Preek 2



Scriptura 2000

Junie 2000

Preke vir leesdienste in opdrag van die Ring van Pietermaritzburg

http://www.geocities.com/pmb_za




Moderne Afgode

Josua 24 : 1-28






Skrywer: Dr. Wimpie van Schoor

Gemeente van herkoms: Pinetown



Geleentheid: Advent



Orde: 5



Lofsang: Gesang 108:1,2

Skuldbelydenis: Gesang 253:2

Geloofsbelydenis: Gesang 73:3

Na Skrif en gebed: Gesang 112:1,2,3,4,5

Slotsang: Gesang 3:1,2,3,4






Erediens



Votum: Gemeente, ons leer in die Skrif: Dit gaan goed met die mense vir wie die Here se huis 'n tuiste is en hulle krag aldaar in Hom vind.



Lofsang: Gesang 108:1,2



Na die wet: Gesang 253:2



Na geloofsbelydenis: Gesang 73:3



Skriflesing: Josua 24 : 1-28



Tot sover die Skriflesing: My Woord is soos vuur, sê die Here, soos 'n hamer waarmee klippe stukkend gebreek word.



Gebed



Sang: Gesang 112:1,2,3,4,5



Prediking



Slotgebed



Slotsang: Gesang 3:1,2,3,4



Slotseën: Mag die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees met julle wees.







Preek

Daar was onlangs 'n spotprent in 'n Amerikaanse koerant van 'n reuse standbeeld. Die standbeeld was 'n Kersboom met liggies en engeltjies en selfs Kersvader wat met sy slee onder die boom sit. Die bedoeling van die spotprent was duidelik: dit beeld Kersfees uit. Rondom die boom dans daar moderne, Westerse mense rond. Die dans waarmee hulle besig is, is 'n tipiese rituele aanbiddingsdans.



Een van die dansers wat eenkant staan, roep na die ander en sê: Oppas julle, hier kom Moses. Die kunstenaar is reg. Die moderne mens dans nog steeds om die afgode, al is dit nou wel nie om die goue kalf nie. Die afgode is steeds daar en die mense dans dat die stof so staan....



Dit gaan oor afgode in ons lewens. Hierteen waarsku Josua die volk.



Toe hierdie gesprek met die volk plaasvind, het hulle net die land ingeneem. Ons kan sê dat hulle nou tot rus gekom het. Die stryd van trek deur die woestyn is verby en alles verloop rustiger. Maar nou kom die gevaar ook vir die volk. Nou kan die volk die Here vergeet. Hulle kan nou maklik vergeet omdat dit vir hulle rustig en voorspoedig gaan. Josua probeer dit verhoed.



Ons het gelees dat hy die verbond tussen God en die volk laat herbevestig. Wanneer ooreenkomste in daardie tyd gesluit is, was dit die gewoonte om alles te noem wat die belangrike persoon gedoen het. Josua doen dit deur vir die volk te vertel van alles wat God vir hulle gedoen het. Hy vertel weer vir hulle van die liefde en seën wat hulle van God ontvang het.



God het alles gedoen en daarom het die volk eintlik nie 'n ander keuse as om Hom te dien en te gehoorsaam nie. Dit vra Josua van hulle. Hulle moet duidelik verklaar dat hulle die Here nooit sal verlaat nie. Hy sê dit vir hulle duidelik en op die man af:



...kies dan vandag wie julle wil dien: die gode wat julle voorvaders gedien het anderkant die Eufraat, of die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.



Die volk moes kies: gaan hulle dans dat die stof staan om die afgode van tyd of gaan hulle die Here dien? Die volk antwoord positief. Hulle sal die Here dien. As teken daarvan sit Josua 'n klip onder die boom by die heiligdom neer. Hierdie boom moes die volk herinner aan hulle besluit.





Waaroor handel hierdie saak? Dit gaan oor óf....óf. Die volk moes 'n keuse maak. Hulle die God of hulle dans die riel om die standbeeld van die afgode. Daar is nie 'n middeweg nie. Die een sluit die ander uit. Dit is ou nuus. Vir die volk was dit nie vreemd nie. Dat God die Enige en Enigste God is weet hulle lank reeds. Dit word verskeie kere vir hulle gesê en op die hart gedruk. God het dit heel eerste gedoen toe Hy aan die volk die wet by Sinaï gegee het:



Jy mag naas my geen ander gode hê nie



Meer duidelik kan God dit nie sê nie. Jy mag nie ander gode hê nie. Jy mag nie afgode hê nie. Jy mag nie om die standbeelde wat ons vir onsself skep in die stof dans nie. Eenvoudig net dit: óf God óf nie God nie.



Al wat hierdie sin en die keuse wat Josua aan die volk gestel het, beteken is die volgende:





Hierdie óf God óf nie God nie keuse is 'n baie belangrike saak. Die betekenis is duidelik. Jy moet God alleen ken en vertrou. Om die Here te ken, is om in 'n verhouding met Hom te staan. In Johannes 17 word die ewige lewe beskryf as om God te ken... Hierdie kennis is ook meer as verstandkennis. Dit beteken nie maar net om saam te stem met die feite van die Bybel nie. Ons kan nie net JA sê vir dit wat in die Bybel staan nie.



Ons kan dit baie maklik beskryf. Ons almal ken vir Bill Clinton. Ons ken hom deur alles wat ons van hom hoor en op die televisie sien. Dit beteken egter nie dat ons hom persoonlik ken nie. Ons het nog nooit met hom gepraat of by hom gekuier nie. Met jou pa, ma, man of vrou is dit 'n ander saak. Jou verhouding met hulle is anders as met Bill Clinton. Jy ken hulle persoonlik en intiem.



Dit is hierdie kennis van God wat nodig is om Hom eerste te stel.



Daar is egter nog 'n saak in hierdie óf God óf nie God nie keuse. Dit is om hierdie God wat jy ken ook te vertrou. Jy moet kon kan vertrou vir jou stoflike en geestelike nood. Jy moet God vertrou omdat jy van Hom afhanklik is vir alles wat ons is en het.



By hierdie tweede saak loop dinge dikwels skeef. Afgodery en die gedans om die standbeelde, kom dikwels omdat die mens sy vertroue op iets anders stel. In geloofsterme kan ons afgodery soos volg beskryf:



Dit is om in die plek van die enige ware God wat Hom in sy Woord openbaar het, of naas Hom iets anders uit te dink of te hê waarop jy jou vertroue stel

Hierteen waarsku Josua die volk. Hierteen moet ons waak. Dit is byna onmoontlik om te dink dat die moderne mens in die moderne lewe nog kan afgode hê. Ons leef nie meer in die middel-eeue waar mense van klip of hout 'n beeld gemaak het en dit dan aanbid nie. Tog is dit daar. Ten spyte van wat ons dink is daar baie dinge wat afgode in ons lewe is en kan word.



'n Afgod is iets waarop jy jou vertroue stel, maar tog ook jou lewe regeer. Dit is die verlengstuk van die sondige "ek". Ons harte is 'n afgodsfabriek wat spesialiseer in 'n groot verskeidenheid verskillende afgode.



Natuurlik beteken dit nie dat alles in die lewe wat die mens doen, 'n afgod is nie. Alles in die lewe is nie verkeerd nie. Daar moet 'n fyn balans wees. Wanneer die balans in die lewe versteur word, kom daar afgodery - dinge wat God se tyd in ons lewe opneem. Ons kan daarvan 'n paar voorbeelde noem.



In hierdie Kerstyd is Kersfees waarskynlik die grootste afgod. Ja, dit is reg. Kersfees is die grootste kommersiële afgod van die tyd van die jaar. Daar is bitter min van die "fees"van Kersfees in die lewe oor. Die fees oor die geboorte van die Verlosser lê dikwels ver agter in die ry. Kersfees gaan oor die geklingel van kersbonusse wat sakke brand. Dit gaan oor die ellendige vakansiegangers wat al weer ons huise toesak. Kersfees gaan oor die plesier van die kinders.



So word Kersfees die standbeeld van die spotprent aan die begin. Dit is moderne mense wat daarom dans. Hulle dans gate in die teerpad om die beeld.



Laat ons nou nie net Kersfees afskiet nie. Daar is baie dinge wat ons op standbeelde sit en heerlik daarom dans. Daar is jou familie, jou vriendekring, jou kinders, jou blink ideale. Dit kan jou huis wees, die regte "adres" waar jy bly. Dit kan ook jou besige werksprogram wees, jou bevordering en ook jou kinders se prestasie. So kan ons hulle opnoem. So staan die standbeelde in ons lewe met moderne "can-can"dansers wat dans dat die sweet so tap.



Afgodsdiens is ek-diens. Dit is die verlengstuk en opgeblaasheid van die eie ek. Uiteindelik neem dit afmetings aan wat daardie eie ek juis oortref, bedreig en vernietig. Ons dink dat ons daar voordeel uit trek, maar eindelik is dit ons ondergang. Afgode is soos 'n geslepe jakkals. Hulle kan ons nie red of bevry nie.



Miskien is dit tyd dat ons 'n bietjie in die lewe gaan stilstaan en 'n oomblik ons dans om die standbeeld van buite af beskou. Hoeveel standbeelde is in jou lewe? Hierdie Kersfees wat nou voorlê: is dit 'n standbeeld of 'n ware Christus fees. Nou vier ons die bevryding en verlossing. Ons vier die vreugde dat net God kan verlos.



Die keuse wat die volk gemaak het toe Josua hulle laat kies het, was om God te dien. Dit is die God van die evangelie. Dit is die God van die bevryding uit die mag van die sonde. Dit is die God wat ons red van gode en onsself. Hy is die Enige, die Ewige en die Almagtige.



Jy mag naas my geen ander gode hê nie.



Kies wie jy vandag wil dien.....



AMEN



Hosted by www.Geocities.ws

1