Preek 4
Scriptura 2000
Junie 2000
Preke vir leesdienste in opdrag van die Ring van Pietermaritzburg
http://www.geocities.com/pmb_za
Psalm 15 en Matteus 19: 26
Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: "Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik".
Gemeente van herkoms: Durban
Geleentheid: Lydenstyd
Orde: J
Lofsang: Ges 65:1,2,3
Skuldbelydenis: Ges 266: 1
Geloofsbelydenis: Ges 40: 4
Gemeentesang: Ps 119: 62 & 63
Slotsang: Ges 194:1,25
Erediens
Votum: Die Here is ons lig en ons redder, vir wie sou ons bang wees? Die Here is ons toevlug, vir wie sou ons vrees?
Lofsang: Ges 65:1,2,3
Na die wet: Ges 266: 1
Na geloofsbelydenis: Ges 40: 4
Skriflesing: Psalm 15 & Matteus 19: 16 tot 30
Tot sover die Skriflesing. Bevoorreg is hulle wat die Woord van God hoor en dit onderhou.
Gebed
Sang: Ps 119: 62 & 63
Prediking
Slotgebed
Slotsang: Ges 194:1,25
Seën: Geliefdes, Mag God wat vrede gee, by ons almal wees. Amen
Preek
Matteus 19: 26
Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: "Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.
Geliefdes in ons Here, Jesus Christus,
Ons het vandag almal hier na die kerk gekom om verskeie redes. Miskien het ons hierdie week mooi dinge beleef en daarom wil ons Hom vandag hier daarvoor kom loof en prys. Miskien het dit minder goed gegaan en kom soek ons vertroosting. Miskien het ons net 'n behoefte om na sy stem te kom luister. Dalk wil ons graag saam met die ander gelowiges God kom dank.
Dit is ons gewoonte en so kom ons week na week hier byeen.
Het ons al ooit gewonder: WATTER REG HET ONS OM HIER VOOR GOD TE MAG VERSKYN?
Ek weet dit is 'n lastige vraag. Miskien skok dit ons dat iemand so 'n vraag mag stel. Dit is egter nie 'n vreemde soort vraag nie. Die Here, in Sy Woord, vra self ook hierdie vraag vir u en my vandag. Ps 15 vra dit. Hy vra vir u en my watter reg ons het om vandag hier voor Hom te durf verskyn? Watter reg het ons om hier in die kerk te wees? Watter reg het ons om op te staan en saam te bid en saam te sing, te prys en te bely?
Hierdie vraag is 'n vraag wat elke gelowige vir hom / haarself in hierdie tyd moet beantwoord. Ons vra weer: Watter reg het u en ek om hier voor God te mag verskyn?
Op hierdie vraag is daar natuurlik verskeie antwoorde. Ons sou dalk kon sê dat ons hier is omdat ons ons offergawes hierdie maand gegee het.
'n Ander sou kon sê dat hy / sy hier hoort omdat hy / sy help betaal het aan hierdie kerkgebou.
Ons sou verskeie ander redes kon opnoem.
Die Bybel sê egter dat nie een van hierdie redes ons enige reg gee om hier voor God te durf verskyn nie.
Kom ons luister na God se eis. Alleen die mens, sê Ps 15, wat aan al die volgende eise voldoen durf dit tot God nader.
Wie van ons kan sê dat hy / sy onberispelik optree -- te alle tye? Hoe dikwels struikel en val ons nie! Hoe dikwels praat ons nie kwaad van ander nie? Hoe dikwels is ons nie beledigend nie?
Die Bybel se eis gaan voort:
Hou ons ons op met alles wat reg is? Ons weet tog van hoe dikwels ons dinge doen wat ons nie behoort te doen nie. Dink ons altyd net aan dinge wat reg is? Skrik ons nie soms ook vir ons eie gedagtes nie? Hou ons ons besig met alles wat reg is?
Wie van ons kan sê dat daar nog nooit 'n wit-leuentjie oor sy lippe gekom het nie?
Hier eindig die Psalm nog nie, kom ons luister nog verder en dan dink ons oor elke eis
En nou kan ons weer vra - Wie het nou die reg om voor God te staan?
As daar miskien iemand is wat dink dat hy al die reg / moed het om voor God te verskyn, na alles wat gesê is, dan sê die Here nog onthou: Jy sal met hierdie las van jou moet gaan staan voor die regterstoel van God. Wie sal dan nog kan bestaan / bly staan?
Om voor die regterstoel van God te moet verskyn is seker van die mees vreesaanjaende gedagtes. Dit was seker ook hierdie vrees wat die jongman, hier in Matteus, gedryf het om na Jesus te kom. Sê nou maar net hy het Ps 15 tot op die letter na gevolg en daar skort dalk nog iets!. Hy moes net seker maak!!
Kyk ons na die verhaal verder, sien ons dat Jesus hom nie juis gerus stel nie. Hy moet nog al sy besittings gaan verkoop en aan die armes gaan gee.
Vir hom was dit net een te veel. Hierdie eis dat hy alles moet verkoop het beteken dat hy alles wat hy bymekaar gemaak het, summier moet verloor.
Tog is hierdie eis nie onbillik nie. Jesus het lank van tevore al vir sy dissipels geleer dat jy God bo-alles moet lief hê. Dit staan tog in die samevatting van die wet.
Om God bo alles lief te hê beteken dat daar niks belangriker as God in jou hele lewe moet wees nie. Daar mag trouens niks eers so belangrik soos God in jou lewe wees nie. Jy mag niks bo God in jou lewe stel nie. Nie eers jou besittings of jou kinders of jou familie nie. Jy moet bereid wees om alles in jou lewe te verloor ter wille van God. Wat 'n geweldige eis!!
Seer sekerlik het elkeen van ons begrip vir die jongman en vir die dissipels se ontsteltenis. Wie van ons sal ook nie ontsteld geraak het nie! Wie kan hier aan altyd gehoorsaam wees? Ons sê mos: "Ek is ook maar net mens"!
As ons nou weer moet vra: Watter reg het u en ek om hier voor God te mag verskyn? Wat kan ons antwoord?
As ons eerlik wil wees, sal ons moet sê: "Ek het geen reg nie"
Nou is die heerlike boodskap wat die Bybel ons vandag wil meedeel, dat daar wel rede is dat ons voor God mag verskyn. Daar is net een rede, en dit staan in ons teksvers: "Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik".
God maak die onmoontlike moontlik, Hy doen dit in en deur Jesus Christus. Dit is genade, Sy genade.
Christus het namens ons aan al God's eise voldoen. Hy het die hele Ou Testament en die 10 gebooie en Ps 15 volkome nagekom.
Asof dit nie genoeg was nie, het Hy ook al ons skuld op Hom geneem.
Dit herdenk ons juis in hierdie tyd.
Vir ons sondeskuld het Hy kom ly. Hy is verag en deur die mense bespot. Hy is gehoon en gesmaad. Hy is aan 'n kruis op Golgota vas genael. Sy bloed het ter wille van ons gevloei.
Die grootste van alles -- sodat ons nou skotvry voor God mag en kan staan - gereinig en geheilig deur sy bloed! Prys die Heer!
Die wonder eindig nie hier nie. Paulus, in Romeine 8, sê dat God ons nie net die reg gegee het om voor Hom te staan nie. Hy gee ons ook die reg om die Almagtige, Ewige en Grote God aan te spreek en te ken as "Abba" , dit beteken "Vader" of nog nader gesê: "Pappie".
Broeders en susters, kom ons gaan vandag van hier met 'n lied op ons lippe. Ons mag nou voor Hom staan. Ons hoef ook nie eers meer die dag te vrees as ons voor Hom moet verskyn nie. Ons kan daarna uitsien om God te sien. Ons is geheilig in Jesus' bloed. Wat 'n voorreg! Wat 'n toekoms!!
Kom ons jubel vandag en elke dag oor ons heerlike ewige salige lot. Kom ons dank Hom elke dag en gee ons lewens aan Hom uit dankbaarheid vir Sy verlossing in Jesus Christus.
Amen.