Eldene Goosen
Donderstorm
Sy neusie teen die ruit platgedruk,
kyk hy hoe die wind aan die boomtoppe pluk.
Reën, gietend swaar, stort op die aarde neer,
loop in stroompies oor die blinkgladde teer.
Vol verwon'dring kyk hy na die donderstorm
die bome, die huise in 'n wasige vorm.
'n Blits klief deur die lug en hy roep bly:
Mamma! God neem 'n foto van my!
Eldene Goosen
(Gepubliseer deur die ATKV Kuber Skrywerstak, Jul 2002 http://etydskrif.co.za)
Bloubergstrand
Blou lugskakerings met
donsies wit in skrille kontras
met bolle swartomraamde wolke ....
Teen die horison word dit één -
die donkerblou lug ingesluk
deur die blouer see, veraf -
soos 'n gladde spieël.
Rollend, wit-skuimspattend
bestorm dit die strand en
breek dan asof verleë aan
die rand daarvan.
Apologeties rol dit terug
die blou dieptes in en laat
slegs borrelende gaatjies
op die wit seesand.
Eldene Goosen