Preek 8
Scriptura 2000
Junie 2000
Preke vir leesdienste in opdrag van die Ring van Pietermaritzburg
http://www.geocities.com/pmb_za
Handelinge 10 : 7 tot 44
Gemeente van herkoms: Durban-Suid
Geleentheid: Pinkster / Evangelisasie / Dankdag vir die oes
Orde: 12
Lofsang: Psalm 23:1,3
Skuldbelydenis: Gesang 23:3
Geloofsbelydenis: Gesang 47:1,3
Na Gebed: Gesang 67:1,2
Na Skriflesing: Gesang 64:1,2
Slotsang: Gesang 62:1,2,3,4
Erediens
Votum: Die Here roep ons byeen met die woorde:"Kom almal wat dors het, kom na die water toe, selfs ook die wat nie geld het nie, kom, koop, en eet.
Lofsang: Lofsang: Psalm 23:1,3
Na die wet: Gesang 23:3
Na geloofsbelydenis: Gesang 47:1,3
Skriflesing: Handelinge 10 : 7 tot 44
`n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom.
Sang: Gesang 64:1,2
Gebed
Sang: Gesang 67:1,2
Prediking
Slotgebed
Slotsang: Gesang 62: 1,2,3,4
Seën: Mag die genade met elkeen wees wat ons Here Jesus Christus met 'n onverganklike liefde liefhet. Amen.
Preek
Onthou julle ook "Babette's Feast"(= Babette se fees-ete)? Dis `n fliek wat een jaar die Oscar gekry het vir Best Foreign Film. Dit gaan oor `n vrou wat uit Parys uit vlug en `n heenkome vind in `n verafgeleë, armoedige ou plekkie iewers aan die Skandinawiese kus. Sy trek by twee baie godsdienstige oujongnooi-susters in, en word hulle huishoudster.
Babette kan kos kook, soos niemand anders dit kan doen nie. Sy's eintlik `n beroemde kok, maar diè vind jy aan die einde eers uit.
Dan, op `n dag, wen Babette die lotery. En sy vra of sy die gasvryheid van haar gasvroue kan beloon deur vir hulle `n spesiale ete te kook. Dan laat sy van Frankryk af die mees eksotiese kossoorte denkbaar kom: skilpadjies in die dop, paddaboudjies, kaviaar en white bait, steurgarnale en kreefstert, en wat nog al's, glibberige goggas met oë wat van jou bord af vir jou kyk. Dit alles rond sy af met die beste Franse port en rooiwyn.
Toe die goed voor daai godsdienstige mense op die tafel kom, kry hulle dit nie geëet nie: dis dan onrein goed! Tot hulle met mekaar ooreenkom: hulle eet dit nie vir hulleself nie, maar ter wille van Babette, dat sy nie moet sleg voel nie. Die Here sal verstaan. En die res is geskiedenis: die ete is `n hemelse ervaring wat hulle in hulle lewe nooit weer sal vergeet nie.
Tot in die teater kon jy daai kos ruik en proe. `n Skare vol kwylendes is daar uit, na kos op soek.
Sodat aan die einde van Babette se ete, almal om die tafel hulle dankgebede bid om vir God te loof oor die kos, en oor Babette.
Kyk, daar beland baiekeer op jou tafel wat jy nie wil eet nie. Oor jy nie altyd self jou eie tafel kan dek nie. Die lewe is geen restourant nie, waar jy kan kies waarvoor jy lus het nie. Meestal eet jy nie oor jy lekkerkry nie, maar oor jy moet.
Ek onthou hoe ek kleintyd langtand gekou het aan blomkool en broccoli. En ja, ek skrik vir koue pampoen, en vir warmes ook! En vir afval, maak regtig nie saak hoe goed jy hom kerrie nie. Jy kon jou naar maak daarvan en `n pak slae op die hals haal. Of jy kon maar eet met die geneul in jou ore dat dit tog, na alles, goed is vir jou. En vir my was daai woorde baie na aan `n vloek wat oor my uitgespreek word. "Dis-goed-vir-jou" het elke keer sonder uitsondering beteken: staal jouself maat; hier kom gal! Nou nog sê `n vriend van my wat nie sy mond aan rooibostee sit nie, dis vreeslik goed vir mens, die rooibos! Maar, gelukkig, hy's nie siek nie.
God voer jou ook goed wat jy nie wil eet nie. Want dis nie wat jy saai en plant wat jy later kan oes en eet nie. Dis God wat jou tafel dek. Met wat goed is vir jou... Mens hoop maar dis jou oes wat op jou tafel beland. Maar soms lê daar op jou tafel iets onverwags gedek. Iets anders as wat jy beplan het om te eet, want dis iets wat jy nie gesaai of geplant het nie. Iets waarvoor jy ook nie juis aptyt het nie.
Dis trouens hoe ons genade kry. As dit die slag genade is wat jy oes, toe dit eintlik straf was wat jy verdien het om te kry, kan jy oor so `n skeefgeloopte oes dankbaar wees. Neem, eet en drink almal daarvan, dit is die liggaam en die bloed van Christus tot vergiffenis van al julle sonde. Dan eet jy gulsig.
Maar soms oes jy iets slegter as wat jy ingewerk het. Iets wat jou herinner aan daai naar-word-vir-pampoen.
Want die Here dek jou tafel, sien.
Uit die slawehuis uit, trek die Israeliete weg met beloftes van oorvloed. Maar met geen plek om te ploeg en te plant nie, en geen water om te laat groei of met iets te broei nie, is hulle gou swak van die honger en broos van die dors. God het vir hulle `n tafel gedek wat Egipte na `n vleispot laat lyk het. Tot dit later brood en kwartels reën.
Kanaän moes `n land van melk en heuning wees. Maar vir veertig jaar na hulle dit gesien het, kry hulle daarvan nie `n proesel in nie. God dek vir hulle net woestyn. En toe hulle eindelik kon ingaan, in die land van reuse vrugte en groot groente in, eet hulle stof en drink hulle bloed in mislukte oorloë teen reuse mense met sterk artillerie.
Jou tafel is soms gedek met die bitter vrug van sonde. Met die gif van sonde! Jou tafelgebed sê dan nie dankie nie. Jou tafelgebed klink dan soos `n pleidooi dat jy asseblief nie hoef te eet wat vir jou opgedis is nie, dat God die bitter beker by jou moet laat verbygaan sonder dat jy dit self moet sluk.
Ons kan min beplan van wat op ons spyskaart sit. Want die Here dek jou tafel...
Petrus raak op `n ongewone tyd van die dag onverklaarbaar so honger dat hy sy gasheer, Simon die leerlooier van Joppe, vra om vir hom kos gaar te maak. Hy gaan op die dakstoep wag. En terwyl hy vir sy kos wag, bid hy. Dan sien hy `n gesig. Die hemel gaan bokant hom oop. En uit die hemel uit kom `n tafeldoek na hom toe afgesak. Nes in Noag se ark, is daar op daai tafeldoek omtrent al wat `n dier is, viervoetig en kruipend. En elke denkbare wilde voël. En dan die stem: Petrus, Ek sien jy's honger. Kom, kom slag en eet!
Nooit! Nooit nie, Here. Ek het nog nie een keer in my lewe die wette wat God gemaak het oor watter diere onrein is, oortree nie: ek het nog nooit my mond aan onrein kos gesit nie. Hoe honger ek ookal word, mens leef nie net van kos nie, maar van elke woord wat uit God se mond kom, dan nie? Aikona! Dan bly ek liewer honger.
Die stem antwoord: Wat God rein verklaar het, mag jy nie meer as onrein beskou nie, Petrus. En God dek hierdie honger man se tafel vol "onrein" goed. As dit al is wat God jou gee om te eet, sal jy eet. As jy honger genoeg is, sal jy net moet! En van alles die moeilikste om te glo, is dit: dat dit buitendien goed is vir jou! Maar al is die tafel wat God dek hoe "goed vir jou", sy dieet is nie altyd lekker om te eet nie. Dog, dit hou jou aan die lewe, is dit nie?
En drie maal na mekaar gebeur dit, dat dit nie sommer Petrus se verbeelding was nie, of `n soort hallusinasie wat mens kry as jou bloedsuiker oor jou hongerte val nie.
Net toe klop die drie mans van Kornelius af, die heidense kaptein van die Italiaanse Regiment, onder aan die deur. Vir Petrus sê die Heilige Gees op die een of ander manier: Ek het hulle gestuur, Petrus; moenie aarsel nie: gaan saam!
Die volgende dag vat Petrus die pad na Kornelius toe, van Joppe af, Cesarea toe.
Daar aangekom, wag daar `n klein skare mense. Kom in!, nooi hulle vir Petrus en sy gevolg. Jode mag nie met heidene omgaan nie, nie in hulle huise in nie, en mag beslis ook nie saam met hulle eet nie. Heidene kan nie deel van die oes wees nie, dink Petrus, want daar's ook nie onder hulle gesaai nie. Hierdie is onrein diere op `n tafeldoek... Kan uit hierdie diere kinders van God kom? Kan dit wees waarom God...? Hierdie oes is dan baie anders as wat verwag is...
Waarom het julle my laat kom?, vra Petrus. Kornelius sê daar was `n engel by hom. Die engel het gesê hy moet vir Petrus opsoek en uitnooi.
Dan seker om te preek, dink Petrus. Daarvoor het God hom laat kom: om te kom preek. En Petrus preek vir die klomp heidene oor Jesus. Maar ek twyfel of hy selfs toe al `n idee gehad het van die oes wat sy saaiwerk gaan oplewer.
Hy preek: eers oor Johannes die Doper, die voorloper; en dan oor Jesus, die Joodse Christus, die Man van Nasaret, wat met die Heilige Gees gesalf is, duiwels verjaag, en mense gered het. God was by hierdie Jesus. Mense het Hom doodgemaak, God het Hom opgewek, en aan ons het Hy springlewendig verskyn: Hy`t dan selfs saam met ons geëet! Net aan ons apostels het Hy verskyn sodat dit ons lewe geword het: om mense van Hom te vertel. Ons kan ook nou daarvan getuig, sê Petrus: hierdie Jesus is die Een wat God nou aangestel het as Regter, oor lewendes en dooies, oor alle mense dus! Daarom elkeen wat in Hom glo, se sondes word volkome vergewe.
Dan kom die oes wat Petrus nooit kon verwag het nie, en dalk ook nie juis wou hê nie. God stort op daai heidene sy Heilige Gees uit, nes oor Petrus-hulle `n ruk terug. En daai heidene reageer nie anders as die Jode nie: kompleet met ongewone tale en klanke, en met lof aan die God van die Jode!
Petrus-hulle staan stomverslae. Hulle kou en sluk swaar aan viervoetige diere, kruipende goggas en wilde voëls. Hulle eet langtand, soos die gaste om Babette se tafel, aan die keur van French cuisine - in Petrus se geval: Italiaanse pizza en -pasta! Hulle sluk swaar aan die beste wyn wat, soos by Kana, vir laaste gebêre is.
Maar die implikasies is duidelik, en Petrus se gevolgtrekkings is die enigstes wat sin maak: God het hierdie heidene rein verklaar. Niks mag meer keer dat die kerk dit ook doen nie: hulle moet gedoop word. Die redding in Christus, is toe vir hulle ook bedoel. Hier moet die kerk kom oes. Petrus besef op daardie oomblik die oes - as jy onder onrein goed ook maar mag jag om vryelik te eet - die oes is dan veel groter as wat hy verwag het, groter as in jou wildste drome. Geen wonder die arbeiders is gans te min nie; hulle weet nog nie waar hulle oral mag en moet oes nie. En geen wonder daar's soveel hongersnood nie; hulle weet ook nog nie wat hulle alles kan eet nie.
Dit laat my wonder oor ons, ons hier in ons gemeente. Is hier dan niks meer om te oes nie? Dat ons so oor tekorte bekommer? Waarom is ons oeste inderdaad dan so karig? Waar saai hierdie gemeente? Waar saai jy? En waar saai God? Want dan moet jy tog daar waar God saai ook jou oes gaan soek!
En wat verwag jy om te oes? Wat moet ons gemeente in sy oes kan wys? En wat oes ons regtig? Net `n gesukkel? `n Moedelose stryd? `n Oeslose landery, die een misoes na die ander, oor ons ploeg in `n dorre landskap met arm grond? Is dit nie dalk oor ons nog nie die oes op plekke wou raaksien waar God dit wit in die blom laat staan nie, dalk net oor die oes daar vir ons onaanvaarbaar lyk nie? Ons oes nie hubbard squash nie, want dis nie vir ons lekker nie?
Dis dalk die vraag wat ons ons moet afvra: wat keer dat ons oes? Wat staan in ons pad? Vooroordeel, voorveronderstellings en misplaaste voorkeure, soos by Petrus, oor wie vir hierdie gemeente van ons, en daarna eers vir die Koninkryk van God, goed genoeg gaan wees?
Dis dalk selfsug wat maak dat ons self wil besluit waar en wat ons oes, oor ons weet wat jy oes moet jy eet. En ons eet om die dood nie lewer of kool nie. Dis dalk hoekom ons met honger mage van dakstoepe af bid, en botweg weier om te eet wat die Here dan voorsit. En is ons verwagtinge verkeerd? Dat ons dalk genoeg het om van te oes maar dit nie weet nie, oor ons nie weet die goed is eetbaar nie? Of anders oor ons ons oeste aan ander goed meet as wat God dit doen?
Die Here dek honger mense se tafels met kos wat ons nie altyd wil hê nie. Maar beggars can't be choosers, of hoe? Dog, daar's `n nog beter rede voor, broes en susters: die oes kom van God af, want dis sy oes, en nie ons s'n nie; laat ons dit `n keer weer leer!
Wat wil die Here hier oes? Wat het Hy hier gesaai? En wat verwag Hy gaan Hy hier terugkry? En het Hy al iets daarvan hier by ons kon sien?
Ek moet eerlik wees: ek ken nie die antwoorde op hierdie vrae nie. Ek stoei met hulle, want ek dink gedurig: as ons geweet het, sou ons nie so moes veg vir oorlewing nie.
Maar wat die Bybel sê is dat, waar God die Heilige Gees plant, mense die krag van Jesus se opstanding oes wat help om te doen wat God wil hê: en dit is dat Christus verkondig word. En dat die verkondiging van Christus weer mense gesond maak, oor Christus hulle uit die greep van die sonde loskry. Wat die Bybel sê, is dat waar mense in Christus begin glo, maak nie saak wie die mense is nie, hulle sonde vergewe word.
En dit weet ek wel: ons s'n is! Ons wat heidene is, se sonde is vergewe, en die Heilige Gees leef ook hier.
God dek Petrus se tafel met onrein diere. Dalk ons tafel ook. Miskien is die vraag of ons honger genoeg is om te eet wat God vir ons dek, en of ons neus optrek vir God se spyskaart vir hierdie gemeente.
Neem, eet, anders kan die pad vir julle te lank word...
Amen.