Preek 3
Scriptura 2000
Junie 2000
Preke vir leesdienste in opdrag van die Ring van Pietermaritzburg
http://www.geocities.com/pmb_za
Ester 1 : 1 tot 4; 9 tot 13; 16 tot 22;
Ester 2 : 1 tot 5a; 7 tot 12.
Gemeente van herkoms: Durban-Suid
Geleentheid: Gewone erediens
Orde: 3
Liedere:
Voor die erediens:
Lied 11
Lied 12
Lied 14
Tydens die erediens:
Lofsang: Gesang 335 : 1,2
Skuldbelydenis: Gesang 244 : 1,2
Geloofsbelydenis: Gesang 198 : 1,2
Na Skrif en gebed: Gesang 231 : 1,2,3
Slotsang: Gesang 49 : 1,2
Erediens
Votum: Luister, so sê die Here...: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep. Jy is Myne!
Lofsang: Gesang 335 : 1,2
Na die wet: Gesang 244 : 1,2
Na geloofsbelydenis: Gesang 198 : 1,2
Skriflesing:
Ester 1 : 1 tot 4; 9 tot 13; 16 tot 22;
Ester 2 : 1 tot 5a; 7 tot 12.
Tot sover die Skriflesing. Wie `n kind van God is, luister na die woorde van God.
Gebed
Sang: Gesang 231 : 1,2,3
Prediking
Slotgebed
Slotsang: Gesang 49 : 1,2
Seën: Mag daar vrede wees binne jou mure, rus in jou wonings. Ter wille van my broers en my vriende wens ek jou vrede toe. Ter wille van die huis van die Here ons God, bid ek dat dit met jou goed sal gaan.
Amen.
Preek
Vroue is `n bedreigde spesie. Nee, regtig! Skokkende statistieke onthul die lot van vroue in hierdie land. Soos:
En amper elkeen van ons het `n vrou, of vroue-in-wording, in ons huis: `n vrou, en dalk dogters vir wie ons baie lief is. Wat is hulle kanse om die goed vry te spring, gemeet aan sulke statistiek?
Dis die dat ek begin verstaan hoekom feministe vir die vrou veg. Ek het begrip dat aktiviste betoog vir die vrou se regmatige plek in ons samelewing. Meer nog: dat hulle pleit vir die regte plek in ons mans se denke. Daarom verstaan ek ook beter waarom dit nodig is om die res van ons, wat nie vroue is nie, bewus te maak van die toestand waarin vroue is. Vanself sal ons dit tog nie agterkom nie! Ek sien ook al meer in dat vroue in daai toestand is om geen ander rede nie as net dat hulle vroue is. Want van die gevaar om sommer net vrou te wees, is ons mans baiekeer die oorsaak.
Maar by al's wat ek verstaan, is daar iets wat by bekommer: dat feministe veg vir die "e-man-sipasie" van die vrou. Dit klink vir my al te vol na `n soort manwording van die vrou, eerder as na `n vrywording.
In `n inbel-program oor die radio waarin vroueregte ter sprake gekom het, het iemand uit die Bybel geprobeer bewys dat `n vrou "kaalvoet swanger en voor die stoof" hoort. Die Bybel sê so!, het die ou beweer. Dis natuurlik snert! Iemand anders wat ook gevoel het dis sommer kaf, het toe op die inbeller gereageer deur te sê: Hoeveel beter sou ons wêreld nie gewees het nie, as daar geen Bybel was nie, en mense liewer vir hulleself wou dink! En mens kan nie anders nie as om die soort reaksie te verstaan. As mens in die eerste plek sulke nonsens uit die Bybel sou wou haal, dan moet jy dit seker verwag dat jy die Bybel ook verspot gaan maak. Dan verloor nie net die vrou nie, maar ook die Bybel, sy regmatige plek in ons denke. Iemand anders wat dit besef het, en wat toe vir die Bybel in die bres wou tree, maar darem ook die vrou wou beskerm, sê toe: Ons moet die Bybel doodgewoon herinterpreteer tot hy sê wat ons wil hê hy moet. Maar krisis, nee, dit kan tog ook nie! Dis tog God se Woord!
Wat sê die Bybel dan oor die vrou?
Wel, die Bybel was nog altyd rewolusionêr oor God. Maar, snaaks, nooit oor die vrou nie. Want wat die Bybel oor God te sê het, was nog altyd radikaal anders as wat mense van God verwag het. Maar oor die wese van die vrou, en oor haar plek in die samelewings voer die Bybel geen stryd nie. Oor dit nie in die Bybel oor net die vrou gaan nie! Pleks daarvan, het die Bybel hom in beide sy Testamente eerder altyd laat lei deur die kulture van sy tyd. Die vrou was toentertyd, in daardie kulture, ondergeskik aan die man, en die Bybel het daarmee saamgeleef. Maar die Bybel het dit nie so laat word, of geëis dat dit so moes wees nie. Inteendeel. Daar word met groot lof van vroue gepraat. Daar was vroue wat sommer groot politieke rolle gespeel het in Israel se geskiedenis. En daar was vroue wat sosiaal hulle merk gemaak het, en onthou word tot selfs in die geslagsregister van Jesus Christus. Bybelvroue was nie tweedeklas mense nie.
Ester was so `n vrou. Maar sy was ook `n feminis se nagmerrie. Want sy het die saak van vroue nie waffers goed gedoen het nie. Vasti, Ahasveros se vrou voor hy vir Ester gevat het, kon weer net so wel die beskermheer (of sou beskermpersoon meer polities korrek wees?) van hedendaagse kampvegters vir vroue.
Koning Ahasveros, koning van Mede en Perse, heerser oor 120 provinsies wat strek van Indië af tot by Kus, het toe hy na sewe dae se wyndrink in `n lekker bui was, vir Koningin Vasti laat kom om haar af te wys vir `n klomp drinkebroer-mans uit al daai provinsies van hom, ouens wat hy nou sewe dae lank al met `n dronkparty onthaal. Vasti was legendaries mooi, en iets om mee te spog! Maar sy laat weet haar goeie man: Vergeet dit! "Yes!," hoor ek `n vrou of wat sê: "Sisters are doing it for themselves!"
Ou Ahasveros is so in die verleentheid, hy's smoorkwaad. So kwaad, hy hou sommer `n parlementsitting, en die hele lot mans is dit roerend eens: Sê nou ons vroue volg haar voorbeeld? En `n wet word daar en dan gemaak en landwyd afgekondig: "...elke man moet baas wees in sy eie huis, en moet optree volgens die gebruik van sy volk."
Nou, in die lig van al daai statistiek oor wat mans gewoonlik al's met vroue maak, ys ek om te dink hoe die wet toe toegepas is. En Vasti sal vervang word met iemand wat haar beter kan gedra.
Maar toe die koning nou nie oor Vasti kon kom nie - vroue is nou maar eenmaal ons mans se swak - besluit dieselfde parlement: die koning kort `n nuwe liefde. Die soektog na die tweede mevrou Ahasveros verloop so: Sy moet beeldskoon wees. En `n Mejuffrou Mede-en-Perse-Kompetisie is die plan. Ester is een van die finaliste. Vir `n jaar daarna moes sy spesiale skoonheidsbehandeling kry: eers ses maande op die goed, toe ses maande op daai. En sy is op `n dieet gesit. Tot sy was presies wat die koning wou hê. En na die koning die meisies almal uitgeprobeer het, is dit op Ester se kop dat hy die kroon sit.
`n Meer oppervlakkige beskouing van die vrou gaan jy moeilik kry. Maar hiervandaan loop die storie van Ester `n bietjie anders as Aspoestertjie s`n. Meer soos Moses s`n sou ek sê. Ag, dis `n lang storie wat maar net daarop neerkom dat Koning Ahasveros se tweede in bevel, `n kêrel met die naam van Haman, hom vervies vir `n ou met die naam Mordegai oor die Mordegai-knaap weier om vir hom wat Haman is behoorlik respek te toon - dis nou respek toon soos in op straat voor hom te kniel. En vererg die Haman hom toe mos so, hy reël sommer met die koning `n dag dat Mordegai se hele etniese groep, of volk as jy wil, landwyd uitgeroei sal word.
En Mordegai was `n Jood. En - toevallig! - ook Ester se oom...
Soos Moses s`n, dus soos Eksodus, so verloop nou ook die storie van Ester.
Maar die ooreenkomste tussen Moses en Ester is net te groot - want die's maar net `n paar van hulle! - om dit te wil miskyk dat die Bybel Ester se werk gelykstel aan Moses s'n. En dis hoe Ester se skrywer dit regkry: Aan die een kant gebruik God duidelik vir Ester om sy volk van uitwissing te red. En dis nie sommer `n ou ligte takie nie. Nes vir Moses in Eksodus.
Eksodus is nou nog so ingeprent in die Joodse geloof soos wat Jesus se kruis en opstanding ons denke regeer. Eksodus is hulle verlossingsverhaal. Dis waar hulle God leer ken as Een wat die mag van maghebbers knak, en die swakkes onmoontlike oorwinnings laat behaal. Eksodus is die plek waar gelowiges leer van die Groot Ommekeer wat God onder mense bewerkstellig: verlossing maak sterkes swak, en swakkes sterk. Soos die farao eindelik stukkend anderkant uitkom na die dood van sy seun, en Israel ongedeerd en vry uitstap, droogvoets deur die see, so hang Haman en sy seuns aan die einde van Ester se storie dood aan dieselfde galge wat hulle nog vir Mordegai en die Jode gebou het. En Mordegai en Ester regeer die land!
Ester is die storie van God en Israel: `n verlossingsverhaal. Van die mag van die verdrukker wat gebreek word, en van die onderdrukte Israel wat teen alle verwagtinge in, triomfeer. Maar die keer is die storie tog ook effens anders, selfs `n bietjie skokkend: die keer is God se agent wat die verlossing laat werk, Ester: wel `n koningin, dog nog altyd `n vrou. Een wat met `n skoonheidskompetisie so verspot soos `n glasskoen aanpassery, die koningin geword het. Dog `n koningin vir `n tyd soos die. `n Vrou vir `n tyd soos hierdie. Een wat vir Israel van uitroeiing red.
Nie `n magtige man nie, nie `n beteuterde ou vroumensie nie, maar die Almagtige God self, red sy volk. En dit vat `n vrou om dit te wys.
Wil jy weet wat die Bybel regtig oor vroue sê, begin jy by Jesus Christus. Net soos jy by Jesus sou begin om te weet wat God oor mans sê. Die Nuwe Testament maak die een punt wat vroue destyds geraak het, en nou nog die deurslag gee in hoe ons oor vroue behoort te dink. En dit het alles te make met die een saak waaroor die hele Bybel gaan: oor hoe sondaarmense met God versoen raak. Vra jy: hoe raak verlossing die vrou?, dan staan daar:
Vroue word nes mans gered, en nooit anders as mans nie. Hulle kry genade van God, en hulle moet reken op Jesus vir hulle verlossing, nes ons mans. Hierin is ons gelyk: ons is - mans en vroue - van God se genade afhanklik! God maak nie onderskeid nie... Trouens julle almal, mans en vroue, deel saam in die lewe as `n genadegawe.
Wel, as ons geneig is om vroue anders te behandel as mans, moet ons onsself teenoor hierdie Woord van God probeer regverdig. En dit sal ons nie regkry nie! Want God behandel mans en vroue net dieselfde. En Hy verwag dat ons dieselfde doen.
Lees jy Eksodus en Ester saam, hoor jy God gebruik mense om sy volk vir Hom te red. Mense, nie net mans nie. Die farao's kom hulle Mosesse tee, en die Hamans hulle Esters.
Die Bybel - God - het sy Mosesse, maar ook sy Esters.
Hier by die draai van die laaste millennium, het vroueregte belangriker as ooit geword, en kom vroue vir eens tot hulle reg. Maar dat mans en vroue gelykes is, is vir God nie nuus nie. Almal, mans en vroue wat glo in Christus, is sonder onderskeid van hulle geslag, deur God uit sonde gered. En dit wemel onder ons van die Mosesse en die Esters, wat van lankal af al net daarvoor God se hande en voete in die wêreld is. Mans en vroue doen God se verlossingswerk aan mense. En alles is genade, alles is die besluit van God.
Om af te sluit: maak gerus maar die gevolgtrekking uit die Bybel dat, wat die verlossing betref, sê die Bybel al lankal mans en vroue is gelykes. As ons kultuur nou na 2000 jaar dieselfde begin sê, en planne maak om dit vir die toekoms so te reël, het die Bybel daar niks op teë nie. Inteendeel! As dit vir ons vroue meer menswaardige behandeling verseker, dan was dit hoog tyd. Want mense, nuutgemaakte mense, is wat ons almal voor God is: mans en vroue.
Ons dank God vir ons vroue, en vir ons meisiekinders... Hulle is vroue juis vir hierdie tyd, en koninginne juis vir `n tyd soos die. Mag Hy julle beskerm teen die wrede harte van baie mans in hierdie wêreld wat vir God nie ken nie.
Amen.