‘n Laaste wens… en

Jy is geroep om ‘n rol te speel


Daar is sekere organisasies wat geld insamel sodat hulle kinders en volwassenes wat terminaal siek is, se laaste wense kan vervul.

Hierdie kinders en volwassenes gaan vir seker sterf want hulle is reeds sterwende.

Sommige wil graag as laaste wens vir die eerste keer in ‘n vliegtuig ry, vir die eerste keer die see sien, vir die eerste belangrike mense ontmoet, ens.

Dit is hulle laaste wens voordat hulle sterf. Miljoene mense dra geldelik by tot hierdie organisasies sodat die organisasies hierdie sterwendes se laaste wense vir hulle in vervulling kan laat gaan.

Geen moeite en onkoste word ontsien nie. Geld is geen probleem nie. Konserte van internasionale gehalte word aangebied om geld in te samel. Talle ander projekte vir fondsinsameling word bedryf, so lank die geld net aanhou inrol.

Iemand gaan sterf. Hy of sy het ’n laaste wens voordat hulle die ewigheid ingaan.

Ek en jy as Christene het ‘n groter roeping as hierdie organisasies. Ons moet keer dat biljoene mense nie in die ewige hel eindig nie.

Miljoene van hulle se laaste wens is dat hulle hoop hulle het die ewige lewe. Dis ook hulle laaste wens.

Ek en jy weet hulle het nie die ewige lewe nie. Wat doen ons om hierdie biljoene te help om hulle laaste wens in vervulling te laat gaan?

Kom ons begin by die begin: Ek en jy is nie gered om Hemel toe te gaan nie. Ons is gered om te dien. Om die Koninkryk van God te bou, om te keer dat mense in die ewige hel beland.

Lukas 17 verse 7 tot 10 lees: “En wie is daar van julle wat ‘n dienskneg het wat ploeg of vee oppas, en as hy inkom van die veld af, vir hom sal sê: Kom dadelik hier aan tafel?

“Sal hy nie eerder vir hom sê nie: Maak vir my die aandete klaar en omgord jou en bedien my totdat ék geëet het; en daarna kan jy eet en drink?

“Bedank hy daardie dienskneg, omdat hy gedoen het wat hom beveel is? Ek glo nie.

“So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.”

Hierdie “plig” waarvan hy praat, lê in die volgende opgesluit: Dat ons die Vader se insettinge en verordeninge moet onderhou, en dat ons Sy Koninkryk bou deur siele vir Hom in te samel.

Herders – leraars – kry nie lammers nie. Die Herders moet die skape so voed dat die skape kan lam, ja, sommer twee- en drielinge, binne seisoen en buite seisoen, tydig en ontydig.

Ons staan onder verpligting. Ons het geen keuse nie. Al kom ons moeg na ons dagtaak by die huis aan, moet ons onsself omgord en eers die Meester “bedien”. Eers dan kan ons gaan sit en eet en ontspan.

Ons is verder onder verpligting want, die Here sê in Esegiël 3 vers 18: “As Ek aan die godlose sê: Jy sal sekerlik sterwe en jy – kind van die Vader – waarsku nie die goddelose nie, en spreek nie om die goddelose vir sy godlose weg te waarsku nie, dan sal die godlose deur sy ongeregtigheid sterwe, maar…… sy bloed sal van jou hand geeis word.” Hoe verskriklik tog!

Maar God is regverdig en Hy voeg by: “Maar… as jy die godlose waarsku, en hy hom nie van sy godlose weg bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe, maar jy het jou siel gered.”

Dis hoe regverdig die Vader is!

Dit is of eenkant toe of anderkant toe. Die Bybel maak geen plek vir kompromieë nie. Vir huigelaars en geveinsdes is daar nie plek in hierdie arena nie.

Tot nog toe het ons altyd die net aan die een kant, die van die preekstoel, uitgegooi en hierdie hele lange nag van hoevele jare niks gevang nie.

Daar was na die predikant opgesien as die een wat die gemeente moet bou. Daar was verwag dat hy manalleen die strate en pleine moes bewandel en siele moes inbring.

As ons as gereddes, as vistermanne, nou uitvaar na die diepkant – die wye wêreld in – en die net aan die anderkant van die skuit uitgooi, gaan ons nette en nogmaals nette vol vis uittrek, want dan vervul ons die Vader se opdrag, Sy strategie, en nie ons plannetjies nie.

Jy het nie ‘n graad of diploma in teologie nodig om jou plig te kan nakom nie. Jy hoe nie ‘n ouderling of ‘n diakones te wees nie. Die Vader het gesê: “Voed My skape.” Hy het nie gesê: “Voed my kameelperde” nie. Hy sê ook: “Selfs ‘n Kind sal die Blye Boodskap verstaan”.

Die Heilsboodskap en die verlossing se werkinge lê in eenvoud, in Gees en in die Waarheid.

In Lukas 9 vanaf verse 10 tot 17, lees ons dat Jesus Christus na ‘n verlate plek sou gaan sodat daar ‘n slag gerus kon word. ‘n Skare mense vind egter daarvan uit en sorg dat hulle Jesus en die dissipels inwag.

Ai, en met deernis kry Hy die skare jammer en Hy ontvang hulle, Hy verkondig die Koninkryk van die Vader aan hulle en Hy maak die siekes gesond.

Skielik gebeur die totaal onverwagte. Jesus kom agter dat die skare honger is en hy gee opdrag aan die dissipels: “Gee julle vir hulle iets om te eet!”

Die verskoning was byderhand: “Maar ons het nie meer as twee brode en vyf vissies nie.”

Hulle regverdig hul saak verder deur by te voeg: “Tensy ons vir hulle iets gaan koop.”

Dit sê hulle, welwetende dit sou ‘n nog groter onmoontlikheid gewees het om kos vir sowat tien duisend mense te gaan koop het.

Maar, terwyl die dissipels op die menslike vlak beweeg, beweeg Jesus op die geestelike vlak: Opdrag word gegee dat die mense almal ordelik in groepe sal sit, dat daar administrasie en dissipline sal wees, dat ‘n werkprogram saamgestel word en dat daar eendragtigheid en spanwerk sal wees.

Die seën word uitgespreek en 12-man voed vyf duisend mans, hul vroue en kinders. Na raming is minstens tien duisend mense gevoed.

Maar, as die12 dissipels net daar in ongeloof bly staan het en gesê het: “Maar dis tog onmoontlik, ons voel soos arme drommels, hoe op aarde kan ons hierdie massa mense met hierdie paar broodjies en vissies voed?”

Waarom het hulle dan positief gereageer en die kos begin uitdeel? Eenvoudig. Hulle het hulle fout besef en van die menslike vlak na die geestelike vlak beweeg.

Dit is ook ons probleem. Ons verstand is in die pad. Ons probeer die geestelike dinge met ons verstand beredeneer, en dis onmoontlik. Die verhaal leer ons juis dat met die min waaroor ons dalk beskik, ons ook menigtes kan voed. Is dit nie wonderlik nie!

Die dissipels het die eerste tree gestap na die eerste ry mense. Dit was ‘n stap in die geloof.

Toe hulle afbuig om die eerstes te begin bedien, het die Almagtige Vader se Almag en wonderbare vermenigvuldende krag in werking getree. En almal is gevoed. En boonop het 12 mandjies brokstukke oorgebly.

Nou is die opdrag ook aan ons: “Gee julle vir hulle iets om te eet!”

Dis nie ‘n versoek nie. Dis ‘n opdrag.

En ons moet dit noodwendig uitvoer!

In die verlede het ons telkens die net aan die verkeerde kant van die skuit uitgegooi. Ons het besef die massas is honger, en dan het ons iets vir hulle gaan koop. Ons het spesiale dienste gereël en evangeliste en spesiale predikers en sprekers “ingevoer”. Ons was bereid om geld te gee solank ons net nie self betrokke hoef te raak nie.

Die Vader veroordeel ons nie hieroor nie. Al wat Hy sê is, hy hou by Sy oorspronklike opdrag: “Gee JULLE vir hulle iets om te eet!”

In Mattheus 6 verse 25 tot 34, sê die Vader: “Daarom sê ek vir julle: Moenie julle kwel; oor julle lewe – wat julle sal eet of wat julle sal drink nie. Is die lewe nie meer as voedsel en die liggaam meer as klere nie?

“Kyk na die voëls van die Hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed hul Hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd nie? Wie tog onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg?

“En wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei. Hulle arbeid nie en hulle spin nie. Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie beklee was soos een van hulle nie.

“As die Vader die gras van die veld, wat vandag daar is en more in ‘n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle kleingelowiges?

“Daarom moet julle jul nie kwel nie en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink of wat sal ons aantrek nie?

“Want …na al hierdie dinge soek die heidene, want … julle Hemelse Vader wéét, dat julle hierdie dinge nodig het.

“Maar, soek eers die Koninkryk van God die Vader en Sy geregtigheid, en, al hierdie dinge sal vir julle gegee word.

“Kwel julle dus nie oor more nie, want more sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg van sy eie kwaad.”

Ons is oneerlik. Ons sê ons is Christene, kinders van die Vader, maar ons vertrou Hom nie. Ons glo Hom nie. Ons neem Hom nie op Sy Woord nie. Maar ons verwag dat Hy gedurigdeur vir ons moet instaan, mens wil byna sê: regstaan.

En net daar mis ons weer die doel want Jesus sê self: “As julle My voor die mense bely (eerste), dan sal Ek (‘n teenprestasie lewer) en julle by My Vader bely.” Skitterend!

Die Bybel leer verder dat ons alleen kan ontvang wanneer ons gee. Dit is ook die ongeskrewe wet van ons dag, ons kan niks bekom sonder dat ons gee nie.

Daarom, kom ons gee vir hulle iets om te eet, en die Vader sê, Hy sal in alles vir ons voorsien. En, Hy sal nie net in ons behoeftes voorsien nie, hy gee inderdaad aan ons in oorvloed!

Die Vader gee altyd in oorvloed. Die bloed wat aan die Kruis gestort was, is meer as genoeg om die hele mensdom te red.

Wanneer ons na voortplantingsaad by mens, dier, vis, planteryk en voëlryk kyk, dan vind ons daar is miljoene meer saad as wat nodig is vir voortplanting.

In ons eie liggaam het ons ook ‘n oorvloed aan bloed. Dit is waarom ons so maklik bloed kan skenk.

Ons kan onsself nooit dood werk nie, daarvoor het ons meer as genoeg reserwekrag.

Die Vader gee aan ons alles en baie, baie meer, solank ons die opdrag uitvoer: “Gee julle vir hulle iets om te eet!”

Ons hoef nie belydenis te doen en te sê Vader ek is jammer ek staan hier met ‘n leë mandjie nie. Die Vader veroordeel ons ook nie. Al wat Hy by herhaling sê, is: “Gee julle vir hulle iets om te eet.”

Los al jou praatjies: “Gee vir hulle iets om te eet!”


In Rusland, toe daar nog openlike vervolging van Christene was, het Russiese soldate een aand ‘n vrou langs die pad voorgekeer. Hulle wou weet waarheen sy op pad was. Sy het geantwoord: “My oudste broer is dood en ons gaan vanaand Sy Testament lees”.

Sy was reg. Dit is inderdaad ‘n Testament. Ons mag eendag te sterwe kom, maar ons testamente sal lewendig wees en van krag wees en mense sal elke woord daarin moet eerbiedig.

Ons laat ook testamente na, net soos wat Jesus vir ons ‘n Testament nagelaat het. ‘n Testament is ‘n lewende woord en word in die hoogste hof as sulks aanvaar.

En, net soos ons testamente, het Jesus se Testament ook vele beloftes in oor alles wat ons geërf het, tesame natuurlik met voorwaardes, soos bv: “Wanneer julle bid, vergééf as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die Hemel is, ook julle jul oortredinge mag vergewe, maar, as julle nié vergewe nie, sal julle Vader wat in die Hemel is, ook julle oortredinge nie vergewe nie.”

Gaan lees gerus weer die bekende “Onse Vader” en let op na die verse net daarna waarin verduidelik word dat mens die Onse Vader duisend keer kan bid sonder dat dit enigsins verhoor sal word, as jy nie jou skuldenaars vergewe het nie. Dan mors ons, ons tyd. Dan bid ons teen die plafon vas.

As ons in sulke toestande by die Nagmaaltafel aansit, dan drink ons ‘n oordeel oor onsself!

Daar is egter ‘n ander baie belangrike aspek om op te let: Al sê ‘n testament dat ons sekere goed geërf het, en al vertel ons vir al ons vriende van wat ons geërf het, sal ons niks besit, as ons dit nie letterlik gaan opeis nie.

Dieselfde met die beloftes in Jesus se Testament. Ons kan daardie salwing van die Heilige Gees, daardie krag, daardie gawes, net ontvang as ons dit gaan opeis. Dis vir ons almal as kinders van die Vader gegee, maar ons moet dit in ontvangs gaan neem.

Markus 16:17 lees dat sekere tekens ons sal volg wanneer ons glo! Om die manifestasie van die betrokke tekens te kan beleef, moet ons glo! Ons erf dus hierdie betrokke tekens en die voorwaarde is (bloot) dat ons sal glo!

En wanneer ons glo, dan sal ons in nuwe tale spreek, dan sal ons duiwels uitdryf, dat sal ons die hande op die siekes lê en hulle sal genees, dan sal geen onheil ons skade kan berokken nie, ens.

Die Vader sê Hy is ‘n waarmaker van Sy Woord. Waarom neem ons Hom dan nie op Sy Woord nie?

Weet jy hoekom nie? Want ons het self lank nie meer ‘n woord van eer nie! Ons weet nie meer wat ‘n “woord van eer” is nie. Ons besef nie dat iemand se “woord van eer” presies dieselfde is as om ‘n geskrewe kontrak te onderteken nie. Ons belowe nou ‘n ding en more verander ons sommer weer ons storie.

En dit terwyl die Bybel leer: Jy moet (ten alle koste) jou woord gestand doen en jy mag nie later sê dat jy jou misgis het nie! Pred. 5:3-5.

Verootmoedig jouself in grootse nederigheid voor die aangesig van die Vader. Keer terug na Sy weë.

Wees versigtig: Daar is ‘n verskil daarin om nederig te wees en om jouself te verkleineer. Om jouself te verkleineer is ‘n sonde.

Daar staan male sonder tal: Vrees die Here! En nou is daar mense wat in vrees en bewing voor die Vader lewe, en dit terwyl Hy ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee het nie, maar ‘n gees van krag en liefde en selfbeheersing. (11 Tim. 1:7). Verander die woord “vrees” na “eerbied” en jy sal die korrekte persepsie hê.

Hy belowe: As jy jou sonde bely, dan is Ek getrou en regverdig om jou sonde te vergewe en (boonop) jou van alle ongeregtigheid te reinig! Wanneer? Nou, dadelik, nog voordat jy verder lees……


Hosted by www.Geocities.ws

1