NUUSBRIEF NR 2/2003
1.
TER INLEIDING.
Ons groet al die BREDENKAMPS en vertrou dat hierdie
nuusbrief andermaal ‘n entoesiasme vir ons familiebond maar veral vir mekaar as
Bredenkamps sal aanwakker en uitbou.
Navorsing en bewaring van Families se
geskiedenis beleef tans ‘n ongelooflike en ongekende opbloei en entoesiasme.
Waarskynlik moedig die huidig bestel in ons
land dit indirek aan. Die koestering van ons erfenis, te wete, ons Godsdiens,
waardestelsel, kultuur en taal en die oordrag daarvan aan ons nageslagte
behoort ‘n selfopgelegde prioriteitstaak van elke individu te word
Die mens wat die pad ken waarlangs hy vandaan
kom het ankers en vlerke wat hom in staat stel om daarmee die toekoms te
bou!! As ons as families en individue
nie met deernis en dankbaarheid kennis neem van ons voorgeslagte en hulle
wedervaringe en dit bewaar nie – as ons toelaat dat dit in die vergetelheid
verdwyn – sal latere selfverwyt ons nie baat nie omdat ‘n bepaalde leegheid nie
herstel kan word nie
2.
DIE GENEALOGIESE GENOOTSKAP VAN SA.
Die Noord-Transvaal Tak het ‘n ope dag gehou
op 13 September 2003. Marthie Bredenkamp was baie betrokke en het saam met
Hennie Bredenkamp ‘n interessante uitstalling met betrekking tot die BREDENKAMP
Familiebond daar aangebied. In die
maandelikse Nuusbrief van September 2003 word soos volg deur die Genealogiese genootskap se Tak berig:-
“Die navorsing wat die Bredenkamps oor hulle
familie gedoen het is inderdaad indrukwekkend. Daar is duidelik oor baie jare
veel werk ingesit, met uitvoerige verwysings ook na die Bredenkamps in
Duitsland”
3.
"EINE REISE IN DIE VERGANGENHEIT".
Die berig het verskyn op die Neue Westfaalse
Internet en in die plaaslike koerante aldaar op 3 September 2003.
Vir Horst en Christa Bredenkamp van Oberbauerschaft in Duitsland het ‘n lank gekoesterde ideaal werklikheid geword, toe hulle vroeër vanjaar Suid Afrika besoek het. Hulle was veral verras om in die telefoongidse soveel Bredenkamp vanne te lees. Hennie Bredenkamp het hulle in die Kaap vergesel en hulle het ook ander Bredenkamps ontmoet, onder andere Dr Pierre Bredenkamp en Johan Bredenkamp, Hennie se broer.
Die oorsprong van die Bredenkamps in
Suid-Afrika is juis Klosterbauerschaft waar die Bredenkamps vandag nog
teenwoordig is. In die huis waarin Horst se vader gebore is het ook Johannes
Christoffel waarskynlik in 1739 die eerste lig gesien.
In hierdie verband het ons ook in e-pos
ontvang van Werner Bredenkamp uit die Rhynvallei wat vertel dat hy in 1954 in
Klosterheide, 53 Klosterbauerschaft, gebore is - die woning wat ook op ons
webblad verskyn. Die huis en die Skrynwerkfabriek het aan sy oupa Wilhelm
behoort en is nog steeds in sy neef, ‘n Bredenkamp se besit en is geleë op die
oorspronklike Plaas No. 12..
Terloops Horst en Christa was aangenaam
verras om op die landkaart van Suid-Afrika soveel dorpe met Duitse oorsprong te
vind onder andere: Heidelberg, Berlyn, Hanover en Frankfort.
4.
‘N BREDENKAMP TROFEE!
Van ene Willie du Plessis het ons ‘n baie
interessante brokkie nuus verkry. Dit
handel oor die Krugersdorp se Kameraklub wat ‘n trofee het wat geskenk was deur
Wyle Ben Bredenkamp en wat deur sy vader Oom Francois Bredenkamp (‘n bou
aannemer) gemaak is. Die trofee in die vorm van ‘n hout wiel, word jaarliks
toegeken in die kategorie “Uitmuntende
diens aan die klub”.
Volgens Willie was Ben vir baie jare ‘n
toegewyde en aktiewe lid van die klub.
Na bietjie speurwerk het ons wyle Ben
Bredenkamp se seun Francois wat in Hennopspark woon opgespoor en toe sommer
vasgestel dat hy al ‘n hele paar saamtrekke in Pretoria bygewoon het en ook saam
met die groep was na Nooitgedaght.
5.
BRIEWE VAN HEINDE EN VERRE.
Ø Liewe Marthie,
Dis lekker om vir jou vanmore te kan groet en
om jou te bedank vir die heerlike dag wat ons Saterdag in die ou
Wes-Transvaal deurgebring het. Die hele dag
was gestruktureer rondom ons oorlede voorvaders, maar die lewende familielede
van vandag het weer die vertroosting, gemaklikheid en liefde van bestaande
bande beklemtoon. Dis kan natuurlik ook maar wees omdat ons daar as 'n groep
van eendersdenkendes bymekaar was, maar dit het my opgeval dat ons in die nuwe
SA al meer op hierdie geborgenheid van ons eie familiegroep sal moet terugval
as ons soos burgers in ons eie land wil voel.
Die swaar en vreugde wat ons as familie
meegemaak het, het ons verenig op 'n stuk grond waarop die
'gees van die Bredenkamps' deeglik inwoon -
en niemand kan dit van jou wegvat nie. Ook Barry het dit beleef en daarvan deel
geword. Baie dankie vir jou persoonlike aandag en sorgsaamheid.
Sal jy asseblief so gaaf wees om my die bankrekening
besonderhede per e-pos aan te stuur. ek wil lidmaatskap gelde
inbetaal.
Laat weet asseblief watter inligting jy van
my benodig vir die Register, dan kan ek dit ook aanstuur.
Beste groete,
Francois (& Barry) Bredenkamp
Prof. F. Bredenkamp
Direkteur: Navorsing
Technikon Noord – Wes
Laat my asb weet as daar enigiets is wat ek kan doen om te kan help!!
Ek dink dit is baie belangrik dat ons generasie
moet betrokke raak en so veel as moontlik by ons ouers moet uitvind,
anders raak dit dalk vir ewig verlore.
Geniet die dag verder
Riaan Bredenkamp.
Ø Marthie.
First of all let me introduce myself. I'm Kirstan James Steven Bredenkamp, First son of Densil Noland Bredenkamp, First grandson of James Steven Bredenkamp, First great Grandson of Johannes Jacobus Bredenkamp.
I was born in Zimbabwe on the fifteenth of
September 1981 and have grown up here ever since.
I came across the website RootsWeb.com a few
days ago and it was unbelievably exciting to find someone looking for
Bredenkamp's living in Zimbabwe to complete our family tree. And thought I
would try and help you out by gathering information from this side of the
world.
Was wondering if you could send me any
information regarding the "Bredenkamp" family as I would love to know
the roots of our origin. From this side I will be gathering information from my
Granddad who is currently living in Lusaka, Zambia.
Kirstan Bredenkamp
6.
BYEENKOMSTE EN BESOEKE
Ø
CLARENS
Vrydag het van ons komiteelede Jannie, Marthie, Gert en Sarie
Bredenkamp vroeg oggend vertrek na Clarens, waar ons as Bredenkamps gaan
saamkuier het op Saturdag 1 Maart.2003 op die plaas Berlin in Clarens.
Tannie Emma Booth, haar seun Charles en Annie Booth het ook vir ons kom
kuier. Annie het eers gaan fietsry, sy is 'n kampioen ryer as dit by fietsry
kom. Denis Bredenkamp was ook teenwoordig.
Die gasvryheid wat ons ontvang het van ons gashere en gasvrou Johan,
Bess, Niel en Tappie was uit die boonste rakke. Berlin is sowaar 'n plek waar
'n mens kan gaan droom en vergeet van die buitewêreld. Berlin is nou in 'n
gastehuis omskep.
(a1b3c2d4e4f3g2) Theunis van Andel
Bredenkamp (Kammetjie) is gebore op Paul Roux distrik Bethlehem op
31.8.1921. Hy en Helena Dorothea (Thea) Roos is getroud is op 18.9.1948.
Thea is gebore op 30.12.1924. Hy het geboer op die twee erfplase Trentham
en Berlin distrik Bethlehen wat eers aan die Roos familie behoort het. Theunis
van Andel was 'n kranige polospeler wat heelwat medaljes verower het vir ons
om te bewonder. Hulle kinders Johann, Bess, Niel en Tappie is daar
gebore en groot geword. Theunis van Andel Bredenkamp sterf in Bethlehem op
10.12.1987.
Marthie Bredenkamp.

Bredenkamp saamkuier op Berlin Die ander plaas naby Berlin in Bethlehem
Ø
ALBERTON
Een van die nuwe lede
op ons komitee, naamlik Wynand en sy
vrou Els Bredenkamp het ‘n saamtrek op
Maandag 16 Junie 2003 aan huis in Alberton gereël. Met baie min tyd tot meeste
se beskikking slaag hulle daarin om ‘n heerlike groep bymekaar te kry. Hulle
was so ver as vanaf Swartruggens. Groot waardering vir die Sakkie en Winnie
Visser vir die opoffering om so ver te ry om die geleentheid kon bywoon. Van
die ander familielede kon ongelukkig nie daar wees nie weens ander
verantwoordelikhede.
Groot waardering aan ieder en elk wat die speur - en opspoorwerk gedoen
het en vir die toewyding waarmee die Bredenkamps die groot taak verrig. Foto’s
was uitgehaal en inligting kon nie met sekerheid vasgelê word nie maar daar
word baie vordering reeds gemaak. Dit was ‘n voorreg en ‘n ervaring om vir die
eerste keer deur Bredenkamps omring te word. Die emosionele ervaring om vir die
eerste keer na foto’s van vyf geslagte Bredenkamps te kyk en dit maak sin, kan
nie beskryf word nie. Na ‘n heerlike dag van saamkuier, gesels, foto’s kyk en
neem en verversings is daar ‘n band gesmee wat nie maklik gebreek sal word nie
en ons dank aan die Hemelse Vader daarvoor.
Baie dankie aan elkeen wat bygedra het tot die sukses van hierdie dag
Wynand Bredenkamp

Wynand – ongelooflike trekke
na Van die Bredenkamp afstammelinge by
Barend Godfried a1b8c6 Wynand se huis
bymekaar.
Ø
KAMEELDRIFT 313 J.R
Ons nuwe lid op die komitee
Elize Pieterse (Bredenkamp) en haar pa Jannie het ‘n saamtrek gereël en daar was naas die sewe komiteelede nog vele ander Bredenkamps en
afstammelinge. Baie dankie aan almal wat 5 Julie 2003 teenwoordig was.
Daar is oor – en - weer gegroet en voorgestel en ‘n besef dat ons mekaar nie eens ken nie.
Frikkie Bredenkamp het die dag, vir Onse Hemelse Vader gevra om ons met die
groot taak te seën en ons harte en hande hiermee te versterk, om van hierdie
groot taak 'n sukses te maak. .
Pieter Bredenkamp het kortliks vertel van die doelwitte en werksaamhede
wat reeds vermag is deur die komitee bv. die insameling en redigering van inligting, die bywerking van nuwe inligting, die
samevoeging van inligting in CD formaat en later in boekvorm. Hennie het die
stamboomgeskiedenis van Jan Frederik, Jan Daniël en Christiaan Detleff Bredenkamp asook sy besoek aan Duitsland op
die tafel uitgestal.
Marthie en Jannie het die Barend Godfried kant van die Geslagsregister
teen die Lapa se muur uitgestal. 'n
Skandeermasjien is ingespan en ou familie foto's en inligting is hierop
vasgevang. Groepfoto's is geneem, en
dit is belangrik om by elke samekoms ‘n
bywoningsregister in te vul om later te kan bevestig wie op die foto
teenwoordig was. Familiebande is gesmee rondom braaivleisvure wat lank nagelaat
is om saam te kuier. Daar moet tyd gemaak word om die familiebande bymekaar te
hou en mekaar gereeld te kontak.
Te voet het ons die paadjie gevolg om die plaashuis te besigtig, wat
deur Johannes Christoffel Bredenkamp (gebore 12.06.1882 en oorlede 26.07.1942),
ongeveer 1905 self gebou is, op die Plaas Kameeldrift 313, erfgrond van Johanna
Lourensina (gebore Smit), sy huweliksmaat.
Daarna het Johannes Christoffel Bredenkamp (Jannie) * 1943, wat nog
steeds in besit is van die grond, ons op sy bakkie aangery na die
familiebegrafplaas 'n kilometer of wat daarvandaan. Hier in die familiebegrafplaas lê twee geslagte Johannes
Christoffel Bredenkamps bymekaar begrawe, pa en seun. 5de geslag en 6de geslag
gebore. Drie geslagte is nog wonend op die eiendom.

Groep van die Bredenkamps by
Kameeldrift Plaashuis
omstreeks 1905 self gebou deur
Johannes Christoffel Bredenkamp
Ø BESOEK AAN
STRYDFONTEIN 606 -
HORNSNEK PRETORIA
Op Saterdag 6 September besoek 'n paar van
ons Bondskomiteelede saam met Ben BREDENKAMP die ou familieplaas en
begraafplaas op Strydfontein
Ben is op 17.09.1925 op die plaas gebore en
gedoop Barend Abraham BREDENKAMP. Hy
is die kleinseun van Barend Josef Johannes BREDENKAMP (a1b3c2d5e1) gebore
30.03.1850 en oorlede 08.07.1935) wie ook op Strydfontein in die familiegebraafplaas
begrawe is. Daar is nog verskeie
ander BREDENKAMP grafte asook VAN DEVENTER en DE BEER grafte. Sewe klipstapels op grafte van NAUDES het
ongelukkig geen identifikasie nie, maar is volgens oorlewering grafte van
NAUDES van die Naude Trek wat in die Groot Trek tydperk daar gesterf het. Ben hou die begraafplaas
netjies en verdien 'n pluimpie vir wat hy as bejaarde steeds verrig.
Die ou opstal en plaasskooltjie is verbreek
en verbou maar steeds herkenbaar, die klipkrale word omarm deur massiewe
wildevyebome en die watermeulgeboue staan nog stewig en word as buuitegeboue
gebruik.
Almal van ons kom onder die indruk van hoe
verganklik alles is, maar die tema van 'n plaasskooltjie soos op feitlik elke
afgeleë terrein wat ons al besoek het staan uit.
Deur
Duitsland, die Overberg, Vrystaat, Noordkaap en Transvaal spreek dit
boekdele dat opvoeding en onderwys so 'n hoë prioriteit by ons voorgeslagte
gehad het. Mag ons daaruit leer en
die toekoms steeds in dieselfde gesindheid aandurf.

Klipkrale word omarm deur
massiewe wildevyebome Watermeul
geboue staan nog stewig
Ø ‘N BESOEK AAN
KADEBIS
Agt Komiteelede van die Bredenkamp
Familiebond was bevoorreg om op Saterdag 4 Oktober 2003 in die harde droë
wêreld met lafenis, eetgoed en liefde en hartlikheid getrakteer te word – ‘n
kenmerk van die mense van die wêreld!.
By die Kadebis Boeresaal op 'n ou Bredenkamp
familieplaas met sy begraafplaas het ons heerlik gekuier met ongeveer 25
Stellalanders van oud tot jonk en Bredenkamp gebore, aangetroud of
ondersteuners. Afstande en sinkplaatpaaie het hulle nie gekeer nie. Pat en Sus
Bredenkamp van Dwaling en Wors en Carin van Lovedale het dit bewys. Baie dankie.
Gert en Sarie Bredenkamp van ons komitee het,
met samewerking van Thys van Wyngaardt die huidige eienaar van daardie gedeelte
van Kadebis en Calla van Tonder en andere, puik reëlings getref. Die braaiers
en die vriendelike dames het 'n heerlike middagete voorgesit. Wees verseker hierdie ontdekkingstog van ons
gaan nog tot baie nouer bande met die streek lei."Ons is mos ganse van
dieselfde dam" soos die Noordkaaplandse spreekwoord sê.
Foto's, plaasrekords, familie - takke, die
besoek aan die begraafplaas is met groot entoesiasme saam gedeel. Die bewaringsaksie t.o.v. die ou
begraafplaas is beplan en binnekort sal 'n nuwe paslike omheining en
versorgingsaksie in plek wees. Ons het alreeds nuwe inligting per faks ontvang
van Pat en sy gesin op Dwaling. Baie
dankie daarvoor. Dit word reeds bygewerk in die stamboom. Hulle is terloops afstammelinge
van Barend BREDENKAMP (a1b3c1).
Ons doen 'n beroep op alle afstammelinge van
of persone wat kennis dra van Jan
Frederik BREDENKAMP gebore 1869 van Randfontein, Alettasrus omgewing en Barend
Godfried BREDENKAMPgebore1826 Colesberg / Beaufort-Wes omgewing en Barend
Jacobus BREDENKAMP gebore 1835 van die Vryburg, Louwna omgewing. Laat hoor van
julle asseblief!
Hennie Bredenkamp

Familie by begraafplaas op die plaas Kadebis Familie bymekaar in saal op die plaas
Kadebis
Ø
DIE BREDENKAMPS SE PELGRIMSTOG NA NOOITGEDACHT
Gert en Sarie Bredenkamp het hul Francois
Alwyn vertakking (a1b8c6d geslag) met soveel oorgawe nagevors dat hulle na vele
jare weer die familiekerkhof op Nooitgedacht noord van Silkaatskop gaan soek
het, gekry het en ‘n groepbesoek gereẽl
het vir 16 Augustus 2003.
Daar is gewoel en gereẽl en met hulp
van almal breek die groot dag aan en met groot geesdrif vergader 21 Bredenkamps
met 8 motors om 8:00 vm by die Swartrugggens kerkhof daardie besondere
Saterdagoggend. Kort na die stemmige en ernstige begin van die dag begin die
sports!
‘n Paar Pretorianers het ‘n bietjie laat
lepel gelê en toe begin die selfone
werk. (Dis nog ‘n wonderliker ding as ‘n donkie) om almal bymekaar te kry.
Vandaar na Sakkie en Winnie Visser - hulle se plaas om ontbyt en hul hartlike
gasvryheid te geniet en ‘n foto sessie. ‘n Paar motors mis die afdraaipad in
die dorp en nog ander die plaashek – nogal met ‘n groot naambord!
Toe suis die lug weer met die selfone wat
moet regmaak wat krom is. Ek vermoed daar
was so 40 selfone (ongeoudit – dit het so
geklink) en 2 Gee-Pee-Esse!!. Dis nou ‘n kontrepsie wat vir jou presies sê waar
jy is as jy dit nie reeds weet nie. Tot op die naaste tree so word aan ons oningeligtes
verduidelik.
Toe ry ons ‘n stofstreep uit anderkant Marico
oor Rusverby, Lindleyspoort, Skuinsdrif, Staatsdrif en Silkaatskop. Na Rusverby
is ons rus ook verby. Twee papwiele, 24 selfoonoproepe en ‘n klomp ekstra
kilometers later kom ons voor Nooitgedacht se hek met ‘n slot en ketting wat
beduie – “Geen toegang – draai maar om!”
Na Groot Indaba, nog 42 selfoonoproepe klim
‘n ekspedisie oor en gaan vra die nuwe baas van die plaas om hulp. Vriendelik
met ‘n breë glimlag kom sluit hy oop en ons omsingel Gert se geboorteplaashuis
met al ons Bredenkamp bronne beskikbaar. Sommiges kon gedink het dat die boere
weer die plaas terugvat !
Arme Gert! Spierwit van onsteltenis oor wat
ons vind. Uiterste verwaarlosing deur die
nuwe eienaars. ‘n Vrot donkie karkas aan ‘n
slaghaak in die huis en ‘n reuk wat ontwikkel kan word as wapen om
massa te verdryf. Weer Indaba, weer selfone wat gons. Die Bredenkamps
organiseer almal en ons trek verder. So 4km verder en na sowat 23 ½ hekke wat
wissel van smoelneukers tot uiters vindingryke doringdraad hekelwerk sorg die
erdvarkgate dat die pelgrims goeie oordeel aan die dag lê en parkeer en verder
stap.
Dit het gelyk soos die Israeliete agter Moses
aan deur die swarthaak, withaak, kameel en elke annerlike soort. Behalwe een
verskil, ons volg toe meer as een Moses want ons het GPS en selfone en Gert,
Sarie en Marthie herken klokslag ‘n kameeldoring wat kwansuis by die
Begraafplaas staan. Toe swerf die “Israeliete” maar vir ‘n paar ure, Oom
Frikkie op 89 kietsregop met sy kameeldoringstomp as kierie nadat hy van al die
slange gehoor het.
Naderhand is ons terug langs die grootpad na
nêrens nie (Nietverdiend?) en kilometers
vêr van ons 8 eensame motors daar in die
Marico Bosveld terwyl hulle net Johannesburg en Pretoria se strate ken. Dis mos
Herman Charles Bosman wêreld die!
Nog ‘n Indaba maar nou is die geselskap al
wyd versreid. Manne met GPS, voortvarende jonges wat oral in die bos rondhol en
in verskillende rigtings pad aanwys laat jou wonder oor hoeveel afwesiges daar
gaan wees by die volgende “roll call” Ek wonder nog so by myselwers of daar nog
ridders op Witperde is toe kom ‘n ou rammelkas rooi Nissan bakkie in ‘n
stofwolk verby. Marthie is agterop en haar hare is los en waai in die wind en
sy skreeu en ek dink !, hier het ons nou nog ‘n mensroof kaping ook.
En toe kom die groot val in my lewe. ‘n
Toegegroeide stuk verroeste doringdraad sorg dat ek Nooitgedacht koop volgens
al my regte verskans in die Grondwet en ek slaan neer met absolute oorgawe. Toe
die rooi stof gaan lê en die kruitsmaak so effe van my verhemelte af verdamp
hoor ek stemme: Haai dis Hennie! Het hy seergekry? Is hy oraait?
Ek wonder, is my skouer af, is my kamera
oraait, is ek op Nooitgedacht of by die Groot Poorte? Wie is hierdie mense hier
om my? Tydgenote of Voorgeslagte? Gelukkig week ek darem iets van almal,
voorgeslagte en huidiglik en ek berus dat die familielede sal help, waar ek my
ookal bevind. Opgehelp, opgestaan, afgestof en ‘n sug van verligting, ek is nog
hier! Op die bakkie seer skouer en al, terug om die motors te gaan haal. Weer
al die hekkie oopsluit en oopryg en ontrafel, die motors kry, met Simon regmaak
en weer al die hekke toeryg of toesluit.
Gelukkig is Simon die vriendelike swart
eienaar van die bakkie so uit die veld geslaan deur die klomp “buitelanders” in
sy wêreld dat hy help – en genoeg petrolgeld verdien om daardie Nissan ‘n lang
ruk te laat loop. Uiteindelik oorwin ons met Geloof, Hoop en Liefde en Vasbyt
en Saamwerk en ons staan by die Groot ou Kameeldoringboom met die klipmuur om
die begraafplaas.
My skouer klop en pyn, Francois bring pille
en ek maak genoeg spoeg bymekaar om te
sluk. Almal is besorgd en belangstellend na
my welstand en ek skep moed want Francois
glo sy pil sal my deurhelp. My skouer klop al hoe harder tot ek besef
maar dis pikke en grawe agter die begraafplaas muur wat ‘n gat grawe. Het hulle
dan nou opgegee om my deur te haal? Ek kyk die omgewing goed deur vir oulaas en
besluit vasbyt is nou jou voorland of jy word vandag hier ingespit en jou inskrywing
in die stamboek word net hier gefinaliseer.
Die pikke en grawe word knaphandig deur Carl,
Barry en Jannie aangewend om skoon te skoffel en ‘n gat te grawe vir die
vleklose staal paal en staander wat Wynand laat maak het vir ‘n gedenkplaat. (Elize,
ek dink oom Jannie moet dankbaar wees. Jy het goed getrou, hierdie Pieterse is
‘n aanwins vir enige familie.)
Oom Frikkie vra die Seën op die verdere
verrigtinge en ‘n paar oomblikke van gewyde stilte heers in hierdie groot wye
pragtige natuur. ‘n Mens dink onwillekeurig daaraan – as hierdie klippe kon
praat !!. Hoe trots kan ons nie wees op voorgeslagte wat hier kon oorleef
sonder enige van ons moderne fasiliteite en hulpmiddels nie!
Dis al na vier en die jongklomp begin die
wêreld verken. Barend kom teruggehol en sê daar’s ‘n seekoei so 400 tree van
ons af in die Marico rivier. Ek meet die klipmuur en die wydte van die hekkie
langs die Ou Groot Kameeldoring en die spasie
binne die muur so met die oog en besluit Francois Alwyn hulle het goed
beplan. ‘n Seekoei sal nie sommer hier inkom nie.
Die nageslagte is vireers veilig in die
begraafplaas! Nadat die paal met sy kateder en gedenkplaat vasbeton is het oom
Frikkie plegtig met deernis na behore die verrigtinge met ‘n gebed afgesluit
waaroor ons nog lank kan nadink. Weer ‘n Indaba en wyse besluit om net daar so
100 meter van die begraafplaas onder die groot Kameeldoring ‘n vleisie te braai
en ‘n broodjie te breek.
Na 4
ure se rit en deur genade van Bo is ons almal veilig tuis. ‘n Warm bad en bed
was ‘n lafenis na ‘n dag vol nuwe gewaarwordinge, ervarings, emosies en dankbaarheid dat ons op die wyse ‘n
voortreflike Familiebond kan vertroetel en uitbou.
Hoe lyk dit? Het hierdie wedervaringe nie ‘n
aansteeklike effek nie? Kom ons geniet
ons Bondaktiwiteite, verryk
onsself so en dra by tot ‘n baie belangrike familiesaak en strewe.
Hennie Bredenkamp.

Een van
die voertuie in die bos “ splinter nuut” Familie by die opstal op die plaas “Nooitgedaght.”
Ø
MABALINGWE
WERKSESSIE
Die komitee het ‘n magdom inligting gehad wat
verwerk moes word - en Hennie het reëlings getref dat ons van Maandag 25
Augustus 2003 tot Vrydag 28 Augustus 2003 ‘n werksessie kon hê. Altesaam ± 120 man ure het ons in staat gestel
om veral die gegewens te kontroleer met nuwe bronne en kruisverwysings. Ons kan nou rapporteer dat, met die
inligting tot ons beskikking, die stamboom nagegaan is en tans tot die beste
van ons vermoë verwerk is, vir latere terugverwysings.
Die belangrikheid van die aksie het onder meer
geblyk dat ons die gegewens van ‘n persoon bespreek het, te wete name,
doopdatum, sterfdatum, troudatum ens. en as vasgestel word dat dit nie
heeltemal klop daar maar weer sorgvuldig nagegaan moet word.
‘n Belangrike aspek wat na vore gekom het is dat ons in sekere gevalle verdere inligting moet ontvang word om die ontbrekende besonderhede te kan invoeg ter wille van volledigheid van die hoofstamboom.
Volgens die Genealogiese Genootskap van Suid
Afrika - Noord-Transvaal
Tak
Baie van ons - moontlik die meeste - se
belangstelling in die familie geskiedenis hou verband met hulle wens om meer
uit te vind omtrent hul voorsate, veral drie of vier geslagte in die verlede. As die gogga hul eers gebyt het, gebeur dit
soms dat sulke lede al verder en verder oor hul families begin navors, Daar
bestaan baie sulke familiegeskiedenisse, en almal dra hul deeltjie by tot ons
kennis van die verlede. Dit word veral opgehelder deur van ou fotos, waarin ons
kan sien hoedat ons voorouers gelyk het, en die kleredrag van daardie dae. 'n
Baie ou foto kan 'n kosbare bydrae maak tot die familie se geskiedenis. Die
probleem is dikwels dat hoe ouer die foto hoe moeiliker dit is om ‘n persoon of
persone te bevestig of om bevredigende af drukke te maak. Deur nogtans die ou onduidelike foto’s in te voeg in ‘n publikasie,
bestaan die gevaar dat dit die waarde
van ‘n boek mag verlaag. Daar
bestaan indrukwekkende voorbeelde van familiegeskiedenisse waarvan sommige ou
foto’s so onduidelik is en geen inligting rondom die foto’s bestaan nie. Daarom is dit baie belangrik om
korrekte inligting agter op foto’s te plaas sodat dit vir die nageslag bewaar
kan word.
Vandag is die tegnologie aan
ons kant en stel ons instaat om ou, onduidelike fotos op te bou tot iets meer
gangbaar, die resultate waarvan kan gebruik word om te publiseer. Daarom is dit baie belangrike vir bewaring
van enige foto’s.
7.
EN VERDER
Wynand het nou ons stamboek gegewens wat terloops reeds detail van meer
2,000 BREDENKAMPS bevat met die
rekenaar verwerk in sagteware familie program. Die inligting – as ons dit op
een spreivel sou plaas – beslaan reeds ‘n 2 meter wyd en 26 meter lank vel (!!!)
en ons is nog steeds besig om verdere inligting by te werk! Ons Bredenkamps is aan Wynand groot dank
verskuldig vir sy ywer in verband met die familiebond sake
Ø Hou ook ons Webblad
dop!
http://www.geocities.com/bredenkamp_bond - http://www.geocities.com/bredenkamp_bond
Ons wil weereens 'n beroep doen op Bredenkamps wat oor e-posfasiliteite beskik om die nuusbriewe en inligting onder familielede te versprei wat nie toegang het tot internet nie.
Ø Ons Komitee sal
steeds as ‘n span voortgaan om gedurende 2004 die stamboom gegewens so volledig
moontlik in druk (voorlopige vorm) beskikbaar te stel sodat al die Bredenkamps
dit ter insae kan hê en ontbrekende inligting aan die komitee kan deurgee en
ook moontlike foute kan aandui.
Ø Verdere aksies
waaraan ons vertrou die Bredenkamps in die verskillende streke inisiatief sal
neem is om:
-
Streeksfunksies en saamtrekke te reël.
-
Identifisering van begraafplase met die oog op bewaringaksies
-
Bogenoemde inligting na ons deur tegee vir gebruik in volgende
nuusbriewe.
Ø PROGRAM 2004:
Ons sien uit na verdere uitstappies en byeenkomste onder andere na die
Petrusville/Van der Kloof BREDENKAMPS daar suid van die Oranje wat ons so pas
ontdek het. Almal afstammelinge van Barend Godfried (a1b8) wat reeds 15 jaar oor die Groot Trek in 1821
daar gevestig het. Besoeke aan van die ou familieplase o.a. Paardeberg,
Kalkfontein, Hondeblafsrivier, Jakkalskuil, Knoffelfontein en Bokkenkraal
beloof om 'n groot hoogtepunt te wees en vele bondslede te werf, inligting te
versamel en familiebande te versterk.
Ons hoor die flukse seuns van Fanie BREDENKAMP boer 'n hond uit 'n bos uit op hul besproeiingsplase Hul tante, Anna, op die dorp was reeds 'n groot bron van inligting oor die familie.
8.
TEN SLOTTE
Laat weet vir ons van enige interessante dinge wat met u gebeur -
Bredenkamp babas wat gebore word; Bredenkamp troues; spesiale verjaarsdae;
spesiale bevorderings; wanneer enige Bredenkamp in die kollig kom; enige
voorstelle of kritiek teenoor die familiebond; ag sommer enigiets wat dalk van
belang kan wees. Vertel ons van u
familiebesonderhede sodat ons die stamboom kan aanvul en tot by die jongste
aankomelinge kan opdateer
U kan Marthie Bredenkamp kontak by:
E-pos: [email protected]
Posbus: Knysnalaan 282
Sinoville
Pretoria
0182
Alle donasies, hoe klein ookal, baie welkom is, is dit donasies van
hierdie aard wat die Familiebond werklik finasieel gesond hou. - die komitee het uitgawes wat die huidige
fonds dreineer - soos bv. vir navorsing
doeleindes, die druk en verspreiding van die nuusbrief en vir die projek, bewaringaksies van begraafplase. Die rekeningbesonderhede is soos volg:
Bredenkamp Familiebond, ABSA Bank,
Tak Sunnyside
Aktiewe Spaarplan, Rekening
Nr: 90-7187-3122
Om dit alles te vermag, het ons egter die ondersteuning van alle
Bredenkamps nodig. Hoe meer lede ons het, hoe makliker is dit om ons
verpligtings na te kom.. Ons sou graag wou gesien het dat lidmaatskap gratis
moes wees, dog in hierdie duur tye waarin ons lewe, is dit nie moontlik nie.
Net die administrasie van die familiebond - briewe, seëls, koeverte, die
nuusbrief, ensovoorts - verg groot bedrae geld
AFSTERWE VAN BREDENKAMPS
Ons meegevoel aan Bredenkamps met
afsterwe van hulle familielede.
Ons vorige voorsitter Oom Frikkie en sy gesin met die afsterwe van sy eggenote Tannie Nellie na ‘n ernstige beroete aanval. Sy is in die Little Company of Mary Hospitaal op 5.6.2003 oorlede.
Jacomina Elizabeth Bredenkamp van die Strand en gesin met die afsterwe
van haar eggenoot Isaac Christoffel Bredenkamp
* 20.10.1925 oorlede op 6.4.2003.
Familie van Mara Gouws nee Bredenkamp* 10.10.1942 met haar skielike heengaan op Vrydag 25.7.2003, roudiens op Donderdag 7 Augustus 2003 vanuit die NG Kerk Hermanus waarna haar as in haar moeder se graf geplaas is.
Rienne Bredenkamp en familie met die afsterwe van Pieter Jacobus
Johannes Bredenkamp * 16.9.1930, oorlede 29.10.2003,
Van Pretoria. Verassingsdiens was vanuit die: Ned. Herv. Kerk,
Pretoria-Wes op 3 November 2003 om 10h00
Aan die familie met die afsterwe van Christiaan David Bredenkamp * 22
November 1939 van Pretoria op 13 November 2003. Verassingsdiens op Maandag 17
November 2003 om 10h00 vanuit die
Afrikaanse Protestante Kerk Wesmoot.
Die afsterwe van Martie se ma ouma Bakker van die familie Bredenkamp en
ouma Dreyer van Carl Pieterse wat met Elize Bredenkamp getroud van Kameeldrift
JR 313. Ons as Bredenkamps dink aan julle.
BREDENKAMP HUWELIKE EN BABAS
Van die kant van die Familiebond wil ons graag vir u van harte gelukwens.
Die jaar het verbygesnel en ons glo dat ons Bredenkamps hier aan die
Jaarend kan sê: Aan die Liefde van die
Here is daar geen einde nie en sy genade was vir elkeen elke dag oorvloedig.
Mag elkeen van u opnuut die wonder van die geboorte van ons Verlosser, Jesus
Christus met Kersfees belewe en mag u in 2004 die seën van ons Hemelse Vader op
‘n besondere wyse ervaar,
Namens die Komitee
Pieter Bredenkamp
LIDMAATSKAP UITNODIGINGSBRIEF
1.
ALMAL IS WELKOM BY DIE BREDENKAMP FAMILIEBOND
Die Bond is vir die BREDENKAMPS – Hier en nou
en tot in die verre toekoms!!
2.
Omdat ons baie trots is op ons FAMILIEBANDE en ons Bond se prestasies
en U graag as LID daarvan wil werf, wil ons U meedeel wat die familiebond
sedert sy stigting reeds vermag het.
·
Die BREDENKAMP STAMREGISTER en FAMILIEGESKIEDENIS is reeds vêr
gevorder. Dit begin by JOHANNES CHRISTOFFEL BREDENKAMP wat op 24 September 1763
aan boord van die Leckerland by die Kaap voet aan wal gesit het en wat die
stamvader van al die Bredenkamps in Suid-Afrika en ook buite ons grense is.
Alle Bredenkamps se informasie en hulp word benodig om ons boek so volledig as
moontlik saam te stel.
·
‘n BREDENKAMP FAMILIEBONDWAPEN is ontwerp en reeds by die Staatsheraldikus
geregistreer vir gebruik deur almal wat aangesluit het by die BOND.
·
Daar word gereeld streeksfamieliefeeste gehou soos by Pretoria (ORYX
EKO PARK), POSTMASBURG, CLARENS, MEYERSDAL in ALBERTON en KAMEELDRIFT 313 JR in
Pretoria. Elke byeenkoms was in reuse sukses en familielede het mekaar vir die
eerste keer daar “ontdek” en aangenaam gekuier.
·
NUUSBRIEWE WORD UITGEGEE met interessante inligting en nuuswaardige
berigte o.a van saamtrekke wat vir die BREDENKAMPS van belang is.
·
Die BREDENKAMP WEBTUISTE is
ontwerp en word instand gehou sodat belangrike inligting daarin bekom kan word,
maar ook waar bekendmakings en uitnodigings na saamtrekke geadverteer kan word.
·
Die jongste is ‘n leerhoed met die FAMILIEBONDWAPEN en word teen
kosprys (baie billik) verkoop. Die kan
by Marthie Bredenkamp bestel word by 012 543 0860
3.
Ten spyte van wat reeds bereik
is het ons nog verskeie ideale en doelwitte
waarvan die belangrikste is om die inligting in die stamregister so
korrek en volledig moontlik te kry en andersyds om ‘n hegte band te bind tussen
al die BREDENKAMPS sodat ons mekaar leer ken, waardeer en geniet.
4.
Met aansluiting sal ‘n lidmaatskapsertifikaat met die BREDENKAMP
familiebondwapen in volkleur en ander tersaaklike dokumente aan U gestuur word.
5.
‘n Bereidwillige medewerker word gevra om die komitee by te staan met
die reël van familiebyeenkomste in U gebied asook met die verkryging en
verspreiding van inligting.
6.
Om dit alles te vermag het ons u nodig en veral ook u lidmaatskap van
die BOND waardeur u ondersteuning bied.
7.
Voltooi asb die aangehegte
aansoekvorm en pos, faks of E-pos dit aan:-
Marthie Bredenkamp…..
Fax nr: 012 543 0860
Knysna Laan 282 Sinoville
Pretoria. 0182
E-pos:
[email protected]
Bank Bredenkampbond -Rekening nr. 90 7187 3122 –
Aktiefspaar Sunnyside
AANSOEK
OM LIDMAATSKAP VAN DIE BREDENKAMP FAMILIEBOND
BESONDERHEDE VAN AANSOEKER:
Volledige name volgens
geboortesertifikaat:____________________________________________
Van:(of nooiensvan in geval van dame) _______________________________________________
Geboortedatum:_____________________________ID
nr:________________________________
VOLLEDIGE
POSADRES:_________________________________________________________
VOLLEDIGE WOONADRES: _______________________________________________________
e-pos ADRES:_____________________@___________________TEL NR:
(H)_______________
TEL NR (W) _______________FAKS Nr._____________________SEL
Nr. __________________
GETROUD MET (Indien van toepassing)
Volle name:(Volgens geboortesertifikaat)
_____________________________________________
Van/Nooiensvan:_________________________________________________________________
VOLLE NAME VAN KINDERS: (Volgens geboortesertifikaat) EN GEBOORTEDATUM
1._____________________________________ 4.__________________________________
2.____________________ _________________ 5.__________________________________
3._________________________ ____________ 6.__________________________________
BESONDERHEDE VAN AANSOEKER SE OUERS:
VADER : Volle name
___________________________________Geboortedatum:______________
Van:
____________________________________________________________________
MOEDER: Volle name__________________________________Geboortedatum:______________
Nooiensvan:______________________________________________________________
GELDE BETAALBAAR:
·
Indien aansoeker 70 jaar en ouer is: R100 eenmalige vir lewenslang lidmaatskap.
·
Indien aansoeker 21 jaar of ouer is maar jonger as 70 jaar: R200 eenmalige vir lewenslang
lidmaatskap. Of R100 Toetreefooi en R50
per jaar.
·
Ouers kan ook vir hulle kinders onder die ouderdom van 21
jaar aansoek doen om lidmaatskap
(elk op afsonderlike aansoekvorm.
Aan elke kind word ‘n afsonderlike lidmaatskapsertifikaat uitgereik) Die gelde
betaalbaar vir elke kind is R100
(eenmalig) vir lewenslang lidmaatskap
|
_____________________________
HANDTEKENING VAN AANSOEKER