Scriptura 2000
Junie 2000
Preke vir leesdienste in opdrag van die Ring van Pietermaritzburg
http://www.geocities.com/pmb_za
Handelinge 17: 16-34
Teksvers: 27b: Hy is nie ver van enigeen van ons af nie.
Gemeente van herkoms: Empangeni
Geleentheid: Advent (of enige ander tyd)
Orde: 5
Lofsang: Gesang 10:1,2,3
Skuldbelydenis: Gesang 266:1
Geloofsbelydenis: Gesang 80:1
Gemeentesang: Gesang 314:1,2,3
Slotsang: Gesang 89:1,2
Erediens
Votum: Stuur u lig en u waarheid dat dié ons lei en ons bring na u heilige berg, na u woning. Amen.
Lofsang: Gesang 10:1,2,3
Na die wet: Gesang 266:1
Na geloofsbelydenis: Gesang 80:1
Skriflesing: Handelinge 17: 16-34 (Teksvers: 27b: Hy is nie ver van enigeen van ons af nie)
Tot sover die Skriflesing. Gras verdor en blomme verwelk, maar die Woord van ons God bly vir ewig.
Gebed
Sang: Gesang 314:1,2,3
Prediking
Slotgebed
Slotsang: Gesang 89:1,2
Seën: Mag die genade van die Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees met u almal wees. Amen.
Preek
Gemeente van ons Here Jesus Christus,
Athene was in die tyd toe die boek Handelinge geskryf is (en is vandag nog) 'n imposante stad met pragtige geboue, raadsale, tempels, howe, monumente en standbeelde. Dan is daar ook nog die bekende Partenon wat bó die stad uittroon. Dit was die hart van die Griekse kultuur, filosofie en opvoeding.
Tog was Paulus diep geskok toe hy die stad besoek het en sien hoeveel afgodstempels daar in Athene was. Hy het egter nie verskrik geswyg toe hy soveel afgodery sien nie. Hy het opgetree. Gelukkig was die Atheners intelligente mense wat altyd bereid was om na nuwe standpunte te luister. Terwyl Paulus besig was om vir hulle van Jesus Christus te vertel, nooi hulle hom uit om hulle op die Areopagus toe te spreek.
Die Areopagus is 'n heuwel digby die Partenon. Van hier het hulle 'n lieflike uitsig oor die stad gehad in alle rigtings. Hierdie was dan ook die aangewese plek vir die leiers en intellektuele van die stad om te ontmoet en sake van die dag te debatteer. Dit was 'n meer geskikte plek as die stadsplein as daar oor diep dinge gesels moet word. Ons lees in Handelinge 17 dat 'n paar wysgere, veral twee groepe genaamd Epikureërs en Stoïsyne, met Paulus gestry het en hom na die Areopagus geneem het sodat hy daar vir hulle meer kan vertel van die vreemde God waarvan hy gepraat het.
Die Epikureërs en Stoïsyne was die belangrikste filosofiese denkrigtings van dié tyd gewees. Die Epikureërs se uitgangspunt was dat die soeke na geluk en plesier die heel belangrikste in die lewe is. "Eet en drink en wees vrolik want môre sterf ons", was hulle leuse. Die Stoïsyne het weer geglo dat ware geluk in die afwesigheid van enige emosie lê. Hulle het 'n uiters gedissiplineerde lewe gehandhaaf sonder pyn en sonder vreugde. In hierdie emosielose bestaan het hulle dan 'n onverstoorbare berusting gevind. Afgodsdiens was grondliggend deel van albei groepe.
En nou sit Paulus daar op die Areopagus saam met hierdie klomp filosowe en vertel vir hulle van die enigste, ware God. Terwyl hulle vir die eerste maal hoor van God-drie-enig, en die verlossing in Jesus Christus, kon hulle afkyk na die stad en al die afgodsbeelde sien - afgode wat, volgens Paulus, leweloos en nikswerd was.
Gelukkig weet ons dat Paulus sy man baie goed kon staan tussen die slimstes van die slimmes. Hy het nie 'n enkele tree teruggestaan vir die mees geleerde Griekse filosoof nie. Hy het immers oorspronklik van Tarsus af gekom - 'n stad wat bekend was vir sy goeie opvoedkundige geriewe. Hy het dus die agtergrond en kennis gehad om oortuigend met hierdie filosowe te redeneer. Verder het Paulus die Joodse wet en gebruike baie goed geken want hy het onder die groot leermeester, Gamaliël, gestudeer. Hy was ook iemand wat homself altyd deeglik voorberei het vir enige gesprek of preek.
Dit is baie interessant om te sien hoe Paulus die evangelieboodskap oorgedra het aan 'n klomp Griekse filosowe wat dit nog nooit tevore gehoor het nie. Hy begin nie op sy gebruiklike manier deur na die Joodse geskiedenis te verwys nie. Hy het besef dat dit niks vir hierdie Grieke sou beteken nie. In plaas daarvan begin hy deur vir hulle te vertel van die een ware God. Om dit te doen gebruik hy voorbeelde wat vir hulle bekend is.
Paulus vertel vir hulle dat hy, terwyl hy deur die stad geloop het, tussen hulle aanbiddingsplekke 'n altaar gekry het waarop geskrywe staan "Aan 'n onbekende god" (vers 23). U sien, die Grieke was bang dat hulle, ten spyte van die ryke verskeidenheid beelde en tempels, steeds een god uitlaat, en dit verklaar dan die bestaan van hierdie altaar. Paulus gebruik nou hulle eie stad en kultuur as vertrekpunt. Wat meer is, hy vertel vir hulle dat hy weet wie hierdie "onbekende god" is. Heel gou het hy hulle in die palm van sy hand en hulle hang behoorlik aan sy lippe. Onthou, hierdie was 'n klomp filosowe, baie slim, maar ook soekend en oopkop.
Paulus het dit besef en stadig maar seker praat hy in 'n rigting tot waar hy so reg in hul eie filosofiese taal vir hulle sê dat die mens 'n soekende wese is. Hy móét soek, hy móét vrae vra, hy móét wonder - dis die aard van menswees. Hiervan het die filosowe sommer baie gehou! En dan kom Paulus uit by die kern: Hy is nie ver van enigeen van ons af nie�
Gemeente nêrens anders in die Bybel word die betekenis van Kersfees vir ons so duidelik saamgevat as in hierdie een sinnetjie nie. God het in Jesus vir ons kom wys dat Hy nie ver van ons af is nie. As jy jou hand uitsteek, raak jy aan Hom. As jy jou oë sluit hoor jy sy stem. Deur sy skepping word ons voortdurend herinner aan sy goedheid en almag. Meer nog as dit: jy kan enige oomblik met Hom gesels, oor enigiets. En dit is net moontlik omdat Jesus 'n mens geword het, een nag in Betlehem. Dit is iets besonders en kosbaars wat ons as gelowiges het.
Die filosowe daar op die Areopagus was in totale verwondering oor hierdie God wat nie ver van gelowiges af is nie;
� nie in beelde en altare nie
� nie in mooi filosofiese argumente nie
� nie in luisterryke tempels nie
� nie in ideologieë nie�
maar in 'n krip, in 'n stal in Betlehem vind ons Hom, en Hy is steeds elke dag deur die Gees naby ons, in ons.
Paulus rond sy boodskap af deur sy verstomde toehoorders te vertel van Jesus se opstanding en hy sê dat dit iets in die lewe van elke mens beteken: dit is òf 'n seën, òf dit lei tot oordeel.
Die Grieke het nie geweet van iets soos "oordeel" nie. Die meeste het verkies om baie gode te aanbid want dan kan 'n mens mos die toorn van 'n spesifieke een maklik vermy. Verder was die gedagte aan 'n opstanding uit die dood nie net vir hulle ongeloofwaardig nie, maar ook aanstootlik.
Paulus het egter nie die waarheid verswyg of met 'n lagie versiersuiker bedek nie, al het hy geweet hoe hulle daarop sou reageer. En hulle het ook op verskillende maniere daarop gereageer. Party het onmiddellik gelowig geword, onder andere 'n lid van die Areopagus en 'n vrou genaamd Damaris. Hulle het hulle daar en dan by Paulus aangesluit. Ander wou eers nog meer weet. Sommige het hom egter openlik uitgelag.
Die Epikureërs en Stoïsyne was sekerlik nie maklike mense om te oortuig nie en mens is dankbaar dat baie van hulle die boodskap so goed ontvang het. Maar nou lees ons dat party vir Paulus uitgelag het, en dit is 'n bietjie onstellend. Mens voel lus om vir hulle te sê: LAG VIR JULLESELF!! Want daar is nie meer vandag sulke groepe soos Epikureërs en Stoïsyne nie. Hulle het sommer in die eerste eeue na Christus met hulle vreemde filosofie en al uitgesterf!
Daarteenoor is daar vandag letterlik biljoene mense regoor die wêreld wat gereed maak vir die naderende Kerstyd. In Athene tref ons hulle aan, en in Suid-Afrika. In Australië en Korea en Indonesië. In Bosnië en Kroasië en Amerika. Oral oor die ganse aarde.
So, vir die elitistiese, gekultiveerde, afgodsdienende koggelaars van Athene kan ons maar net sê: "Lag vir julleself want van al julle filosofieë, afgode en hooghartigheid het net mooi DADELS gekom!"
Maar ons, ons het die Seun. Vir ons is die Heiland gebore - en Hy is nie ver van enigeen van ons af nie.
Hy wat die wêreld, en vir ons, gemaak het, en sy Seun na ons toe gestuur het is nooit ver van enigeen van ons af nie.
Amen