Johan Wentzel

 

Waar die storms

om my loei

en die wind soos

vloeistof

oor my vloei

sweef my pyn

wyd

en my pyn sweef

stil

net my siel roep

luid

met `n ego wat

gil !

 

Johan Wentzel

 

 

El toro

 

Duister Stormwind van

manlik spier

weerkaats met eie trots

die son se lig

met moedige mening

die skare in

 

Gille dawer bewend

van onderdrukte

emosie – rol soos branders

oor ‘n strand

na benede waar Stormwind

vreesloos stof

opskop en spiere bult –

Wanhopig bult !

 

Met die grasievolle passie

van ‘n danseres

rinkink matador vlinderagtig

- vreesloos magtig -

met sy skerppunt

skofhonger lans

 

Stylvol swierig dans

die lanse

gerangskik op ‘n pragrooi skof

Olé … Olé …olé …

Rondom Stormwind lê rooi rosies

plat, maar

pragtig in die sand

Olé … olé …olé …

 

Johan Wentzel

 

 

Geleende vere

 

 

Jy groei op my

soos voëlent aan ‘n boom

In my dormante winterslaap

is jy die groen op my tak

wat vries-koud-kaalgat slaap.

 

Johan Wentzel

 

 

My land

 

 

 

Droom van sand

van lekker land

van woestynkind wees

van biertentfees

 

Droom van diere

van laataand vure

van waaisandstrand

van Boesmanbrand

 

Leef dan ons lewe

van skelmvang krewe

waar mens nog mens is

van vreedsame rus

 

Vat dan die hand

van ons basterland

van ons mengelmoes

van ons liefdesroes.

 

Johan Wentzel

 

 

 

Skilpad

 

 

 

Skilpad kruip

dié het ek goed

geleer

ek doen dit al van weleer !

 

Hasie-lewe

draf tot my

spyt

heel kranig voor my uit !

 

Johan Wentzel

 

 

 

Vasgekeer

 

 

Ag

die liefde in ‘n hok

is

soos ‘n apie op ‘n stok

dit

vlieg en skarrel heen en weer

maar

dit is eindloos vasgekeer.

 

johan wentzel

April 2002

 

 

 

 

 

Voëltjie fyn

 

 

Ek het ‘n koutjie

baie klein

en soek daarvoor ‘n

voëltjie fyn

 

Lank voor ek een

kon koop

kom een vanselwers

aangeloop

 

Hy bring met hom ‘n

wonder mee

wat lugkastele

vleuels gee

 

Die liedjie wat hy

saggies fluit

vul my hart met

vreugjolyt

 

Toe ek my omdraai

is hy weg

‘n vrye siel in

eie reg

 

Sy leë koutjie

het gebly

ek fluit sy deuntjie

net vir my.

 

Johan Wentzel

6/06/02

 

 

Diamant

 

 

Ek dra ‘n diamant

diep

hier binne

my

vanwaar dit glansend

skyn.

 

Met ‘n eie

wil

flits dit magtelose

energie

vanuit ‘n vergete

bron.

 

Dit verklap verborge

wense

dragtig met berou

‘n skynsel van my

drome

waaraan ek hartseer

klou.

 

Brokkelbreek kristalstukkies

wat flonker op fluweel

eintlik is dit doelloos

want wie wil dit nou deel?

 

My ongewolde liefde

gebore uit die niet

het verbysterend

penwortel deur my

siel geskiet.

 

 

 

 

Jy is die duisternis

 

Jy

is die duisternis

wat

my sontjie versteek,

die

holtes binne my

vol

gevul met finsternis

pyn

 

 

Jy

is die stilstuipe

wat

skadu trek oor my

son,

jy rinkink met my

lig.

Eers skenk jy my kou

dan

in jou dagduister

word

jy teësinnig vrou.

 

Johan Wentzel

 

 

 

My simbool

Opgedra aan my seun.

 

My sandduin in

die Namib

my Atlanties-oseaan

die voetspoor in

my woestyn

nuwemaan van my

donker heelal

 

 

Die holte in

my siel

my spuwende vulkaan

die muggie in my

wyn

legende agter al

my pyn.

 

johan wentzel Mei 2002

 

Heeltemaal al

 

Kom sit hier op die randjie

van die heelal met my

en kyk hoe triljoen sterretjies

slinks met mekaar kan vry

Vergeet alles om jou sommer

tog stel jou ore in

luister na die tale

almal maak ook sin

Draai om en kyk met deernis

na die aardse ras

jy soek vergeefs dieselfde wonder

ons kom klaar daarsonder.

Johan Wentzel

 

Emigreer

 

Kruidjie-roer-my-nie

die hartseer binne my

kruip voetjie-voetjie nader

tot weemoed agterbly

Weemoed van vergete grense

op ‘n see van gletser-ys

waar my moed koudverbete

verlore vriendskap prys

Koue styg op uit die voete

kil moordwapen van die siel

stol bloed en inner wese

tot stukkies hartsverniel

Binne soek ek heel wanhopig

na ‘n rede om te bly

op nuwe hoop en beter kennis

om my deur die drif te kry.

 

Johan Wentzel

 

Blommetjie klein

wat eensklaps groei

uit sielsverlore

gryse vlaktes

rondom my.

Hoe moet jy gedy ?

Ek staar in ongeloof na jou

en vra myself

vanwaar

Teen beterwete

koestertroetel

ek jou

Welwetend

van die rou

as – soos jy moet –

jy verdor

en ek weer

stokalleen

in my gryse vlaktes

staan.

Johan Wentzel

 

Droom

 

En ek klim

klim die boom

die woestyntak

van my droom

En ek vlieg

ek en jy

vlieg ons saam

met heuningby

As ek val

gee tog hand

dat ek oorleef

waar ek land.

 

Johan Wentzel

8 Mei 2002

 

Optelgoed

 

Ek is opgetel

en

weggevoer na ‘n

ongekende paradys

Ek is meegesleur

na

hoogtes wat net jy

vir my kon wys

Ek is neergegooi

in

die sandwoestyn van

ou vergete drome

Nou staan ek

hier

so weggegooi in

verslae alleenigheid

Ek sal my eie paadjie

loop

my voetpad van

die groot verlang

En wanneer ek jou spore

vind

kyk ek anderpad

en volg die wind

 

Johan Wentzel

Skille

 

Rou aartappel

uit die grond

vars gegraaf in die

oggendstond

 

Skil dit af

lekker né

skil op die grond

wie wil dit hê ?

 

johan wentzel

April 2002

Verganklik

 

 

Sal jy verstaan

die oomblik

as my siel

donker vergaan

 

‘n Ster sal

verskiet

Blinkstreep van

vals verdriet

 

Sal jy onthou

die sekondes

van genot

sonder berou

 

Sal jy vergeet

stille ure

van leuenleef.

Ek weet.

 

Die wind sug

‘n klaaglied

van verlange

deur die lug

 

Ek sal verstaan

My siel

het reeds

vergaan.

 

Johan Wentzel

Vergeefs

 

Soms roep my siel

wanhopig

na jou wie nie

bestaan

Dalk roep hy net na

drome

wat in die niet

vergaan

‘k vang my waar ek

luister

op ‘n antwoord

wind

gefluister.

 

Johan Wentzel

 

 

Verdienste

 

 

Aan die end van ‘n

reënboog

ontdek ek ‘n verlore

siel

erken sy hartseer en

pyn

asem sy teerheid en

verlange

suig dit op en leef soos

nooit

Dié wonder was my

geskenk

die droefheid agterna

dié het ek self

verdien.

 

Johan Wentzel

 

 

Wegsteekliefde

is wolkies

Klein kleine

stukkies

wolkies

 

Steelstukkies

op

‘n slag

Weggesteek

in skuilplekkies

binne jou

 

Hunkerende

wense

dragtig

met berou

So binne jou

 

Wegsteekliefde

verstaan

seerkry se

lekkerte

soos klein

kleine wolkies.

 

Johan Wentzel

 

 

Volmaak ?

 

 

My horison is helder

voor

my lewe koggel in my

oor

agter waar my aand

aanbreek

begin donker wolkies kop

uitsteek

 

 

Waar ek kom daar sal ek

wees

elke reël noukeurig

lees

niemand seermaak langs die

pad

die beste uit die hartland

vat

 

 

In wie se hemel verskiet ‘n

ster

in wie se skaaptrop is ‘n bok wat

blêr

wie se lewe is in my

hand

wie se seer laat my oog

so brand ?

 

 

Johan Wentzel

 

 

Soekend

 

Voëltjie van die wye

lug

kan ek saam op jou stille

vlug na die son

daarbo ?

Sou ek dan in die lewe

glo ?

Bring my terug en ek

voer jou mee

na dale binne my

in my stegies en

my krake

skuil eensaamheid se

se gruweldrake

 

Johan Wentzel

Hosted by www.Geocities.ws

1