‘n Vreemde Taal is ook vir jou beskore!
DIE tekort aan krag in die gemeente is aan heelwat faktore toe te skryf. 'n Sekere Aartsbiskop beweer byvoorbeeld: "Dit is die oorsaak van homosek-sualiteit in die 'House of Lords', die geweld tussen Katolieke en Protestante in Noord-Ierland en ons eie vorm van godsdienstige snobisme in baie lande."
Die nuusmedia publiseer nie berigte oor wat bekendstaan as die groot "Vreemde" Tale-Herlewing, wat nou oor die hele aarde voorkom nie, nogtans het TIME in ‘n stadium breedvoerig en positief oor hierdie wêreldwye verskynsel berig. Reg oor die wêreld is daar 'n herlewing van die Heilige Gees en die Gawes.
Die profesie van die profeet Joël (Joël 2:28): “En daarna sal Ek van My Gees uitgiet op alle vlees, en jul seuns en jul dogters sal profeteer, jul oumense drome droom en jul jongelinge gesigte sien” word opnuut vervul. Jesus het in Hand. 1:8 belowe: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom."
Dit gebeur ook in sommige tradisionele Afrikaanse kerkkringe. Onder diegene wat hierdie ondervinding gehad het, behalwe tienduisende “Pinkstermense”, is Baptiste, Metodiste, Anglikane en baie ander lidmate van die tradisionele Kerke.
Ook in Amerika, het oor die 100 000 Rooms-Katolieke, insluitende oor die 600 Rooms-Katolieke priesters en nonne sowel as tienduisende Baptiste, Metodiste, Presbeteriane, Lutherane en Anglikane dié bonatuurlike ondervinding al belewe.. Dit gebeur deurentyd ook in Suid-Afrika.
God het nie die Pinkster-ondervinding aan 'n sekere gemeente toegesê nie. Hy wil elke gelowige toerus met krag vir diensbaarheid.
Sowat honderd jaar gelede het Horace Bushnell geskryf: "Wat het dan hierdie wonderwerke, hierdie vreemde tale, gawes van genesing en profesie geword? As hierdie dinge eens op 'n tyd werklikhede was, waarom is hulle nou afwesig? Is werklikhede dan alleen aanvaarbaar en moontlik as dit teruggevoer kan word na die gryse verlede?"
Dan gaan Bushnell voort en getuig van wonderwerke en vreemde tale as werklikhede in sy eie leeftyd. Tyd neig altyd om gebeurtenisse in die geskiedenis te laat vervaag, maar ons verstaan die huidige herlewing, wat maar in sy kinderskoene staan, beter as ons soortgelyke Goddelike openbaringe in die geskiedenis kan nagaan.
Die duiwel probeer natuurlik om hierdie werkinge na te maak, soos dit byvoorbeeld gesien kan word by skynbekerings, spriritistiese genesings en selfs sogenaamde wonderwerke.
Hierdie valshede gaan toeneem tot waar die antichris selfs vuur uit die hemel sal aanroep en groot wonderwerke doen sodat die mensdom hom sal aanbid en uiteindelik die Merk van die Dier op hulle voorhoofde en op hulle hande sal ontvang.
Ons gaan kortliks vanuit die Kerkgeskiedenis aandui dat die Spreek in Vreemde Tale altyd in die Liggaam aangetref is.
Ireanaeus (130-202 n.C.) is skynbaar die eerste in die voor-Niceaanse tydperk om spesifiek die taleverskynsel te noem. Hierdie Griekse biskop van Lyon het gesê: “Op dieselfde manier hoor ons ook baie broers in die Liggaam wat profetiese gawes besit en wat deur die Gees in allerhande tale spreek en tot algemene voordeel die verborge dinge van die mens aan die lig bring en die geheimenisse van God verklaar, wat ook deur die apostel as ‘geestelik’ bestempel word ...”
Die Latynse Kerkvader Tertullianus (160-220 n.C.) wat Marcion teëgegaan het, sê: “Laat Marcion dan ten opsigte van gawes sy god se profete te voorskyn bring, wat nie deur menslike verstand nie, maar deur die Gees van God spreek en dinge voorspel wat nog moet gebeur, wat verborgenhede van die hart openbaar het; laat hom 'n psalm, 'n gesig of ‘n gebed te voorskyn bring as iets wat deur die Gees gegee is, in 'n ekstase of wegvoering of wat voortkom uit 'n uitleg van tale aan hom ... By my kom al hierdie tekens sonder moeite voor en ook stem hulle ooreen met die reëls , die dispensasies en bevele van die Skepper.”
Met sy ondersteuning van die Montaniste gaan Tertulianus miskien effens te ver en sou 'n gedeeltelike misbruik van die geestelike gawes, insluitende die spreek in vreemde tale, daaruit afgelei kon word, maar dat daar tog ‘n aansienlike mate 'n Skriftuurlike gebruik van die gawe van spreek in tale op daardie tydstip was, kan skaars betwyfel word.
Daar word gesê van St. Pachomius (292-346 n.C.), die Egiptiese stigter van die eerste monnike klooster, die spreek in Grieks en Latyn, tale wat hy nooit aangeleer het nie, maar wat hy soms op bonatuurlike wyse gepraat het, baie geniet het. Hierdie gawe is aan hom gegee na afsondering en gebed.
Die geskiedenis van die Waldense in die 12e en 13e eeue openbaar nie net 'n toewyding aan Bybelstudie en 'n navolging van die heiligheid van die Nuwe Testament nie, maar bevestig ook dat genesings en spreek in vreemde tale van tyd tot tyd onder hulle voorgekom het.
Aangaande die Spaanse stigter van die Orde van die Dominikane, St. Dominicus (1170-1221 n.C.), word dit in hoofstuk twee van die tweede boek oor sy lewe vertel dat toe hy op pad was van Toulon na Parys en by Pierre d'Amont oornag het, hy saam met sy metgesel broeder Bertrand die nag in gebed deurgebring het in die Notre Dame Kerk.
Die volgende môre toe hulle hul reis voortsit, ontmoet hulle 'n aantal Duitsers wat ook soos hulle, op reis was. Die reisgroepe sluit toe bymekaar aan en die Duitsers het groot agting vir hulle gehad.
Op die vierde dag sê St. Dominicus sugtende aan sy metgesel: “Broer, ek verwyt myself dat ek tydelike gawes van hierdie mense aanneem en ons nie besig hou met ewige dinge nie. As jy wil, laat ons kniel en God bid om ons hulle taal te leer want ons kan nie die HERE Jesus aan hulle verkondig nie.”
Hy het toe begin bid en tot groot verbasing van die Duitsers onmiddellik gespreek oor die HERE Jesus. By hul aankoms in Orleans het die twee groepe geskei en het die Duitsers om hulle voorbidding gevra. Hierdie gebeurtenis het hom by 'n latere geleentheid in die priester se lewe onder soortgelyke omstandighede herhaal.
Volgens die biografie oor die lewe van Vincent Ferrer (1350-1419 n.C.), 'n Spanjaard wat 'n Dominikaan geword het, was hy “begaafd met die gawe van tale, 'n beskouing wat onderskryf is deur Nicholas Clemangis, ‘n geleerde van die Universiteit van Parys, wat hom hoor preek het.”
Daar word verwys na die kleurvolle en uitstaande Jesuïte-sendeling, Franciscus Xavierius (1560-1552 n.C.), met die volgende woorde: “Toe die heilige man vir die eerste maal deurgedring het na die binnelandse provinsies van Indië, terwyl hy heeltemal onkundig was oor die tale van die bevolking, kon hy slegs die kinders toewy en die siekes bedien wat met tekens kon beduie wat hulle wou hê,” aldus F. Monsilla se geskrifte.
Terwyl hy egter ywerig in Travancore gewerk het, het God vir die eerste keer die gawe van tale deur hom laat werk, aldus 'n relaas van 'n jong Portugees met die naam Vaz, afkomstig van Coimbra, wat menige reise saam met hom onderneem het. Sonder om dit te geleer het en sonder 'n tolk het Xavierius die taal van die barbare gladweg gepraat wanneer hy hulle toegespreek het.
By Amanguchi, waar Sjinese handelaars in hul moedertaal wat aan hom onbekend was, handel gedryf het, het God weer die gawe van tale deur hom laat funksioneer.
Verdere bewyse van die sporadiese aard van die gawe word opgemerk in Xavierius se briewe waarin hy dikwels melding maak van sy probleme met die verskillende tale van die onderskeie stamme waaronder hy gewerk het.
Dit word aanvaar dat Louis Bertrand (1526-1581 n.C.) ook dieselfde gawe as Xavierius ontvang het. Daar word beweer dat hy vir sy werk onder die Indiërs toegerus was met die gawe van tale.
In sy eie dag het Johannes Calvyn (1509-1564 n.C.) in sy Kommentaar oor die Sendbriewe van die Apostel Paulus aan die Korinthiërs geskryf: “Daar is vandag groot teoloë wat vurig daarteen te velde trek.
“Omdat dit seker is dat die Heilige Gees hier die gebruik van tale geëer het met onsterflike lof, kan ons maklik verstaan wat die soort gees is wat daardie hervormers aanpor, wat soveel smaad as moontlik opwerp teen die beoefening daarvan.”
Hierdie spesifieke kommentaar het betrekking op 1 Kor. 14:5: “Ek wens dat julle almal in tale spreek...” Dit impliseer natuurlik nie dat Johannes Calvyn self ooit in tale gespreek het nie.
In sy boek “The Scotts Worthies” gee John Howie ons 'n intieme oorsig van die vroeëre Skotse hervormers. In sommige se bediening is die magtigste wonderwerke wat in die boek Handelinge opgeteken is, gedoen.
Hoewel John Welch, wat in 1570 gebore is aan die begin van sy lewe 'n dief en kwaaddoener was, word hy 'n prediker en preek elke dag, terwyl jy 'n derde deel van sy dag aan gebed gewy het.
Sy bediening in die Edinburgh-kasteel is net so verbasend as die van die Nuwe Testamentiese apostels. Van John Welch se aanbiddingslewe skryf Howie:
“’n Eerbare leraar wat 'n lid van Welch se gemeente was, het gerapporteer dat Welch een nag laat in sy tuin gewaak het. Vriende wat in sy huis op hom gewag het, was reeds vermoeid omdat hulle so lank moes wag.
Een van hulle het later 'n venster oopgemaak wat uitkyk oor die tuin en duidelik 'n eienaardige lig gesien wat Welch omstraal terwyl hy vreemde woorde van geestelike vreugde uitspreek.”
Horace Bushnell lewer soos volg kommentaar: “Wie ook al daardie Christelike klassieke boek “The Scotts Worthies” gelees het, het ‘n stroom van profesieë, genesings, spesifieke antwoorde op gebed en onderskeiding van die geeste gevolg, wat in alle opsigte met die gawes en wonders van die Apostoliese tydperk ooreengestem het.
“Hierdie boek van Howie is gepubliseer deur een van die grootste en konserwatiefste Christelike liggame in ons land. Is dit vir ons nodig om die wonderwerke en bonatuurlike gebeurtenisse so op 'n afstand te hou dat ons hulle nie kan of wil glo nie?”
In 1685 het Louis XIV van Frankryk die Edik van Nantes herroep. Duisende Hugenote het uit die land gevlug, terwyl duisende ander die brandstapels tegemoet moes gaan en op ander deur die koning se dragonades (stoktroepe) jag gemaak is.
Die gebergte van Cevenne in die suide van Frankryk het skuiling gebied vir hierdie vervolgde mense aan wie bonatuurlike geestelike gawes gegee was: tale en uitleg van tale, genesings, profesie en onderskeiding van geeste.
Die hele Europa het hulle oë gehad op die “Klein Profete” of “Franse Profete” van die Cevenne.
Marion doen soos volg verslag: “Die mense wat die inspirasie ontvang het, het onmiddellik alle bandeloosheid van enige aard en alle ligsinnigheid laat staan. Sommige wat 'n losbandige lewe gelei het, het opeens besadig en vroom geword en elkeen wat dikwels met hul gemeenskap in aanraking gekom het, het hul beter begin gedra en voorbeeldige lewens begin lei ... geminag deur die wêreld, vol naasteliefde en innerlike vrede en met 'n onversuurde blydskap in die hart.”
Soos die Makkabeërs wat vir hul vaderland geveg het teen die gekom-bineerde leërs van Rome, was die Kamisarde met Psalm 68 as hul strydlied opgewasse vir Maarskalk Montreval. Hy is vervang deur Maarskalk Villors wat met diplomasie probeer bereik het wat wapens nie kon nie.
Daar is besluit om vryheid van gewete en godsdiens toe te laat. Profete het van die Cevenne na Engeland, Holland en Duitsland gegaan. Te Wetterau naby Frankfurt gelei deur 'n Wurtemburgse leraar, genaamd Gruber, is hulle genoem “die geïnspireerdes van Wetterau”.
Onder die Katolieke-van-Jansen gemeenskap van Parys is die gawes van genesing, tale, onderskeiding van geeste en profesie geopenbaar. In 1731 het die Jesuïte hulle begin vervolg. Die Janseniete het soos die Kamisarde geglo dat hul spraakorgane oorgeneem kon word deur 'n bonatuurlike krag.
Die Kwakers of Vriende, gelei deur George Fox (1624-1691) het aanspraak gemaak op die voortsetting van die oorspronklike gawes van die Gees in die apostoliese tydperk. Die eerste jare van hierdie beweging is gekenmerk deur die spreek in tale.
Die Shakers, 'n taamlik emosionele sekte, het in Engeland ontstaan in 1747 en na die VSA. gekom in 1774. 'n Soort van spreek in tale was prominent onder hulle en die stigter van die groep Moeder Ann Lee was die vaardigste met die beoefening van die gawe.
Sy was gedaag voor die geestelikes van die Kerk van Engeland waaronder taalkundiges van aansien was. Sy is aangekla van godslastering deur spreek in tale, maar hul moes toe uitvind dat sy nie eens kon lees of skryf nie.
Volgens die verslae van haar volgelinge het sy in tale gespreek wanneer die krag van God op haar geval het. Hierdie geestelikes het getuig dat sy tydens die ondersoek in 72 verskillende tale gespreek het en dit in die meeste gevalle meer meesterlik gedoen het as wat hulle ooit gehoor het. Hierna het hulle die aanklaers aangeraai om haar alleen te laat.
In 'n skets oor die lewe van John Wesley (1703-1791) skryf Majorie Bowen: “Dit wat John Wesley en sy volgelinge so beïndruk en aangemoedig het en terselfdertyd sy tydgenote so geskok, ontstel en verbyster het, is geen geheim vir die hedendaagse sielkundige aan wie dit bekend staan as glossolalia of spreek in tale nie.
“Hulle het geglo dat dit deur goddelike ingewing geskied. ‘En Paulus het hulle die hande opgelê ... en hulle het met tale gespreek en geprofeteer’ ... en dergelike verskynsels was teenwoordig in alle geestelike herlewings en vervolginge van die martelare.
“Geen wonder dan dat John Wesley geweier het om te luister na die skeptimisme van Charles of na die teregwysings van sy opponente nie en aangegaan het om met belangstelling kennis te neem van die buitengewone effek wat dit gehad het op die wat na sy preke kom luister het.”
In sy eie geskrifte ag John Wesley tale nie gering nie, maar verklaar dat spreek in tale saam met al die ander gawes van die Gees vir sy dag is en dat die enigste rede vir hul skaarsheid is dat Christene weer heidene geword het en in 'n dooie vorm verval het.
In die dagboek van Thomas Walsh, een van Wesley se beste predikers, by die datum 8 Maart 1750 staan opgeteken: “Vanmôre het die HERE my 'n taal gegee wat ek nie ken nie waarmee ek my siel na Hom kan verhef op 'n wonderlike wyse.”
Tussen die jare 1829 en 1833 is 'n kwartaalblad oor profesie en teologie in Londen gepubliseer deur James Nisbet vir 'n beweging gesentreer om 'n Presbiteriaanse predikant, eerwaarde Edward Irving.
Nadat die Irvingiete uit hul kerke geban is, het hulle die Katolieke Apostel Kerk gestig wat baie kenmerke van die huidige Pinkster beweging gehad het.
Intussen is die broers James en George McDonald in 1830 in Saltcoats aan die weskus van Skotland gevul met die Heilige Gees en het hulle in tale begin spreek en geprofeteer.
Mary Campbell van Garelock het aangesluit by hierdie groeiende groep in Port Glasgow, Skotland, en elders wat 'n soortgelyke ondervinding deelagtig geword het.
“The Morning Watch” (4 000 bladsye in sewe volumes) verwys na die McDonalds, Mary Campbell en andere in Skotland met die woorde: “Hulle het 'n seën ontvang en hulle dank hulle God daarvoor; gee Hom al die eer; het geen nuwe leerstellings ingebring of nuwe vorm van aanbidding begin nie.”
In Londen toe hy oor die gawes van die Gees geskryf het, het Irving geleer: “Die taal is die teken en manifestasie vir die ongelowige: vir die gelowige is dit 'n vorm van genade vir sy eie opbouing, sodat hy die hele Liggaam van gelowiges daarmee kan stig.”
Later skryf hy weer: “Niemand kan sê dat hy wat in ons Kerk in tale spreek gek is nie, want hy spreek maar een of twee minute in 'n taal waarna hy dan vir die opbouing, vermaning en troos van almal in Engels begin profeteer.
“Die een is die teken van die goddelike ingewing deur die krag van die Heilige Gees; die ander is dit wat die Gees aan die Liggaam wil gee vir die opbouing daarvan.”
Maar die Irvingiete het die dodelike fout begaan om 'n geslote kring te word en het nie die sending gesindheid of uitreiking aan die dag gelê wat so kenmerkend van die Pinkster beweging van die 20ste eeu is nie. Vandag is daar net 'n klein oorblyfsel van wat moontlik 'n sterk en blywende genootskap kan gewees het.
In 'n boek wat in 1876 deur Robert Boyd van Chicago geskryf is, vind ons die volgende ongewone beskrywing van 'n gedeelte van een van die Moodie- en Sankey-herlewings in Groot Brittanje: “Die volgende Sondagaand toe ek by die kamers van die YMCA aankom vind ek die diens aan die brand.
“Die jong manne was besig om in tale te spreek en te profeteer. Wat op aarde het dit beteken? Alleen maar dat Moodie hulle daardie namiddag toegespreek het.”
Spreek in tale het ook voorgekom in die Russiese en Armeense herlewings. G.F. Atter skryf: “Dit sal baie mense verbaas om te weet dat Pinkster oor 'n honderd jaar gelede in Rusland voorgekom het en dat die Russe die boodskap sowat 80 jaar gelede na Armenië geneem het.
“Mense is gevul met die Gees. Profesië is uitgegee deur onkundige boere wat 'n tyd voorspel het dat vrede van die aarde weggeneem sal word en dat die Armeniërs na 'n vreeemde land sal vlug vir veiligheid.”
'n Groot aantal Pinkstergesinde Armeniërs het in 1900 sonder om iets van Pinkster in ander lande te weet, begin vlug na Amerika. Teen 1912 het meeste van hulle reeds gevlug. Toe die Pinkster-herlewing in 1906 in Los Angeles uitbreek, het hulle dit herken as dieselfde ondervinding as die wat hulle in Armenië ontvang het.”
By geleentheid van 'n internasionale konferensie in Engeland in 1885 het mev. Michael Baxter vertel hoe sy vir 35 minute in, vir haar, die onbekende Duitse taal gespreek het. Een persoon wat dit goed verstaan het, het hom bekeer.
Hierdie weduwee van Michael Baxter, die stigter van die “Christian Herald” in Londen en New York, vertel verder: “Daarna het Hy my gelei om byna elke dag te preek, en soms twee keer per dag vir honderde mense. Toe ek egter 'n winkel besoek het, kon ek myself nie verstaanbaar maak nie en kon die mense ook nie verstaan nie.”
Dr. F.B. Meyer het vertel van Baptiste Kerk in Estland, beide dorps- en stadskerke, waar tale en uitleg dikwels voorgekom het tydens sy besoeke. Hierdie was maar baie gewone mense totdat hulle opgehef is en in tale gespreek en dit verfynd en vloeiend uitgelê het.
In 'n merkwaardige herlewing in Noorweë aan die einde van die vorige eeu is baie Noorweërs gedoop in die Gees en het hulle in tale gespreek.
Nou hier in ons eie 20e eeu het selfs die herlewing in Wallis 'n aantal voorbeelde van spreek in tale opgelewer. Die “Yorkshire Post” van 27 Desember 1904 berig: “Nou kom die merkwaardigste kenmerk van die huidige herlewing. Hierdie jong Walliese mans en vroue wat amper niks of geen Wallies ken nie en wat sekerlik nie 'n gesprek kan voer in hul moedertaal nie, en wat kwansuis byna geen baat gevind het by die Walliese (taal) dienste nie, het nou onder die invloed van die herlewing vrywilliglik begin deelneem aan openbare gebed – maar die taal is feitlik deurgaans nie die gewone Engels nie, maar die onbekende Walliese Bybelse frases, en die eienaardige idiomatiese uitdrukkings wat verband hou met 'n Walliese gebed en wat hul nooit vantevore gebruik het nie en nie veronderstel was om te verstaan nie; dié vloei nou oor hul tonge met 'n gemak en bekwaamheid asof hul lank gewoond is om dit so te gebruik.”
Die tradisionele Pinksterbeweging van die 20e eeu het 'n baie moeilike toetrede tot die Amerikaanse Protestantisme gehad – van absolute uitsluiting tot driftige brandstigting en skietery.
In die beginjare is honderde leiers van meestal Metodiste- en Baptiste kerke onthef van hul kerklidmaatskap en voor die hof gedaag.
Evangeliesasietente is uitmekaar gesny en verwoes, kerke met dinamiet opgeblaas, huise afgebrand en sommige gelowiges moes lang vonnisse in verbeteringsgestigte uitdien vir dit wat hulle geglo het.
Vele is fisies te lyf gegaan en een van die vroegste leiers in die beweging, John W. Buckalew, is sewe keer geskiet; die laaste keer noodlottig.
In 'n vroeë Pinkster dagboek is die volgende tipiese aantekening gevind: "30 Mei 1901, 12 uur middag. Net ons gewone middeweekse biduur afgesluit.
God was met ons en het ons siele geseën en ons werklike seëvierende gebede in die Heilige Gees gegee. Die HERE het ons van voedsel voorsien op Sy eie wonderbaarlike wyse. Prys die HERE vir oorwinning en 'n gees van volharding. Ons is feitlik geen oomblik gewaarborg teen aanvalle en toetsings van die geloof nie, maar God gee ons genade om te oorwin.”
Hierdie “gees van volharding” en “genade om te oorwin” is deur God gebruik om die geledere van die Pinkster beweging te laat groei van 'n paar klein handjies vol by die oorgang van die eeu tot 'n korps van ongeveer 2 miljoen in die V.S.A. alleen op die huidige tydstip (1964).
Hoewel nie sonder foute nie en ten spyte van vroeëre oordrywings en menslike onoordeelkundigheid waarvoor hulle algemeen uitgemaak word nie, word hierdie beweging nie alleen op 'n wye front aanvaar nie, maar verteenwoordig dit die snelgroeiendste segment van Protestantse Amerika.
Hulle erkende bedreiging is nou nie meer uitwerping nie, maar die gevaar van 'n innerlike status quo. Dit is interessant om kennis te neem, in die lig van hul geskiedenis, dat die eerste amptelike vergadering van leiers van die Pinkster groepe in die VSA in 1962 plaasgevind het.
Die voorstel was afkomstig van die skakelbeampte van die “Assemblies of God.” Hulle het gevind dat dit vir hulle “moontlik was om van mekaar te leer omtrent die Christelike geloof en lewe.”
Die Godgegewe doel van die hedendaagse Pinkster beweging is die evangelisasie van die hele wêreld. Spreek in tale mag hul bekendste merkteken wees, maar evangelisasie en 'n nuwe lewe in die Gees is hul blywende doel. Die Pinkster beweging het tot fenomenale afmetings gegroei.
Die geskiedenis van die Moderne Pinkster beweging met die meegaande taleverskynsel is maar eers in onlangse jare breedvoeriger beskryf.
Eerwaarde Donald Gee van Engeland, voorsitter van die Wêreld Pinkster Konferensie en eerwaarde David J. du Plessis het die konserwatiefste onlangse verhandelings oor die taleverskynsel en die geestelike gawes geskrywe.
Raphel Gasson, 'n voormalige spiritistiese medium, beskryf in sy boek hoe al die gawes onder die spiritiste nagemaak word.
Die taleverskynsel, wat nou 'n oplewing in alle historiese kerkgroepe met 'n groot verskeidenheid van tale toon, is vir die noukeurige waarnemer soos 'n aanhoudende en uitkringende golf.
Die tydskrif “Trinity” met 'n Anglikaanse agtergrond en die blaadjie “Voice” van die “Full Gospel Businessmen's Fellowship International” het beide na vore gekom om openlik en onbevooroordeeld verslag te doen oor hierdie nuwe herlewing wat met die aanvang van die vyftiger jare gestadig begin toeneem het en wat alreeds in 1963 vyfde op die lys van nuus belangrikheid op kerklike gebied was.
In die tydskrif “Christian Life” verskyn daar dikwels artikels oor die herlewing van die taleverskynsel.
Die taleverskynsel en die gawes van die Heilige Gees vind vandag dwarsoor die wêreld 'n tuiste in tradisionele historiese kerke. Die Gees van God is besig om te toon dat Hy nie uitsonderings maak van kerke of individue nie.
Selfs die Rooms-Katolieke en die Grieks-Ortodokse kerke ontvang reeds hulle deel hoewel die getalle nog nie baie groot is nie. Hoewel hulle weinig of geen kontak het met die Pinkster geledere nie, is die taleverskynsel nie vreemd in die historiese kerke in Engeland, Duitsland, Holland en Frankryk nie.
Die heersende Pinkster herlewing in die historiese Kerke word deur dr. Otto Piper, emeritus-professor van die Princetonse Teologiese Kollege gesien as “die versterking van persoonlike inisiatief en beklemtoon dit wat spesifiek Christelik en die Christelike kerk of Liggaam is.”
Verwysende na die vraag “waarom tale vandag?” sê dr. Piper: “In ons dag is die individu so van sy persoonlikheid ontneem dat hy nou een of ander vorm van bevryding moet kry. In die verlede, toe daar nie 'n massa-maatskappy was soos vandag nie, was dit baie makliker vir die Heilige Gees om die individu te bereik.”
Inheemse Pinkster groepe waarvan sommige die naam Pinkster gebruik en ander dit verwerp maar nogtans met die taleverskynsel in hul midde, word in groot getalle gevind in Latyns-Amerika, Afrika, Indonesië en Japan en bes moontlik ook in ander gebiede.
Gedurende een van sy lesings tydens 'n reeks in 1962 aan die Princetonse Teologiese Kollege, het studente aan dr. John A. McKay gevra: “"Watter dryfkrag maak die Pinkstermense so dinamies?”
Sy antwoord was: “Wat ons moet erken, is dat baie Christene wel in vreemde tale spreek en die gawe van tale besit. Dit kan nie weggeredeneer word dat baie mense dit het en dat dit hulle hele lewe verander nie. Dit kan 'n vrymakende uitwerking op 'n dinamiese Christelike godsdiens hê. Daar is geen plek vir leerstelligheid hier nie.”
By dieselfde geleentheid het dr. McKay die poëtiese kommentaar van T.S. Elliot tot die studente se aandag gebring dat ons “óf deur een vuur óf deur 'n ander vuur verteer word,” naamlik óf deur die vuur van die vlees óf deur die vuur van die Gees.
Die Gees van God is aan die beweeg vandag en die spreek in 'n onbekende taal onder die krag van die heilige Gees is 'n baie werklike aanduiding van die teenwoordigheid van die Heilige Gees, ons individuele voorkeure of afkeure omtrent die manifestasie ten spyt.
Dit word nie oordryf as dit gekonstateer word dat absoluut niks soos die hedendaagse beweging van die Heilige Gees (die onlangse Pinkster herlewing en inheemse groepe oor die hele wêreld wat die taleverskynsel ervaar) ooit tevore sedert Pinksterdag in die geskiedenis van die Christelike Kerk voorgekom het nie. Sy wêreldwye spontanïteit is waarlik iets om oor verwonderd te wees.
Hierdie huidige globale uitstorting van die Heilige Gees behoort vooruitgang te bring in sowel die getuienis as in leerstellings en teologie van die Kerk. Vandag se beweging van die Gees oor die troebele waters van ons donkerwordende wêreld is 'n uitdaging aan elke Christen in elke plaaslike Liggaam.
Hoe ontvang gelowiges die doping in die Heilige Gees? Daar is geen verskil tussen die Nuwe Testament en die testament wat ek en u eendag nalaat nie.
Die Nuwe Testament wat Jesus Christus ons nagelaat het, noem talryke dinge wat ons erf want ons is erfgename. Daar is natuurlik ook vele voorwaardes aan die erfporsie onderworpe.
Een van die dinge wat ons erf is die doping in die Heilige Gees. Net soos al die ander aangeleenthede in die erfporsie, moet ons bloot gaan en dit ontvang, net soos wat ons die wedergeboorte in ontvangs geneem het. Vandag getuig ons dat ons gered het vanweë ‘n geloofsaksie.
So is die ontvang van die doping in die Heilige Gees ook ‘n geloofsaksie. Handelinge 2:3 lees: “… en hulle het begin spreek (nie iemand of iets nie, hulle het begin spreek) in ander tale, soos wat die Gees aan hulle gegee het om te spreek.
In gebed ontvang mens die Heilige Gees se vervulling, jy glo dat jy dit ontvang en jy maak jou mond oop en begin spreek. Dit is hoe eenvoudig dit is.
Die skrywer se een kind was op sesjarige ouderdom gered en het besluit om die doping in die Heilige gees op 12-jarige ouderdom te ontvang. Sy ander kind is op sesjarige ouderdom gered en het besluit om die doping van die Heilige gees op tienjarige ouderdom te ontvang.
Terwyl koerante en tydskrifte voortdurend oor die verval onder die jeug wêreldwyd berig, is daar ook die goeie nuus van kinders wat vanaf ouderdom vyf wedergebore word en vroeg al die doping in die Heilige Gees ondergaan en toenemend groei in heiligmaking.
Dr Derek Prince van Amerika vertel hoe hy telkemale die Evangelie aan vreemdes verkondig het en hoe hy van tolke gebruik moes maak. By verskeie geleenthede het hy kon agterkom dat die tolke die boodskap nie korrek tolk nie. Dan het hy eenvoudig voortgegaan om die boodskap in die betrokke volk se taal te bring sonder dat hy ooit ‘n woord in daardie taal kon spreek.
Maar tale speel ‘n geweldige rol in ons binnekamer se gebedslewe. Die Bybel leer dat ons gees dan in direkte kontak met God se Heilige Gees is en veborgenhede tot God spreek. Hierdie is een plek waar die demoniese magte van die duisternis nie kan indring nie, want jou gees is in direkte kontak met God se Gees.
Gelowiges wat vantevore gekla het oor inmenging in hul gebedslewe van negatiewe gedagtes en vertwyfling, het nadat hulle die doping in die Heilige gees ontvang het en in ‘n taal begin bid het, getuig dat hulle geen las meer het van die vorige probleme nie.
Gelowiges wat sê dat hulle nie genoeg geloof het nie, gaan ten gronde weens ‘n gebrek aan kennis.
Hebr. 11:6 lees dat dit onmoontlik is om God te behaag sonder geloof (Rom. 14:23). En dit maak tog sin. As ‘n kind nie in sy ouers glo nie, hoe kan hy hulle ooit behaag.
Die HERE verlang wel dat ons ‘n kinderlike geloof sal hê. Dit maak sin want ‘n kind glo alles wat sy vader aan hom vertel.
Die opdrag is dat ons moet glo. Efes. 2:8 lees dat (selfs) geloof ‘n gawe van God is en dat u en ek deur geloof gered is. Maar, hoe verkry ons geloof?
Rom. 10:8-10 en 13, 14, 17:
Geloof kom uit die gehoor
Gehoor kom deur die Woord
Bely
Glo
Ontvang en ervaar
Met die Wederkoms kom haal Christus Sy Bruid wat sonder vlek of rimpel moet wees. Dit beteken dat ons nou ‘n tyd van totale restourasie beleef. Oral is mense besig om terug te keer na die HERE en Sy insettinge. Verootmoe-diging is aan die orde van die dag.
Mense kom weer in huise bymekaar vir Bybelstudie en lang ure van gebedswake. Hulle weer vir mekaar en dra mekaar se laste. Ander kom in groepe in die vroeë oggendure bymekaar. Ander weer sonder hulself ure lank in hul binnekamers af. Mense ontdek God opnuut.
Inderdaad, nie deur krag of geweld nie, sê die HERE, maar deur My Gees kom die herstel en die oorwinning!
Maar, waarom bid en waarom in Tale bid?
Inderdaad is dit so dat die HERE sê: nog voordat ons vra dan weet Hy reeds wat ons gaan vra. Nou redeneer sommige: en as Hy dan weet nog voordat ek vra, hoekom is dit nodig dat ek hoegenaamd vra?
Wanneer ouers sien dat hul kind se skoene al nerfaf is weet hulle dit is tyd vir nuwe skoene. Maar as hulle kundig is, dan sal hulle wag totdat die kind self besef hy het nuwe skoene nodig.
Wanneer hy dus om nuwe skoene vra, het sy ouers lankal geweet wat hy gaan vra. Maar, omdat die kind nou self besef het hy moet nuwe skoene kry en daarom vra, nou sal hy ook waardering vir sy nuwe skoene hê.
Die Bybel leer ons ‘n paar pragtige kleinnode oor gebed. Dit is soos volg:
Vergewe as jy iets teen iemand het.
Gaan lees weer die bekende gebed Die Onse Vader. Let op na die woorde: Vergewe ons, ons skulde, soos wat ons, ons skuldenaars vergewe. Lees ook die paar strofés direk na die Onse Vader en let op hoe die klem laat val word juis op die feit dat as ons nie vergewe nie, dan kan die Vader ons nie vergewe nie en alle gebede wat ons bid is absolute tydmors en frustrasie.
Matt. 6:14: “… want as julle die mense hul oortredinge vergewe, sal julle Hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hul oortredinge nie vergewe nie, sal julle Hemelse Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.”
Markus 11:25-26: “En wanneer julle staan en bid vergeef as julle iets teen iemand het (hoekom?) sodat julle Vader wat in die Hemele is, ook julle oortredinge kan vergewe.
“Maar, as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die Hemele is, ook julle oortredinge nie vergewe nie.”
Ook Jakobus versoek in Hoofstuk 5:16: “Bely mekaar julle misdade (hoekom?) sodat julle gesond kan word.” En dan voeg hy by: “Die vurige gebed van die regverdige het groot krag.”
Let net op: “Bely mekaar julle misdade.” Lees dit liewer soos volg: “Bely mekaar julle misdade wat julle teenoor mekaar gepleeg het.” Ons gaan vertel dit dus nie aan ander nie, maar bely dit teenoor die broer of die suster teen wie ons gesondig het, en ook teenoor die HERE.
Besluit wat jy van die HERE wil hê.
“Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel: want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesleep word … Want dié mens, moenie dink dat hy iets van die HERE sal ontvang nie – so ‘n dubbelhartige man is onbestendig in al sy weë. Jak. 1:6-8.
Wat is die les hierin? Eenvoudig. Weier om te twyfel!
Twyfel kom nie van die Heilige Gees af nie. Twyfel kom van die twyfelaar, die satan self. As hy jou gebede kan verhinder, slaag hy daarin dat jy onsuksesvol in alles is en dus geen skade aan sy koninkryk kan aanrig nie.
Weier om te twyfel … so lees die opdrag in Jak. 4:7: “Onderwerp julle dan aan God: weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.”
Ja, verdryf hom in die naam van Jesus Christus!
Vra vir dit wat jy van God nodig het.
Matt. 7:7-8: “Bid, en vir julle sal gegee word: soek, en julle sal vind: klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want, elkeen wat bid, ontvang: en hy wat soek, sal vind, en vir hom wat klop sal oopgemaak word.”
En in Matt. 6-8 is geskrywe: “… julle Vader weet wat julle nodig het nog voordat julle vra.”
Sommige sê: ja, maar hoe weet ek of dit God se wil is wat ek vra? Wel, hier is dit duidelik dat dit Sy wil is dat ons mag vra wat ons nodig het.
Glo dat jy wel ontvang.
“Want, voorwaar, ek sê vir julle, dat elkeen wat vir hierdie berg sê: hef jou op en werp jou in die see – en wie nie in sy hart twyfel nie, maar glo wat hy sê sal gebeur – hy sal verkry net wat hy sê. Daarom sê Ek vir julle: alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry.” Markus 11:23-24.
Basies staan hier geskrywe: glo dat julle dit reeds ontvang het!
Dit sê nie wanneer mens dit gaan verkry nie. Wanneer vir ‘n sieke gebid word, dan praat ons van ‘n Goddelike wonderwerk as die genesing onmiddellik plaasgevind het, en van Goddelike genesing wanneer die genesing oor ‘n tydperk plaasvind.
Maar as daar nie getwyfel word nie, gaan dit gebeur, een of die ander tyd, maar dit gaan beslis gebeur.
Lees Skriftuurplase wat die beloftes op jou gebed bevestig
“Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie, maar bepeins dit dan en nag (hoekom?) sodat jy nougeset kan wandel volgens alles wat daarin geskrywe staan (hoekom?) want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel.” Jos. 1:8 en Fil. 4:8.
Die opdrag is dat jy die Woord van die HERE deeglik sal ken, sodat jy nougeset kan wandel.
Jesus het nooit ‘n wapen met Hom saamgedra nie. Hy het deurentyd die Woord as tweesnydende swaard gebruik.
Die volk gaan ten gronde weens ‘n gebrek aan kennis. Luister net na Christene se tafelgebede: HERE, maak ons opreg dankbaar vir wat ons nou gaan geniet, amen.
Die mense wat nou gaan eet is nie dankbaar nie, nou word gevra hulle moet opreg dankbaar gemaak word. Waar in die Bybel staan dat mens moet bid om opreg dankbaar gemaak te word deur die HERE?
Die man is die hoë priester in sy huis. Hy moet die kos seën voordat dit geëet mag word.
Nou is hy nie net nié opreg dankbaar nie, maar hy het amen gesê sonder om die kos te seën!
En het jy al die volgende gehoor: HERE, seën die voedsel aan ons liggame om u naams ontwil, amen.
As die bidder dalk twyfel in sy eie seën het, dan kan dit dalk verskoon word dat hy vra dat die HERE die kos moet seën, maar hoekom nou om Sy naams ontwil.
Die Engels slaan die spyker bietjie dieper in: For Jesus’ sake, amen.
Jy seën mos nie die kos om Sy onthalwe nie, maar om jou onthalwe!
Die gebed moes gewees het: Vader, baie dankie vir die voorreg om voedsel aan tafel te mag hê. Ek seën hierdie voedsel in die naam van Jesus Christus, amen.
Ons keer terug na die kwessie van bevestigende Skrif: Joh. 15:7 “… As julle in My bly en my Woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.”
U hoef nie te leer waar die tekste staan nie. Die geheim is om die Woord te bestudeer, daaroor te mediteer en dit deel van u karakter en persoonlikheid te maak.
Paulus sê: word vernuwe in julle gemoed. Ja, ‘n mens se hele gemoedstoestand moet vernuwe. Dan lewe mens nie onder die omstandighede nie, maar bo die omstandighede.
Gee aan God lofprysinge.
Fil. 4:6 “… Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes (oor dinge wat julle werklikwaar nodig het) in alles deur gebed en versoeke (nie smeking) met danksegging by God bekend word..
Wees oor niks besorg nie – byna die kortste preek met die langste boodskap. Ons bid nie oor en oor vir dieselfde ding nie. Dis ‘n teken van ongeloof. Ons bid mos en dan dra ons die sorge van die probleme oral saam met ons.
Die volgende is relevant: Die seuntjie vra die oggend vir sy ma vir ‘n stokkielekker. Sy ma sê daar is nie meer nie, maar wanneer hulle vanmiddag winkel toe gaan, dan sal sy ma vir hom ‘n stokkielekker koop.
Nou kan een van twee dinge hierna gebeur: Die seuntjie pes sy ma heeldag oor wanneer gaan hulle winkel toe as ‘n teken van ongeloof en/of ongeduld, of, hy glo sy ma, hy berus en hy verbly hom heeldag daarin dat sy ma vir hom ‘n stokkielekker gaan koop. Hy vertel selfs opgewonde vir sy maatjies daarvan. Dis waarom ouers nooit hulle woord teenoor kinders mag verbreek nie.
Bid altyd in die naam van Jesus.
Joh. 16:23 “… En in daardie dag (wanneer Jesus nie meer op die aarde is nie) sal julle My niks vra nie. Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra IN My naam, sal Hy julle gee.”
Nie “om Jesus ontwil nie”, maar IN Sy naam.
Strofé 24: “Tot nou toe het julle niks IN My naam gevra nie. Bid (hoekom?) sodat julle blydskap volkome kan wees!
Wat sê dit? Dat dit God se wil is dat Sy kinders se blydskap volkome moet wees.”
Toe Smith Wigglesworth een oggtend soos gewoonlik by die ontbyttafel aansit, wou hy van sy vrou weet waarom die twee dogters nie aan tafel is nie.
Toe hy verneem dat hulle ongesteld is, het hy onmiddellik dié strofé in herinnering geroep en gesê: ek kan nie my ontbyt geniet nie want my blydskap is vanoggend nie volkome nie.
Hy is dadelik met die trappe na bo waar hy eers vir die kinders gaan hande oplê en vir hulle gebid het. Hulle het daarna saam met hom die trappe afgekom en saam ontbyt kom nuttig.
Wigglesworth is geen uitsondering nie. Hy was ‘n loodgieter wat tot bekering gekom het en die Woord begin verkondig het.
Wanneer ons saamstem in die gebed.
Matt. 18:18-20 “Voorwaar, Ek sê vir julle, alles wat julle op die aarde bind, sal in die Hemel gebonde wees: en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die Hemel ontbind wees. Weer sê ek vir julle: As twee van julle saamstem op die aarde oor enige saak wat julle mag vra, dit sal julle ten deel val van My Vader wat in die Hemele is.”
En: “Waar twee of drie in My naam vergader, daar is Ek in hul midde.”
Het u al ‘n samekoms bygewoon waar die prediker die aand nooit ‘n woord kon sê nie omdat die Heilige Gees die hele byeenkoms twee en ‘n halwe ure lank beheer het? Dit was ‘n belewenis!
Nouja, ons stem of saam oor ‘n saak, of ons stem nie daaroor saam nie. Verdeeldheid bring geen antwoorde en geen oplossings nie. Selfs ‘n huis (volk) wat in homself verdeeld is, kan nie bly staan nie. Matt: 12:25.
Nie eers jou motor kan ry as al die vonkproppe nie in plek is nie en nie vuur nie.
Die duiwel kan ‘n mens se gebede dwarsboom. Bind hom in die naam van Jesus Christus en verjaag hom.
Die duiwel kan ‘n gemeente se werksaamhede bind deur slegs een lidmaat wetende of onwetende aan bande te lê.
Wanneer iemand nie saamstem oor ‘n saak nie, bid ons ander verniet.
Net een persoon is nodig om ‘n groep se gebed vir ‘n saak te kanselleer.
As ‘n groep vir ‘n saak bid en twee weke later sou een van die bidders uit moedeloosheid sê: aag wat, dit help nie om vir hierdie man te bid nie, kyk wat het hy weer aangevang!
Dan is twee weke se harde werk vernietig. Dan eers weer berou en regmaak en dan begin ons weer van vooraf.
Daardie bidder het moed verloor heelwaarskynlik net voordat die antwoord daar sou wees.
Wanneer mens dus ander wil vra om saam met jou in gebed oor ‘n saak vas te staan, vra dan dat die Heilige Gees vir jou uitwys wie om te vra.
Die wonder is: As almal saamstem in die gebed oor ‘n saak, dan sê Deut. 32:30 … dat een mens kan ‘n duisend van die vyand op die vlug laat slaan en twee mense … twee duisend? Nee, dis nie hoe God se vermenigvulde krag werk nie. Twee mense sal 10 000 op die vlug laat slaan!
As net een persoon dus saam met u oor ‘n saak in gebed sou stem, dan kan u al 10 000 keer meer uitrig!
Verstaan u nou waarom die Skrif sê: Dra mekaar se laste, bid vir mekaar? Ja, ons is ‘n familie!
Daar is groot onderskeid tussen gees en vlees. Ons kan ons brein so vol harde feite prop dat ons gees daaronder ly. Jesus sê self, ‘n kind sal die Evangelie verstaan. Ons is vandag nie verbaas wanneer kinders op die ouderdom van ses jaar tot bekering kom nie.
Matt. 18 “In daardie uur het die dissipels na Jesus gekom en gevra: Wie is tog die grootste in die Koninkryk van die Hemele?
Toe roep Jesus ‘n kindjie na Hom toe en laat die kind in hul midde staan en Hy sê: Voorwaar ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kinders word nie, sal julle nooit in die Koninkryk van die Hemele ingaan nie.”
Verstommend. Mens kan ‘n doktorsgraad hê en dan sê Jesus: jy sal nooit die Koninkryk van die Hemele kan binnegaan nie, tensy jy verander en soos ‘n kind word.
As kind bly mens veilig, want dan luister jy altyd na die Vader, na die Gees. ‘n Kind glo ook alles wat sy vader vir hom sê.
Strofé 4: “Elkeen wat homself verneder soos hierdie kindjie, hy is die grootste in die Koninkryk van die Hemele!
Verenigde gebed, het die tronkdeure vir Petrus en Silas geopen! En in Hand. 4:31 waar almal ook eendragtig in die gebed was, is die plek geskud toe almal met die heilige gees vervul is!
Maak staat op die Heilige Gees in jou gebedslewe.
Rom. 8:26-27: “En net so kom ook die Gees ons swakhede tot hulp (hoe?) want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike versugtinge.”
“En, Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is (hoe?) omdat die Heilige Gees ooreenkomstig die Wil van God vir die heiliges intree.”
Nou ja, nou weet ons waarom ons in ‘n Hemelse taal (moet) bid. Dan het ons gees en die Heilige Gees intieme kontak, kontak waarby die bose nie kan inkom om dit te onderbreek nie.
Hoeveel kere het ons nie al vir ‘n saak wou bid nie, maar nie geweet hoe om daaroor te bid nie. Dit is dan wanneer ons hierdie wonderlike gawe van ‘n vreemde taal het waardeur die Gees intree – en boonop intree ooreenkomstig die Wil van God!
Hierby kom iets baie interessants. 1 Kor. 14:13 lees: “Hy wat in ‘n taal bid, moet bid dat hy dit kan uitlê.”
Ja, wonderlik! As u graag wil weet wat u in die gees gebid het, vra die HERE vir die uitleg en begin dit eenvoudig op Afrikaans herhaal. Dit is veral noodsaaklik in die gemeente sodat ander daardeur gestig kan word.
Soms wil ‘n vrou vir haar ongeredde of afgedwaalde man bid, of andersom, maar dis moeilik. Wat bid mens? En, wanneer jy bid dan voel dit so asof jy in sirkels bid, of soos iemand een keer gesê het “ek bid teen die plafon vas.”
Matt. 12:19: “Hoe kan iemand in die huis van ‘n sterk man ingaan en sy goed roof, as hy nie eers die sterk man geboei het nie? En dan sal hy sy huis beroof.”
Wie is die sterk man in die ongeredde se lewe? Die satan natuurlik. Hoe beroof jy die ongeredde se tempelhuis van die magte van die satan? Jy boei hom natuurlik.
En, ons het vroeër gesien dat wat ons op die aarde bind is in die Hemel gebonde en wat ons op die aarde ontbind is in die Hemel ontbonde.
Dan bid mens so: “Satan, jy is die sterk man in hierdie ongeredde/afgedwaalde se tempelhuis. Ek bind jou en jou magte in hierdie tempelhuis, ek vervloek en bestraf dit in die naam van Jesus Christus en ek gebied jou om hierdie man/vrou se lewe te verlaat en terug te keer na die dorre streke waar jy hoort. En nou Heilige gees van God, nou dat ek hierdie tempelhuis gereinig het, vra ek U Heilige Gees om van hierdie man/vrou besit te neem en hom/haar in U Liefde te vestig.”
Dit is nodig dat ons soos wagters op die mure oor ons siele waak, want Matt. 12: 43 lees: “En wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan deur waterlose plekke (dorre streke) en soek rus en vind dit nie.
“Dan sê hy (die onreine gees): Ek sal teruggaan na die huis waar ek uitgegaan het. En hy kom en hy vind dit leeg, uitgevee en versier, dan gaan hy en neem sewe ander erger as hyself met hom saam en hulle kom in en woon daar, en die laaste van die daardie mens, word erger as die eerste.”
Nou verstaan mens ook waarom sommige gevalle van herstel hardnekkiger is as ander.
Soms is mense so gebind dat ander vir hulle moet bid, soms sonder om die spreekwoordelike slapende honde wakker te maak, maar ander kere is dit die persoon self wat moedswillig met die sonde voortploeter.
Spreuke 28:13: “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.
Mense wat nie ander vergewe nie en oortredinge bedek, kry nie net geen antwoord op hulle gebede nie, maar as hulle in daardie toestand by die Nagmaal aansit, dan drink hulle boonop ‘n oordeel oor hulleself.
Nog ‘n vraag wat opduik: Hoe weet ek wat die Wil van die HERE is?
Dat siele gered word, dat siekes genees, dat dowes hoor, dat blindes sien, dat kreupeles loop, dat mense met onrein geeste vry kom, dat mense voorspoedig moet wees, geseënd moet wees, is alles Sy Wil.
Wanneer mens oor ander sake nie weet of dit die HERE se Wil is nie, dan bid mens in die gees want die Gees sal altyd binne die Wil van die HERE bid. En dan wag jy in afwagting vir bevestiging want as dit die HERE se wil en tyd is, dan sal Hy sekerlik die bevestiging ook gee.