Karolis

Ek is n plaasjapie van geboorte wat al van jongtyd af n aanvoeling vir skryf gehad het. Ek is gebore in Waterval-onder en het my kinderjare (tot 7 jaar oud) in Waterval-boven beleef. Ek het gematrikuleer in Patriot hoerskool WITBANK (die eerste matrieks ooit van daardie skool ! ) en is daarna vir my 2 jaar militere diensopleiding na Phalaborwa. Daarna het ek in die bankwese begin werk waarin ek nou al 18 jaar diens doen. Ek het nog nooit werklik iets gepubliseer nie behalwe een gediggie in 1996 ( in die VAAL-DRIEHOEKKAMPUS van die POTCH UNIVERSITEIT se jaarlikse letterkunde blaadjie).
Ek skryf maar net vir die plesier daarvan maar tog hoop ek om eendag iemand se oog te vang wat
van my werk wil druk vir landwye verspreiding.

 

Daar’s ietsie aan’t gebeure

 

 

Daar’s ietsie aan’t gebeure

Wat ek nie kan verklaar nie

Net soos die lentegeure

Tot herfstyd nie bedaar nie

Onwrikbaar, sielloos, wroegend

Verskiet ‘n ster daarbuite

En angstig, doelloos, soekend

Verdof my hart se ruite

‘n glim van donker skadus

Versteur my grimme wandel

En in deurdrenkte deuntjies

Laat elke noot my kantel

Ek breek die sel se deure

Die geel-rooi maan wil fluister

Daar’s ietsie aan’t gebeure

Dit maak die doflig duister

In glanslig draal die wolke

Die lug word ysig, kouer

Dit sny die vel soos dolke

Onweersgemoed word grouer

Diep onheil in die verte

Al dansend wink die bome

Daar’s ietsie aan’t gebeure

Dit steur my eensaam drome

Ek hoor my hart se roepstem

Dit krap my skerp hierbinne

Ek moet myself styf vasklem

Of ek verloor my sinne

Die grysblou rots se skeure

Hang dreigend voor my oe

Daar’s ietsie aan’t gebeure

Dit laat my diep bewoe

 

Toe in die vroee skemer

Verrys ‘n nuwe lewe

‘n onverwagte gewer

Verwek ‘n nuwe strewe

Deur oggendstond se kleure

Herskik my gees sy wroeging

Daar’s ietsie aan’t gebeure

Dit lei my in versoeking

Ek breek die wonderwereld

Los uit die donker dieptes

Net soos ‘n sysag perel

Uit stormsee gediep is

Ek staar verstom na sere

Wat wonderbaar genees het

Daar’s ietsie aan’t gebeure

Wat ek so lank gevrees het

Wie sou kon dink daar’s iemand

Met hartseer, steeds verlore

Wat smag na daardie hartland

So uit die niet gebore

Wees dankbaar al die kere

Begrawe gou jou griewe

Daar’s ietsie aan’t gebeure

En daardie iets is … liefde !

 

 

Lied van die dood

 

 

Ek skuil in diep verlange

Die dood ‘n soet gebaar

Waar dowwe onweerswolke

So stil stil bly vergaar

 

‘n Helder ster wat skitter

‘n Bleke maan omhoog

In my, daar word dit bitter

My hartseer uitgedroog

 

‘n Donker lig omsluit my

Dit breek my hart se deur

Ek moet myself hier uitkry

Voordat my siel verskeur

 

‘n Skuilplaas vol ontdekking

In wasem toegespin

Herlewing en verwekking

Onsigbaar tussenin

 

‘n hartseer hart gebore

Uit hierdie dodenag

Volg nou die donker spore

Wat struikel in die nag

 

O dood, jou soete wonder

Wanneer sal jy my tref?

Wanneer sal jy met donder

Finaal jou stem verhef?

 

Sal soete slaap my eers oorval

Of dalk ‘n wrede vrees?

En sal daar in die dodedal

Tog redding vir my wees?

 

Verbleikte blare ritsel

Elk’ lewe flits verby

Maar tog is daar ‘n botsel

Wat groeiend verder stry

 

Ek skuil in donker gange

Die dood steeds ‘n gebaar:

Van jare reeds vergange

By ons verby gevaar

 

Verby die horisonne –

Waar angstig op ons wag

Herleefde lewensbronne –

Vir voor- en nageslag

 

So drukkend kwyn die lewe

Aanlokkend wink die dood

Sal God my ooit vergewe

Hier waar ek skuil in nood…?

 

‘n Aardse spel

 

 

Een skone waterdruppel

Plons op die sware grond

Al golwend aan die trippel

Die stroompies rond en bont

 

‘n By die steek sy angel

In lewe en in hoop

Verswelg, verwerp, verstrengel

‘n bitterbek vol stroop

 

‘n Lang verwagte lyding

‘n Soete awendsuur

Vol wanhoop en bevryding

Wat stroopsoet was word suur

 

Geboorte uit die aardkors

Die kern wit-wit warm

Kookoonde les die nadors

Die rykdomsoes word arm

 

Gietswart en blinkswart golwe

‘n Dreunende gegons

‘n Vuurberg omgedolwe

Vir silwer, goud en brons

 

En byna onverbiddelik

Suis pyle om en om

Nou, netnou, selfs onmiddelik

Beswaard, neerslagtig, stom…

 

‘n Droom verwek verdrukking

‘n Wakker beeld word flou

‘n Eiland van verskrikking

Op sandgrond uitgebou

 

Sag, woelend skeur die hemel

‘n Ster plof in die nag

En in die los gewemel

Verrys uit nag die dag

 

Van klip en kluit en stene

‘n Tronk en dodesel

Word als wat is verenig

In hierdie aardse spel…

 

 

Vloed

 

 

Water, wind, woesterny

Glas versplinter

Druppel…

Gly verby

 

Golwend, bruisend om en om

Diep rivier

Sproei…

Versuipte blom

 

Vloeiend, stomend, draaiend kolk

Grond verdrink

Slukkend…

'n Onweerswolk

 

Blitsend, flitsend, duister draal

Donder dreun

Rammel…

‘n Weerligstraal

 

In my, deur my, loop die laan

Hart deurdrenk

Bewend…

‘n Vallende traan…

 

 

Ek glo

 

Ek glo in die krag en die liefde van God

En die vreug van die lente as bloeisels weer bot

Ek glo aan die herfs met skakerings van bruin

En die blomme vol kleur in die swoel somerstuin

Maar vergeet nie van winter met koel-frisse dae

Wie kan in sy hart oor seisoentye kla?

 

Ek glo met die hartseer kom pyn en verdriet

Maar met vreugde wat volg gaan die lyding tot niet

Ek glo aan familie wat tesame kan bou

Ambisie in mans en die durf van die vrou

Maar vergeet nie van kinders, wat toekomsgerig

Uitdagings oorkom en voor swaarkry nie swig

 

Ek glo aan die reen wat die aarde verkoel

En dat elke swaar droogte gebeur met ‘n doel

Ek glo dat die wind wat die stofdwarrels waai

Ook die wolke byeenbring om uitkoms te saai

Maar vergeet nie fonteine wat die aardkors bevrug

En oases skep sonder die reen uit die lug

 

Ek glo aan die onskuld van elk sielloos dier

Aan die onmag van besies, die krag van die tier

Ek glo daar’s ‘n plek vir elkeen op die land

Vir die muggie, die leeu, selfs die skulp op die strand

Maar vergeet nie die mens wat as heersel moet staan

Oor die skepping van God, al is hy deel daarvan

 

Dus: ek glo daars ‘n weg om oorwinning te smaak

Deur vervulling te bring aan ‘n edele taak

Ek glo hierdie taak rus op elkeen se hart

In die dae van lig, ook die donker van smart

En onthou heel jou lewe die woorde van nou:

Begrawe jou vrees, God is ewig met jou!

Hosted by www.Geocities.ws

1