Preek 7
Scriptura 2000
Junie 2000
Preke vir leesdienste in opdrag van die Ring van Pietermaritzburg
http://www.geocities.com/pmb_za
Matteus 25:1-13
Gemeente van herkoms: Pinetown
Geleentheid: Lydenstyd
Orde: Orde 1
Lofsang: Gesang 81:1,2,3,4
Na die Skriflesing en gebed: Gesang 166:1
Slotsang: Gesang 2 23:1,2,3,4,5
Erediens
Votum: God sê in sy Woord: As Ek die huis nie bou nie, swoeg díe wat daaraan bou, tevergeefs. As Ek die stad nie beskerm nie, waak díe wat dit beskerm, tevergeefs.
Lofsang: Gesang 81:1,2,3,4
Skriflesing: Matteus 25:1-13
Tot sover die Skriflesing: My Woord is soos vuur, sê die Here, soos 'n hamer waarmee klippe stukkend gebreek word.
Gebed
Sang: Gesang 166:1
Prediking
Slotgebed
Slotsang: Gesang 2 23: 1,2,3,4,5
Seën: Mag die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees by julle almal wees. Amen.
Preek
Gemeente van ons Here Jesus Christus,
Ons almal ken die term om gereed te wees. Verbeel jou jy is op 'n atletiekbaan. Wanneer die atleet in die wegspringblokke is, is alles nog rustig wanneer gesê word op julle merke. Eers wanneer die afsitter sê gereed begin die aksie. Elke spier is reg en ingespan vir die aksie. Die fokus van die atleet is die wedloop en die eindstreep wat voorlê. Die enkele woord gereed beteken op daardie stadium alles.
Gereed praat van oefening wat gedoen is; van tyd en moeite en sweet om reg te wees vir die wedloop. Dit sê alles van die atleet se lewe, oefening, wedloop en doel.
Die gelykenis wat ons gelees het, praat ook van om gereed te wees. Hierdie gedeelte val binne die konteks van die Matteus evangelie waar Jesus Christus besig is om te praat oor die koms van die Seun van die mens. Hy praat oor die dag wanneer die Koninkryk van God sal aanbreek. Dit is kort voor die lydenstyd.
So praat Hy in vers een en sê: Dan sal dit met die Koninkryk van God gaan...
Op die dag sal dit gaan soos die verhaal wat Hy vertel. Daar is tien meisies wat uitgaan om langs die pad te wag vir die bruidegom wat daar moet verbykom. Daar is vyf meisies wat slim genoeg was om olie saam te neem. Die vyf ander het nie olie saam geneem nie. Om een of ander rede is die bruidegom laat en kom toe nie op die tyd wat hulle verwag het nie. Hulle raak toe aan die slaap.
Toe hulle hoor dat hy aankom, staan almal op en maak hulle lampe reg. Die dwase meisies kom agter hulle het nie genoeg olie om hulle lampe te laat brand nie. Die logiese is om vir die ander 'n bietjie olie te vra. Ongelukkig was daar net genoeg ekstra olie vir vyf van die meisies. Die ander moes toe gaan olie soek.
Ondertussen kom die bruidegom verby en almal wat langs die pad was, gaan saam met hom in die huis waar die troue gehou word. Die ander meisies het olie gekry en kom ook daar aan. Die deure was egter alreeds toe en hulle kon nie ingaan nie.
Dit is 'n eenvoudige en alledaagse verhaal wat iewers gebeur wat daar 'n Joodse troue is. Dit vertel van gebruike wat op die troue moes plaasvind. Meisies wat die bruidegom langs die pad inwag om saam met hom na die fees te stap.
Maar Christus gebruik hierdie beeld om iets oor te dra....
Ons het netnou gesien dat die verhaal inpas in die deel waar Jesus Christus die skare leer oor die koms van die Seun. Wanneer dit sal gebeur weet niemand nie. Sommige sal nog rustig wees asof hulle op julle merke is. Hulle sal nog wag op die bevel om gereed te wees. Ander sal gereed wees en reg vir dit wat kom. Die wat nog op julle merke is, gaan die wedloop mis - klaar en uit en gedaan. Hulle gaan te laat wegspring om eers iets te beteken vir die wedloop. Hulle kan maar los.
Die basiese boodskap is eenvoudig: wees gereed vir die koms van die Here want jy weet nie wanneer dit gaan gebeur nie.
Ons kan nog rustig op ons merke wees. Jy weet mos iewers gaan die afsitter jou waarsku om gereed te wees. Jy kan op daardie stadium besig wees met so baie dinge wat ook gedoen moet word. Terwyl jy wag om gereed te wees, is daar darem nog my werk en vriende wat ook aandag moet kry. Die kinders eis 'n klomp van my tyd op. Ek moet darem nog tyd vir myself ook oorhê. O ja, oor langnaweke en skoolvakansie is God ook mos op vakansie en daarom kan ek nog lekker rus omdat ek weet dat die beveel gereed nog sal kom.
Ek meen darem: ons is al in die wegspringblokke. Ons het al die moeite gedoen om daar te kom. Ons wil eintlik daar wees - saam met die ander atlete wat aan die wedloop deelneem. Ons wil ook die wedloop hardloop. Ons wil dit nie mis nie. Daar is 'n fees wat voorlê. So, ons sak weg in die blokke: op julle merke...
Ek het 'n probleem daarmee om op julle merke te wees. Daar is 'n paar foute wat ons maak.
Iets moet ons doen. Die waarskuwing is immers om klaar te wees met op julle merke. Die opdrag is om gereed te wees as die Here kom. Dit was die dwase meisies se probleem. Hulle wou, hulle was daar, maar nie gereed vir die manier en tydstip van sy koms nie.
Hoe moet ons dan gereed wees? Die skrywer van die evangelie is ook nie onduidelik daaroor nie. Hy skryf die gelykenis saam met 'n klomp ander wat handel oor die einde van die tyd. Groot klem word ook in die evangelie van Matteus gelê op die uitvoer van die liefdesgebod. Trouens, in dieselfde hoofstuk is Jesus Christus se bekende woorde: Vir sover julle dit aan hulle gedoen het, het julle dit ook aan My gedoen...
Ons is slegs gereed as ons in geloofsgehoorsaamheid en dankbaarheid voor die Here God leef. Ons is gereed as ons in liefde God en mekaar dien. Ons is gereed wanneer ons die roepstem van die Here God hóór en ook luister. Ons is gereed wanneer ons vandag hoor en doen uit liefde dit wat die woord en wet van God vir ons sê.
Daar gaan beslis mense wees wat nie gereed sal wees nie. Daarom is hierdie 'n baie belangrike saak. Wanneer die dwase meisies by die deur kom, besef hulle dat hulle maar net op julle merke was. Toe is die wedloop verby. Toe is daar nie meer kans nie. Te laat.
Hierdie is 'n dwingende vraag. Sê nou maar toe die deur vanoggend oopgegaan het en die kerkraad het in gestap, was dit die Bruidegom wat in heerlikheid in gestap het. Vra dan nou vir jouself:
As jy dan nog eers wou gaan olie koop, was dit te laat.
Dit is dalk nou die laaste kans wat jy het om gereed te wees.
AMEN.