Armoria
http://www.geocities.com/armoria

Die kleure van die heraldiek

deur Mike Oettle

kleur of tinktuur? / kleurereël / sketsformaat

wapen van Zgraia - ’n skild van silwer wapen van De Menezes - ’n skild van goud

WAPENKUNDE is ’n kleurvolle wetenskap. Sy doeltreffendheid is gewortel in eenvoud van ontwerp en kleur.

Ontwerpseenvoud is nie meer so maklik soos dit in die Middeleeue was nie, aangesien daar tans soveel deviese is dat al hoe meer slim metodes uitgedink moet word om aan die vereistes van uniekheid te voldoen.

Maar kleureenvoud is steeds ’n hoeksteen van wapenkundige samestelling.
wapen van Maienthal - ’n skild van blou wapen van d’Albret - ’n skild van rooi wapen van Gournay - ’n skild van swart

Daar is drie basiese kleurtipes: metale, tinkture (of gewone kleure) en pelse, wat ook voerings genoem kan word.

Wapens wat uit ’n enkel kleur alleen bestaan is seldsaam, maar aangesien dit altyd beter is om voorbeelde van werklike wapens te voorsien, is die illustrasies hier en op die bladsye vir metale, tinkture en pelse is almal (sover moontlik) die wapens van werklike wapenvoerders – al word hulle, in baie gevalle, nie meer as eenvoudige wapens gevoer word nie, maar verskyn as kwarterings in die wapens van adellike families wat hulle herkoms ver terug kan voer.
wapen van Pupellin - ’n skild van groen wapen van Aubert - ’n skild van pers

Die wapens wat hier verskyn is dié van De Menezes (’n skild van goud), Zgraia (silwer), Gournay (swart), d’Albret (rooi), Maienthal (blou), Pupellin (groen), Aubert (purper), die hertoë van Brittanië (hermelyn), De Rousselet (teenhermelyn), Van der Eze (goudhermelyn) and Zu Pappenheim (vair).

Elk van hierdie drie kategorieë van kleur word op sy eie bladsy behandel. Die bykomende kleure, die meeste waarvan in die vierde klas van beitskleure gepas kan word, word hier onder tinkture genoem.

Die woord tinktuur is baie vreemd, deels omdat dit ’n betwiste betekenis het. Ek gebruik dit hier om te onderskei tussen al die kleurklasse as ’n gehele groep, en die spesifieke vyf tradisionele kleure, waarvoor daar in Engels die woorde “colour” en “tincture” gebruik word – maar watter van die twee waar pas, is onder selfs die gesaghebbendes onseker.
wapen van die hertog van Britannië - ’n skild van hermelyn wapen van De Rousselet - ’n skild van teenhermelyn wapen van Van der Eze - ’n skild van goudhermelyn wapen van Zu Pappenheim - ’n skild van vair

Vir sommige heraldiek-deskundiges beteken dit die vyf kleure alleenlik – (blou [in Nederlands, azuur], rooi [keel], swart [sabel], groen [sinopel] en pers [purper] – terwyl vir ander dit al die kleursoorte dek.

Franklyn and Tanner[1] stel dit onomwonde:

 

tincture: [M.E. fm L.] colour (exclusive of metal (q.v.)), to the employment of which heraldic art is restricted: there are five only in general use: gules (q.v.), sable (q.v.), vert (q.v.), azure (q.v.) and purpure (q.v.).”

En Fox-Davies[2] stel dit nog meer presies (weereens onvertaal):

“The metals are gold and silver, these being termed ‘or’ and ‘argent’. The colours, which are really the ‘tinctures’, if this word is to be used correctly, are: gules (red), azure (blue), vert (green) purpure (purple), and (in spite of the fact that it is not really a colour) black, which is known as sable.” [My beklemtoning.]

Aan die ander hand stel Boutell[3] dit presies andersom:

“The tinctures of heraldry comprise two metals, seven colours, and various furs.”

Brooke-Little, wie altwee skrywers se werk hersien het, het vir geeneen van hierdie paragrawe ’n voetnoot nie, en weerspreek homself dus, so te sê!

En Moncreiffe and Pottinger[4] het die opskrif “TINCTURES” bo-aan hulle bladsy waar hulle (onderskeidelik) die vyf “colours”, die twee metale en vier pelse behandel (daar is ander pelse, maar aangesien hulle titel Simple Heraldry is, vermy hulle kleinlike detail).

Dit wil voorkom asof die Engelse woordeboeke “tincture” gebruik om al hierdie (gewone) heraldiese kleurgroepe te beskryf.

Aangesien die meeste Engelse woordeboeke egter ook “crest” as ’n volstandige wapen definieer, kan min geloof in sulke wapenkundige “kennis” geplaas word.

Ander kleure kom van tyd tot tyd skelmpies onder die vyfde klassifikasie in, wat natuurlike kleur genoem word – enige natuurlike voorwerp kan “natuurlik” geblasoeneer word, wat die kunstenaar toelaat om om die paslike kleuring te gebruik, ongeag of dit konvensioneel beskou word as ’n heraldiese kleur.

In enkele gevalle kan “natuurlik” ook op kleure dui wat tradisioneel aan kreature toegeskryf is wat in wetenskaplike werklikheid glad nie soos die Middeleeuse heraldiese voorstelling daarvan lyk nie, of wat in die natuurlike wêreld glad nie bestaan nie.
wapen van Moneypenny - ’n dolfyn geteken as vis met rooi finne

’n Tipiese voorbeeld is die dolfyn, wat as ’n vis beskou is, en met skubbe geteken word, gewoonlik in groen en rooi. Hierdie illustrasie (van die wapen van Moneypenny, van Kent) toon die “vis” as blou, maar die rooi finne kan duidelik gesien word.

Die basiese beginsel van heraldiese kleuring is die kleurreël, wat soms die heraldiese kleurwet genoem word.

Dit is grotendeels bloot ’n praktiese riglyn. Boutell skryf (volgens my vertaling):

“Dit is ’n algemene reël van die heraldiek dat ’n metaalvoorwerp nie op ’n metaalveld geplaas kan word nie, ook nie ’n gekleurde op kleur. Dit het sy oorsprong in die utilitêre doel van die heraldiek om krygsmanne in die slagveld en op die strydperk te kan onderskei, waar wapens van kontrasterende kleur meer duidelik sigbaar sou wees as (byvoorbeeld) goue wapenfigure op silwer, of blou op groen.

“Daar is op hierdie reël uitsonderings. Waar ’n skildveld uit ’n metaal en ’n kleur bestaan, mag ’n wapenfiguur van òf metaal òf kleur daarop geplaas word, mits dit op die veld in sy geheel rus, en nie slegs op een van die veldkleure nie.”

wapen van Hessen - ’n dwarsgestreepte leeu van rooi en wit op blou

Hy noem nie die dwarsgestreepte leeu van Hessen nie, wat die teenoorgestelde hiervan is – ’n metaal-en-kleur-kombinasie op ’n veld van ’n ander kleur. Terug na Boutell:

“Die reël word eweneens in die geval van skildsome en skildhoofde verslap, en van ’n wapenfiguur wat beide die veld en ’n ander wapenfiguur oorgaan. Die reël is nie op pelse van toepassing nie, ook nie waar wapenfigure as natuurlik geblasoeneer word nie.”

Die vraag oor of die reël in die geval van pelse van toepassing is, word verder onder daardie opskrif bespreek, terwyl werklike voorbeelde van tinktuur op tinktuur hier bespreek word, en die beroemde voorbeeld van metaal op metaal hier.

Boutell noem ook die 16de-eeuse gier vir die skep van fantastiese stelle name vir die kleure wat in die wapens gebruik word van die verskillende vlakke van die samelewing.

Die volgelinge van hierdie kultus het daarop aangedring dat die wapens van soewereine, kleurname moet dra wat van die hemelse liggame afgelei is – Sol vir goud, Saturnus vir swart – terwyl die wapens van adellikes die name sou gebruik van edelgesteentes.

Verskeie naslaanboeke bevat hierdie terme, maar hulle is in werklikheid selde gebruik en word slegs ingesluit met die doel om die werklike kleure van die betrokke wapens te identifiseer. Daar is egter glad geen goeie rede waarom sulke kleurname gebruik behoort te word.

Sedert vroeg in die 20ste eeu – en moontlik heel vroeër – is die argument dikwels gehoor dat daar geen sin meer is in die gebruik van spesiale kleurname nie, en dat die tradisionele heraldiese kleurname (soos dit in Nederlands gebruik word) van keel (rooi), azuur (blou) – en in Engels or vir goud en argent vir silwer – laat vaar moet word en dat gewone kleurwoorde gebruik word.

In Afrikaans is die argument lankal gewen – gewone kleurname word wel gebruik in blasoene op registrasiedokumente uit Pretoria – maar daar is ook nadele.

Die hoofnadeel van sulke benaming lê in die feit dat die metale van die heraldiek in die meeste gevalle nie as metallies geïllustreer behoort te word nie, om redes van beide onkoste en praktikaliteit. (Dit word in die artikel oor metale bespreek.)

Die pelse van die heraldiek is ’n verdere rede om gewone kleurname te vermy, aangesien die tradisionele wapenkundige pelse abstraksies en stilerings is.

Hermelyn beteken wit met swart gestileerde sterte, nie die werklike pels van ’n weselagtige dier wat in die sneeutyd wit word nie. Vair betken gestileerde afwisselende blou en wit stukke, nie werklike eekhorinkpelse in afwisselende donker en ligte grys nie.

En vair-bont kan ’n vair-agtige patroon wees in enige kombinasie van metaal en tinktuur.

Die finale komplikasie van heraldiese kleure is die sisteem van arsering.
skets van die wapen van Shovel

Dit het nie in die Middeleeuse heraldiek voorgekom nie – wapenrolle uit daardie tydperk, toe hulle voltooi is (teenoor waar dit in sketsvorm gedoen is – waar die herout soort van “snelskrif” geteken het) is sonder uitsondering in kleur.
skets van die wapen van Petre

Hier aangetoon is twee voorbeelde van die sketsformaat. Dit is basies visuele aantekeninge wat die herout gemaak het om die heroutskilder se werk te vergemaklik. Hulle gebruik ook afkortings vir die kleure.

Arsering het in gebruik gekom deur kopergravering en is algemeen aanvaar vir graveerwerk in silwer, asook vir illustrasies in boeke waar die gebruik van kleurdruk te duur was.

Die wydverspreide gebruik daarvan doen eintlik afbreuk aan die wapenkunde, aangesien dit die essensiële kleur wat die wapen sy direktheid en luister verleen, wegneem. Maar dit is dikwels gebruiklik om daartoe ’n sleutel te hê, sodat ’n wapen wat so geïllustreer is uitgeken kan word.



[1] An Encyclopædic Dictionary of Heraldry deur Julian Franklyn en John Tanner (Pergamon Press).

[2] A C Fox-Davies, A Complete Guide to Heraldry, hersien en met aantekenings deur J P Brooke-Little, Richmond-herout (Nelson).

[3] Boutell’s Heraldry, hersien deur J P Brooke-Little, MVO, MA, FSA, FHS, Richmond-herout (Frederick Warne & Co Ltd). Brooke-Little was later die Wapenkoning Norroy en Ulster aan die College of Arms.

[4] Simple Heraldry, Cheerfully Illustrated, deur Iain Moncreiffe van Easter Moncreiffe O St J, MA, LlB, FSA (Scot), Advokaat, Kintyre-persevant, en Don Pottinger, MA, DA, ekstraordinêre herout-skilder tot die hof van die Wapenkoning Lord Lyon (Thomas Nelson and Sons). Moncreiffe was later ’n baronet en hoof van die naam Moncreiffe, asook Albany-herout.


Terug na bo

For English, click here

  • Erkennings: Wapen van Moneypenny deur Violetta Keeble, uit Franklyn en Tanner. Wapen van die Duitse Land Hessen met vergunning van International Civic Arms. Heroutsketse van die wapens van Shovel en Petre uit Boutell’s Heraldry. Alle ander illustrasies uit Simple Heraldry.


    Counter

    Terug na Heraldiek-ABC-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle

  • Hosted by www.Geocities.ws

    1