Preek 6



Scriptura 2000

Junie 2000

Preke vir leesdienste in opdrag van die Ring van Pietermaritzburg

http://www.geocities.com/pmb_za




Die Here Voorsien

Jesaja 58:1-14






Skrywer: Ds. Riaan van Rensburg

Gemeente van herkoms: Richardsbaai



Geleentheid: Lyding



Orde: 5



Lofsang: Psalm 48:1+4

Skuldbelydenis: Psalm 119:1+63

Geloofsbelydenis: Psalm 33:1+11

Na Skrif en gebed: Gesang 311:1+3

Slotsang: Gesang 294










Erediens



Votum: Gemeente, "Luister, so sê die Here . . . : Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep. Jy is Myne."



Lofsang: Psalm 48:1+4



Na die wet: Psalm 119:1+63



Na geloofsbelydenis: Psalm 33:1+11



Aankondiging van die Skriflesing:

Ons Skriflesing vanoggend uit die Woord van God, is uit die Ou Testament, uit die boek Jesaja, hoofstuk 58. U vind dit op bladsy 776. Herhaal: Jesaja 58 op bladsy 776.



Gebed

Voordat ons saamlees, kom ons verootmoedig ons voor God en vra Hom om ons te lei deur hierdie erediens. Terwyl ons dan net so bly sit, met ons Bybels oop voor ons, kom ons sluit ons oë en bid saam.



Skriflesing

Jesaja 58:1-14

Hier eindig ons Skriflesing. ". . . 'n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom."



Sang: Gesang 311:1+3



Prediking



Slotgebed



Slotsang: Gesang 294



Seën: Mag die genade van ons Here, Jesus Christus, die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees by ons almal wees. Amen.



Preek

Broers en susters,

die teksvers vir die prediking vanoggend is Jesaja 58:11: "Die Here sal jou altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien. Hy sal jou sterk maak. Jy sal wees soos 'n tuin met volop water, soos 'n fontein waarvan die water nie opdroog nie."



"Die Here sal jou altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien. Hy sal jou sterk maak. Jy sal wees soos 'n tuin met volop water, soos 'n fontein waarvan die water nie opdroog nie."



Geliefdes in ons Here, Jesus Christus, enigiemand wat die nuusberigte dophou sal met my saamstem dat ons land se ekonomie aan die ondergaan is; dat die geweld in ons land aan die toeneem is. Daagliks word honderde mense vermoor, honderde vroue word verkrag en ten minste een polisieman word elke dag geskiet. Daagliks hoor 'n mens hoe daar by huise ingebreek word, hoe voertuie gehijack word. Die misdaad in ons land neem elke dag al hoe meer en meer toe. 'n Mens weet nie wat om te verwag as jy die dag by die huis uitstap nie en jy weet nie wat van jou huis oor is as jy die aand by die huis kom nie.



Dan hoor 'n mens hoe mense somtyds vra: Sien God nie raak wat met ons aangaan nie? Sien God nie raak wat met sy kinders gebeur nie?



Mense raak moedeloos met die omstandighede waarin hulle woon en werk. Mense wil weer in vrede leef, in die land van melk en heuning, soos die volk Israel geleef het.



Maar hierdie omstandighede waarin ons vandag leef verskil nie veel van die omstandighede waarin die volk Israel geleef het toe die boek Jesaja geskryf is nie. Die volk van God het ook swaargeskry, selfs na die ballingskap.



En dit is waar ons Skrifgedeelte sy plek het. Tritojesaja, soos wat die laaste 10 hoofstukke van die boek bekendstaan, is geskryf in die tyd nadat die volk Israel uit hulle ballingskap teruggekeer het na Jerusalem toe.



Hierdie ballinge wat na Jerusalem toe teruggekeer het, was moedeloos en teleurgesteld met hulle omstandighede. Op grond van Deutrojesaja se prediking het hulle 'n heerlike toekoms verwag. Hulle is egter gekonfronteer met die werklikheid; hulle word gekonfronteer met verwoesting, armoede en vyandigheid van die mense wat gedurende die ballingskap op die ruïnes van Jerusalem gesvestig geraak het. Van die wonderlike beloftes van Deutrojesaja het feitlik niks tereg gekom nie.



En aan hierdie swaarmoedige mense verkondig Tritojesaja dat juis hulle 'n heerlike taak het, naamlik om die wêreld vir God te wen! God se arm is nie te kort om te help nie, sy oor is nie doof nie (59:1). As die ballinge aan God gehoorsaam is, sal hulle lewe.



Tritojesaja verkondig dat hierdie verlossing van God ook verantwoordelikheid meebring. Israel moet reg leef en reg doen, dan sal hulle in vrede in die nuwe herboude Jerusalem kan woon.



'n Siek samelewing kan weer gesond word. En Jesaja spel vir ons die pad vir genesing uit 'n siek samelewing uit. Terugkeer na God is die enigste geneesmiddel wat die groot Geneerheer voorskryf!



Genesing word beloof vir die wat terugkeer tot God. God tree hier, soos in die begin van die boek Jesaja na vore as die almagtige, verhewe en heilige God. God is teenwoordig by die verdruktes, by hulle wat geen aansien het nie. God skenk sy hulp aan diegene wat in afhanklikheid van Hom leef. Die mense wat, soos Israel in ballingskap ly onder ongeregtigheid, kan verseker wees van God se bystand. God se toorn het lank op die volk gerus as gevolg van hulle sonde, maar Hy bly nie vir altyd toornig nie. Sy straf is daarop gemik dat die mens sy swakheid besef en na Hom terugkeer. Daarom word dié wat treur verseker van genesing. God sal hulle in staat stel om Hom weer te loof. Hulle sal vrede ervaar.



Die goddelose daarteenoor kan egter geen rus en vrede ervaar nie. Die oordeel van God wag op die goddelose. Hulle sal geen rus of vrede ervaar nie. Hulle is gedoem tot die onrustige bestaan van mense wat nie op die bystand van God kan staatmaak nie. Terugkeer tot God is die enigste pad tot genesing van ons sonde. Daarom moet jy al die struikelblokke wat tussen jou en God staan uit die weg ruim.



En dan lees ons in Jesaja 58 hoe die onreg wat die volk pleeg, duidelik aan die kaak gestel word. Daardie onreg vorm 'n skeidsmuur tussen God en sy volk. Eers wanneer hulle aan Hom gehoorsaam is, sal redding volg.



In hierdie gedeelte word die skynvroomheid van die volk tot op die been oopgevlek. Die mense moes met verbasing die beskuldigings teen hulle aanhoor. Het hulle dan nie vasdae uitgeroep nie? Het hulle hulle nie voor God verootmoedig nie? Jesaja toon dan vir hulle aan dat vas niks beteken as dit nie op "reg doen" uitloop nie.



Jesaja word opgeroep om die sonde van die volk duidelik aan die kaan te stel. Hy moet dit hard en duidelik doen. Sy taak is om die sonde van die volk te ontbloot.



Skyngodsdien is nog nie diens aan God nie. Daar is 'n skynbare teenstelling tussen die opdrag aan die profeet en die optrede van die volk. Die profeet moet sonde aand ie kaak stel, terwyl die volk baie godsdienstig is. Hulle vra na die wil van die Here, hulle gee voor om te doen wat reg is, maar dit is net skyngodsdiens. Dit is net uiterlike godsdienstige handelinge. Hulle doen egter nie wat reg is nie! Die mense beskuldig God daarvan dat Hy nie raaksien hoe hulle vas en nie aandag gee as hulle hulle veroormoedig nie. God se aanklag lui dat hulle juis in die uitoefening van hulle godsdiens besig is om te sondig.



Om te vas is 'n teken van verootmoediging en toewyding aan die Here, maar vir hulle word 'n vasdag die geleentheid om hulle eie belange te bevorder en hulle medemens te benadeel. Daarom kan hulle nie verwag dat hulle gebede verhoor sal word nie.



Die kontras tussen skyngodsdiens en ware diens word duidelik uitgewys. Die Here kom nou self aan die woord. Hy wys uit dat daar 'n verskil is tussen skynbare vas en ware vas. Israel meen dat hulle vas as hulle met groot vertoon deur 'n reeks uiterlike rituele gaan. Hulle verwag dat dit die Here se welwillendheid sal waarborg. Die vas wat die Here verwag word egter nie deur uiterlike rituele gekenmerk nie, maar deur praktiese dade. Hulle moet doen wat reg is!



Hulle moet vryheid skenk aan die wat geen vryheid het nie, voedsel, huisvesting en klere aan die wat niks besit nie. As hulle vas uitmond in praktiese optrede, kan hulle staatmaak op die hulp van God. As hulle doen wat reg is, sal die lig van genesing en redding oor hulle skyn, sal die Here hulle antwoord en begelei, sal Hy by hulle wees. As hulle doen wat reg is, afsien daarvan om geweld en onreg teen hulle medemens te pleeg en sorg vir die minderbevoorregtes, dan sal die lig van redding vir hulle opgaan; dan sal die Here in hulle beheoftes voorsien. Hulle sal 'n vrugbare en geseënde lewe lei. Die puinhope van hulle verwoeste stad sal herstel word.



Die verband tussen gehoorsaamheid en redding word weer beklemtoon. Waar dit vroeër meer oor die vas en vasdae gegaan het, verskuif die klem nou sodat die verband tussen gehoorsaamheid en redding meer toegepas word op die onderhouding van die Sabbat. Die onderhouding van die Sabbat is hier die simbool van die volk se unieke verhouding met God. In die Ou Testament is die Sabbat 'n dag wat vir God afgesonder word. Die onderhouding van die Sabbat getuig van Israel se verbintenis en gehoorsaamheid aan die Skeppergod, van hulle toewyding aan Hom. Hulle mag op dié dag nie doen wat hulle wil nie, maar moet met vreugde die Here dien. Hulle mag nie hulle eie belange bevorder nie, maar moet God se belange bevorder. Dan sal hulle die vreugde van 'n sinvolle verhouding met Hom kan geniet, hulle sal die land van hulle voorvaders weer in besit neem en die opbrengs van die land geniet.



Eers wanneer ons toewyding aan God prakties gestalte kry in ons verhouding met Hom en ons medemens, eers dan kan ons seën verwag.





Liewe Broer en Suster, is jou lewe soos wat God wil hê dit moet wees? Is jou toewyding aan God prakties? Lewe jy soos iemand wat 'n verloste Christen is?



Want as jy soos 'n verloste Christen lewe, dan "sal die Here jou altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien. Hy sal jou sterk maak. Jy sal wees soos 'n tuin met volop water, soos 'n fontein waarvan die water nie opdroog nie."



Want die Here sien sy kinders se nood raak. Hy voorsien in elkeen van sy kinders se behoeftes. Het God nie aan Abraham by Moria voorsien, omdat Abraham aan Hom gehoorsaam was nie? En het God nie vir Christus na die aarde toe gestuur, sodat Christus vir ons aan die kruis kon sterf nie? Sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie?



Net so sal God ook elke dag in elkeen van ons behoeftes voorsien. Want God is getrou.



As ons mooi gaan kyk na wat die uitdrukking die Here voorsien beteken. Dan sien ons dat hierdie term in die Hebreeus op twee maniere gebruik word. En wanneer 'n mens eers mooi raakgesien het hoe hierdie term in die Hebreeus geskryf is, eers dan kan 'n mens verstaan, wat die Woord van God bedoel met hierdie uitdrukking.



In die eerste plek, wanneer 'n mens dié uitdrukking letterlik vertaal dan sien ons dat hierdie term beteken dat God ons siele versorg. God sorg vir ons geestelike welsyn. Elkeen van ons wat wat God van ons verwag. Ons weet hoe ons God moet dien, ook in ons binnekamers, want die Heilige Gees werk in elkeen van ons.



Eersdaags hetdenk ons weer Paasfees. Die fees van Christus se kruisiging vir ons sondes en ook die fees van Christus se opstanding en oorwinning oor die dood en die sonde. En dit alles vir ons. God voorsien, self nog voor ons daarvoor vra, of dit besef..



Maar die uitdrukking die Here voorsien word ook op 'n ander wyse in die Bybel gebruik. Die uitdrukking kan ook letterlik vertaal word met die woorde die Here sien. En dit, my liewe broer en suster, is 'n belangrike ding wat ons moet raaksien, want die Here sien. Die Here sien ons nood raak. Die Here voorsien in ons nood. Selfs in ons materiële nood voorsien God.



God sien wat met ons land se ekonomie aangaan. God sien die geweld in ons land raak. Maar God vra ook vir ons, dat ons geloof net woorde en lippetaal wees nie, maar dat dit ook met die daad bewys word, en dan in opregtheid. Want God sien ook ons innerlike raak. God sien ook met watter bedoelings ons Hom dien.



God sien met watter gesindheid ons paasfees vier. Of dit vir jou 'n vakansietyd is, en of dit vir jou 'n Christelike fees is - 'n fees waar die sterwe en opstanding gevier word. 'n Fees vir mense of 'n feesviering vir God. Of ons aan die wêreld getrou is, en of ons aan God getrou is.



En wanneer ons weer aan God getrou is, soos wat Hy wil hê ons moet wees, dan sal God voorsien. Dan sal die Here ons altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in ons behoeftes voorsien. Hy sal ons sterk maak. En ons sal wees soos 'n tuin met volop water, soos 'n fontein waarvan die water nie opdroog nie."



Amen.

Hosted by www.Geocities.ws

1