Raak ontslae van die
Struikelblokke!
deur Oswald J. Smith
Daar is net een struikelblok wat die kanaal kan verstop en God se krag versmoor. Dit is sonde!
“As ek ongeregtigheid bedoel het in my hart,” het Dawid verklaar, “sou die HERE nie gehoor het nie, aldus Ps. 66:18.”
En in Jes. 59:1-2 “Kyk, die hand van die HERE is nie te kort om te help nie, en Sy oor is nie te swaar om te hoor nie; maar julle ongeregtighede het ‘n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het Sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie.”
Jy en jy alleen sal daardie skeidsmuur moet afbreek. Daar is geen alternatief nie en ook geen kompromie nie. God sal nie antwoord solank jy die ongeregtighede verberg nie.
Hosea 10:12 lees: “Saai volgens die eis van geregtigheid, maai in ooreenstemming met die liefde: Braak vir julle ‘n braakland, want dit is tyd om die HERE te soek, sodat Hy kom en geregtigheid oor julle laat reën.”
Uit watter sonde is jou skeidsmuur gebou:
Het jy almal vergewe? Is daar ‘n gevoel van kwaadwilligheid, van wrok, van haat of van vyandigheid in jou hart? Koester jy griewe teen iemand. Weier jy om vrede te maak!
Word jy kwaad? Is daar ‘n gees van opstand en verset in jou? Verkeer jy nog soms in die kloue van woede?
Vloek en skel jy?
Is jy lief vir jou kinders?
Is daar enige gevoel van jaloesie? As iemand anders voorgetrek word, is jy afgunstig, ongemaklik? Is jy jaloers op ander wat volgens jou beter kan bid of praat as jy, of dinge beter kan doen as jy?
Is jy ongeduldig en ergelik? Vererg en pla klein dingetjies jou? Of is jy vriendelik, kalm en stil onder alle omstandighede?
Is jy liggeraak? Maak dit seer wanneer mense jou nie raaksien nie? Hoe voel jy as van ander ‘n ophef gemaak word en jy nie ook eer ontvang nie?
Is daar hoogmoed in jou hart? Dink jy, jy is beter as ander? Is jy opgeblase?
Is of was jy oneerlik? Is jou besigheid eerlik en vlekkeloos? Is jy eerlik met mate en gewigte, met geld?
Het jy van ander geskinder?
Het jy ‘n woord van eer?
Kritiseer jy op ‘n liefdelose wyse? Vind jy altyd fout en soek na gebreke by ander?
Beroof jy God? Het jy tyd of geld van Hom gesteel?
Is jy wêreldsgesind? Is jy lief vir die glans, die grootdoenery en die vertoon van die lewe?
Het jy gesteel, dinge geneem wat nie aan jou behoort nie?
Het jy ‘n gevoel van bitterheid teenoor ander.
Is jou lewe ligsinnig, uitspattig, pronkerig, jou gedra onbehoorlik. Sien die wêreld as een van hulle, of as kind van God?
Het jy iemand tekort gedoen en dit nog nie reggemaak nie, te veel kleingeld ontvang en nie teruggegee nie? Watter ander klein dingetjies moet jy ook nog teenoor ander regstel?
Is jy bekommerd en angstig, vol twyfel? Vertrou jy nie dat God in jou behoeftes sal voorsien nie? Soek jy altyd die spreekwoordelike bobbejaan agter die bult? Met so ‘n gesindheid kan jy niks van die HERE ontvang nie.
Het jy gedagtes oor wellus en laat jy toe dat onheilige gedagtes en beelde in jou opkom?
Praat jy altyd die waarheid, of oordryf jy soms en skep jy wanindrukke?
Is jy skuldig aan ongeloof? Ten spyte van alles wat God en Christus vir jou gedoen het, bevraagteken jy die Godsaak?
Is jy biddeloos, wandel jy nie deurentyd met God nie. Bid jy vir ander. Bid jy en jou gesin saam? Julle hoort, julle is ‘n huisgemeente?
Lei jy jou gesin in die weë van die HERE? Jy moet, want jy is die hoë priester van jou gesin.
Verwaarloos jy die Woord van God? Hoe gereeld en hoeveel lees jy uit die Bybel, en bestudeer jy die Woord? Is die Heilige Skrif die fontein waaruit jy jou krag en wysheid put?
Bely jy Christus in die openbaar? Hy belowe dat as jy Hom voor die mense bely dan sal hy jou voor die Vader bely?
Voel jy jammer vir siele wat verlore gaan? Het jy daardie Goddelike liefde vir hulle?
Hierdie is maar ‘n kort lysie om jou mee te help. Hoe lyk jou lysie, as jy eerlik met jouself en met God is?
As jy waarlik kind van God is, sal die Heilige Gees jou oortuig van die dinge waarmee God nie tevrede is in jou lewe nie. Moenie jou sonde regverdig omdat ander dit ook doen nie. Jy gaan alleen voor God moet staan!
God gebruik die woord sonde. Hoe gouer jy jou sonde bely en laat staan, hoe gouer gaan God jou gebede begin beantwoord en jou seën. Hoe langer jy neem om dit te doen, hoe langer bedrieg jy jouself. Vir God sal jy nooit kan bedrieg nie.
Raak ontslae van die struikelblokke! “As ons onsself beoordeel, sal ons nie geoordeel wees nie. Die oordeel moet by jou, by die volk van God begin.
Belydenis van sonde is die antwoord vir ‘n kragtige geestelike herlewing in die land. Een sonde kan ‘n binding in jou gees veroorsaak en verhoed dat jy geestelike ontwaak en groei.
Bepleit in die eerste plek soos Dawid in sy gebed: “Deurgrond my o’ God … en kyk of daar by my ‘n weg is van smart…”
Sodra die struikelblokke verwyder is, sal God Sy magtige herlewingskrag op ons laat reën!
Lees weer wat sê die HERE in Jes. 59:1-2 “Kyk, die hand van die HERE is nie te kort om te help nie, en Sy oor is nie te swaar om te hoor nie; maar julle ongeregtighede het ‘n skeidsmuur geword (waar is die skeidsmuur?) tussen julle en julle God, en julle sondes het Sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie.”