Preek 5



Scriptura 2000

Junie 2000

Preke vir leesdienste in opdrag van die Ring van Pietermaritzburg

http://www.geocities.com/pmb_za




Hier is ek ! Stuur my!

Jesaja 6: 8: Hier is ek ! Stuur my!






Skrywer: Ds. Thomas Dreyer

Gemeente van herkoms: Durban



Geleentheid: Advent



Orde: G



Lofsang: Ps 66: 1 & 7

Skuldbelydenis: Ps 25: 3

Geloofsbelydenis: Ges 190:1,2,3

Gemeentesang: Ges 72:1,2,5

Slotsang: Ges 258: 2,3,4








Erediens



Votum: Die Here Jesus sê in sy eerste erediens: "Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig."



Lofsang: Ps 66: 1 & 7



Na die wet: Ps 25: 3



Na geloofsbelydenis: Ges 190:1,2,3



Skriflesing: Jesaja 6

Tot sover die Skriflesing. "Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe."



Gebed



Sang: Ges 72:1,2,5



Prediking



Slotgebed



Slotsang: Ges 258: 2,3,4



Seën: Mag die genade met elkeen wees wat ons Here Jesus Christus met 'n onverganklike liefde liefhet. Amen.





Preek



Geliefdes in ons Here, Jesus Christus,



Kom ons dink vir 'n oomblik terug aan 'n vergadering waarop daar vir vrywilligers gevra is. Onthou u ook hoe daar so 'n ongemaklike stilte geheers het. Daar was nie regtig een mens wat graag 'n taak wou doen nie. Mense het net na mekaar gekyk. Dit gebeur nie net op een plek nie, maar byna op elke terrein. Luister maar na die kerkraadsvergadering. Luister maar na die NHSV vergadering. Luister maar na organisasies waar mense by betrokke is. Oral kry mens die idee asof mense wil sê: "Liewer nie ek nie. Kies maar liewer iemand anders."



Wat die hartseerste is, is dat as mense "ja" sê, dit dan dikwels nog gepaard gaan met klagtes en versugtinge. Hoe dikwels moet mens nie hulle ook gedurig aanmoedig en aanpor nie! Anders word hulle gou moeg en sak uit.



Mens kan byna nie help om jou in te dink in 'n situasie waarin almal gretig is om te help en te dien nie. Dink net wat alles dan vermag sal kan word! Dit sal byna iets hemels gewees het.



Het u nie ook al gewonder wat dit is wat ons as mense so rem nie? Wat maak dat mense nie na vore wil kom en dien nie? Is dit miskien 'n gebrek aan geloof? Besit mense dalk vandag net nie meer die nodige kwaliteite nie?



Hoe dit ook al sy: Daar is een ding waarmee ons onsself kan troos. Dit wat ons vandag beleef, was versekerd van vroeg af oral ook so. Ook in die Bybelse tyd.



Daar was egter een uitsondering. Jesaja.



In ons gelese gedeelte vind ons waar die Here Jesaja roep om in sy wingerd te kom werk. Vir Jesaja was hierdie saak geweldig belangrik. Hoe kan hy negatief antwoord as God hom waardig ag en hom roep? Hy sal alles moes agter los. Sy lewe moes ewe skielik 'n totale ander wending inneem.

Wat meer is: die werk wat hy moes gaan doen het sou veeleisend wees. Dit sou sy hele wese vra. Dit is veel moeiliker as die werk waartoe ons vandag geroep word. Eintlik was sy taak swaarder as wat mens jou ooit kan voorstel.

Die Here wou hom gebruik om te gaan aankondig dat verwoesting en puin op sy eie mense wag. Wie van ons sal dit oor ons hart kry om 'n oordeel oor ons eie volk en mense te gaan bring? Wie sal kies om deur mense verag en bespot te word? Sal ons nie liewer sê: "Liewer nie ek nie. Kies maar liewer iemand anders" ?



Jesaja antwoord: Hier is ek ! Stuur my!



Dit is waarlik opmerklik. Uitsonderlik.



Hoe kon hy?

As daar een ding was wat Jesaja aangespoor het om hierdie geweldige taak op sy skouer te neem, dan was dit sy verhouding met God. Omdat God dit van hom geëis het, daarom was dit reg en goed.



As ons mooi kyk na ons gelese gedeelte, dan sien ons dat Jesaja die Here in 'n magtige droom gesien het. In hierdie droom het hy iets van God se majesteit gesien en gehoor hoe die engele God besing. Na hierdie droom het hy iets begin begryp van God se grootheid en liefde. Al moet hy die oordeel uitspreek, dit is die volk se eie beswil -- God wil 'n nuwe begin met sy volk maak.



As mens God se wil en liefde so sien, dan maak dit iets in jou hart. Dit bring 'n verandering van hart en denke. Dit is hierdie liefde wat mens dryf om verder te gaan.

So word hy nie gedryf deur gebrekkige kwaliteite nie, wel deur geloof. Dit is God wat deur hom wil werk. God wil hom gebruik as 'n instrument in sy hand.



Waar 'n mens dit besef, daar verdwyn die mens en sy eie belang en eer, daar word 'n mens diensbaar in die hand van jou Heer. Daar word jy 'n waardige bouer in God se Koninkryk.



God wil ook hierdie selfde gesig aan u en my openbaar. Hy het self gesê "daar waar twee of drie in my Naam vergader is, daar sal Ekself wees". Sy liefde is ook sigbaar hier onder ons. Hy roep sondaars tot die diens aan Hom. Hy versterk ons troostelose siele hier. Hier gee Hy ons nuwe krag.



As God Hom hier openbaar, hoeveel nie te meer in hierdie tyd, die Kersfeestyd.



Kersfees wil ons nie net maar voer na 'n krip en 'n babatjie in 'n stal nie. Kersfees voer ons na die woord van Johannes 3 "So lief het God die wêreld gehad".



God wil juis Homself en sy liefde ook in hierdie tyd bekend kom maak. Hy het nie geskroom om alles prys te gee uit liefde vir ons nie.



In Jesus Christus sien ons God se liefde. Hy het Hom niks gespaar nie. Hy moes in ons plek as 'n vervloekte aan die kruis van Golgota gaan hang. In ons plek moes Hy dit uitkerm "My God, my God waarom het U my verlaat?", sodat ons nimmer meer deur God verlaat sou word nie, maar die ewige lewe mag beërwe.



Ons durf nie saam met die wêreld en soos die wêreld feesvier nie. Laat ons eerder in hierdie tyd saam met 'n Sagaria 'n loflied sing: "Ek het my Heer gesien".



As ons God se heerlikheid en grootheid so sien, dan sal dit ook ons aanspoor tot groter diens aan God uit dankbaarheid.



Is hierdie diens nie juis dit wat ons het nodig het in hierdie tyd nie?



Kom ons staan soos 'n Jesaja op en roep met een stem uit: Hier is ek ! Stuur my!. Dan sal hierdie Kersfeestyd die begin wees van 'n pragtige nuwe lewe in die gemeente en in die kerk en in Suid Afrika.



Ons sal weifel voor die omvang van dit wat die Here van ons verwag. Onthou dan maar net dat daar 'n Ander Een was. Hy het nie geweifel nie. Sy taak was groter as enige taak wat op ons skouers gelaai sal en kan word.



In Getsemane het ons Hom, as mens, sien aarsel voor die omvang hiervan. Na smekinge en worsteling en gebed dat die beker tog by Hom sal verbygaan, het Hy gebid "U wil geskied" .



Tog het Hy end-uit volhard tot aan die kruis.



Durf ons dan nog huiwer?



Amen.




Hosted by www.Geocities.ws

1