Die vorm en
styl van die heraldiese skild
deur Mike Oettle
GEEN enkele
skildformaat is universeel in die geskiedenis van die heraldiek nie. Ewenwel is
geen skildformaat universeel onder tradisioneel nie-heraldiese kulture nie.
Daar is egter drie breë kategorieë waaronder skilde val.
Eerstens
is daar die breë Westerse tradisie van die heraldiek waarin die vroeg-gotiese skild (wat in Engels die heater-skild genoem word) in sy vroeë fases gedomineer het, en wat in die 20ste en 21ste eeue ’n herlewing gesien het.
Tweedens
is daar binne die Westerse tradisie spesifieke skildformatte wat in sekere
streke of tydvakke gedomineer het. Die gebruik daarvan kan huidiglik
geregverdig word op grond van etniese gebruik of paslikheid tot ’n spesifieke
periode, maar in breë terme is die vroeg-gotiese styl steeds ideaal
Laastens
is daar ’n verskeidenheid skilde wat tradisioneel in nie-heraldiese samelewings
gebruik is, wat veral in die afgelope jare in die heraldiek toegepas is.
By die
breë tradisie moet twee kategorië van uitsondering egter geken word: die wapens
van geestelikes, en die wapens van vroue.
Die Westerse tradisie:
Vóór die verskyning van die heraldiese gebruik in
Wes-Europa, is etlike skildstyle gebruik.
Die Romeinse legioene het twee gebruik, een sirkelvormig en een grotendeels vierkantig, maar bo en onder afgerond. Hierdie vierkantige styl is gedurende die meeste van die tydvak van die Romeinse Ryk in die
Weste deur die meeste van die infanterie gebruik.
Die ronde skild is ook in ander kulture gebruik, en word veral geassossieer met die Noormanne wat langs die kuste van die Europese vasteland en van die Britse Eilande plundertogte uitgevoer het, en wat later ook daar nedersettings gevorm het.
Dit wil
voorkom dat die geronde vierkantvorm in Spanje ook heelwat later in gebruik
gebly het, of miskien ’n herlewing geniet het in die tyd toe heraldiese wapens
in daardie land begin gebruik is, want heelwat vroeë Spaanse wapens pas die
beste binne daardie skildtipe.
Soos wat
in hierdie artikel
verduidelik word, het die heraldiek soos ons dit ken eers omstreeks die 9de eeu
nC in Vlaandere voorgekom, en is deur Vlaamse families in ander dele van Europa ingedra.
Vlaminge
het ’n aansienlike deel uitgemaak van Willem van Normandië se leër van 1066 wat
Engeland ingeval het. Die Tapisserie van Bayeux illustreer Willem se ridders
met langwerpige skilde, bo gerond en onder gepunt – hierdie Normandiese skilde dra deviese wat blykbaar nie heraldies (of altans oorerflik) van aard was nie, maar dit reflekteer moontlik slegs die onkunde van die dames wat die tapisserie in die katedraalklooster te Bayeux uitgevoer het.
Dit wil
voorkom asof die vroeg-gotiese styl geskep is deur om die lang Normandiese skild bolangs reguit af te sny, en dit ietwat korter te maak.
Die groot Oxford English Dictionary stel dit
eenvoudig dat dié klassieke skildformaat – soos dit omstreeks 1200 nC algemeen
in gebruik was – die naam “heater” dra omdat dit die vorm gehad het van ’n
verwarmer.[1] Deesdae word hierdie formaat (’n driehoek met effense rondings aan die lang kante) met die strykysterplaat geassosieer, maar wanneer daar van skilde gepraat word, word daar in Engels die naam heater steeds gebruik.
Ander style, wat laat-goties genoem word, het mettertyd na vore gekom, maar tydens die klassieke[2] tydvak van die heraldiek het hulle die
plat bo-ent en puntige basis van die vroeg-gotiese behou.
Allcock[3] noem dat die skild oor die algemeen in oorlogvoering rondom 1360 weggeval het weens die inbruikneming van die voetboog, wat dit grotendeels nutteloos gelaat het wat verdediging betref.
Dit is steeds in die toernooi gebruik, maar in style wat al hoe meer onprakties geraak het. Dit is duidelik in die style met ’n geronde skildbasis – vroeër was dit om praktiese redes essensieel dat ’n krygskild ’n punt onder gehad het.
’n Eienskap wat rondom 1400 algemeen begin voorkom is die lansstut – ’n nok bo links wat die ridder toegelaat het om tydens die berede afstorming sy lans in die skildhoek te laat rus. Dit was op die toernooiveld uiters prakties, maar op die slagveld teenproduktief.
En soos
wat die skild al hoe meer ’n devies geword het wat in kunswerk en versiering
gebruik is, eerder as verdedigingswapen, het selfs die lansstut gedegenereer.
Beide
Slater[4] en Allcock toon ’n variant met ingeskulpte bo- en onderrante en ’n lansstut. Allcock toon een met ’n nok wat amper horisontaal is, en in die daaropvolgende eeue is skilde geteken met die “lansstut” na onder, waaruit enige lans dadelik sou uitval.
In die toernooi is dit van die ridder verwag dat hy eers op sy perd op sy teenstander afstorm, die lans so gehou dat hy die ander man uit die saal kan lig. Nadat hulle van hul perde afgekom het, is dit van die ridders verwag dat hulle met handwapens die geveg voortsit – hoofsaaklik die swaard, maar in sommige instansies krygsbyle, knotse, krygshamers of puntige bal-en-ketting-kombinasies.
En soos
wat die skild al hoe meer ’n devies geword het wat in kunswerk en versiering
gebruik is, eerder as verdedigingswapen, het selfs die lansstut gedegenereer –
Allcock toon een met ’n nok wat amper horisontaal is, en in die daaropvolgende
eeue is skilde geteken met die “lansstut” na onder, waaruit enige lans dadelik sou uitval.
Dit is
skaars verrassend dat ’n geleidelike degenerasie in die daaropvolgende style te
siene is – veral dié van 500 tot 300 jaar gelde wat duidelik die invloed toon
van die barok- en rokoko-styl versiering. Hierin het die skild self ’n heel
swak gedefinieerde vorm, en is dit hoofsaaklik ’n middel vir die kunstenaar om soveel ingewikkelde krulwerk moontlik (dikwels vergild) in te voeg.
Dit kan
duidelik gesien word dat dit nie slegs nooit bedoel is dat hierdie skilde in
oorlog gevoer sou wees nie, maar dat dit in alle waarskynlikheid beskou is as
abstrakte dekorasie, òf in ’n boek òf in argitektoniese oorversiering.
Slater toon ook twee voorbeelde van skildsoorte wat algemeen in die Italiaanse heraldiek voorkom. Die eerste is afgelei van die pantsering wat op ’n perd se gesig geplaas sou word – met inskulpings weerskante wat die dier toegelaat het om op die slagveld duidelik te sien, en met die eindpunt by die perd se neusgate – terwyl die tweede die vorm het van ’n traandruppel. (Hy noem nie wie se wapens hier geïllustreer word nie.)
’n Verskeidenheid einaardige vorms kom uit hierdie tyd, daaronder een wat amper vierkantig is, een met rondings weerskante in die skildbasis en ’n punt onder. Dit mag so vroeg soos 1500 verskyn het, maar dit was algemeen in die 19de eeu in gebruik, asook etlike ander onpraktiese formatte. Soms word hierdie skildtipe “Frans” genoem.
Die eerste styl wat hier links aangetoon word is vir my onbekend, maar die ander drie kom sterk na vore, selfs in die 21ste eeu, in Suid-Afrikaanse wapens wat nie by die Buro vir Heraldiek onder oë was nie (en ook enkeles wat wel geregistreer is). Die tweede is die wapen van die Oranje Vrij Staat, en die laaste die wapen van Wynberg. Die een tussenin is tipies van die 18de en 19de eeue en is die wapen van sir Benjamin d’Urban.
Verskeie
variëteite is bekend van beide die ovale kardoes (wat in die wapens van priesters gebruik word, en dikwels in dié van dames, maar sigbaar ook in die wapen van die Zuid Afrikaansche Republiek en die Provinsie Transvaal) en die “diamantvormige” ruitskild, wat uitsluitlik vir dames gebruik is, soos hier verduidelik.
Drie tipes ruitskild verskyn hier links.
Noudat ek hierdie style uitgelê het, moet die
vraag steeds beantwoord word: watter is verkieslik? Die eenvoudige
antwoord is: in die meeste gevalle, die vroeg-gotiese styl of iets dergliks.
’n Uitsondering moet egter gemaak word vir ’n gevierendeelde skild, of by ’n wapen wat in die skildvoet heelwat detail het In sulke gevalle is die breë 19de-eeuse skild toelaatbaar.
Die breë
skild is egter totaal onvanpas waar die wapen onder bespreking ’n eenvoudige
ontwerp het, met net een wapenfiguur of slegs enkeles. Aangesien die kunstige
gebruik van ruimte in die heraldiese tradisie dit verg dat die wapenfiguur of
-figure die skildruimte volmaak, is dit belaglik om byvoorbeeld ’n enkele leeu
so te toon dat dit die volle vierkant volmaak.
Afvallige
Viktoriaanse heraldiese kuns sal dikwels ’n klein ou leeutjie toon, swak geteken maar met die gedagte van ’n “natuurlike” dier, eerder as ’n heraldiese, wat miskien ’n sesde of ’n vyfde van die skildarea volmaak.
Daar is
gewoonlik glad geen rede om ’n ingewikkelde skild te gebruik uit een van die
vervallige periodes te gebruik nie, en veral nie ’n barok- of rokokoskild nie.
Ek kan
slegs aan een uitsondering dink, wat in die wapen van Bermuda gevind word, en
selfs daar word die wapen self nie op ’n rokoko-skild vertoon nie; eerder is die ingewikkelde skild ’n wapenfiguur, ’n klein deeltjie van die geheel.
Die rede
hieragter is die herout se gedagte toe hy die devies geskep het: dit is ’n
simboliese voorstelling van die tydperk toe die eerste nedersetting op Bermuda
tot stand gekom het. Die wapen toon ’n sittende leeu wat na die kyker aankyk
wat ’n barokskild vashou waarop die skeepswrak uitgebeeld word waaruit die
eerste setlaars ontsnap het. Die formaat van die skild wat die leeu vashou is
een wat ten tye van die skeepswrak algemeen in gebruik was.
Buite die Westerse tradisie:
Terwyl die wapenkunde in Wes-Europa ontstaan het
en selfs vandag hoofsaaklik ’n Westerse styl van identifisering en vertoon, het
heroute in veral die 20ste eeu gepoog om wapens meer relevant te maak vir
gemeenskappe in lande buite Europa deur om skildformatte te gebruik wat
algemeen in daardie samelewings voorkom.
Dit kan veral in die heraldiek van Afrika gesien word – oorspronklik in verlenings aan pas onafhanklike lande deur die College of Arms in Londen, maar meer spesifiek in wapens wat deur die Buro vir Heraldiek in Pretoria geregistreer is.
Ongelukkig het die heroute soms haastig opgetree en skildformatte gebruik wat nie altyd paslik was nie.
Die algemeenste is die Nguni-skild, sogenaamd omdat dit gebaseer word op die
tradisionele skild van die abaNguni, en hoofsaaklik uit ’n spesifieke subgroepering van die Bantu-sprekende volkere, die amaZulu van Suid-Afrika.
Soortvormige skilde kom ook voor onder ander Bantu-sprekende volkere, dus is dit nie onvanpas in die wapens van Kenja, Oeganda en Tanzania wat almal Nguni-skilde het.
Binne
Suid-Afrika het die wapens van KwaZulu, sy opvolger KwaZulu-Natal, Ciskei en Gauteng almal Nguni-skilde, terwyl die twee Swazi-sprekende state, die Koninkryk Swaziland en die eermalige Bantustan-staat KaNgwane die meer geronde skilde van hierdie taalgroep.
Dit is tog eienaardig dat die Swazi-skild wat Swaziland gebruik nie die wapenskild is nie – dit het die heater-formaat – maar ’n wapenfiguur binne daardie skild. En in die geval van KaNgwane is die skild so rond dat dit slegs vaagweg ’n punt onderaan toon.
Die amaNdebele (nog ’n Nguni-groep) van die huidige Mpumalanga het ’n ander tradisie gevolg: die Bantustan-staat KwaNdebele het ’n ronde skild.
Die Tsonga-volk word grotendeels in die suide van Mosambiek aangetref maar ook, as kleinere bevolking, in Mpumalanga. Daar het hulle die Bantustan Gazankulu gehad, die wapen waarvan nog ’n ander formaat gehad het – ’n verlengde ovaal.
Ook binne
Suid-Afrika is die Sotho-sprekende groep, wat twee soortgelyke maar
uitkenbare skildformatte het.
Die Suid-Sotho, of Basotho ba Borwa, gebruik ’n skild met afgeronde sywaartse projeksies bo en onder. Dit word gevind in die wapen van die Koninkryk Lesotho.
Die Batswana, of Wes-Sotho, gebruik ’n skild met soortgelyke projeksies, maar met ’n meer hoekige voorkoms. Dit word gevind in die wapen van die Bantustan-staat Bophuthatswana, en eienaardig ook in die wapen van die Suid-Sotho Bantustan Qwaqwa. Die Republiek Botswana egter gebruik – totaal onvanpas – ’n Nguni-skild.
Die
Noord-Sotho, of Basotho ba Leboa, het nie in die wapen van die
Bantustan-staat Lebowa ’n Afrika-skildformaat getoon nie – jammerlik is dit ’n onfatsoenlike Europese skild.
Europese
skilde word ook gevind in die wapens van Zimbabwe, sy voorganger Rhodesië, Namibië, Zambië, Malawi, Kongo-Kinshasa, Burundi, Somalië, Nigerië, Senegal, Sierra Leone, Ivoorkus, Dahomey (wat tans Benin heet), Gabon, Die Gambia, Ghana, Tsjaad, Ekwatoriaal-Guinee en die eilande Mauritius, Réunion en Mayotte.
Die
Westerse tradisie word ook gehandhaaf in die afvallige en vaagweg heraldiese
deviese van Liberië, die vorige wapen van Rwanda, Kameroen, Guinee, Burkina Faso, Togo, Niger, die Republiek Sentraal-Afrika en Suid-Afrika (in die “wapen” wat in 2000 in gebruik
geneem is).
In
noordelike Afrika[5] kom nog ’n tradisie na vore, een wat teruggaan op Middeleeuse interaksies tussen Kruistogters in Moesliems, waar staatdeviese ’n soort skildformaat gebruik, maar wat egter binne gebruike van Islamitiese kultuur val wat nie deur die Westerse tradisies van die heraldiek gereguleer mag word nie.
Deviese
van hierdie soort word in die wapens van die Koninkryk Marokko, die Arabiese Republiek Egipte, Tunisië en die Soedan aangetref.
Buite Afrika was daar in die afgelope tyd opwindende ontwikkelinge in die heraldiek, veral in Kanada, waar die Kanadese Heraldiese Gesag sy onafhanklikheid van die College of Arms ten volle gebruik het om ’n sterk inheemse simboliek te ontwikkel, nie slegs vir wapens binne die Westerse tradisie nie, maar veral in die wapens van inheemse volkere.
Die ronde
huidskild van die Inuit-volk[6] het al in verskeie verlenings wat in Ottawa gemaak is, voorgekom, veral in die wapen van die stamgebied Nunavut (voorheen deel van die North West Territories). Hier aangetoon is die wapen van Peter Irniq, van Iqaluit in
Nunavut.
[1] Die
[2] Die term Klassiek (met ’n hoofletter-K) word algemeen gebruik om die geskiedkundige tydperk aan te dui wat Antieke Griekeland en die Romeinse Ryk dek, met sy eindpunt in die tyd van die barbaarse invalle in Wes-Europa.
Met betrekking egter op heraldiese gebruik
is die klassieke tyd heelwat later: die tydsbestek vanaf die laat-12de eeu tot
en met die inbring van die voetboog in die Europese oorlogvoering (kyk die
volgende paragraaf).
[3] Hubert Allcock, Heraldic Design: Its origins, ancient forms
and modern usage (New York: Tudor, 1962).
[4] Stephen Slater, The History and Meaning of Heraldry: An illustrated reference to classic symbols and their relevance (Londen: Southwater, 2004).
[5] Noord-Afrika beslaan Marocco, Algerië en Tunisië, plus deel van Libië. Indien ’n mens Egipte en die Soedan insluit, is die betrokke streek noordelike Afrika.
[6] Die term Inuit word huidiglik verkies bo
die vroeëre (koloniale) benaming Eskimo.
For English, click here
Illustrasies van skildtipes (die blanko skilde) uit Heraldic Design deur Hubert Allcock en The History and Meaning of Heraldry deur Stephen Slater. Die wapenskilde is uit verskeie bronne. Beeld van skild met onderstebo “lansstut” uit François Velde se Heraldica-webwerf. Inuit-skild uit ’n verlening deur die Kanadese Heraldiese Gesag.
Ek is aan Klaas Padberg Evenboer dank verskuldig vir die Nederlandse terme vroeg-gotisch (in Afrikaans vroeg-goties) en lansstut.
Opmerkings, navrae: Mike Oettle