Johan Wentzel
Waar die storms
om my loei
en die wind soos
vloeistof
oor my vloei
sweef my pyn
wyd
en my pyn sweef
stil
net my siel roep
luid
met `n ego wat
gil !
Johan Wentzel
El toro
Duister Stormwind van
manlik spier
weerkaats met eie trots
die son se lig
met moedige mening
die skare in
Gille dawer bewend
van onderdrukte
emosie – rol soos branders
oor ‘n strand
na benede waar Stormwind
vreesloos stof
opskop en spiere bult –
Wanhopig bult !
Met die grasievolle passie
van ‘n danseres
rinkink matador vlinderagtig
- vreesloos magtig -
met sy skerppunt
skofhonger lans
Stylvol swierig dans
die lanse
gerangskik op ‘n pragrooi skof
Olé … Olé …olé …
Rondom Stormwind lê rooi rosies
plat, maar
pragtig in die sand
Olé … olé …olé …
Johan Wentzel
Geleende vere
Jy groei op my
soos voëlent aan ‘n boom
In my dormante winterslaap
is jy die groen op my tak
wat vries-koud-kaalgat slaap.
Johan Wentzel
My land
Droom van sand
van lekker land
van woestynkind wees
van biertentfees
Droom van diere
van laataand vure
van waaisandstrand
van Boesmanbrand
Leef dan ons lewe
van skelmvang krewe
waar mens nog mens is
van vreedsame rus
Vat dan die hand
van ons basterland
van ons mengelmoes
van ons liefdesroes.
Johan Wentzel
Skilpad
Skilpad kruip
dié het ek goed
geleer
ek doen dit al van weleer !
Hasie-lewe
draf tot my
spyt
heel kranig voor my uit !
Johan Wentzel
Vasgekeer
Ag
die liefde in ‘n hok
is
soos ‘n apie op ‘n stok
dit
vlieg en skarrel heen en weer
maar
dit is eindloos vasgekeer.
johan wentzel
April 2002
Voëltjie fyn
Ek het ‘n koutjie
baie klein
en soek daarvoor ‘n
voëltjie fyn
Lank voor ek een
kon koop
kom een vanselwers
aangeloop
Hy bring met hom ‘n
wonder mee
wat lugkastele
vleuels gee
Die liedjie wat hy
saggies fluit
vul my hart met
vreugjolyt
Toe ek my omdraai
is hy weg
‘n vrye siel in
eie reg
Sy leë koutjie
het gebly
ek fluit sy deuntjie
net vir my.
Johan Wentzel
6/06/02
Diamant
Ek dra ‘n diamant
diep
hier binne
my
vanwaar dit glansend
skyn.
Met ‘n eie
wil
flits dit magtelose
energie
vanuit ‘n vergete
bron.
Dit verklap verborge
wense
dragtig met berou
‘n skynsel van my
drome
waaraan ek hartseer
klou.
Brokkelbreek kristalstukkies
wat flonker op fluweel
eintlik is dit doelloos
want wie wil dit nou deel?
My ongewolde liefde
gebore uit die niet
het verbysterend
penwortel deur my
siel geskiet.
Jy is die duisternis
Jy
is die duisternis
wat
my sontjie versteek,
die
holtes binne my
vol
gevul met finsternis
pyn
Jy
is die stilstuipe
wat
skadu trek oor my
son,
jy rinkink met my
lig.
Eers skenk jy my kou
dan
in jou dagduister
word
jy teësinnig vrou.
Johan Wentzel
My simbool
Opgedra aan my seun.
My sandduin in
die Namib
my Atlanties-oseaan
die voetspoor in
my woestyn
nuwemaan van my
donker heelal
Die holte in
my siel
my spuwende vulkaan
die muggie in my
wyn
legende agter al
my pyn.
johan wentzel Mei 2002
Heeltemaal al
Kom sit hier op die randjie
van die heelal met my
en kyk hoe triljoen sterretjies
slinks met mekaar kan vry
Vergeet alles om jou sommer
tog stel jou ore in
luister na die tale
almal maak ook sin
Draai om en kyk met deernis
na die aardse ras
jy soek vergeefs dieselfde wonder
ons kom klaar daarsonder.
Johan Wentzel
Emigreer
Kruidjie-roer-my-nie
die hartseer binne my
kruip voetjie-voetjie nader
tot weemoed agterbly
Weemoed van vergete grense
op ‘n see van gletser-ys
waar my moed koudverbete
verlore vriendskap prys
Koue styg op uit die voete
kil moordwapen van die siel
stol bloed en inner wese
tot stukkies hartsverniel
Binne soek ek heel wanhopig
na ‘n rede om te bly
op nuwe hoop en beter kennis
om my deur die drif te kry.
Johan Wentzel
Blommetjie klein
wat eensklaps groei
uit sielsverlore
gryse vlaktes
rondom my.
Hoe moet jy gedy ?
Ek staar in ongeloof na jou
en vra myself
vanwaar
Teen beterwete
koestertroetel
ek jou
Welwetend
van die rou
as – soos jy moet –
jy verdor
en ek weer
stokalleen
in my gryse vlaktes
staan.
Johan Wentzel
Droom
En ek klim
klim die boom
die woestyntak
van my droom
En ek vlieg
ek en jy
vlieg ons saam
met heuningby
As ek val
gee tog hand
dat ek oorleef
waar ek land.
Johan Wentzel
8 Mei 2002
Optelgoed
Ek is opgetel
en
weggevoer na ‘n
ongekende paradys
Ek is meegesleur
na
hoogtes wat net jy
vir my kon wys
Ek is neergegooi
in
die sandwoestyn van
ou vergete drome
Nou staan ek
hier
so weggegooi in
verslae alleenigheid
Ek sal my eie paadjie
loop
my voetpad van
die groot verlang
En wanneer ek jou spore
vind
kyk ek anderpad
en volg die wind
Johan Wentzel
Skille
Rou aartappel
uit die grond
vars gegraaf in die
oggendstond
Skil dit af
lekker né
skil op die grond
wie wil dit hê ?
johan wentzel
April 2002
Verganklik
Sal jy verstaan
die oomblik
as my siel
donker vergaan
‘n Ster sal
verskiet
Blinkstreep van
vals verdriet
Sal jy onthou
die sekondes
van genot
sonder berou
Sal jy vergeet
stille ure
van leuenleef.
Ek weet.
Die wind sug
‘n klaaglied
van verlange
deur die lug
Ek sal verstaan
My siel
het reeds
vergaan.
Johan Wentzel
Vergeefs
Soms roep my siel
wanhopig
na jou wie nie
bestaan
Dalk roep hy net na
drome
wat in die niet
vergaan
‘k vang my waar ek
luister
op ‘n antwoord
wind
gefluister.
Johan Wentzel
Verdienste
Aan die end van ‘n
reënboog
ontdek ek ‘n verlore
siel
erken sy hartseer en
pyn
asem sy teerheid en
verlange
suig dit op en leef soos
nooit
Dié wonder was my
geskenk
die droefheid agterna
dié het ek self
verdien.
Johan Wentzel
Wegsteekliefde
is wolkies
Klein kleine
stukkies
wolkies
Steelstukkies
op
‘n slag
Weggesteek
in skuilplekkies
binne jou
Hunkerende
wense
dragtig
met berou
So binne jou
Wegsteekliefde
verstaan
seerkry se
lekkerte
soos klein
kleine wolkies.
Johan Wentzel
Volmaak ?
My horison is helder
voor
my lewe koggel in my
oor
agter waar my aand
aanbreek
begin donker wolkies kop
uitsteek
Waar ek kom daar sal ek
wees
elke reël noukeurig
lees
niemand seermaak langs die
pad
die beste uit die hartland
vat
In wie se hemel verskiet ‘n
ster
in wie se skaaptrop is ‘n bok wat
blêr
wie se lewe is in my
hand
wie se seer laat my oog
so brand ?
Johan Wentzel
Soekend
Voëltjie van die wye
lug
kan ek saam op jou stille
vlug na die son
daarbo ?
Sou ek dan in die lewe
glo ?
Bring my terug en ek
voer jou mee
na dale binne my
in my stegies en
my krake
skuil eensaamheid se
se gruweldrake
Johan Wentzel