Preek 10



Scriptura 2000

Junie 2000

Preke vir leesdienste in opdrag van die Ring van Pietermaritzburg

http://www.geocities.com/pmb_za




Gebedsnood

Romeine 8: 23 - 27






Skrywer: Ds. Petrus Harmzen

Gemeente van herkoms: Pietermaritzburg



Geleentheid: Algemene Prediking



Orde: F



Lofsang: Psalm 18: 1 & 14

Skuldbelydenis: Gesang 238:1

Geloofsbelydenis: Gesang 5:3

Gemeentesang: Gesang 311:1

Slotsang: Gesang 294






Erediens



Votum: Want ek het julle lief, sê die Here.



Lofsang: Psalm 18: 1 & 14



Na die wet: Gesang 238:1



Na geloofsbelydenis: Gesang 5:3



Skriflesing: Romeine 8: 23 - 27

"...Bevoorreg is hulle wat die Woord van God hoor en dit onderhou."



Sang as Gebed: Gesang 311:1



Prediking



Slotgebed



Slotsang: Gesang 294



Seën: Mag die genade met elkeen wees wat ons Here Jesus Christus met 'n onverganklike liefde liefhet. Amen.





Preek



Geliefdes in ons Here Jesus Christus.



Waarom leef ons so dikwels op die rant van die geloof?



Wat kan gedoen word om ons geloof weer te laat groei, te laat bloei en aktief te maak? Anders gestel: hoe kan ek as kind van God, voortdurend in Sy genade voluit as Christen leef in totale dankbaarheid as verloste mens?



Die rede waarom dit vir my as kind van God onmoontlik geword het om voluit vir Christus te leef is my gebroke verhouding waarin ek deesdae tot God staan. My verhouding tot God het by baie van ons ontaard tot 'n spaarwiel-verhouding wat ek slegs in nood, in kritieke situasies, hartseer oomblikke ens. gebruik. God is nie meer u en my STUURWIEL, my STUURMAN, my KAPTEIN van my lewe nie. Dit alles - die rede hiervoor - kan opgesom word in een enkele woord wat ons as Christene verwaarloos. EEN WOORD my liewe gemeente, en dit is GEBED.



Wat weet u van "gebed"?

Wat is "gebed"?

Wanneer laas het u na u gebedslewe gekyk?

Hoe voel u oor "gebed"?

Is "gebed" nog sentraal in u lewe?



Laat ons deur saam te dink en gesels oor 'n paar sake rakende gebed om bogenoemde vrae te antwoord.



GEBED is 'n gesprek met en tot God. 'n Gesprek is 'n mededeling van feite, aandagtige luister en deelname. Wanneer laas het u tafelgebed, u erediensgebed, u stiltetyd en huisgodsdiensgebed al hierdie fasette behels en bevat. Is dit werklik nog vir u 'n GESPREK of bloot net 'n gewoonte?



Gebed is aanbidding in dankbaarheid.



a) Dankbaarheid oor God se genade.

Dankbaarheid oor God se goedheid vir my.

Dankbaarheid oor God se verlossingswerk deur Christus.



b) Dankbaarheid om te weet God luister.

Dankbaarheid om te weet God is daar.

Dankbaarheid om te weet God gee om.

Dankbaarheid om te weet God verlos.

Dankbaarheid om te weet God help.



Dit terwyl AANBIDDING die aanroep is van 'n hoër en groter hand as ek self.

Bid u nog so?

Daarom sê 'n geleerde wat ek graag vir u aanhaal: "There is no more healthy emotion than gratitude, nothingmore positive, more deeply human than saying thank you - the eternal prayer of christain worship from the beginning has been thanksgiving".

GEBED is die erkenning van God as God ook van my lewe. As ek so bid vloei onderwerping aan God en 'n bereidheid om Hom te dien daaruit.

GEBED is aanroeping tot God wat verhewe bo my is, maar na my vlak toe afbuig weens sy liefde.

GEBED is smeking tot God wat my liefhet om Genade.

GEBED is die worsteling met God en die gedagte dat Hy na my omsien.



Wanneer laas het u dit in gedagte gehou toe u gebid het?



GEBED is die mooiste geskenk wat Christus aan u en my gegee het deur Sy kruisdood wat nou kan ons ook tot God bid, na God gaan in gebed want die gebroke verhouding teenoor ons en God is herstel.



Besef u dit gereeld?



GEBED is wat God vra om geloofsgroei te beleef. Slegs deur GEBED (die regte manier van gebed) kan ek beweeg word tot onderwerping, bereidheid en selfoorgawe vir God.

GEBED alleen gee krag en geestelike groei.

GEBED alleen gee geloof om God reg te dien.



Graag sluit ek af deur die teksvers te herhaal (vers 26). Die Gees van God staan ons ook in ons swakheid by, ons weet nie wat en hoe om te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie.



Ek hou graag aan u die volgende voor:



DIE VERSKIL

Ek het een more opgestaan Aan die begin van 'n nuwe dag.

Daar was nie tyd om eers te bid nie - Te veel dinge het op my gewag.



My probleme het my oorweldig, Die een groter as die ander.

" Waarom help God nie?" het ek gewonder

En Hy het gesê: "Jy het nie gevra nie".



Ek wou vrede en vreugde ervaar. Maar om my was trane en pyn;

"Here waarom gee U dit vir my?"

"My kind, jy het niks meer gesoek nie."



Ek het God angstig probeer vind, Die deur probeer oopmaak na Hom.

Maar Hy het sag en vol liefde gesê: " My kind, jy moet net klop".



Ek het vanmore opgestaan Aan die begin van 'n Nuwe dag.

Daar was genoeg tyd om eers te bid,

Want soveel dinge het op my gewag.

Mag God gee dat ons elkeen weer opnuut sal gaan bid teenoor God. U sal verstom staan oor die verloop van u lewe daarna.



AMEN.




Hosted by www.Geocities.ws

1