Voor die koms van bulhond Bertha in die de Jager huishouding, was dit drie chihuahuas gewees - pa, ma en seun. Oubaas, Peggy en Boesman en katte was hulle groot spesialiteit want hulle het as span saamgewerk. Een sou alarm gee "daars KAT in die werf" en die ander twee sou met groot haas vertrek na die aksie toe.
Gewoonlik sou die rondloopkat die naaste boom kies waarvan en baie gehad het. Pomelo, nartjie, suurlemoen, lemoen, papaja, piesang, koejawel of mango. Die katte het groot keuse gehad waar hulle wou in. Die bome met dorings was seker maar bietjie ongemaklik maar geen kat het kans gesien vir drie chihuahuas nie en boomklim het hulle geklim - die katte.
Die enigste manier om weer rus en orde te herstel, was om die kat nat te spuit met die tuinslang dat hy kon uit die boom uit. Dan was dit 'n dolle gejaag vir die naaste heining. Vreeslik sports vir die brakke gewees en na die beste van my wete was die ergste skade die aan 'n kat se ego.