Preek 12



Scriptura 2000

Junie 2000

Preke vir leesdienste in opdrag van die Ring van Pietermaritzburg

http://www.geocities.com/pmb_za




Die gemeente is meer as net onderdele - slegs al die onderdele saam bou `n liggaam.

1 Korintiërs 12: 12-31 (p. 227)






Skrywer: Ds. Jacques Pieterse

Gemeente van herkoms: Laer Suidkus



Geleentheid: Algemene Prediking



Orde: 9



Lofsang: Gesang 207: 1, 2 en 3 (Alternatiewe melodie van gesang 40)

Skuldbelydenis: Gesang 57 : 1

Geloofsbelydenis: Proefsangbundel 7: 1, 2 en 3

Gemeentesang: Gesang 211: 1 en 2

Slotsang: Gesang 222: 1, 2, 3 en 4

Slotseën en Amen: Proegsangbundel 29






Erediens



Votum: As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs; As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm tevergeefs.



Lofsang: Gesang 207: 1, 2 en 3 (Alternatiewe melodie van gesang 40)



Na die wet: Gesang 57 : 1



Na geloofsbelydenis: Proefsangbundel 7: 1, 2 en 3



Skriflesing: 1 Korintiërs 12: 12-31 (p. 227)

Na die Skriflesing: Hier eindig die Skriflesing. Wie `n kind van God is, luister na die woorde van God.



Gebed



Sang: Gesang 211: 1 en 2



Prediking



Slotgebed



Slotsang: Gesang 222: 1, 2, 3 en 4



Slotseën en Amen: Proegsangbundel 29 Skriflesing:





Preek



Gemeente van ons Here Jesus Christus,



Karkoop was nog nooit speletjies nie. Veral nie as jy jouself tot die tweedehandse mark wend nie. Want sowat van kontakte en onderdele bymekaar sit en knoei en verkul sien jy selde as wanneer `n kar deur die toets moet gaan, en die verkoper moet hom daardeur kry. En as jy boonop verleë staan, kyk jy met groeiende angs en stomme verbasing, hoe die onderdele veronderstel is om die kar te maak. Of dan nou padvaardig te maak...



Moeilikheid is: die onderdele maak die kar en as die goeters wat moet oop en toe nie daar is nie, gaat die spulletjie vir jou die een of ander tyd in die pad los, en jy gaan lang trane huil oor die geknoei van `n ander met jou tjorrie se onderdele. `n Onderdeel is nie die kar nie - maar lol één van die goed, wil die outjie nie loop soos hy moet nie. Dan is dit `n gestotter en `n gehop en `n gelek van olie en water en `n skeefremmery en wie weet wat - en vat jy nou so ou karretjie na die toetsgronde toe, is al jou hare uit jou kop getrek voor jy hom deur die toets het. Want al=s moet perfek werk sien - voor die vriendelike beampte sy stempel van goedkeuring op jou tjorrie sit.



Wat leer `n mens oor jou lewe hieruit? Dat die kar meer is as die onderdele, maar dat jy hom nie as `n behoorlike kar goedgekeur kry as al die ou onderdeeltjies nie werk nie. Maak nou nie saak of hulle baie duidelik en sigbaar teenwoordig aan die kar vassit nie. Hulle moet werk. Want `n toeter wat nie toet nie kan jou jou lewe kos. En `n briek wat nie briek nie - al is hy daar - help jou net mooit niks as jy die van Reenenspas afry en jy wil heel onder kom.



Wat my nogal laat dink. Menslike liggame werk nogal baie op dieselfde manier. Ek bedoel nou - al=s wat moet oop en toe, moet oop en toe, anders werk die spulletjie nie soos dit moet nie en gaan jy nie behoorlik oor die weg kom nie. Die onderdele maak ook op `n manier die liggaam. As jy `n vinger met `n skerp vleismes afgesny kry, en jy sit die spulletjie op ys en jaag vinnig dokter toe, sal hy die onderdeel weer vaswerk. Sonder die vinger, gaan jy aanvanklik moeilik klaarkom as jy nie betyds by die dokter kom nie. En al leer jy gaandeweg om sonder een vinger oor die weg te kom, is jou liggaam onvolledig, en werk hy nie meer sooos hy bedoel was van die begin af nie.

Sommige onderdele is selfs uitruilbaar! `n Hele hart of lewer, of `n paar longe, of ooglense word uit `n vars kadawer verwyder en op ys geplaas en in `n ander ou oorgeplant sodat hy of sy weer kan sien - of bloot nie doodgaan nie. Orgaanoorplanting het nuwe lewe vir die mensdom moontlik gemaak. Om met `n ander ou se hart oor die weg te kom, maak dit moontlik dat jy dalk baie langer vir jou familie gespaar kan bly.



Nou - sonder watter lede van jou liggaam sou jy kon klaarkom? En nou praat ek nie net van die spaarwiel wat so baie mans maar moet saamdra om die middel en die selluliet waarmee die dames so sukkel nie. Dis nie werklik liggaamsdele nie maar liggaamsdele wat buite verhouding groot geword het. Nietemin, as jy vandag moet kies: Sal dit jou bene wees, sodat jy die res van jou lewe in 'n rolstoel moet deurbring? Of dalk jou oë, sodat jy nie meer kan sien nie en blind word? Of jou ore, sodat jy doof sal word?



Maar 'n liggaam wat 'n toon of twee verloor, kan net so gestremd wees as een wat sy oë verloor. Sonder balans val 'n mens rond en sukkel `n ou maar. En om 'n vinger te verloor beteken jou klavierspelery of jou beplande loopbaan as musikant is daarmee heen. Stel jou `n dominee sonder `n tong voor, of dan `n fynproewer vir `n kosrubriek. Of `n Tv nuusleser sonder `n neus. Of `n musiekresensent sonder ore, of `n Comradesatleet sonder tone. Elke onderdeeltjie is tog op die ou end nodig né?



Ons pas ons liggame op. Ons voed en klee ons liggame. Ons gaan dokter toe as ons siek is. Ons gaan op diëte, verloor gewig, swoeg in die gim, draf kilokemeters ver, en klim trappe in plaas van hysbakry. Alles om hierdie liggaam aan die werk en mooi te hou.



En nou noem Paulus die gemeente die liggaam van Christus. Daar is 'n onlosmaaklike band tussen die Here Jesus en sy gemeente. Die gemeente het sy oorsprong in die Here Jesus. Dit bestaan net omdat die Here Jesus se versoeningswerk dit moontlik gemaak het om te bestaan en deel van God se volk op die aarde te raak. Die gemeente is die resultaat van Christus se verlossingswerk. Maar die gemeente is ook die instrument waardeur Christus sy verlossingswerk op aarde voortsit. God gebruik ons in sy gemeente. Met ander woorde ons is hier met 'n doel. Ons het werk hier.



En as die gemeente dan die liggaam van Christus is, dan sê Paulus, is ons elkeen 'n deel van hierdie liggaam. Verskillende lede met elk 'n eie doel. Christus het sy liggaam lief en daarom sorg hy ook daarvoor. Hy gee aan sy liggaam gawes en talente om homself mee op te bou. En die eerste gawe wat die Here aan die gemeente gee is sy Heilige Gees. (Rom 8: 23) Op Sy beurt gee die Heilie Gees weer aan die gemeentelede elkeen 'n gawe, `n talent en `n werk. Om die gawe te hê om te werk, impliseer tog al klaar dat `n mens daai gawe moet gebruik. Waar sou ons vandag gewees het as ons voorvadere nie die talente wat hulle ontvang het gebruik het nie. Seker nog in grotte, besig om te wonder waar om vuur te kry as die kole doodgaan.



Elke lid van hierdie liggaam het sy besondere doel om te vervul. En net omdat ons doel dalk anders is as ander lede s'n beteken nie dat ons dalk nie aan die gemeente behoort nie. Voete het die gawe om 'n liggaam te laat loop, en as hulle nie meer daar is nie, dan is die liggaam nie meer heel nie, en funksioneer hy nie meer soos hy moet nie. Daarom sê Paulus ook, dat geen lid ophou om deel van die liggaam te wees, bloot omdat hy nie dieselfde funksie het om te vervul as 'n ander deel van die liggaam nie.



Maar nou sit ons met die probleem dat ons as mense so goed vir ons eie liggame sorg, maar dikwels baie minder entoesiasties is oor die liggaam van die Here - sy gemeente. Ons sal nooit onsself verblind, of 'n voet afkap oor hy die 'n oog is nie, maar baie maklik die liggaam van die Here sonder voete laat sit. Bloot omdat ek dalk nie 'n voet wil wees nie. Sonder dat ons in ag neem dat ons op die manier die liggaam van die Here skade aandoen. Elke lid is nodig om 'n liggaam te laat werk. Ook die dele wat volgens ons dalk minder lofwaardige werk het om te doen. Maar nou wonder ons seker - wat is my doel in die gemeente van die Here? Watter taak het ek om te verrig? Het die Here werklik aan my 'n opdrag hier gegee?



Paulus leer ons dat die Heilige Gees aan elkeen van ons 'n taak in die gemeente gee. Elkeen - d.w.s. elke gemeentelid, jonk en oud, groot en klein, het 'n gawe of gawes van die Heilige Gees ontvang om in hierdie gemeente te gebruik om so hierdie liggaam op te bou tot eer van die Here. Gawes is bekwaamhede wat aan die gelowiges geskenk word. Sommige mense kry meer, en ander minder, maar elkeen kry iets. Die Heilige Gees gee bekwaamhede wat soms bo mense se natuurliie vermoëns gaan, of lei mense in spesifieke situasies om dalk selfs 'n wonder te kan verrig. maar die Heilie Gees gee ook gawes wat aansluit by die natuurlike talente wat gelowiges in diens van die gemeente kan gebruik.



$ As God jou toegerus het om as ampsdraer te dien, en die gemeente het jou onder leiding van die Gees van God wettig verkies tot daardie amp, en as ons vir Paulus nou hoor, waarom weier so baie lidmate volstrek om as kerkraad te dien? Is dit dalk `n oog wat sê Aomdat ek nie `n oor is nie, is ek nie deel van die liggaam nie@? Daar is gedurig wyke sonder kerkraad, omdat die opoffering vir die liggaam van Christus bloot vir baie lede van sy liggaam net te veel moeite is. Of omdat dit inmeng met hulle kuiertyd of televisietyd, of oor die afstand of oor watter verskoning onwillige mense ookal kan vind. Want glo my, as jy een wil hê sal jy een kry om werk níe te kan doen nie.



$ As God jou toegerus het om vertroosting aan siekes te kan bring, wonder `n mens waarom so min lidmate ten spyte van kanselafkondiging selfs bereid is om `n telefoon op te tel en te hoor hoe dit met die liggaam se seer vinger of been gaan. Die mond raak onwillig om antibiotika te sluk, oor hy bloot nie omgee wat van sy eie been word nie. Sonder om daaraan te dink dat hy môre moeilik gaan loop as daai been onbruikbaar raak. Dan vloek daai selfde mond die dokter, want dis mos altyd iemand anders se skuld as die liggaam nie werk nie.



$ As God jou die talent gegee het om lofsange te sing tot eer van sy heilige Naam, wonder `n mens hoe daar uit 400 stemme nie eens 20 kan wees wat sy Naam wil grootmaak op díe manier nie.



$ As God jou toegerus het om te bemoedig, hoekom laat jy toe dat daar soveel moedeloosheid rondom jou is?



En die feit van die saak is dat dit nie net die mense is wat nie vandag hier is wat die boodskap moet hoor nie, maar die hele liggaam. Want die liggaam is `n eenheid, en die onderdele kan nie los van mekaar funksioneer nie. Ons raak te maklik rustig oor die blote feit dat ons hier is, al doen ons verder vir hierdie liggaam net mooi niks - soos `n siek hart wat nie meer wil klop nie, of daai toeter wat nie wil toet nie en die potensiaal het om die hele liggaam te verongeluk.



Ál die lede is nodig. 'n Liggaam bestaan nie net uit 'n kop en 'n paar voete nie. Om normaal te wees, het 'n liggaam al sy lede nodig. Maar om normaal te funksioneer moet al die lede ook hulle funksie vervul. Blinde oë beteken vir die liggaam niks. Liggaamsdele wat verkeerd begin funksioneer, soos mangels wat ontsteek kan ook die hele liggaam vergiftig en siekmaak. Daarom moet die ligaamsdele ook na mekaar omsien en mekaar oppaas, sodat elkeen sy werk sal doen.



'n Liggaam bestaan uit 'n groot verskeidenheid lede wat mekaar elkeen nodig het. Die lede is afsonderlik op mekaar aangewese. Romeine 12: 5 sê die lede is elkeen lede van mekaar. Die afsonderlike lede kan net tot hulle reg kom in samewerking en verbinding met ander lede. Net soos 'n hand wat van 'n liggaam afgesny word sterf en verrot, sterf elke lid wat hom van die gemeente van die Here, waarvan hy 'n lid is losmaak ook geestelik. 'n Lid wat die samewerking en ondersteuning van die ander lede moet ontbeer, kan nooit tot sy volle potensiaal ontwikkel nie.



Die gemeente is 'n eenheid. Hy kan net funksioneer as al die lede hulle gawes daadwerklik in diens daarvan stel. Indien dit nie gebeur nie, sal die gemeente net 'n skaduwee wees van dit wat God werklik met hom bedoel het. Die Here wil nie hê dat sy liggaam doofstom of 'n invalide moet wees nie. Net so kan individuele lidmate nie tot hulle reg kom in 'n gemeente waar hulle nie die geleentheid kry om hulle gawes in diens van die gemeente te gebruik nie. Die geloofsgroei van die gemeente word so benadeel.



Die geloofsgroei van lidmaat A tot Y word benadeel as lidmaat Z nie die geleentheid kry of gebruik om sy gawes tot opbou van die gemeente aan te wend nie. Lidmaat Z is dalk juis toegerus met 'n gawe wat al die ander lede nodig het. Maar as lidmaat Z nie sy gawes gebruik nie, verwaarloos hy ook sy eie groei daardeur.



Die Here Jesus sorg vir sy liggaam. Daarvoor gee hy aan ons sy Heilige Gees. En die Heilige Gees bekwaam eelkeen van ons. Maar in die gemeente moet daar ook die regte balans wees tussen die taak van die ampte en die gemeente. Sowel die ampsdraers as die gemeentelde is nodig in die opbou van die gemeente. Die ampte is ook gawes aan die gemeente. Die ampsdraers is deur die Here geroep en toegerus om om 'n besondere bediening in die opbou van die gemeente te verrig. Dis hulle besondere taak om ook die ander gelowiges toe te rus vir die opbou van die gemeente. Die opbou en toerusting van sy liggaam is vir die Here Jesus, die Hoof van die kerk, so belangrik dat individuele lidmate ook in die gemeente afsonder om hulle aan hierdie bediening te wy. In die opbou van die gemeente vervul die ampsdraers 'n onmisbare funksie.



Maar in die opbou van 'n gemeente is nie net die ampsdraers nodig nie, maar elke lidmaat. Daar moet 'n balans bly tussen die ampsdraers en die gemeentelede. Die ampsdraers moet die betekenis van hulle opdrag in die gemeente reg en goed verstaan. Hulle is nie geroep om alles in die gemeente te doen nie. Hulle moet ook toesien dat elke lid van hierdie liggaam sy plek in die gemeente vind en gebruik tot opbou van almal. Die lidmate moet ook weer besef dat die Here hulle gered het om op aarde hier aan God diens te lewer. Ons mag nie passiewe onvolwasse lidmate bly nie. Ons mag nie maar net sit en luiter nie, maar ook aktief deelneem en werk in die gemeente. En elkeen van ons moet biddend soek na die spesifieke diens wat hy of sy in die gemeente moet uit voer.



Die Heilige Gees is ook nie stereotiep in die uitdeel van gawes nie. Aan die lidmate gee Hy gawes in ooreenstemming met die behoefte van die gemeente. So bou die Heilige Gees die gemeente op. Daarom is dit moontlik dat die Gees vandag nuwe gawes aan die gemeente kan gee wat nie voorheen nodig was nie, maar ook dat sommige van die gawes van vroeër wat toe 'n groot rol gespeel het kan verdwyn. Maar binne elke gemeente bestaan daar die behoefte aan lidmate met gawes om diens te lewer.



Sommige van ons kan dalk sinvol met jongmense werk. Jeugwerk in die kerk neem 'n besondere plek in die gemeente in en in elke gemeente is daar mense wat deur die Heilige Gees toegerus is om Jeugwerk te doen. Miskien lê jou gawe op die vlak van die diens van barmhartigheid. Dan kan jy inskakel by die gemeente se diensgroepe soos die diensgroep vir bejaardes, of dalk 'n diensgroep wat siekes ondersteun en vertroos. Sommige kan dalk vir sulke mense lees of bid. Ander kan dalk net belangstelling toon of 'n blykie van liefde gee. Dalk is daar behoeftige mense aan wie iemand in hierdie gemeente liefde en ondersteuning kan gee.



Miskien lê jou gawe op die gebied van sending of evangelisasie. Miskien is dit jou gawe om kerkvervreemde mense weer by die kerk ingeskakel te kry. Dit is 'n taak wat nooit deur die predikant of die kerkraaad alleen gedoen kan word nie. Miskien lê jou gawe op 'n ander vlak. Daar is baie plekke waar ons ons gawes in hierdie gemeente kan gebruik om dit te laat groei en funksioneer soos die Here dit bedoel. Dalk kan jy met 'n wyksBybelstudiegroep begin. Miskien kan jy met die kerklike administraise help. Jy kan dalk koor sing of op praktiese gebied hulp verleen.. Vir elke behoefte in die gemeente rus die Heilige Gees lidmate met gawes toe om daardie werk te doen. Maar dan moet ons nie teëstribbel nie. Dan moet ons ook luister na wat die Woord van God vandag vir ons sê. As God roep, hoe sal ons dit kan weier?



Ons moenie dat hierdie 'n halfdooie, siek en passiewe liggaam raak nie. Moenie jouself van die liggaam distansieer nie, want jy kan nie omdat die Here self jou deel van hierdie liggaam gemaak het. Moenie 'n blinde oog wees nie. Ook nie 'n siek mangel wat die res van die liggaam vergiftig met jou onbetrokkenheid en sinisme nie. Wees vir die Here diensbaar. Hy rus jou immers toe daarvoor.



Amen.




Hosted by www.Geocities.ws

1