Armoria
http://www.geocities.com/armoria

Weefstofkleure

deur Mike Oettle

kleurreël / beitskleure / seldsame kleure / effeblou / “natuurlike kleur” / nuwe kleure

DIE woord tinktuur, wat soms gebruik word vir die kleure van die heraldiek, kan teruggevoer word tot die Latynse woord tinctura, wat op die proses van weefstofkleuring dui.
die ridders d’Albret (rooi skild), Maienthal (blou skild), Gournay (swart skild), Pupellin (groen skild) en Aubert (pers skild) in hewige stryd

Dit word elders bespreek of die Engelse heraldiese term “tincture” (wat in Afrikaans as tinktuur weergee kan word) die beste gepas is vir al die kleuringe wat in die heraldiek voorkom, of slegs vir dié wat die essensiële vyf uitmaak wat die trekperde is van heraldiese kontras.

Maar die woord se ontlening van weefstofkleuringe wil argumenteer dat dit miskien eerder beperk moet word na hierdie vyf, of miskien ook na die ander kleure wat in hierdie artikel bespreek word, maar met uitsluiting van die metale en pelse.

Om dit weereens te stel, is daardie kleure rooi (in Nederlands, keel, in Engels gules), blou (Nederlands azuur, Engels azure), swart (Nederlands sabel, Engels sable), swart (Nederlands sinopel, Engels vert) en pers of purper (Nederlands purper, Engels purpure).

Die wapenkunde voorskryf nie presiese skakerings vir hierdie kleure nie; beide die kunstenaar en die wapenvoerder (as hy die wapen as klerasie dra) is vry om ’n skakering te kies wat die samevoeging of die garderobe die beste pas. Maar helder, sterk kleuring is die kenmerk van kontras in enige heraldiese ontwerp.
’n skild van blou - wapen van Maienthal

Blou is ’n eenvoudige kleurbenaming. Die Nederlandse en Engelse benaminge azuur en azure is ontleen aan die Persiese woord lazhuward (waar ons ook die Engelse woord lapis lazuli vandaan kry).[1] Dit het, in Arabies, lazaward of allazaward,[2] geword, en in Spaans azul of azur. Dit het dan in Oud-Frans as azur oorgegaan, en is ook aan ander tale oorgegee. ’n Variantvorm in Nederlands is lazuur.[3] Die Afrikaanse woord lasuursteen bring hierdie twee verskillende ontleningsroetes blykbaar bymekaar.

Engelse woordeboeke vertel ons dat azure ’n ligte persblou is – ’n kleurdefinisie wat deels ontleen is aan die mineraal lapis lazuli – maar sy heraldiese betekenis was nog altyd heelwat breëer.
Kollegiale Kerk van die Heilige Maria, Port Elizabeth

Die skakering van blou word deur die heroute miskien vryer geïnterpreteer, en is by tye so donker dat dit amper swart is (alhoewel die donkerste bloue nie gewoonlik op dokumente uit die heraldiese gesagte gevind sal word nie), maar kan dikwels heel lig wees, soos in die wapen van die Katedraal van die Heilige Maagd Maria in Port Elizabeth, waar die wapendiploma van die College of Arms dit as heel lig aantoon.

Heeltemal ’n ander kleur is ligblou of effeblou, wat hieronder onder die seldsame kleure bespreek word.
’n skild van swart - wapen van Gournay

Geeneen van die vyf standaardkleure is tradisioneel as ’n pels beskryf nie, alhoewel die tradisionele (Nederlandse en Engelse) terme wat vir twee van hulle gebruik word – vreemd genoeg – hulle oorsprong in die pelshandel het.

Dit geld duidelik genoeg vir sabel, die naam waarvan ontleen is aan die pelsdier die sabel, ’n soort marter wat die zoölogiese naam Martes zibellina dra.
’n skild van rooi - wapen van d’Albret

Minder ooglopend is die ontlening van keel (of eerder gules) van ’n ander pelssoort, wat François Velde gekoppel het met ’n soort wit pels wat, op ’n sekere fase van die Middeleeue, moontlik normaalweg rooi gekleur sou wees en om die keel gedra word. Dit wil eintlik voorkom of die Nederlandse benaming moontlik ontleen word aan die posisionering van die pels, eerder as aan die Franse woord geueles.
’n skild van groen - wapen van Pupellin

Heel ooglopend is die ontlening van die Engelse woord vert, wat van die Latynse en Franse woorde vir groen herlei word. François Velde noem dit dat die Franse heraldiek tot in die 14de eeu vert gebruik het.

Op daardie stadium kom daar egter ’n eienaardige draaiing: die woord sinople het sy plek ingeneem. Nederlandse blasoen het ook hierdie woord oorgeneem, en praat van sinopel.

Behalwe vir die feit dat die Franse uitspraak van vert in die beginstadium was van die verlies van die finale T-klank (wat na verwarring met vair gelei het), is daar blykbaar geen logiese rede vir hierdie verandering nie. Dit word gewoonlik verduidelik met die feit dat die Middeleeuse heroute hulle kuns duister wou maak, maar hierdie spesifieke ontlening is totaal onlogies.

Die woord is ontleen aan die Swartsee-stad Sinope, vandag die noordelikste stad in Turkye, wat in die klassieke tyd beroemd was deurdat dit gestig is deur die stam krygsvroue wat Amasone genoem is, en wat vir hul koningin, Sinova, vernoem is.

Die stad het vir ons die gewone Engelse woord sinople gegee, wat in Webster’s Third New International Dictionary gedefinieer word as “a ferruginous quartz that is blood-red or brownish red sometimes with a tinge of yellow”.

Naby daaraan verwant is sinopite, wat Webster’s definieer as “a brick-red ferruginous clay used by the ancients as a paint”, en sinopia, “a red pigment made from sinopite”.

Die enigste logiese verwantskap tussen ’n klei wat baksteenrooi, bloedrooi, bruinrooi of gelerig gekleur is, en die kleur groen is, myns insiens, ’n kleurblinde herout, aangesien ’n algemene vorm van kleurblindheid die onvermoë behels om hierdie twee kleure te kan onderskei.[4]
’n skild van purper - wapen van Aubert

Die laaste onder die gewone kleure van die heraldiek is purper, wat – behalwe dat dit in die geskiedenis van die wapenkunde relatief seldsaam is – ’n eienaardige geskiedenis het.

Dit wil voorkom dat wanneer die heroute die eerste maal hierdie kleur leer ken het, dit iets heeltemal anders was as wat dit tans tradisioneel geword het: ’n mengsel van blou en rooi.

François Velde het die kwessie in diepte genavors, en dit wil voorkom dat purper oorspronklik die kleurstof beskryf het wat ontgin is uit seeslakke van die spesie Murex brandaris (wat in Engels ook dye murex genoem word).

Die kleurstof, en weefstowwe wat daarmee gekleur is, is in Latyns purpura genoem, wat op sy beurt ontleen is aan porphura (porfura), ’n Griekse woord van Fenesiese ontlening wat die skulpvis en sy kleurstof beskryf het.

Die presiese kleur van die kleurstof is nie meer bekend nie, maar dit wil voorkom dat dit gewissel het; dit is aangeprys vir die feit dat, in die antieke wêreld, dit die enigste bekende kleurvaste kleurstof was.

Dit word veral met die keisersamp geassosieer: ’n familie sou daarop aanspraak maak dat dit eens purper gedra het, wat beteken het dat iemand in die familie as imperator of keiser geproklameer is.
wapen van die koning van Spanje

Voorrade van seepurper het tydens die Middeleeue tot ’n einde geloop, moontlik as gevolg van die verval van die sogenaamde Bisantynse Ryk (wat geëindig het met die val van Konstantinopel in 1453), en sedert daardie tyd het dit gekom dat purper (in verskeie Westerse tale) die betekenis aangeneem het wat ons vandag daaronder verstaan.

’n Weerklank van die oorspronklike betekenis kan egter in één Spaanse gebruik van heraldiese purper (in Spaans, purpura) – die amptelike kleur van die leeu van León – gewaar word: dit verskyn in die huidige amptelike wapen van Spanje as pienk of ligpers.

Maar dit is nie so eenvoudig soos wat dit lyk nie. Santiago Dotor skryf uit Madrid: “Dit weerspieël nie realiteit nie maar ’n heraldiese fout deur Spaanse wetgewers van 1981. Slegs die ‘amptelike’ model van die ‘nasionale’ wapen gebruik daardie vreemde skakering vir die leeu se purper.” Die gewone kleur van die Leónese leeu, skryf hy, is donkerrooi.

Voordat ons die vyf basiese kleure laat, ’n woordjie oor die kleurreël.
wapen van die stad Bonn

Net soos die uitsonderings op die reël dat metaal nie op metaal geplaas moet word nie, is daar uitsonderings op die reël wat dit verbied dat tinktuur op tinktuur geplaas word.

Verskeie voorbeelde is bekend van ’n rooi leeu op blou – François Velde, nadat hy Rietstap deursoek het, noem dié van Avila in Castilië, Bemdorf in Sakse, Betti in Florence, Christol in Toulouse, Molnet in Lorraine and Strodl in Erlangen. Onder die wapens van plaaslike owerhede, is die bes bekende voorbeeld moontlik dié van die stad Bonn. Maar terwyl hierdie voorbeelde eeue lank bestaan, bly hulle skaars want hulle bewys die kleurreël: tinktuur op tinktuur voorsien nie genoegsame kontras nie. Bonn – wat hierdie wapen sedert die 13de eeu gevoer het – het eintlik sy tradisionele wapen in 1971 laat vaar, en in plaas daarvan ’n rooi skildveld aangeneem en ’n onheraldiese “natuurlike” leeu in goud.

wapen van Vishoek

Net soos wat daar uitsonderings is op die reël dat tinktuur nie op tinktuur geplaas mag word nie, is daar ook uitsonderings waar metaal op metaal geplaas word.

’n Suid-Afrikaanse voorbeeld hiervan kan in die wapen van Vishoek gevind word.

 

Beitskleure:

Die volgende onder die kleure van die heraldiek is die drie beitskleure: tenné, murrey (blykbaar ’n kleur wat met moerbeie verband hou) en sanguine (of bloedkleur).

Aldrie is seldsaam in tradisionele gebruik en kom hoofsaaklik in Britse geskriftes oor die heraldiek voor. Fox-Davies[5] verwys sommer na albei van die twee laasgenoemdes wanneer hy skryf (volgens my vertaling):

“Twee ander kleure kom in feitlik alle teksboeke van die Engelse wapenkunde voor. Hierdie is murrey en sanguine, en oranje of tenné. Die presiese skakering van murrey is tussen rooi en purper; en tenné is ’n oranje-taankleur.

“Hulle is altwee beitse en is miskien deur die ou heroute uitgedink vir die toepassing van hulle vreemde sisteem van eerverminderings, wat in die ou heraldiekboeke in sy geheel uitgespel word, maar wat nog steeds nie in werklikheid gevind sal word nie.

“Die onderwerp van eerverminderings is een van daardie lieflike klein mallighede wat soveel tot nadeel van die heraldiek gedoen het. Van een, en slegs een, kan gesê word dat dit in die werklike lewe enige realiteit het: dit was die gehele ommekeer van die wapenskild in die seremonie van degradasie wat gevolg het op ontburgering vir hoogverraad.

“Selfs hierdie ommekeer was egter bloot tydelik, want met ontburgering het ’n man sy wapen geheel en al prysgegee. Die wapen is van sy ridderbanier afgeskeur; dit is uit die rekords van die College of Arms uitgewis; maar met daardie enkele geleentheid waar hy op ’n hekkie na die onthoofdingsperseel gesleep is, word dit vertel dat die wapen op onderstebo op papier geskilder is, welke papier aan sy bors vasgemaak is.”[6]

Hy gaan voort, nadat hy verder oor ontburgerings en eerverminderings uitgewei het:

“. . . ’n mens sou amper die ‘beitse’ murrey en tenné eenkant laat was dit nie vir die feit dat hulle grotendeels gebruik is vir livreikleure, in welke gebruik hulle glad nie so ’n onaanvaarbare betekenis gehad het nie.”

Fox-Davies weet van slegs een gebruik van sanguine (bloedkleur) vir ’n skildveld, maar Brooke-Little, in ’n voetnoot, voeg by dat aldrie hierdie kleure sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog verskeie male gebruik is.

Fox-Davies skryf van tenné en oranje as feitlik dieselfde (soos met murrey en sanguine). Maar die eintlike tradisionele kleur van tenné was ’n taankleur – die skakering van geelbruin leer – terwyl tenné in die moderne Britse gebruik geneig het om meer spesifiek oranje te wees.

Die wapen van Crichton-Stuart, soos vertoon onder die wapens van lede van die Heraldry Society of Scotland, toon egter ’n skildsoom in die tradisionele taan-skakering.
voorstel vir wapenverlening aan die Oranje Vrij Staat, met ’n golwende dwarsstreep in oranje

Inteendeel word oranje op die Europese Vasteland, en veral in Nederland, as heeltemal ’n ander kleur beskou. Nederlandse gebruik van hierdie kleur is dikwels ’n verwysing na die Huis van Oranje ,[7] en die gebruik het van daardie land af na Suid-Afrika versprei. Die illustrasie links toon ’n voorstel vir die wapen wat die koning van Nederland aan die Oranje Vrij Staat verleen het.
wapen van Laerskool Moregrove, met ’n maroenkleur-koek wat as ‘‘rooi’’ geblasoeneer is

Daar is ’n eienaardigheid in Suid-Afrikaanse gebruik wat op die kleur murrey/sanguine betrekking het. In ten minste een geval is ’n wapen aan ’n skool geregistreer waarin die illustrasie op die wapensertifikaat duidelik ’n maroen of donkerrooi aantoon, nie ’n helder skakering nie. Tog lui die blasoen “rooi”.

Volgens wet moet die wapen die bewoording volg, nie die illustrasie nie, dus is die skool tegnies verkeerd, want dit het die maroenkleur behou wat dit oorspronklik as een van sy skoolkleure gekies het, voordat dit aan Pretoria aansoek gemaak het. Dit wil voorkom dat dit in hierdie geval geregtig is om ’n heruitgifte van die (verkeerdelik bewoorde) sertifikaat aan te vra.

 

Seldsame kleure:

Hierby moet ’n verdere kategorie toegevoeg word, van kleure wat in Middeleeuse of latere skrifte genoem is, maar selde gebruik is.

Fox-Davies noem nege wat deur Duitse heroute gemeld word: bruin, bloedrooi (blykbaar ’n ander kleur as sanguine, want die arsering is anders), grondkleur, ystergrys (Eisengrau), waterkleur, velkleur, asgrys (Aschengrau), oranje (hierbo onder die beitse bespreek) en Naturfarbe of, soos Fox-Davies dit stel, colour of nature (wat in Brittanje “proper” genoem word, en in Afrikaans “natuurlike kleur”).

Daarby noem Fox-Davies ander wat deur dr John Woodward gemeld word (weereens my vertaling):[8]

“Dit waarvan ek voorbeelde bymekaargemaak het is:

Cendrée, of askleur [blykbaar identies met Aschengrau], wat onder andere deur die Beierse familie Ashua as woordspelende wapen (armes parlantes) gevoer word: Cendrée, ’n berg van drie goue heuweltoppe in die skildvoet.

Brunâtre, ’n bruin kleur, is selfs meer seldsaam as skildveldkleur; die MIEROSZEWSKY in Silesië voer, ‘de Brunâtre, ’n breedarmige kruis van silwer waarop ’n stygende raaf van swart met, in sy bek, ’n hoefyster van natuurlike kleur, die punte na bo.’

Bleu-céleste, of bleu du ciel, verskyn van tyd tot tyd, bo en behalwe wat ons ‘landskapwapens’ mag noem. Dit dit anders, en heelwat ligter, is as blou word deur die volgende voorbeeld gewys. Die Florentynse CINTI (tans CINI) voer ’n wapen wat getel sou word onder die armes fausses, of à enquérir: Gedeel van blou en effeblou, ’n golwende ster van die een in die ander.

Amaranth of columbine is die veld van ’n wapen (waarvan die blasoen te lank is om hier aan te haal) wat in 1701 aan ’n Boheemse ridder verleen is.”

Fox-Davies voeg by:

Carnation is die Franse term vir die kleur van naakte vel, en word dikwels in die blasoenering van daardie land aangewend.”

Aangesien die heraldiek in lande ontstaan het waar mense blanke velle het, is dit onverbaaslik dat dit as normaal beskou word. Mar dit lyk ietwat onvanpas, waar ’n wapen een blanke hand en een swart hand bevat, dat die die een hand to blazon as carnation geblasoeneer word en die ander as swart (of sabel – veral waar die donkervellige persoon heel waarskynlik nie pikswart is nie.
wapen van die dorp Springs, op die Oosrand, wat drie heraldiese fonteine bevat

Dit is heeltemal onduidelik hoe waterkleur behoort te lyk en in Britse gebruik is dit ’n oortollige konsep, aangesien die heroute van Engeland, Skotland en Ierland ’n konvensie gebruik waar golwende strepe (gewoonlik horisontaal) van blou en silwer ’n voorstelling is van water.

’n Koek of rondeel met hierdie voorkoms word konvensioneel in Engels ’n fountain genoem. In die Nederlandse heraldiek word die woord fontein gebruik om na ’n spuitende sierfontein te verwys; so ’n fontein sal in Engels “a fountain playing” genoem word. Daar kan gerus in Afrikaans ook so ’n onderskeid gemaak word tussen bloot ’n fontein of bron, en ’n spuitende fontein.

wapen voorberei vir die Damara Wetgewende Vergadering (nie gebruik nie)

Brunâtre is ’n kleur wat in Suid-Afrikaanse blasoene na vore gekom het. Dit is in verskeie Afrika-kontekste paslik, en kan gesien word in die wapen wat vir die Damara-tuisland voorberei is, maar nie in gebruik geneem is nie.

Dit blyk egter dat die gebruik daarvan ietwat te entoesiasties uitgebrei is.
wapen van All Saints-parogie, met ’n kruis en kruisies van rowwe hout, geblasoeneer as ‘‘brunâtre’’

Verder kom dit in ten minste een blasoen voor waar dit glad nie moes voorkom nie. In hierdie wapen is die rowwe houtkruis en kruisies veronderstel wees om van hout te wees, en die woord proper (natuurlike kleur) is voorgestel as die gepaste woord om hierdie houtkleur te beskryf, maar toe die wapensertifikaat uitgereik is, het die woord brunâtre in stede daarvan voorgekom.

Laastens behoort daar onder hierdie hoof ’n woordjie oor ligblou or effeblou (in Nederlands, effeblaauw, in Frans bleu céleste, ’n benaming wat ook soms in Engels gebruik word.

Die voorkoms van ligblou was in die verlede uiters seldsaam in die heraldiek, en was dit in Brittanje beskou as ’n suiwer Vastelandse verskynsel.

Nà die vorming gedurende die Eerste Wêreldoorlog van die Royal Flying Corps en die nà-oorlogse opname daarvan in die (Britse) Koninklike Lugmag, is wapens vir eskaders ontwerp waar ’n ligblou gebruik is om die hemelruim te simboliseer.
wapen van 59 Eskader, RAF, met ligblou as hoofkleur

Dit is onduidelik of die skakering in gebruik was vòòr of na die innovasie in 1936 van die aanstel van een van die offisiere van die College of Arms om Inspekteur van Koninklike Lugmagwapens te wees,[9] maar die gebruik van ligblou het voortgeduur, nie slegs in die wapens van die RAF en sy broeder-lugmagte die wêreld om, en ook in die wapens en ander heraldiese deviese van persone wat met die lugvaart geassosieer is, en veral militêre lugvaart.
wapen van die munisipaliteit Barnes, met roeispane in donker- en ligblou

Waar verskillende skakerings van blou in Britse blasoenering paslik is, het die heroute geneig om nie vir hulle in heraldiese taal te beskryf nie. Die munisipaliteit Barnes, langs die Teemsrivier, tuiste van die universiteits-bootwedvaart tussen Oxford (donkerbloues) en Cambridge (ligbloues), het ’n blou skild waarop twee roeispane in die kleure van die universiteitspanne. Die blasoen lui (my vertaling):

In blou, op ’n goue skuinskruis tussen vier silwer volstruisvere, twee roeispane skuins gekruis in natuurlike kleure, die regterspaan donkerblou en die linkerspaan ligblou.

 

Natuurlike kleure:

Die gebruik van “natuurlike kleur” (in Engels, proper) is hierbo genoem, maar hierdie stuk uit Fox-Davies kan aangehaal word (my vertaling):

“Enigiets, lewendig of nie, wat in sy natuurlike kleure aangetoon word, word ‘proper’ genoem, en dit behoort om in sy eintlike kleure en skakerings geskilder te word, sonder enige poging om dit aan te pas by enige heraldiese kleuring nie.

“Dit sal nie in die oeroue wapens gevind word nie, en die gebruik daarvan behoort nie aangemoedig te word nie.

“Wanneer ’n natuurlike dier in verskeie kleure aangetref word, is dit die gebruik om dit so te beskryf, want die woord ‘proper’ alleen sou onsekerheid oorlaat.
helmteken van Lane

“By voorbeeld, die helmteken van die Lane-familie, wat verleen is om die rit van koning Charles II agter mejuffrou Jane Lane as haar dienskneg te herdenk, tydens sy gevaarlike ontsnapping na die kus nà die rampspoedige slag van Worcester, word geblasoeneer: ‘’n rooiskimmelperd, in sy natuurlike kleure en aan die liese afgesny, swart getoom, met tussen die voorhoewe ’n keiserlike kroon ook in natuurlike kleure vasgehou’.

“Lord Cowper se skildhouers was, weerskante van die skild, ‘’n ligte vaalbruin perd in sy natuurlike kleure, met ’n groot bles langs die gesig af, die maan kort geknip behalwe vir ’n haarbossie op die skof, ’n swart lys langs die rug af, ’n stomp stert, en die duskantse voorvoet en altwee agtervoete wit’.

“Nog ’n instansie wat aangehaal kan word is die skildhouers van lord Newlands: ‘Weerskante ’n appelskimmelperd in sy natuurlike kleure, met ’n band om die nek en daarvan ’n rooi skild hangend, belaai met drie pennings van goud kepergewys.’

“Die helmteken van die familie Bewes, van St Neots, Cornwall, is: ‘Op ’n rooi kroonmuts, hermelyn oorgeslaan, ’n Pegasus van ’n vos kleur wat op sy agterpote steier, die maan en stert swart, goud gevleuel, met in sy bek ’n louriertakkie van natuurlike kleur.’”

 

Nuwe kleure:

By die kleure hierbo genoem moet ’n verdere kategorie gevoeg word: kleure wat geensins aan die klassieke heraldiek bekend was (alhoewel hulle buite die wapenkunde bestaan het), maar gedurende die 20ste eeu of meer onlangs in verlenings of registrasies van wapens gebruik.

Daar is vier waaraan ek kan dink, drie waarvan skakerings is van rooi:

wapenskild van die Republiek Kenia

Kenia-rooi (Kenya red) is die bewoording wat die skakering van donkerige rooi beskryf wat tradisioneel gebruik is op skilde onder sekere stamme van Kenia, wat gesien kan word in die wapen en vlag van die Republiek Kenia.[10] Die kleur Kenia-rooi word in daardie land se vlagwetgewing gespesifiseer en dieselfde skakering (of iets dergliks) kan in die wapen gesien word. Dit is egter moontlik dat die heroute in Londen die saak verbygegaan het en dit bloot as rooi (gules) geblasoeneer.

Dieselfde kan nie van oker gesê word nie. Dit is die kleur van ’n rooibruin klei wat tradisioneel onder die amaXhosa as gesigsier gebruik word en as beskerming teen sonstrale.
wapen van die University of Transkei (Unitra)

Die klei word gedefinieer[11] as (volgens my vertaling): “1. Enige van verskeie aardse mineraaloksiede van yster wat gemeng is met verskillende hoeveelhede klei en sand, en wat voorkom in geel, bruin of rooi, en wat òf onbehandel òf geprosesseer gebruik word vir kleur-intensifikasie as pigmente. 2. Middelmatige oranjegeel, van middelmatige of diep-oranje tot middelmatige of sterk geel.”

Die werklike kleur wat in die wapen en vlag van die Republiek Transkei en van die University of Transkei is meer bruinrooi.

Hierdie kleur kan ook in die wapen van Australië se Northern Territory gevind word.

Die derde nuwe kleur, roos, sal blykbaar in aanvraag wees onder vroulike wapenvoerders, want dit sal (ten minste onder sekere vroue) ’n aanvraag vervul vir ’n pienkerige skakering in die heraldiek – iets wat die tradisionele heraldiese kleure nie sal toelaat nie.

Dit word in hierdie artikel in Baronage Magazine genoem dat dit naby is, maar nie heeltemal dieselfde nie, as carnation (wat hierbo genoem word as die kleur van menslike vel). Op die derde bladsy van die artikel is ’n illustrasie van ’n wapen wat hierdie kleur gebruik.

In die middel van 2002 het ek ’n meisies laerskool in Kaapstad benader met die doel om die moontlikheid van ’n heraldiese wapen vir die skool te bespreek. Die skool gebruik pienk in sy wapen en uniform. Ek moes aan die hoof vertel dat die heraldiek so ’n kleur nie onder sy tradisionele kleuringe sou toelaat nie.

Op daardie stadium was die enigste oplossing wat ek kon opper, ’n kleur wat ek in die vlae van drie Bretaanse regimente gesien het, naamlik aurore, wat beskryf word as die kleur van die hemel met sonsopgang. Dit is essensieel pienk, maar met ’n titseltjie oranje. Die drie regimentsvaandels wat op Flags of the World verskyn, word hier, hier en hier geïllustreer .

Miskien sal die skool nou vra dat dit met ’n wapen in rooskleur geregistreer word.

Daar is egter ’n ander siening wat in ag geneem moet word. Aangesien die wapen in Baronage verskyn het, het ek aangeneem dat die redakteur van daardie tydskryf ten gunste sou wees van die kleure wat daar genoem word. Maar in korrespondensie daarna het hy dit gesê: “Persoonlik is ek nie ten gunste van die verbreding van die keuse van kleure.” (Dit miskien selfs meer relevant met betrekking tot die metaal koper in die heraldiek.)
’n reënboog-draak

Dit lyk of daar goeie redes is vir die gebruik van paslike kleure, veral vir Afrika-kontekste (soos Kenia-rooi of oker) en vir die toelaat van ’n vroulike voorkeur vir iets sagter as rooi, maar tegelykertyd sou die wydverspreide gebruik van sulke kleure (en ander ook) op die lange duur die eenvoud van kleuring ondermyn wat die kenmerk is van die wapenkunde.

Baronage se redakteur stel egter wel ’n verdere kleur voor, een wat hy self uitgedink het: reënboog, wat hy voorstel as ’n moontlikheid vir fabelagtige kreature wat in natuurlike kleure geblasoeneer word, in wat ook in Appleton se artikel genoem word. (Die tekening is bloot ’n konsep; geen sulke wapen is verleen of geregistreer nie.) Soos alle ander innovasies, kan dit misbruik word, maar myns insiens het dit moontlikhede.



[1] Die ontleningspaaie van hierdie twee terme, azuur en lapis lazuli, het uiteengeloop: azuur het deur Spaans en Oud-Frans as kleurnaam gekom; lazuli is uit die Arabies in Middeleeuse Latyn opgeneem, met die woord lapis (klip) permanent daarby gevoeg om die mineraal te beskryf.

[2] Hierdie vorms verskyn soos dit in die American Heritage Dictionary genoem word. Die “al-”-vorm is natuurlik ’n teleskopering van die bepalende lidwoord tot binne die woord self.

[3] Dit is onduidelik of die L vooraan hierdie vorm ’n oorlewiing is van die letter uit Persies en Arabies, of as dit miskien ’n afkorting is van die Franse bepalende lidwoord, wat miskien as l’azure of l’azur geskryf kon word.

[4] Vir hierdie insig is ek aan Margaret Harradine, Africana-bibliotekaresse aan die Port Elizabethse Sentrale Biblioteek, verskuldig. Haar man, Christopher Gordon Harradine (*1942 †1984) was kleurblind.

Chris het ’n amper bonatuurlike vaardigheid gehad om gekamoefleerde diere te sien, en toe die familie die Nasionale Krugerwildtuin besoek het, kon hy maklik kameelperde, verskeie boksoorte, sebras, luiperds en kleiner katte in hul wegkruipplekke sien, waar hulle vir sy vrou en seuns (met hulle gewone kleurvisie) onsigbaar was. Tog kon hy glad nie ’n rooi huiskat op ’n groen grasperk by sy eie huis sien nie!

[5] A C Fox-Davies: A Complete Guide to Heraldry, hersien en met aantekeninge deur J P Brooke-Little, Richmond-herout (Nelson).

[6] Die verdere bespreking van ontburgering is by ’n bespreking van kleure nie ter sake nie, maar tog interessant. Fox-Davies gaan voort:

“Maar die wapen het toe op ’n einde geloop, en sy nageslag het geen wapen besit nie. Hulle het beslis nie die reg gehad om hul skild onderstebo te vertoon nie (al wou hulle so ’n onding vertoon). Totdat en behalwe die ontburgering omgekeer is, was ’n wapen (so ook ’n titel) ledig; die bewys hiervan is in die vele her-verlenings van wapens te vinde wat gemaak is in gevalle waar die ontburgering behoue gebly het, soos in die gevalle van die graaf van Stafford en die voorouers van lord Barnard. Maar dat enige persoon veronderstel sou wees om gewillig te wees om gebruik te maak van ’n wapen met ’n eervermindering is onsinnig, en geen instansie van sulke gebruik is al gevind nie. Eerder sou ’n man weier om enigsins ’n wapen te voer; en dat enigiemand hom sou verbeel het dat iemand gewillig was om homself as ’n dronkaard of egbreker te wil adverteer, met variasies in laasgenoemde geval volgens die persoonlikheid van sy medeskuldige, is uiters idioties.”

[7] Die Nederlandse koningshuis staan sedert 1545 onder die naam Orange (of Oranje) bekend, sedert Willem van Nassau-Dillenberg (bekend as Wilhelmus die Swyger, later Stadtholder van Nederland) toe Willem die vorsdom Orange in Provence geërf het.

Die vorsdom het na hom oorgegaan met die dood van sy neef René de Chalons, die laaste afstammeling van die Middeleeuse grawe (en daarna vorste) van Orange, ’n stad wat onder die naam Araunium deur die Romeine gestig is.

Die vorsdom Orange het teen hierdie tyd groot landgoed in die Lae Lande ryker geword, wat dan na Willem en sy nageslag oorgegaan het. Willem het nooit Orange besoek nie. In 1660 het koning Louis XIV dit in beslag geneem het. Dit het in 1716 formeel deel geword van Frankryk, maar die gebruik van die titel duur voort onder Willem se opvolgers, sedert 1814 soewereine van Nederland. Die opvolger tot die Nederlandse troon voer die titel Prins van Oranje.

[8] A Treatise on Heraldry, British and Foreign, deur John Woodward en George Burnett (Edinburgh: Johnston, 1892). Woodward se styl is effe vreemd, en ek moes dit interpreteer. Ek het geraai dat “ravenrising” gelees moet word as “raven rising”, met ander woorde ’n opstygende raaf.

[9] Hierdie aanstelling is parallel met die gebruik om ’n offisier van die College te nomineer om in die Admiraliteit se Skeepswapenskomitee te dien. Hy word ook gelyktydig formeel aangestel as Raadgewer in Heraldiese Kwessies aan die Departement van die Vloot.

[10] Dit is onduidelik wat die juiste skakering is van Kenia-rooi, aangesien Whitney Smith se Flags Through the Ages and Across the World (McGraw-Hill) die rooi op vlag en wapen as effens anderse skakerings aantoon. Dit wil egter voorkom asof dit bedoel is dat hulle dieselfde moet wees.

[11] In the American Heritage Dictionary of the English Language, redakteur William Morris (American Heritage/Houghton Mifflin).


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Erkennings: Wapen van St Mary’s Collegiate Church vanaf die wapendiploma. Wapens van Spanje, Bonn en die Damara Wetgewende Vergadering met vergunning van International Civic Arms. Skild van die wapenvoorstel vir die Oranje Vrij Staat uit ’n swart-wit illustrasie in Lions and Virgins, deur C Pama (Human & Rousseau). Wapen van Laerskool Moregrove en van die University of Transkei deur daardie inrigtings voorsien. Wapen van All Saints’ vanaf wapensertifikaat. Wapen van Kenia aangepas vanaf beeld op Flags of the World. Wapen van 59 Eskader, RAF, en die munispaliteit Barnes uit Boutell’s Heraldry, hersien deur J P Brooke-Little, Richmond-herout. Reënboogdraak voorsien deur Baronage Magazine. Helmteken van Lane uit Fox-Davies. Alle ander illustrasies uit Simple Heraldry. Kleure aangepas met behulp van MS Picture It!


    Terug na kleure-artikel

    Terug na Heraldiek-ABC-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle

  • Hosted by www.Geocities.ws

    1