Preek 1
Scriptura 2000
Junie 2000
Preke vir leesdienste in opdrag van die Ring van Pietermaritzburg
http://www.geocities.com/pmb_za
Genesis 13: 1-18
Gemeente van herkoms: Empangeni
Geleentheid: `n Preek vir enige geleentheid
Orde: 4
Lofsang: Psalm 146:1,3,8
Skuldbelydenis: Gesang 192:1,2
Geloofsbelydenis: Gesang 192:3,4
Gemeentesang: Gesang 309:1,2
Slotsang: Gesang 183:1,2,3
Erediens
Votum: As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs; As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm tevergeefs.
Lofsang: Psalm 146:1,3,8
Na die wet: Gesang 192:1,2
Na geloofsbelydenis: Gesang 192:3,4
Skriflesing: Genesis 13: 1-18
Tot sover die Skriflesing: My Woord is soos vuur, sê die Here, soos 'n hamer waarmee klippe stukkend gebreek word.
Gebed
Sang: Gesang 309:1,2
Prediking
Slotgebed
Slotsang: Gesang 183:1,2,3
Seën: Mag die genade met elkeen wees wat ons Here Jesus Christus met 'n onverganklike liefde liefhet. Amen.
Preek
Gemeente van ons Here Jesus Christus,
Ons moet elke dag van ons lewens besluite neem. Dis so deel van die lewe soos kos en water. Ek moet soggens besluit wat ek gaan aantrek, wat ek gaan eet, hoe ek my tyd sinvol gaan spandeer.
Daar is ook groot keuses wat my lewe onherroeplik verander. Eintlik is die lewe 'n bietjie agterstevoor. Ons moet die heel belangrikste besluite neem op 'n tydstip wanneer ons die heel minste ondervinding van besluitneming het. Op 'n baie jong ouderdom kies ons 'n beroep, 'n huweliksmaat en die Kerk waar ek my geloof gaan uitoefen. Later jare hou natuurlik ook belangrike keuses in soos byvoorbeeld of ek die pakket moet neem wat my aangebied word of moet ek nog 'n paar jaar werk. Dis uiteindelik net groot genade as 'n mens die regte keuses maak. Die feit bly staan: mense wat goeie keuses maak behaal sukses in die lewe; diegene wat swak keuses maak, misluk. Dis so eenvoudig soos dit.
Ons weet tog dat geen egpaar sommer net uit die bloute een dag besluit om te skei nie. 'n Student druip nie ewe skielik die jaar nie. Niemand hou sommer net eensklaps op glo nie. Mislukking is 'n stadige, stil proses bestaande uit 'n aantal verkeerde keuses. Hierdie keuses bepaal ons lewe - die pad wat ons gaan volg, die soort lewe wat ons lei, die soort geestelike lewe wat ek gaan leef. Daarom is hierdie saak, ons keuses en hoe ons regte keuses maak, so 'n uiters belangrike saak.
Ons het vanoggend gelees van twee mans: die een het 'n wyse keuse gemaak, die ander een 'n dwase. Die een se naam is Abram, die ander se naam is Lot. Dit is 'n verhaal wat vir ons belangrike lesse inhou oor die besluite wat ons noodgedwonge gereeld moet neem.
Kom ons kyk net gou weer waar hierdie geskiedenis vandaan kom: Abram is deur God geroep om in 'n land te gaan woon wat God vir hom gewys het. Die geskiedenis begin reeds in Genesis 11. Eers het Abram in Ur van die Galdeërs gebly en toe saam met sy pa, broer en oorlede broer se seun, Lot, na Haran getrek. Ná hierdie eerste been was dit net Abram en sy broerskind Lot wat verder getrek het na Kanaän toe.
Ongelukkig tref hongersnood die land en Abram en Lot het met hulle families na Egipte getrek. In Egipte het Abram besluit om voor te gee dat Sarai sy suster is omdat hy gevrees het dat die farao hom sou doodmaak. Só word Abram en sy hele gevolg dan uit Egipte geskop en hulle kies koers terug na die land Kanaän.
As ons na verse 2 en 5 kyk, dan sien ons dat beide Abram en Lot baie welgesteld was. Beide is geseën met vee, besittings en slawe. Soos dit egter gaan kom daar moeilikheid. Die finale toets vir gelowiges is die voorspoedstoets. Dis 'n toets wat gelowiges baie maklik dop. Die kompetisie onder Lot en Abram se mense vir land, water en weiding eis sy tol en dit lei tot konstante wrywing tussen die twee groepe. So erg word dit dat dit tyd geword het dat elkeen sy eie rigting inslaan.
Abram, synde die oudste van die twee, is eintlik veronderstel om eerste te kies, maar om een of ander rede gee hy vir Lot eerste kans. Abram onderneem om die teenoorgestelde rigting in te slaan, ongeag wat Lot kies. Al rede waaraan 'n mens kan dink is dat Abram se geloof so sterk was dat hy geweet het God sal met hom wees wat Lot ookal kies.
Vers 10 en 11 beskryf hoe Lot gekies het: Lot het toe rondgekyk en gesien die hele Jordaanstreek tot by Soar het so volop water soos 'n tuin van die Here, soos Egipte. Dit was naamlik nog voordat die Here Sodom en Gomorra verwoes het. Lot het die hele Jordaanstreek vir hom gekies en hy het ooswaarts versit.
Tot by Sodom het hy gaan tent opslaan, sê die teks, m.a.w. elke keer wanneer hulle kamp afgeslaan het, het hulle dit nader aan Sodom weer opgeslaan. Lot het dus gekyk na watter land vir hom die meeste potensiaal ingehou het. Hy het die Jordaanrivier sterk sien vloei met pragtige groen gras wat weerskante welig op die vrugbare grond groei.
Ons lees dat die streek vir hom soos Egipte gelyk het! Nou ja, dit lyk asof Lot terug verlang het na Egipte toe - Egipte met sy kommersiële ingesteldheid, blinde materialisme en word-gou-ryk kultuur. Dit is die dinge wat Lot beïndruk het toe hy die Jordaanvallei gadegeslaan het.
Die Bybel vermeld wel dat Lot 'n regverdige man was, maar hy was oënskynlik verblind deur die groen vallei en die herinnering aan Egipte. So erg was sy oordeel aangetas, dat hy nooit besef het dat die woord "Jordaan" eintlik dood beteken nie. Hy het ook nie besef dat die inwoners van Sodom sleg was en gesondig het teen die Here nie. Nee, Lot sien net vrugbare weiding en baie Dollars.
Ons wat die geskiedenis aan ons kant het weet vandag wat die uiteinde van Lot se keuse was. Lot is uiteindelik gedwing om Sodom te verlaat net voordat God dit vernietig het as gevolg van die stad se volgehoue sonde. Sy vrou is in die proses dood en Lot het al sy besittings verloor. Hy het as't ware kaal anderkant uitgekom.
Abram aan die ander kant het floreer in die land wat ons vandag ken as Israel. Sy familie was geseënd en sy nageslag het 'n groot volk geword.
Abram het reg gekies; Lot het verkeerd gekies. En nou die vraag: Hoe kan ons leer om die regte keuses te maak, sodat ons soos Abram en nie soos Lot eindig nie. Kom ons kyk dan nou na 'n paar lesse wat ons uit hierdie geskiedenis kan leer:
1 - Die konflik tussen die twee groepe het sy oorsprong in die oorvloed wat hulle gehad het. Ek dink ons lewens is ook dikwels oorlaai met dinge. Daar is te veel dinge wat ons besluite beïnvloed en kompliseer.
Die Britse skrywer Jerome K Jerome skryf in sy boek Three men in a boat oor drie vriende wat 'n bootreis oor die Teems onderneem. Terwyl hulle voorberei het vir die reis het hulle 'n lys opgestel van alles wat hulle benodig. Toe hulle egter die voltooide lys bestudeer, besef hulle dat hulle nooit 'n boot gaan kry wat groot genoeg is vir alles wat hulle wil saamneem nie. Hulle sit toe koppe bymekaar en stel 'n nuwe lys op. Hierdie nuwe lys was van al dié dinge waarsonder hulle glad nie kon klaarkom nie.
Aan die einde van die boek skryf Jerome: Laat jou boot van die lewe lig wees, toegerus met dié dinge wat jy werklik nodig het:
Jy sal vind dat die boot baie makliker sal vaar. Daar sal tyd wees vir dink en vir werk.
Gemeente, ons moet ons lewens ontbondel. Baie van ons verkeerde keuses is te wyte aan die feit dat ons te veel goed het om in ag te neem - te veel onbelangrike goed waaraan ek te veel waarde heg.
Hoe weet ek dan as my boot te swaar is?
Bevry u lewe van dié dinge wat nie saak maak nie. Dan sal ons keuses heelwat beter lyk.
2. - Die tweede les sluit aan by die eerste. Ons weet nie regtig hoekom Lot besluit het soos hy het nie, ons kan net bespiegel. As ons egter sy begeerte na die vrugbare grond en groen weivelde in die Jordaanvallei in ag neem, dan is dit duidelik dat Lot se prioriteite verkeerd was. Nêrens vra hy vir 'n bietjie wysheid nie. Nêrens lees ons dat Lot enigsins bekommerd was oor sy waardesisteem, of sy geestelike lewe of dié van sy gesin nie. Nee, hy is slegs gemotiveer deur die vooruitsig van wins.
U het seker al gehoor dat deesdae gepraat word van die prioriteit van dringende dinge. Kyk maar hoe gee ons aandag aan dringende dinge ten koste van belangrike dinge. Daar is altyd 'n dringende oproep, 'n spertyd, 'n opdrag ens. Dis nimmereindigend. Die sake wat belangrik is moet deurgaans tweede viool speel. Gesinstyd word afgeskeep, die kerk kry die krummels, stiltetyd bestaan in baie mense se lewens eenvoudig nie.
Die probleem as ons net heeltyd prioriteit verleen aan die dringende dinge, is dat die lewe leeg en betekenisloos word want ons skeep die dinge wat werklik saak maak gruwelik af. Lot het op die verkeerde sake gefokus. Nie een maal het hy gevra: "Waar kan ek God die beste dien?" nie.
As ons fokus op eksterne sake en nie op die geestelike onderbou van my karakter nie, dan slaan ons ook kamp op op die oewers van die Jordaan.
As ons net fokus op dit wat genotvol is en nie op dit wat voordelig en goed vir ons menswees is nie, dan trek ons ook saam met Lot deur die Jordaanvallei.
As ons meer besorg is oor wat iets kos in Rand en Sent in plaas van wat die geestelike koste is, dan kies ek ook die groen weivelde van die Jordaanvallei - gevaarlik naby aan Sodom.
As ons goeie keuses wil maak moet ons ons prioriteite regkry.
3. - Die derde (en belangrikste) les wat ons uit hierdie geskiedenis leer is dat ons deurgaans op God moet vertrou. Weet u wat is die heel beste deel van hierdie teksgedeelte? Dis die verandering wat ons in Abram sien.
In hoofstuk 12 sien ons hoe Abram sake in sy hande neem. Toe die hongersnood intree vlug hy na Egipte. Daar vertel hy leuens om homself te beskerm - en alles loop skeef!!
In hoofstuk 13 aan die ander kant het hy 'n geheel ander houding. Dis veral interessant dat Abram se houding verander toe hy weer die geleentheid kry om by Bet-El die naam van die Here aan te roep (vers 4). Dit lyk asof Abram in vers 4 vir die eerste keer sedert die vlug na Egipte, aanbid. Dit het definitief 'n invloed op sy besluitnemingsvermoë. Nadat hy weer by Bet-El 'n draai gemaak het en hom tot God gewend het, kon hy weer helder dink en goeie besluite neem.
Ons lees egter nêrens dat Lot ook by Bet-El aanbid het nie. Lot is die heeltyd soos 'n skaduwee aan Abram se sy, maar wanneer Abram by Bet-El aanbid, dan skitter Lot in sy afwesigheid. Abram het op die harde manier geleer dat 'n mens nooit ver van God af moet wegbeweeg nie. Hy het ook geleer dat God se hand altyd op ons is en dat Hy ons nooit aan ons eie "lot" sal oorlaat nie - as u die woordspeling sal verskoon!
En dit, geliefde gemeente, is die drie geheime van effektiewe besluitneming:
# Moenie dat 'n begeerte na méér u oordeelsvermoë aantas nie.
# Kry u prioriteite in orde en konsentreer op dit wat werklik belangrik is.
# Vertrou op God
In wese was die verskil tussen Lot en Abram se keuses geleë in net één saak: Watter rol het God in hul lewens gespeel?
Abram het by Bet-El aanbid; Lot het nie.
Abram het op God vertrou; Lot het net op homself vertrou.
Ons sal elkeen vorentoe in ons lewens gereeld belangrike besluite moet neem - besluite wat ons lewens ingrypend gaan beïnvloed. Ons wil elkeen graag wyse beslissings maak. Gaan ons soos Lot kies, of gaan ons soos Abram kies? Gaan ek op myself vertrou, of gaan ek op God vertrou?
Kom na Bet-El, kniel voor die altaar. Vertrou op die Here. Hy nooi u hartlik en innig uit om dit te doen.
Amen.