Marny Cloete

 

Die weg

 

Is dit vrede liefde en samehorigheid,

Wat jou houding jou oë by my pleit?

Is dit net verbeelding of is dit eg?

Is daar `n saamwees pad, is dit die weg.

 

Die oomblik as swakheid aan jou roer,

Is dit gister wat jy jou siel mee voer?

Deur jouself wil jy in wysheid bepaal,

Hoe jy die toekoms wil gaan haal.

 

Deur te stry, gevoelens voortyding te skik

Maak jy dit werklik ligter, die juk

Dink jy om my uit jou lewe te weer

Jy die liefde van jou af weg kan keer

 

Marny Cloete

 

Eenkant, omdraai

 

Weet jy hoe ek voel,

So leeg, so sonder doel.

Ek weet jy het gesê,

Geen deel van jou liefde kan ek hê.

 

Jy sê dat jy verstaan,

Vergewe dan die traan.

Ek wil jou, vashou, troos, jou dra

Miskien is dit net te veel gevra.

 

Moet ek omdraai, eenkant staan

Wil jy hê dat ek van jou weg moet gaan?

Sal daar dan in jou hart weer vrede wees

Sal jy staande bly, ook in jou gees?

 

Is dit dalk tyd wat jy van my vra.

Is dit hoekom jy my soms nog kan verdra?

Net jy sal ooit kan weet,

Sal jy regtig die mooi van die liefde kan vergeet.

 

Marny Cloete

 

Eensaam

 

Aand na aan die bly verwagting

Luisterend, wagtend so alleen

Met slegs die oorbekende naggeluide

Daal die skemer on my heen

Wie is in jou arms vanaand

Dat ek nog steeds alleen bly staan

Voel jy nie ook die seer

Van alleen wees keer op keer

Sê my dat ek kan verstaan

As jy `n ander weg wil gaan

 

Marny Cloete

 

Gister se trane

 

Soveel drome is om jou geweef

Kon jy nie maar jou eie lewe leef?

In skadu's van gister het ons ingegly

`n Murasie is al wat staande bly

 

So hard het ek probeer,

Die offer van jou gevra te keer.

Met tyd sou ek moes leer,

Selfs jy kyk op my liefde neer.

 

Daar waar jy is sal jy kan sê,

Ek is getrou aan die liefde wat in my lê.

Dit wat was, dit wat is.

Was dit, is dit, dan net sommer niks?

 

Is jy ook stukkend, het jy ook seer?

Net jy kan dit heel, kan dit keer

In verlange is ek alleen

`n onthou van gister, trane as ek ween

 

Marny Cloete

 

 

Half mens half niks

 

Die voorsnymes het diep gekerf,

Jy kon dit sien die been se nerf.

Pyntoue wat versmoor, bly klou soos klits

Het dit gelos, half mens, half niks.

Gebreekte pot het jy `n oor?

Is dit van klei of kan jy hoor?

Jy sal die skerwe moet vasplak,

Die barste en die krake net weer lap.

Jy sal jouself maar net moet heel,

Om met môre te kan deel.

 

Marny Cloete

 

Het ek

 

Het ek? Net gister nog gesê

Nooit weer wil ek liefde hê

So suiwer soos roosmaryn

So skielik was jy my Klaredyn

 

Het ek? Alleen na jou bly soek

Of het jy in jou hart ook na my geroep

Uit jou lewe wou jy my stuur

Jy het vergeet hoe sterk die liefdesvuur

 

Het ek? Eise aan jou gestel

Of was ek bereid om die maande af te tel

Net naby jou wou ek wees

Kon ek maar jou hartsgeheime lees

 

Het ek? Nie ook beloof

Jou nooit van jou beloftes te beroof

Solank jy met die gisters alleen wil deel

Hoe kan jy verwag om ooit te heel

 

Het ek? Jou te na gekom, is dit

Hoekom jou liefde nie tot uiting kom

Jy sal aan jouself moet vra

Wil jy hierdie kruis alleen bly dra

 

Het ek? Dalk nie respek vir jou

Is dit hoekom jy skanse om jou bou

Solank jou hart en gees teenmekaar baklei

Hoe kan jy dan verwag dat ek van jou af weg moet bly

 

Marny Cloete

 

Hoekom

 

Ryp van ontrou het my hart verskroei

Nagte om het my gees gebloei

Tweestryd het ook ek gesmaak

Hoekom dan deur God verlaat?

 

Ysig die smeltkroes van vertrouensskok

Soos `n leeu was ek, net op hok

Ek was verskeur, ek was blind.

Hoekom God? Ek is dan U kind

 

Ek kon nie meer lag, wou net huil

Kon ek maar wegraak in die diepste kuil

Nagte om het ek baklei, gesmeek, gekla

Hoekom God? Moet ek alleen

Die skuld dan dra?

 

Die antwoord het gekom,

Dit was sodat jy nader aan My kan kom

Moenie vir die gisters wag,

Hou moed jy sal die laaste lag.

 

Marny Cloete

Laglied van die liefde

 

Saans as die nagskemer daal,

En jy in jou vreugde soeke

In die donker kamers van jou hart verdwaal

As jy opkyk na die hemel bo.

`n Ster verskiet, wens en bly glo

Kom aangesweef gemeng met paddakoor

Die Laglied van die Liefde.

 

Verdwaas was jy, wou nog keer,

Bitterbek vetroetel nog die seer.

Saggies om jou daal die dou,

Ongekend verlange laat jou uit jou kors uitvou.

Dan vanuit die hemelruim,

Glinstermooi soos sterreskyn.

Die Laglied van die Liefde.

 

Jy kan aanhou skanse bou,

Aan die pyn van gister klou.

Of jy kan vreugde vind,

Jou siel weer aan die liefde bind?

Het jy dit ooit besef,

Kupido se pyl mik om weer te tref?

Kom onbekende jy,

Geniet nou saam met my:

Die Laglied van die Liefde

 

Marny Cloete

 

Lewensles

 

Jou hart `n sandkorrel

Verdroog, verhard ovaal geslyp

Smart die kern

`n lewensles te leer

Jy wat huiwer

Hoekom vra

Gee kans

Môre word deur God bepaal

 

Marny Cloete

 

Liefde

 

Sag soos dou die veld omvou,

Soos maanskyn die nagdonkerte knou.

So het die liefde in my hart kom lê,

Geluk en vreugde my kom hallo sê.

 

Storms het in my gewoed,

Soos `n rivier wat die oseaan moet voed.

Kan ek die liefde weer vertrou

Is dit ewig, of is dit net vir nou?

 

As ek net kon dieper kyk,

Kon sien hoe jou vrese lyk.

Is dit wat in jou oë skyn,

`n belofte vir môre, is dit rein?

 

Vlug wil ek nie meer,

Dit hier binne wil ek nie keer.

Soos `n roos wat na wasdom soek,

So sal my hart na jou bly roep.

 

Marny Cloete

 

Troefkaart

 

In die stilte van die nag

Het sy vir my gestaan en lag

Haar oë ysig koud en hard

My siel en gees van vrees verward

Sy koggel my met leuens so fel

Wat uitreik tot die aardse hel

Ek sal jou my lesse leer

Wie is jy om my te keer

Ek is `n kind van God glo my

Ek moet nog net die feite kry

Vir ander is my glimlag teer

My stem sussend, vleiend so beheers

 

Nee;…… Jy is verkeerd

Jou siel is ongedeerd

Maar vir my wat smag

Na opregtheid elke dag

Staan sy nog steeds en lag

 

Marny Cloete

 

 

Tussen oomblik

 

Jy wat dartel oor die sand

Met jou klokhelder laggie wat dwarsdeur my geheue brand

Sou jy vanaand as die maan oor die branders hang

Kon sê dat ook jy na ons saamwees tyd verlang

Sien jy ook ons spore soos ons loop - hand aan hand

Ons passieoomblik agter die blarerand

Vir jou miskien `n tussen oomblik, `n gedagte in verfliet

Vir my `n teer herinnering, ondraaglike verdriet

Ewig sal ek troetel ons wonder samesyn

Vergewe en vergeet, die pyn, deur ander se venyn

Jy neem ewig met jou saam

Die wete, ware liefde sal nooit vergaan.

 

Marny Cloete

 

Verdwaalde Hart

Liefde is `n pyn wat verskeur, vermink, vertrap
Jou siel vergruis, versplinter en oopkrap
As dit onbeantwoord teen jou kom lê
Die wreedste ding te se, jy wil my nie hê

Liefling ek is moeg gestry
My gees is pap baklei
Ek voel so blootgestel
Hierdie is `n liefdeshel

Jy het gesê dat jy my nie lief kan hê
Hoekom dan optrede wat die teendeel sê
Ek wil jou nie seermaak, dit sê jy
Is dit moontlik as my liefde
Onbeantwoord bly?

Ek skreeu teen die wind
My optrede, soms soos die van `n kind.
Intens het ek jou liefgekry, dit selfs bely
Hoekom moes ek weereens die bitter beker kry?

Alleen die pad deur myself uitgetrap
Net dissels en dorings om uit te krap.
Ek was gewaarsku, hoekom dan ly
Ek het dit alles vir myself verkry

Marny Cloete

 

Vergifnis

Ek het gewonder en soms gevra,
hoekom is ons lewens so deurmekaar?
Saam het ons gelag, soms gestry,
Tog het ons liefde nie gely.
`n Leuen het ons geluk beproef,
Ek was verstane hoogs bedroef.
Tog kry ons in die Heer se krag:
Genade en vergifnis, elke dag.
Kom laat ons al die smart,
Wegruk uit ons brose hart.
Laat ons bou op al die mooi,
En in ons bruidsgewaad ons liefde tooi.

 

Marny Cloete

 

Verspeelde liefde

 

Waarom moes jy

Die prag waarin ons liefde verkry

So sonder respek

Die dieptes van `n moddermoeras intrek

 

Het jy nie geweet

Dat in liefde mens alles vergeet

Maar selfs dit verflou

As jou liggaam rondlê sonder berou

 

O! Hoekom het jy

My hart siel en liggaam gekry?

Daardeur my gees te knak

Om nog `n gister in jou album te plak

 

Sag is my stem,

Deur verlange en hartseer getem.

Kan die pyn miskien weer heel

Sal ek die liefde ooit weer kan deel?

 

Marny Cloete

 

Vrees

 

In my woed die gevoel

Van vrees

Van alleen wees

Ondraaglike pyn vervul my hart

My siel in repe gesny van smart

Ek het u gesmeek o heer

Stuur iemand na my

Neem weg die seer

Sy het in my lewe ingestap

Maar soos in 'n grap

My siel en liefde vertrap

Liggaamlike wonde genees

Maar my Jesus

So moeilik die gees

 

Marny Cloete

 

Wanneer dan

 

Sag en skoon soos môredou,

Het die liefde my hart omvou.

So seker soos suurstof in die lug,

My liefde is nie `n klug.

So hard het ek probeer,

My liefde van jou weg te keer.

Telkemaal het ek gefaal,

En die seker wete het oor my gedaal.

Hierdie gaan wees `n lang, lang stryd

Ek kan dit koppel aan geen tyd.

Vir hoelank sal ek stukkend bly?

Voor vreugde weer n deel van my kan kry.

 

Marny Cloete

 

 

 

 

Hosted by www.Geocities.ws

1