Armoria
http://www.geocities.com/armoria

Weselpelse . . . met variasies

by Mike Oettle

die wesel of hermelyn, Mustela erminea

HERMELYN was in die Middeleeue die voorkeurpels onder die rykes en magtiges – seker daarom dat dit steeds deur daardie weinige bekroondes in Europa gedra word by tye van daardie seldsame geleenthede wanneer hulle steeds hulle krone en swierige togas dra.
verskeie maniere om hermelynpunte te teken

Hoekom hermelyn, vra jy miskien. Die betrokke dierasie is, vir die meeste van die jaar, nie baie imponerend nie: dit is bruinerig of taankleur met swarterige dele, veral om die stert.

Maar in die winter verkleur hierdie dier – sy zoölogiese naam is Mustela erminea, en sy gewone naam (as dit nie wit is nie) is die wesel – na wit, behalwe die stert wat swart bly. (Die Encyclopædia Britannica gee twee name daarvoor: kortstertwesel, en bonaparte-wesel.)

M erminea is die spesie waarvan die konings van Wes-Europa in die Middeleeue hulle spogtogas vandaan gekry het, maar daar is in werklikheid verskeie verwante spesies oor Europa en Asië versprei. Op plekke waar dit in die winter nie so koud word nie, word die dier nie heeltemal wit nie (en waar die weer op sy koudste is, word hy dikwels in die somer wit of taan/wit aangetref), terwyl die mees gesogte pelse in die hartjie van Siberië gevind word, met die digste beharing.

Die pelse van heelwat diere word benodig om slegs een toga te maak, aangesien hierdie maer diertjies slegs 13 tot 29 cm lank is (die stert nie ingesluit nie), en dié met die witste pelse (wat die verste noord bly) is kleiner as ander soorte.
hermelyn en teenhermelyn

Daarom sal ’n hermelyngevoerde toga etlike sterte bevat, en waarom heraldiese hermelyn, ’n abstraksie van die egte pels, geken word aan die gebruik van baie sterte.

Hoe die sterte oor die eeue heen geteken is, het heelwat gewissel, en Stefan Oliver se illustrasie (bo links) toon nie minder nie as ’n dosyn verskillende stilerings van hermelynsterte.
goudhermelyn en goud-teenhermelyn

As die abstraksie eenmaal gemaak is – deur om ’n skild wit te verf en daarop swart sterte te plaas – word dit natuurlik heel maklik om dit te varieer. Dus het jy ’n swart skild met wit sterte, wat teenhermelyn genoem word (in Frans, contre-hermines, ’n goue skild met swart sterte, wat goudhermelyn is, en selfs ’n swart skild met goue sterte . . . goud-teenhermelyn. Aan die ander hand beskou Franklyn and Tanner[1] dit as argaïes, en verwys suspisieus na “’n moderne groep wat poog om hierdie sisteem te laat herleef”.
wapen van John de Bretagne

Dis nie verpligtend om hierdie name te gebruik nie – swart met wit hermelynsterte is aanvaarbaar vir teenhermelyn (of swart met goue hermelynsterte vir goud-teenhermelyn), asook goud met swart hermelynsterte vir goudhermelyn.
’n hermelynkruis; wapen van Hudelton

Die sterte word gewoonlik getoon in die formaat besaai – eweredig oor die skild in afwisselende rye versprei, met halwe sterte langs die kante – maar nie noodwendig nie, soos gesien kan word in die skild hier regs van die wapen van John of Brittany (†1399; wat ook de Montfort genoem is), hertog van Brittanië en graaf van Richmond, waar die sterte in ’n driehoek of omgekeerde punt gerangskik is.

Bo en behalwe die variasies op hermelyn wat reeds genoem is, meld sommige boeke nog een, wat in Engels erminites heet: hier staan ’n vertikale rooi streep weerskante van elke swart hermelynstert. Maar geen moderne skrywer het enige voorbeelde gevind, en dit mag bloot “boekheraldiek” wees.

Aangesien heraldiese hermelyn self ’n abstraksie is, is dit interessant om op ’n verdere abstraksie te let: die hermelynkruis, bestaande uit vier hemelynsterte, die drie stippels aan die hoof van elke stert nou vier, tussen hulle gedeel. Die voorbeeld aangetoon is die wapen van Hudelton.



[1] An Encyclopædic Dictionary of Heraldry deur Julian Franklyn en John Tanner (Pergamon Press).


Terug na bo

For English, click here

  • Erkennings: Tekening van M erminea uit die Encyclopædia Britannica. Diagram van hermelynsterte uit An Introduction to Heraldry deur Stefan Oliver (Quintet). Tekenings van hermelyn en teenhermelyn uit Boutell’s Heraldry, hersien deur J P Brooke-Little (Warne); goudhermelyn en teen-goudhermelyn van hierdie beeld aangepas. Wapen van John of Brittany uit A C Fox-Davies: A Complete Guide to Heraldry, hersien en met aantekeninge deur J P Brooke-Little (Nelson). Wapen van Hudelton deur Violetta Keeble, uit Franklyn en Tanner. Kleure aangepas met behulp van MS Picture It!


    Terug na pelse-artikel

    Terug na kleure-artikel

    Terug na Heraldry-ABC-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle

  • Hosted by www.Geocities.ws

    1