Preek 14
Scriptura 2000
Junie 2000
Preke vir leesdienste in opdrag van die Ring van Pietermaritzburg
http://www.geocities.com/pmb_za
2 Tessalonisense 2 : 13 tot 3 : 15
Gemeente van herkoms: Durban-Suid
Geleentheid: Algemene Prediking / Rondom Nagmaalviering / Met verwysing na die Openbare Belydenis van Geloof
Orde: 4
Liedere:
Lofsang: Gesang 67:1,2
Skuldbelydenis: Gesang 228 : 1,2
Geloofsbelydenis: Gesang 202:3
Na Skrif en gebed: Gesang 200:1,2,3
Slotsang: Gesang 270:2,3
Erediens
Votum: Gemeente ons leer in die Skrif: Dit gaan goed met die mens vir wie die Here se huis `n tuiste is en hulle krag aldaar in Hom vind.
Lofsang: Gesang 67:1,2
Na die wet: Gesang 228 : 1,2
Na geloofsbelydenis: Gesang 202:3
Skriflesing: 2 Tessalonisense 2 : 13 tot 3 : 15
Hier eindig die Skriflesing: Die Woord van God is skerper as `n swaard met twee snykante. Dit dring deur tot by die skeiding van gewrigte en murg. Dit lê die bedoelings van die hart bloot.
Gebed
Sang: Gesang 200:1,2,3
Prediking
Slotgebed
Slotsang: Gesang 270:2,3
Seën: Mag die genade met elkeen wees wat ons Here Jesus Christus met 'n onverganklike liefde liefhet. Amen.
Preek
Gemeente van ons Here Jesus Christus,
In Tessalonika sit `n gemeente en swaarkry nes ons. Dit gaan bars. Vir hulle het die ding dat mens van genade leef, `n hele nuwe betekenis gekry: hulle is nie net van God se goedheid afhanklik nie, maar van die sawwe harte van ander mense. En so erg is hulle afhanklikheid van mense se hulp, dat hulle nie sonder aalmoese kan bly lewe nie.
En dan gebeur daar in Tessalonika `n ding waarvoor ons almal moet oppas: jou omstandighede sê naderhand vir jou voor wat by moet glo en wat nie. En dan hanteer jy daai omstandighede later nie meer met geloof nie, maar andersom: netnou bepaal die omstandighede jou gedrag, en sê jou omstandighede vir jou voor wat jy nog alles kan en moet glo!
Die ouens in Tessalonika het regtig gesukkel. En hulle hele gestoei net om aan die lewe te bly, het alles te make gehad met hulle geloof in Jesus Christus. Want die ryk ouens op die dorp het hulle ore uitgeleen aan die kwaad wat die Jode loop en saai het, dat die Christene staatsgevaarlik is oor hulle geen owerheid (bo Christus!) erken nie, en hulle het toe ekonomiese sanksies teen die Christene ingestel.
Lewe in Tessalonika was vir gelowiges alles behalwe piekniek.
En die vraag wat mens jou maar saam met daai ouens kan gaan afvra is: hoe oorleef so `n klein gelowige gemeentetjie, en elkeen van sy opreg gelowige lidmate op hulle eie, te midde van sulke vyandige omstandighede? En hoe oorleef in sulke tye die waarheid oor Jesus Christus?
Die antwoord is waarskynlik: nie maklik nie! Nog die waarheid, nog die geloof hou dit goed uit. Want teen die tyd dat Paulus vir die gemeente die brief skryf, het hierdie gemeente se omstandighede al `n hele rits noodlottige gevolge gehad.
Die belangrikste een is: hulle het die Sadduseërs begin glo! Die Sadduseërs het hulle mos nie opgehou met `n geloof in opstanding uit die dood nie. Hulle het gesê dis uit die lewe se swaarkry mos al duidelik dat God die sonde sommer hier en nou al straf. Hoekom anders gaan dit so sleg? Hy gaan nie wag tot ons dood is om ons oor sonde by te kom nie. Daarom is daar ook g'n eindoordeel nie; God oordeel sommer nou.
Dit het vir daai gemeente in hulle moeilike omstandighede sommer baie meer sin gemaak, en die hele lot van hulle sluk dit. En dis vir ons ook aanloklik om die gal van die lewe so te verklaar!
En glo jy dit, is die waarheid oor Jesus Christus ook sommer daarmee heen. Dis is natuurlik heeltemal waar dat God die sonde in hierdie lewe al straf. Dis oor hoe Hy oordeel en hoe Hy straf dat ons die spoor byster raak. Hy straf vir seker ons sonde, ja, maar dan aan Jesus Christus, en nie aan ons nie. En die waarheid oor Jesus, die oorleef nie in Tessalonika nie.
Tessalonika se omstandighede begin hulle siening oor die waarheid aantas. En dit verander wat hulle glo.
En ek dink nie ons kan hulle daaroor te veel blameer nie, ons doen dieselfde ding. Alle mense is geneig om dit te doen. Jy begin glo in Christus. Jy glo onwrikbaar in Hom, en in wat Hy vir jou doen. En jy sien die implikasies daarvan raak. En jy verander: jy pas jou manier van lewe by Hom aan. Maar nes dit begin sleg gaan met jou, regtig sleg, is een van die eerste goed wat in die slag bly daai nuwe manier om die lewe te verstaan, Christus se manier. Want hoe jy ookal probeer om dit alles klein te kry, jy kry net nie die slegte dinge wat met jou gebeur, met Christus verklaar nie. En dan kry jy kry ook nie meer jou moeilike omstandighede so gehanteer nie. Wel, wat maak jy dan? Gewoonlik gryp jy dan terug na die ou goed wat vroeër mos al vir jou gewerk het - jy glo hulle het, want dit het toe nie met jou so sleg gegaan soos nou nie. Of jy's vir die swaarkry en die seerkry nou meer gevoelig. En jou moeilikheid is nou erg genoeg dat jy daar moet uit, hoe jy dit doen, is naderhand nie meer ter sake nie.
O, ons doen dit nie sonder om eers te wroeg nie! Dit gebeur glad nie maklik nie: dis eenvoudig nie waar nie, dat jy van alle gelowiges wat in `n gat val kan gaan sê hulle was seker maar altyd liggelowig, nie. Hierdie proses gaan baiekeer gepaard met erge ontnugtering, verskriklike teleurstelling en baie bitterheid. As jou hoop en jou droom doodgaan, vat jy nie lag-lag maar `n ander pad nie.
En hiervandaan is die ander vraag se antwoord seker ooglopend: as die waarheid oor Christus nie oorleef nie, watter effek gaan dit hê op die gelowiges se gedrag? Gaan hulle Christus in die erediens bly dien? En gaan die gemeente van Christus bly staan? En as die gemeente nie meer werk nie, sal sy lede kan bly glo? Nee!
Dit sien jy al klaar in Tessalonika. Aan die wanorde wat in die gemeente begin verwoesting saai. Daar's `n moedeloosheid oor hulle gesukkel, en die ouens het later nie meer lus om teen wil en dank uit te hou nie. Die wederkoms is dan al lankal belowe kom gou; waar bly Jesus dan so lank? En hoe langer dit vat, hoe minder geesdriftig is die lidmate om hulle verantwoordelikhede teenoor die gemeente na te kom. Die skrif is aan die muur, die gemeente gaan dit nie veel langer so hou nie.
Die punt is: `n mens se omstandighede het, of jy dit nou wil weet of nie, `n regstreekse invloed op hoe en wat jy glo. Want jou situasie leer jou vrae vra wat jy andersins nie eers aan sou gedink het nie. En nuwe vrae aan jou geloof, maak dat jy jou geloof moet gaan deursoek vir nuwe antwoorde wat moet werk. En die proses raak later nie net hoe jy dink en glo nie, maar wat jy bereid is om te doen op sterkte van daai geloof.
Die dat Paulus in sy brief aan die gemeente `n klomp mooiklinkende goed kwytraak oor hoe hulle standvastig by die waarheid moet bly. Maar daarmeesaam ignoreer hy ook nie die praktiese situasie waarin die ouens in Tessalonika sit nie. Dis juis die goeters, weet hy, wat die geloof vir hulle daar so moeilik maak om te verstaan, en mee te volhard.
Wees standvastig, ouens, en hou vas aan die geloof wat aan julle verkondig is. En mag die Here self julle help om dit aan te hou glo, en uit te hou in julle gestoei. En mag Hy julle ook help om nie met die goeie goed wat julle begin doen het, moed op te gee en op te hou nie. Hou veral aan met die werk wat elke gemeente van Jesus Christus gekry het om te doen: verkondig: Christus is die Here! En hou vas aan die waarheid oor Hom, dat dit nie by julle of by iemand anders afgewaterd aankom nie.
En dan sê hy: ek hoop julle word van die verkeerde en die slegte mense onder julle verlos. Want nie almal daar by julle is gelowiges nie. En dis nou in Tessalonika die geneuk: ongelukkig maak julle omstandighede dat julle op juis hierdie twyfelaars moet reken om aan die lewe te bly!
Weet eers: Die Here is getrou. Hy sal julle versterk. Hy sal julle van die Bose bewaar, en nie hierdie ander ouens vir wie julle so aanhang nie.
En wie's die ouens aan wie die gemeente so verknog geraak het dat hulle later op die dwaalspoor kom? Daai einste Sadduseërs! Hulle met die snaakse idees oor God se oordeel wat jou laat glo hierdie is die hel, want dis mos hier dat God jou oor die sonde bykom. En moet ook nou nie hoop dit word later - na die dood dalk - beter nie, sê hulle mos. Daar is geen "na-die-dood" om van te praat nie.
Maar, kom ons vra dit weer, hoe gebeur dit dat `n gemeente wat sy hele bestaan te danke het aan die geloof dat Jesus uit die dood uit opgestaan het, en dat hulle self ook nog sal opstaan, hoe gebeur dit dat hulle daaraan begin twyfel? Destyds was dit te wyte aan daai eks-Sadduseërs in die gemeente. Hulle het gelowig geword, maar het later, oor hulle moeilike omstandighede, weer teruggegryp na hulle ou bygelofies van destyds. Want daai bygelofies maak in die omstandighede vir hulle meer sin. En, helaas!, die res van die gemeente glo hulle, want dis met hulle geld dat die gemeente oorleef!
Dis so eenvoudig soos dit! Hierdie ouens is die gemeente se beskermhere, want hulle's gesiene mense. En hulle gooi hulle geld in die sakkies by die deur.
Daarom hoor jy Paulus sê: julle kan nie meer so op ander ouens teer nie. Julle moet vir julleself sorg. Julle moet julle materiële afhanklikheid van daai ouens nekomdraai, dat julle kan vrykom van die ding dat julle verplig voel om hulle agterna te praat, of net onder hulle invloed die waarheid te verdraai. En daarom moet daai leeglêers onder julle wat nie vir die gemeente wil sorg nie, die pad vat. Maak hulle eers skaam oor hulle net leeglê. Laat hulle agterkom dis ten koste van die waarheid oor God en die waarheid oor julle verlossing uit die sonde. Hulle leeglêery is nie sommer net `n middelmatige saak nie. Dis belangrik genoeg dat hulle of moet reg of weg. Julle moet hulle selfs van die gemeenskaplike maaltye van die gemeente af weghou as hulle daarmee aanhou na julle met hulle gepraat het daaroor. Want dis of Christus opgestaan het of nie wat ter sake is. As julle dit nie glo nie, kan julle nie in die gemeente bly lewe nie.
Julle, julle wat glo in Jesus Christus, julle moet ophou reken op ander om te doen wat julle nie wil doen nie, en ophou leeglê oor julle dink daar's altyd maar iemand anders wat die vrag sal dra. So, deur julle leeglêery, bewerk julle op die duur die ontkenning van die waarheid in Christus. Dis meer as luiheid. Dis meer as net onverskilligheid. Dis `n vals geloof, en `n dwaalleer.
Daarom moet julle self werk. Sorg vir julleself. En werk verder nog ook daaraan om mekaar te versorg en te dra. En kom los van die ouens wat dwaal maar betaal, en betaal om maar te mag dwaal.
`n Gemeentetjie wat sukkel, en gelowiges wat skaars kop bo water hou? Is dit ons? Wel, wat ons betref, broers, ons moenie nou hier wil kom staan en leeglê nie. Moenie moeg word om self goed te doen nie, ouens. Doen goed aan mekaar, doen goed aan die gemeente, en doen goed aan God. En die beste wat jy hier kan doen is dit: glo die waarheid. En doen alles wat by die waarheid pas dat Christus opgestaan het en leef, en ons saam met Hom.
Moenie moeg word om goed te doen nie. Die waarheid is goed. Doen die waarheid. Jesus leef en Jesus kom!
Amen.