Tom Gouws
marthinus versfeld
"identify yourself with your bean soup and you will see God"
op oop vlamme van verrukking
mummel jou pruttende potte
steeds. die varkspek en salotte
vind mekaar geurig, versny en sing
sagintiem 'n smoorsang saam.
die deurweekte liewenheerboontjies
skud hul safterwordende skulpies
af en gee hulself onbeskaamd
oor aan die mistieke innerlike vuur.
witwortel en seldery spreek skandalig
in vreemde tale. ertappels blus salig
in die kroonblare van lourier.
vir spek en bone, so te sê verniet,
het jy die resep gekry om God te geniet.
himne
spr. 8:22-31
met die geboorte van emma-maryn gouws
nog voor Hy Hom die hang van die heelal kon verbeel
voor die inknoop van die firmament
voor enige oerbegin
heel van ouds af
van die voortyd
in ewighede in
is jy bedink
toe ongesêde fonteine swaar ondergronds beur
toe daar nog geen wêreldvloed was
voor berge ingesink het
voor die heuwels was
lank voor iets
is jy fynversigtig geformeer
is jy sag tot sy lendene toebetrou
toe Hy die hemele in sy vingerpunte voel woel
nog voor gedagtes van grond deur Hom flits
toe Hy speels ‘n kring aftrek op die donker waters
toe Hy grofweg ‘n grens stel vir die see
toe Hy inskiklik die fondamente van die aarde lê
met verwondering kyk hoe ontkiem sy hart
is jy geweef in die skaamte van die skoot
voor die wêreld was, kind sonder skadu, is jy gebore.
toe reeds was jy kunstenaar naas Hom
het Hy in oorgawe geskep
terwyl jy voor sy aangesig speel altyd
en in jou was sy verlustiging altyd
voor die inknoop van die firmament
nog voor Hy Hom die hang van die heelal kon verbeel
20 mei 1999