Jorrie Jordaan
Elandsrivier
En nou?
Nou dat ‘n nuwe glans
die rustige ou rivier,
die bome en kranse hier
so diep,
so innig, glansend diep bestraal?
nou dat ‘n nuwe dans die wolke gryp?
Nou gaan ‘n vreugde hóóg deur my
en ek verstaan:
Die glans wat in mý oë is
het alles omstraal.
Die dans wat in mý hart se blydskap is
het selfs die wolke ingehaal!
© C Jordaan
Wilde Jasmyn
Soms word ek bang
as ek buite my sinne verlang
na my veld.
‘k moet uit!
Ek moet staan
waar die veld ruik na stof
en die winterson dof
soos die roep van die duif
oor die boomtoppe stuif.
Ek moet sit, met my wang
styfgedruk teen die stam
van die Wilde Jasmyn;
styfgedruk tot dit pyn!
Ek moet lê, met my mond
in haar poeierbruin grond
en my naels in haar kors
soos ‘n kind aan sy moeder se bors.
O, ‘k moet terug na my veld!
Ek verlang!
Ek verstik tussen mense en geld
en soms word ek bang.
© C Jordaan
As die winter so waai
As die winter so wáái deur die bosveld soos nou
vra ek meer as ‘n vrind, vra ek meer as ‘n vrou;
vra ek: gee my ‘n lapa soos dié teen die kou
en ‘n koolvuur daarbinne om my warm te hou.
‘n Bosveldse winter is eensaam en koud,
maar die bosveld gee sterre en die bosveld gee hout,
en wat kan ‘n man wat alleen is nou maak
as die sterre so práát en die vlamme so kraak?
Jy gooi nog ‘n stomp op die lekkende vuur
en verlustig jou siel in die pyn van die uur
as die winter so wáái deur die bosveld soos nou:
jy het meer as ‘n vriend; jy het meer as ‘n vrou.
© C Jordaan
Tortel
Iets van die wilde berg
het in jou sagte koer
vanmiddag by die dennebos
my dinkpad dwars geroer’
Iets teers en wildbegeerliks:
blou kolle kiepersol
wat in die berghang uitvlek
en teen die kranse stol
Of silwerskuim oor klippe
of wolke, of die wind ...
iets brekensvol van heimweë
in jou lied het my gevind.
Bo het die donker toppe
teen die najaarswind geroer
en êrens in die middag
het jy snikkend-sag bly koer.
En toe die berghang swarter
in die skemer word, en koud,
ag, die weë-roep het maar aangehou ...
vér, smoorsag, klein-benoud ...
© C Jordaan