Preek 1
Scriptura 2000
Junie 2000
Preke vir leesdienste in opdrag van die Ring van Pietermaritzburg
http://www.geocities.com/pmb_za
Filemon
Gemeente van herkoms: Richardsbaai
Geleentheid: Algemene Prediking
Orde: 7
Lofsang: Gesang 11:1-7
Skuldbelydenis: Psalm 119:1+7
Geloofsbelydenis: Psalm 33:1, 2 +11
Na Skrif en gebed: Gesang 12.
Slotsang: Psalm 23:1+3.
Erediens
Votum: Gemeente, die Here die Almagtige sê: "Julle sal vir My 'n kosbare besitting wees . . . Ek sal goed wees vir julle, soos iemand goed is vir sy seun wat vir hom werk."
Lofsang: Gesang 11:1-7
Na die wet: Psalm 119:1+7
Na geloofsbelydenis: Psalm 33:1, 2 +11
Skriflesing: Ons Skriflesing vanoggend uit die Woord van God, is uit die Nuwe Testament, uit die brief aan Filemon. Ons gaan die hele brief saam lees. U vind dit op bladsy 286. Herhaal: Die brief aan Filemon op bladsy 286.
Maar voordat ons saamneem wil ek vir u eers net 'n bietjie agtergrond gee oor hierdie brief en hoe dit verstaan moet word. Op die manier sal ons dan ook makliker verstaan wat Paulus in dié brief vir ons sê.
Broers en susters,
Ek weet nie hoeveel van u het al gesien hoe 'n gebou gesloop word nie. Die van u wat al so iets aanskou het, sal met my saamstem dat wanneer 'n gebou gesloop word, dat kragtige masjinerie gebruik word. Weer en weer word die konstruksie "aangeval" - totdat daar uiteindelik niks meer as net 'n hoop bourommel oorbly nie. Dit word dan verwyder, sodat daar weer op daardie perseel gebou kan word.
Ons samelewing het soveel mure en heinings wat skei en afperk, en in klein kompartementjies indeel. Hierdie obstruksies is nie van klip of beton of hout nie, maar figuurlike mure wat deur mense en deur 'n samelewing opgerig word. Daarmee sluit mense hulle van mekaar en van God af. Christus het gekom as die Een wat die mure afbreek. Hy breek die skeidings af wat die sonde gebring het en wat ons van God skei. Hy breek ook die mure af wat mense van mekaar skei.
En wanneer 'n mens gaan kyk na die samelewings van die tyd toe hierdie brief geskryf is, dan sien 'n mens dat in die Romeinse, Griekse en Joodse samelewing daar baie sosiale skeidsmure was. Mense is in klasse ingedeel en daar is van elkeen verwag om sy "plek" te ken. Die belangrikste van hierdie klasseverskille was dié tussen mans en vrouens, slawe en vrymense, Jode en nie-Jode, Grieke en nie-Grieke, en gelowiges en heidene. Alle mure is in Christus afgebreek en daarom kon Paulus verklaar: "Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal."
Hierdie ingrypende beginsel is die konteks waarbinne ons die brief aan Filemon moet lees. In die brief pleit Paulus by Filemon om nie teen sy slaaf Onesimus op te tree nie. Onesimus was Filemon se slaaf. Filemon, 'n vriend van Paulus, was ook deel van die gemeente in Kolosse. Onesimus het weggeloop en moontlik ook nog van sy eienaar se besittings gesteel. Hy is na Rome, en sy pad het op een of ander manier met Paulus s'n gekruis. Hy kom tot bekering. Paulus skryf nou aan Filemon en verduidelik dat hy Onesimus terugstuur, nie net as slaaf nie, maar nou ook as medegelowiges en dus as broer in Christus.
Kom ons lees nou hierdie merkwaardige brief.
(Lees Filemon)
Hier eindig ons Skriflesing. "Wie 'n kind van God is, luister na die woorde van God."
Gebed
Sang: Gesang 12.
Prediking
Slotgebed
Slotsang: Psalm 23:1+3.
Seën: Mag die genade met elkeen wees wat ons Here Jesus Christus met 'n onverganklike liefde liefhet. Amen.
Preek
Broers en susters,
Die teksvers vir die prediking vanoggend is die eerste deel van vers 16:
"nou nie langer net as 'n slaaf nie, maar meer as 'n slaaf: as 'n geliefde broer."
"nou nie langer net as 'n slaaf nie, maar meer as 'n slaaf: as 'n geliefde broer."
Geliefdes in ons Here, Jesus Christus,
Het u al ooit gewonder, hoe dit moes wees om 'n slaaf te wees? Om die besitting of eiendom van iemand ander te wees? Dat jy aan daardie persoon 'n onbeperkte gehoorsaamheid verskuldig is, sonder dat jy iets daarvoor terugkry? Dat jy moet werk vir iemand anders, sonder dat jy 'n sent daarvoor kry?
Dit is hoe die lewe van Onesimus was. Hy was die slaaf van Filemon. Aan sy baas was hy 'n onbeperkte gehoorsaamheid verskuldig. Alles wat sy baas hom beveel het, moes hy doen, sonder dat hy daarvoor vergoed word. Filemon was egter een van die gelukkiges. Sy baas was 'n gelowige, wat die implikasie gehad het dat Onesimus darem sekere regte gehad het.
Alhoewel slawe as deel van jou eiendom beskou is, is hulle streng deur die Wet van Moses beskerm. Daar was nie toegelaat dat hulle verdruk word nie en hulle het die reg gehad om op die Sabbatdag te rus en ook om aan alle godsdienstige feeste deel te hê.
Die behandeling van slawe het baie afgehang van die karakter van die eienaar self, maar oor die algemeen is die slawe goed behandel. Daar is in al die noodsaaklike behoeftes van die slawe voorsien en hulle eienaars het teenoor hulle feitlik net soos teenoor 'n gewone lid van die gesin opgetree. Job, byvoorbeeld, verklaar dat hy altyd goed en reg teenoor sy slawe opgetree het, aangesien hulle, net soos hyself, skepsels van God was.
En tog loop Onesimus weg. Hy dros van eienaar af. Dit was iets wat met die dood strafbaar was. 'n Slaaf wat gedros het, sou dus nie maklik weer na sy eienaar toe teruggekeer het nie - veral nie uit vrye wil nie.
Broers en susters,
u kan miskien nou wonder hoekom preek ek dan nou vanoggend oor slawe; ons het mos nie meer vandag slawe nie? En ek gaan hierdie gedagte beantwoord met 'n ander vraag: Het u al ooit gewonder hoekom God ook aanspreek as Here?
Die Heidelbergse Kategismus, gee vir ons 'n antwoord op die vraag van hoekom ons Jesus ons Here noem, en die antwoord wat ons daar kry, moet ons onthou geld vir die volheid van die Drie-eenheid. Die antwoord wat die Kategismus vir ons gee is dat God/Jesus ons na liggaam en siel van die sondes en uit die heerskappy van die duiwel nie met goud of silwer nie, maar met sy kosbare bloed tot eiendom verlos en vrygekoop het (HK V&A 34). Ons is met ander woorde net soos 'n slaaf gekoop, nie met geld nie, maar met die bloed van Jesus Christus.
In Romeine 6:18 lees ons: "Ons dank God dat julle van die sonde vrygemaak is en slawe van God geword het wat sy wil doen." Ons is dus slawe - God se slawe. En dit is dan ook die rede hoekom ons God ook Heer noem, want dit is hoe 'n slaaf sy eienaar aangespreek het. Die woord Heer kan ons ook soms vertaal met die woord baas - 'n woord wat baie meer bekend is in ons Afrikaanse kultuur, maar wat 'n negatiewe konnotasie gekry het.
En dit is hoekom ek vanoggend oor slawe preek, sodat elkeen van ons weer opnuut kan besef wat ons regte is. En dan sê 'n mens dit so half tong in die kies, want ons weet dat 'n slaaf nie regtig regte het nie, behalwe om onbeperk gehoorsaam te wees aan jou Heer.
En dan loop ons ook somtyds soos Onesimus weg van ons Heer; ons dros ook somtyds van ons eienaar. En vir ons is dit net so moeilik om terug te gaan na ons eienaar toe, want ons weet dat as ons van Hom af wegloop, dan kan ons gestraf word met die dood. Ons is net soos Onesimus bang. Sonder 'n goeie aanbevelingsbrief kan ons nie terugkeer nie.
Paulus het vir Onesimus so 'n aanbevelingsbrief geskryf. Paulus vra vir Filemon om sy bekeerde wegloperslaaf te vergewe. Hy vra egter veel meer as net blote vergifnis - hy moes hom as medegelowige, as 'n broer terug ontvang.
En net so sit elkeen van ons ook met so 'n goeie aanbevelingsbrief in ons sakke - eintlik nog 'n beter een, want ons Eienaar, ons Baas, ons Heer, het ons aanbevelingsbrief geskryf. En met hierdie aanbevelingsbrief word ons 'n kind van God, 'n broer en 'n suster van Jesus Christus (HK V&A 33). Is dit nie 'n wonderlike wete nie?
Dink net watter verskil het daar in Onesimus se verhouding van Filemon gekom, vandat hy 'n gelowige geword het. Hy is nou nie meer net 'n slaaf nie, maar ook 'n broer. Nou is Onesimus én Filemon lede van God se gesin en daarom ook gelykes voor die Here. Onder gelowiges behoort geen skeiding op grond van sosiale status of enigiets anders te wees nie. Ondersoek jouself hieroor voor God. Is daar medegelowiges op wie jy neersien? Herinner jouself dat hulle jou broers en susters is, dat julle voor Christus gelykes is. Wys dat jy die Here regtig ken deur alle medegelowiges as jou gelykes te behandel.
Paulus het Filemon herinner dat dit deur sy bemiddeling is dat hy 'n gelowige is. Omdat hy Filemon se geestelike vader is, kon hy met reg verwag dat Filemon uit dankbaarheid aan sy versoek in verband met Onesimus sou voldoen. In ons eie kultuur klink Paulus se argument amper soos afpersing. Destyds was dit egter algemeen om van iemand 'n wederguns te verwag, en dit ook uitdruklik te sê.
Christus verwag ook 'n wederguns van elkeen van ons as gelowiges - ons moet uit dankbaarheid vir God se groot genade ook soos Paulus uitgaan en God se genade en liefde aan ander deel. Dit is min gevra, vir wat ons alles in die plek daarvan kry.
Paulus het 'n beroep op Filemon gedoen om met sy slaaf versoen te word en hom as medegelowige en dus as medelid van God se geïn te ontvang. Versoening tussen twee partye hou in dat hulle verhouding herstel word. Christus het ons God versoen, en hierdie herstelde verhouding stel ons in staat om ook ons verhoudings met mense te herstel. Daar is talle skeidsmure tussen mense - mure van ras, sosiale status, geslag en persoonlikheidsverskille. Christus kan egter alle mure afbreek en die grootste klowe tussen mense oorbrug. Jesus Christus het die verhouding tussen Filemon en Onesimus ingrypend verander. Waar dit vroeër 'n baas-slaaf verhouding was, is dit nou 'n verhouding tussen medegelowiges. Net so kan Christus ook ons eie verbrokkelde en verbrokkelende verhoudings herstel.
Paulus, wat hierdie brief in die tronk geskryf het, is vrygelaat uit die tronk, nadat hy hierdie brief geskryf het.
Hoe wonderlik is die weë van God tog nie!
Amen.