n eksemplaar in die Africana-versameling van die Port Elizabethse Sentrale Biblioteek, waar die Africana-bibliotekaresse, Margaret Harradine, my grootliks in my navorsing gehelp het. Beeld van heraldiese antiloop vanaf ’n illustrasie in Boutell’s Heraldry van die wapen van burggraaf Byng van Vimy.


Terug na indeks korporatiewe wapens

Terug na Armoria-indeks


Opmerkings, navrae: Mike Oettle

Hosted by www.Geocities.ws

1