Preek 11

Scriptura 2000

Junie 2000

Preke vir leesdienste in opdrag van die Ring van Pietermaritzburg

http://www.geocities.com/pmb_za




Die doel van prediking

1 Korintiërs 2






Skrywer: Ds. Riaan Janse van Rensburg.

Gemeente van herkoms: Richardsbaai



Geleentheid: Algemene Prediking



Orde: 6



Lofsang: Psalm 48:1+4

Skuldbelydenis: Gesang 262:1, 2 + 6

Geloofsbelydenis: Gesang 190:1-5.

Gemeentesang: Gesang 311:1 - 3.

Slotsang: Gesang 333:1, 3 + 4.








Erediens



Votum: Gemeente, die Here sê: "Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel."



Lofsang: Psalm 48:1+4



Na die wet: Gesang 262:1, 2 + 6



Na geloofsbelydenis: Gesang 190:1-5.



Skriflesing: 1 Korintiërs 2

Ons Skriflesing vanoggend uit die Woord van God, is uit die Nuwe Testament, uit die eerste brief aan die Korintiërs, hoofstuk 2. U vind dit op bladsy 218. Herhaal: 1 Korintiërs 2 op bladsy 218.

(Lees 1 Korintiërs 2)

Na die Skriflesing: Hier eindig ons Skriflesing. "Wie 'n kind van God is, luister na die woorde van God."



Gebed

Kom ons bid saam...



Sang: Gesang 311:1 - 3.



Prediking



Slotgebed



Slotsang: Gesang 333:1, 3 + 4.



Seën: Mag die genade van ons Here, Jesus Christus, die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees. Amen.





Preek



Gemeente van ons Here Jesus Christus,



Die teksvers vir die prediking vanoggend is 1 Korintiërs 2:5

"Dus is julle geloof nie op die wysheid van mense gegrond nie, maar op die krag van God."



"Julle geloof is nie op die wysheid van mense gegrond nie, maar op die krag van God."



Geliefdes in ons Here, Jesus Christus, hoeveel keer het u al by hierdie kerker uitgestap en gevoel: "Vandag het hierdie preek niks vir my gesê nie; Ek kon net sowel by die huis gebly het." Of dat u voel dat die predikant wat vandag gepreek het, werklik darem 'n beter preek kon gemaak het; Ek het geen voedsel vir my gees gekry nie. Daar was nie vleis aan vandag se preek nie.



Ek dink nie ek is verkeerd as ek sê dat dit seker al met die meeste van ons gebeur het nie. Dat ons die dag uit die kerk uit stap en half teleurgesteld voel, omdat ons voel dat ons nie iets uit daardie erediens uit gekry het nie.



Maar, broers en susters, as ons so voel, dan is ons nie die eerste mense wat so voel nie. En hoe meer en meer ek die Bybel lees en Bybelstudie doen, hoe meer kom ek agter dat die dinge waarmee ons vandag sukkel en nie verstaan nie, dat dit die dinge is waarmee die mense nog al die eeue mee sukkel en nie verstaan nie. Die probleme waarmee mense en die kerk vandag mee sit, het die mense al mee gesit in die tyd toe die Bybel geskryf is.



Kom ons vat doodgewoon net hierdie gedeelte wat ons vanoggend saam gelees het. Paulus, een van die eerste predikers van die Christelike kerk, 'n fenomenale prediker, wat so goed gepreek het dat sy preke vandag nog in die Bybel is, het ook partykeer gepreek, dat nie almal sy preek verstaan het of dat nie almal iets uit die preek gekry het nie. En daarom verdedig hy homself in hierdie gedeelte.



Hierdie gedeelte wat saamvat met 'n groter geheel, praat Paulus oor die probleme van die kerk. Basies die eerste ses hoofstukke van die eerste Korintiër-brief praat Paulus oor die probleme van die kerk. As 'n mens die aanhef en die slot van die brief wegvat, dat spandeer Paulus amper die helfte van die brief aan die probleme van die kerk, en in hoofstuk 2 praat hy dan ook oor homself, en verdedig hy homself. Hy sê: "Wat my betref, broers, toe ek na julle toe gekom het om die geheimnisvolle waarheid van God aan julle te verkondig, het ek nie met hoë woorde of groot geleerdheid gekom nie."



Heel waarskynlik was daar lidmate in die Korintiër-gemeente, wat nie tevrede was met Paulus se prediking nie. Wat eerder wou gehad het dat Paulus wondertekens daarmee saam moes doen, dat hy groot woorde en teologiese taal moes gebruik in sy prediking. En dit het hy nie gedoen nie. Paulus kon sy luisteraars sekerlik oorweldig het met sy geleerde kennis, maar hy het eerder verkies om onopgesmuk die suiwer boodskap van Jesus Christus te verkondig. Die eer kom God toe en nie menslike aanbiedingsvermoëns nie.



En nou skryf Paulus aan die gemeente en hy verduidelik aan hulle wat die doel van prediking is, sodat daar nie enige verdere verwarring is nie. En hy verduidelik aan hulle hoe daar in prediking 'n hele agtergrond van stryd opgesluit is. Prediking is naamlik die teendeel van wonderwerke en snaaksighede. In die prediking gebeur niks wat so vanselfsprekend is dat enigeen dit sal glo nie. Ons twyfel word nie met een geweldige hou te pletter geslaan nie. Die prediking het geen bewys dat dit die Woord van God is nie. Uiterlik klink dit soos 'n gewone mensewoord. Dit deel selfs in die swakhede van die prediker.



Wanneer ons so dikwels teleurgesteld is in 'n preek wat ons hoor, vergeet ons dat die funksie van 'n preek juis is om ons teleur te stel. Ons word teleurgestel met die oog op ons soektog na wonderwerke. God wil ons nie met allerhande kunsies betower nie; Hy wil net aan ons die één waarheid bekendmaak en dit is die inhoud van die prediking.



Maar wat is die inhoud van die prediking? Paulus kom en sê dit is die gekruisigde Christus. Die gekruisigde Christus beteken die aflê van die menslike planne en ideale om uit eie krag voor God regverdig te wees. Met die kruisiging beoordeel God hierdie strewe van ons as sonde. God veroordeel enige eiemagtige selfhandhawing van ons kant af. Deur ons saam met Christus te laat kruisig, is ons aan God gehoorsaam. Maar dit nie al nie. God steek terselfdertyd ook sy hand na ons toe uit. Waar ons nou nie meer op onsself kan staatmaak nie, kan ons onsself aan Hom toevertrou.



Paulus het nie op sy skerp verstand of sy vermoë om te debatteer vertrou nie, maar op die wete dat die Heilige Gees hom lei. Daarmee wil hy nie te kenne gee dat dit onbelangrik is om te studeer of deeglik voor te berei voor 'n preek nie; hy was immers self goed onderlê in die Skrif. Effektiewe prediking bestaan egter daaruit dat kennis en voorbereiding deur die Heilige Gees geryp en geslyp moet word.



En net so moet die hoorder van die preek ook deur die Heilige Gees geryp en geslyp word. Elke luisteraar moet hom- of haarself eers goed voorberei voor die erediens. Elkeen moet sy of haar hart ontvanklik maak vir die woord van God. Elkeen moet toelaat dat die Heilige Gees die Woord aan hom of haar sal openbaar. Want dan, en dan alleen kan ons sê: "Julle geloof is nie op die wysheid van mense gegrond nie, maar op die krag van God."



God het in sy wysheid besluit om die gawe van verlossing aan almal te bied. Aanvanklik het die mense nie van die plan geweet nie, maar alles het met Jesus se menswording, dood en opstanding uit die dood duidelik geword. Sy opstanding was die bewys dat Hy ook mag het oor die sonde en die dood en dat Hy daardie krag ook tot ons beskikking wil stel. God se plan is vandag nog op 'n ander manier vir die ongelowiges verborge, omdat hulle weier om dit te aanvaar of uit vrye wil ignoreer.



Die heersers wat in die oë van die wêreld belangrik en goed was, het Jesus verwerp. Hy is deur die mees invloedrykste mense in Palestina laat doodmaak: deur bemiddeling van die hoëpriester, koning Herodes, Pilatus en die Joodse leiers. Die heersers van die sondige wêreld verstaan nie die Goddelike wysheid nie, en daarom het hulle Hom verwerp.



Ons is nie eers in staat om 'n beeld te vorm van alles wat God vir ons in hierdie lewe en ook in die ewige lewe wil gee nie. Hy maak alles nuut en ons gaan vir ewig volmaak by Hom bly. Sy Heilige Gees troos en lei ons tot op die dag dat dit volmaak gebeur. Deur Jesaja aan te haal, betoog Paulus dat God gedoen het waaraan die mens met al sy vermoëns nie eers kon dink nie. ""Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie," en wat in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet." Deur sy Seun se sterwe en opstanding en die Heilige Gees het God gedoen wat ons verstand heeltemal te bowe gaan.



Die "geheimenisse van God" waarvan Paulus praat, is Jesus se opstanding en God se verlossingsplan, waarvan die betekenis geopenbaar sal word aan almal wat glo op grond van die werk van die Heilige Gees. As 'n mens in Christus en in sy opstanding glo, sal jy voldoende weet wat nodig is om verlos te word. Dit is egter vir die slimste mens op aarde onmoontlik om te begryp as hy of sy nie ook die boodskap van God aanvaar nie. Dit bring ons by die gevolgtrekking dat almal wat dié boodskap verwerp, dwaas is, al is hulle ook al hoe slim in hulle eie oë.



Paulus praat met gesag, want sy woorde is dié van die Heilige Gees. In 'n sekere sin is elke gelowige in staat om die Skrif te verstaan as die Heilige Gees dit aan ons verduidelik. Hier sien ons egter hoedat Paulus op 'n unieke wyse onder leiding van die Heilige Gees geskryf het en deur Hom geïnspireer is. Die Heilige Gees verduidelik aan die gelowige 'n nuwe raamwerk of abc waarbinne hy of sy werk.



'n Mens wat toondoof is, is nie in staat om goeie musiek te waardeer nie. Net so is elkeen wat die Here verwerp, ook nie in staat om sy wonderlike boodskap te waardeer nie, want so iemand kan nie hoor wat die Here vir hom sê nie. Iemand moet eers op die golflengte van die Gees wees om God werklik te kan hoor. In rekenaartaal: kommunikasie is slegs moontlik wanneer daar tussen die gebruiker en rekenaar 'n taal of kodering bestaan.



Nie-Christene verstaan niks omtrent God nie en hulle kan ook nie begryp dat sy Gees in die harte van gelowiges woon nie. Ons moenie verwag dat ongelowige mense begrip sal hê vir ons besluit om Christus te volg of dit sal goedkeur nie, want vir hulle lyk dit heeltemal na onsin.



Gelowiges het Gees-insig omdat dit aan hulle gegee is deur die Heilige Gees. In Jesaja 40:13 wat Paulus hier aanhaal word die almag van God juis beklemtoon. God weet wat Hy moet doen al verstaan ons as mense dit nie.

"Wie ken die gedagtes van die Here?

Wie sal Hom raad gee?"

Maar ons, ons het die Gees van Christus."

Om 'n Christen te wees, beteken dat jy die Gees ontvang het.



Daarom gebeur dit dan ook somtyds dat 'n mens 'n preek hoor, maar tog voel 'n mens dat daardie preek vir jou niks beteken het nie. Dat daardie preek nie vir jou bedoel was nie. Daardie preek het nie vir jóú 'n boodskap gehad nie. En dat jy dan tog ook reg is: daardie preek was nie vir jou nie, maar jy móés daardie preek gehoor het, want heel moontlik ken jy iemand wat die preek moes hoor, of iets gebeur vorentoe dat jy daardie spesifieke preek nodig kry. Dan is jy bly dat jy daardie preek gehoor het.



Onthou, 'n preek, is nie iets wat net tot die kerk of tot die Sondag beperk is nie. 'n Preek is veronderstel om jou hele lewe saam met jou te gaan. Soos wanneer 'n mens by 'n vulstasie stop en brandstof ingooi. Baie kere gooi 'n mens net in jou eie voertuig brandstof in, maar dit gebeur ook somtyds dat 'n mens brandstof in kannetjies ingooi vir latere gebruik of om iemand in nood te help of miskien vir 'n ander gebruik, soos vir 'n grassnyer of vir 'n boot se enjin. Tog gaan eenkeer se stop by die vulstasie 'n mens nie ver die res van jou lewe van brandstof voorsien nie en die brandstof wat jy in die kannetjies gegooi kan jy dalk nooit gebruik nie. Maar tog is dit nodig om daardie brandstof in die kannetjies te gooi, net vir ingeval . . . 'n Mens weet nooit nie!



Net so is dit ook nodig vir elkeen van ons om gereeld by ons geestelike vulstasie te stop - om geestelike brandstof in te gooi, om ons geestelike kannetjies vol te maak vir daardie dag van nood, om ons vensters skoon te maak en sommer ook te kyk of ons nog genoeg olie en water in het.



Dit sal daartoe lei dat ons nie beterweterig of hoogmoedig sal wees nie. Wat ons gedagtes betref, sal ons Jesus se voorbeeld navolg. Want ons het alles ontvang op grond van Christus se offer en opstanding.



Want ons "geloof is nie op die wysheid van mense gegrond nie, maar op die krag van God."



Amen.




Hosted by www.Geocities.ws

1